Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 12

Sien jy wat Sagaria gesien het?

Sien jy wat Sagaria gesien het?

“‘Deur my gees,’ sê Jehovah van die leërmagte.” – SAG. 4:6.

LIED 73 Gee ons vrymoedigheid, Heer

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter goeie nuus het die Joodse gevangenes gekry?

DAAR was ’n gevoel van opgewondenheid in die lug. Jehovah God het koning Kores van Persië beweeg om die Israeliete, wat baie jare lank gevangenes in Babilon was, vry te laat. Die koning het ’n aankondiging gemaak en vir die Jode gesê om na hulle tuisland terug te gaan “en die huis . . . van Jehovah, die God van Israel [te herbou]” (Esra 1:1, 3). Wat ’n opwindende aankondiging! Dit het beteken dat die aanbidding van die ware God herstel sou word in die land wat hy aan sy volk gegee het.

2. Watter sukses het die Jode gehad nadat hulle na Jerusalem toe teruggegaan het?

2 In 537 VHJ het die eerste gevangenes aangekom in Jerusalem, wat voorheen die hoofstad van die suidelike koninkryk van Juda was. Kort nadat die Jode daar aangekom het, het hulle aan die werk gespring en die tempel begin bou. En teen 536 VHJ het hulle die fondasie al gelê!

3. Watter teenstand het die Jode ondervind?

3 Maar nadat die Jode die tempel begin herbou het, is hulle erg teëgestaan. Die mense rondom hulle het “die volk van Juda [voortdurend] ontmoedig sodat hulle met die bouwerk sou ophou” (Esra 4:4). Maar dinge het nog erger geraak. In 522 VHJ het ’n nuwe Persiese koning, Artasasta, begin regeer. * Die teenstanders het dit as ’n kans gesien om ’n einde te maak aan die bouwerk deur “moeilikheid [te] maak in die naam van die wet” (Ps. 94:20). Hulle het vir koning Artasasta gesê dat die Jode beplan om teen hom te rebelleer (Esra 4:11-16). Die koning het hulle leuens geglo en het ’n verbod op die bouwerk van die tempel geplaas (Esra 4:17-23). Daardie verbod het ’n einde gemaak aan die bouwerk, en ook aan die vreugde wat die Jode ondervind het. – Esra 4:24.

4. Wat het Jehovah gedoen toe die herbouwerk van die tempel teëgestaan word? (Jes. 55:11)

4 Die mense van die land wat Jehovah nie aanbid het nie en party in die Persiese regering was vasbeslote om die Jode te keer om die tempel te herbou. Maar Jehovah was vasbeslote om die bouwerk voort te sit, en niemand kan Jehovah keer om te doen wat hy wil doen nie. (Lees Jesaja 55:11.) Hy het ’n vreeslose profeet met die naam Sagaria aangestel en hom agt opwindende visioene laat sien. Sagaria moes dan vir die Jode van hierdie visioene vertel om hulle aan te moedig. Hierdie visioene het die Jode help besef dat hulle nie vir hulle teenstanders bang hoef te wees nie, en dit het hulle aangevuur om met Jehovah se werk voort te gaan. In die vyfde visioen het Sagaria ’n lampstaander en twee olyfbome gesien.

5. Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

5 Ons almal raak soms mismoedig. So Sagaria se visioen van die lampstaander en die twee olyfbome kan ons ook aanmoedig soos dit die Israeliete aangemoedig het. Hierdie visioen kan ons help om Jehovah getrou te dien wanneer ons teëgestaan word, wanneer ons omstandighede verander en wanneer ons instruksies kry wat ons nie verstaan nie.

WANNEER ONS TEËGESTAAN WORD

Sagaria het ’n visioen gesien van twee olyfbome wat olie voorsien aan ’n lampstaander met sewe lampe (Sien paragraaf 6)

6. Hoe het die visioen van die lampstaander en die twee olyfbome in Sagaria 4:1-3 vir die Jode moed gegee? (Sien prent op voorblad.)

6 Lees Sagaria 4:1-3. Die visioen van die lampstaander en die twee olyfbome het die Jode die moed gegee om aan te hou met hulle werk ten spyte van teenstand. Hoe? Wel, het jy opgelet dat die twee olyfbome die lampstaander heeltyd van olie voorsien? Die olie van die twee olyfbome het in ’n bak ingevloei. Van daar af het die olie na die sewe lampe op die lampstaander gevloei. Die olie het die lampe die heeltyd aan die brand gehou. Sagaria het gevra: “Wat beteken hierdie dinge?” Die engel het toe vir hom die volgende boodskap van Jehovah af gegee: “‘Nie deur ’n leërmag of deur krag nie, maar deur my gees,’ sê Jehovah van die leërmagte” (Sag. 4:4, 6). Die olie wat van die bome af gekom het, verteenwoordig Jehovah se kragtige heilige gees, wat nooit opraak nie. Al die militêre mag van Persië was niks in vergelyking met die krag van God se gees nie. Met Jehovah se hulp sou die Jode die bouwerk van die tempel kon klaarmaak ten spyte van die teenstand. Wat ’n aanmoedigende boodskap! Al wat die Jode moes doen, is om op Jehovah te vertrou en om aan die werk te spring. En dit is presies wat hulle gedoen het, al was daar nog ’n verbod op die bouwerk.

7. Wat het gebeur wat die bouers van die tempel gehelp het?

7 Iets het toe gebeur wat die bouers van die tempel gehelp het. Wat was dit? In 520 VHJ het Darius I koning van Persië geword. In die tweede jaar van sy koningskap het hy uitgevind dat die verbod op die bouwerk van die tempel onwettig was. Darius het toe vir die Jode die toestemming gegee om die bouwerk van die tempel te voltooi (Esra 6:1-3). Die koning se besluit het almal verbaas. Maar dit was nie al nie. Die koning het die Jode se teenstanders ook beveel om nie in te meng met die bouwerk van die tempel nie en om vir die Jode geld en alles te gee wat hulle nodig het om die bouwerk te voltooi! (Esra 6:7-12). As gevolg hiervan het die Jode die tempel omtrent vier jaar later, in 515 VHJ, voltooi. – Esra 6:15.

Vertrou op Jehovah se krag wanneer jy teëgestaan word (Sien paragraaf 8)

8. Hoekom kan jy moedig wees wanneer jy teëgestaan word?

8 Vandag word baie van Jehovah se aanbidders ook teëgestaan. Byvoorbeeld, in party lande is ons werk verbied. In sulke lande word ons broers gearresteer en “voor goewerneurs en konings gebring” as ’n getuienis vir hulle (Matt. 10:17, 18). Soms, wanneer ’n nuwe regering begin regeer, kry ons broers die geleentheid om Jehovah vryelik te aanbid. Of soms word ’n verbod op die predikingswerk gelig as gevolg van ’n hofbesluit deur ’n regverdige regter. Ander Getuies ondervind weer ’n ander soort vervolging. Hulle bly in ’n land waar hulle Jehovah vryelik kan aanbid, maar hulle familielede staan hulle teë en probeer om hulle te keer om hulle God te aanbid (Matt. 10:32-36). Baie keer hou hierdie teenstanders op om hulle familielede teë te staan wanneer hulle besef dat hulle dit nie kan regkry om hulle te keer nie. Om die waarheid te sê, baie teenstanders het toe later ywerige Getuies geword. Wanneer jy teëgestaan word, moet jy nie opgee nie! Wees moedig. Jy het Jehovah en sy kragtige heilige gees aan jou kant, so daar is niks wat jy hoef te vrees nie!

WANNEER JOU OMSTANDIGHEDE VERANDER

9. Hoekom was party van die Jode teleurgesteld toe die fondasie van die nuwe tempel gelê word?

9 Toe die fondasie van die nuwe tempel gelê word, het party van die ouer Jode gehuil (Esra 3:12). Hulle het die pragtige tempel gesien wat deur Salomo gebou is, en hulle het gedink dat die nuwe tempel “niks in vergelyking” met die vorige een sou wees nie (Hag. 2:2, 3). Hulle was verskriklik hartseer omdat hulle die nuwe tempel met die vorige een vergelyk het. Sagaria se visioen sou hulle help om hulle teleurstelling te oorkom. Hoe?

10. Hoe het die engel se woorde in Sagaria 4:8-10 die Jode gehelp om hulle teleurstelling te oorkom?

10 Lees Sagaria 4:8-10. Wat het die engel bedoel toe hy gesê het dat die Jode ‘bly sou wees en die skietlood in die hand van Serubbabel [die Joodse goewerneur] sou sien’? ’n Skietlood word gebruik om te bepaal of iets heeltemal vertikaal, of regop, is. Die engel het God se volk dus verseker dat die tempel voltooi sou word en dat Jehovah heeltemal tevrede sou wees daarmee, al het dit nie vir party so indrukwekkend gelyk nie. Die Jode sou tevrede moes wees met die tempel omdat Jehovah heeltemal tevrede sou wees daarmee. Wat vir Jehovah belangrik was, was dat die aanbidding in die nuwe tempel in lyn met sy vereistes moet wees. As die Jode daarop gefokus het om Jehovah op die regte manier te aanbid en om sy goedkeuring te kry, sou hulle hulle vreugde terugkry.

Fokus op die voordele van jou nuwe omstandighede (Sien paragraaf 11-12) *

11. Watter uitdagings het party van Jehovah se aanbidders vandag?

11 Vir baie van ons is dit moeilik om aan te pas wanneer ons omstandighede verander. Party wat jare lank in die spesiale voltydse diens was, het ’n nuwe toewysing gekry. Ander moes ’n toewysing opgee waarvoor hulle baie lief was as gevolg van hulle ouderdom. Dit is normaal om teleurgesteld te voel wanneer so iets met ons gebeur. Aan die begin sal ons die besluit miskien nie heeltemal verstaan of daarmee saamstem nie. Ons voel miskien dat dinge voorheen beter was. En ons word dalk mismoedig omdat ons voel dat ons nie meer vir Jehovah so baie kan doen as wat ons voorheen gedoen het nie (Spr. 24:10). Hoe kan Sagaria se visioen ons help om aan te hou om ons beste vir ons God te gee?

12. Hoe kan Sagaria se visioen ons help om ons vreugde te behou wanneer ons omstandighede verander?

12 Ons kan veranderinge beter hanteer wanneer ons dinge sien soos Jehovah dit sien. Jehovah is besig om wonderlike dinge te doen, en ons het die unieke voorreg om sy medewerkers te wees (1 Kor. 3:9). Ons verantwoordelikhede sal dalk verander, maar Jehovah se liefde vir ons sal nie. So as ’n verandering in die organisasie jou persoonlik raak, moet jy nie te lank sit en dink aan al die redes hoekom die verandering gemaak is nie. Moenie na “die vroeëre dae” verlang nie. Dink eerder biddend aan die voordele van die verandering (Pred. 7:10). En eerder as om te dink aan alles wat jy nie meer kan doen nie, moet jy dink aan alles wat jy kan doen. Sagaria se visioen leer ons hoe belangrik dit is om positief te bly. Dan sal ons vreugdevol en getrou bly, selfs as ons omstandighede verander.

WANNEER ONS INSTRUKSIES KRY WAT ONS NIE VERSTAAN NIE

13. Hoekom sou party Israeliete miskien gedink het dat dit ’n slegte idee was om weer met die bouwerk van die tempel te begin?

13 Al was daar ’n verbod op die bouwerk van die tempel, het die manne wat aangestel is om die leiding te neem – die hoëpriester Jesua (Josua) en goewerneur Serubbabel – “die huis van God . . . begin herbou” (Esra 5:1, 2). Party van die Jode sou miskien gedink het dat dit ’n slegte besluit is. Hulle vyande sou sien dat hulle besig is om die tempel te bou en sou alles doen wat hulle kon om moeilikheid te maak. Die twee manne wat die leiding geneem het, Josua en Serubbabel, het die versekering nodig gehad dat Jehovah hulle ondersteun. En hulle het dit gekry. Hoe?

14. Volgens Sagaria 4:12, 14, watter versekering het die hoëpriester Josua en goewerneur Serubbabel ontvang?

14 Lees Sagaria 4:12, 14. In hierdie deel van Sagaria se visioen, sê die engel vir God se getroue profeet dat die twee olyfbome “twee gesalfdes” verteenwoordig – Josua en Serubbabel. In die visioen staan daardie manne “langs die Here van die hele aarde”, Jehovah. Wat ’n voorreg! Jehovah het baie vertroue in daardie twee manne gehad en het hulle gebruik om die Israeliete te lei. En daarom het die Israeliete goeie rede gehad om enige instruksies wat hulle gegee het, te vertrou.

15. Hoe kan ons wys dat ons die leiding respekteer wat Jehovah vir ons deur middel van sy Woord gee?

15 Een manier hoe Jehovah sy volk vandag lei, is deur middel van sy Woord, die Bybel. In daardie heilige boek sê Jehovah vir ons hoe om hom op ’n aanvaarbare manier te aanbid. Hoe kan ons wys dat ons die leiding respekteer wat ons in God se Woord kry? Deur aandag te skenk aan wat ons lees en deur die tyd te neem om dit te probeer verstaan. Vra jouself: ‘Wanneer ek die Bybel of een van ons publikasies lees, neem ek die tyd om daaroor na te dink? Probeer ek om Bybelwaarhede te verstaan wat “moeilik [is] om te verstaan”? Of lees ek net vinnig deur die inligting?’ (2 Pet. 3:16). As ons die tyd neem om na te dink oor wat Jehovah ons leer, sal ons sy leiding kan volg en ons bediening kan uitvoer. – 1 Tim. 4:15, 16.

Vertrou die instruksies wat jy van “die getroue en verstandige slaaf” kry (Sien paragraaf 16) *

16. Wat sal ons help om instruksies van “die getroue en verstandige slaaf” te volg wanneer ons dit nie ten volle verstaan nie?

16 Nog ’n manier hoe Jehovah ons lei, is deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” (Matt. 24:45). Soms sal hierdie slaaf miskien vir ons instruksies gee wat ons nie ten volle verstaan nie. Byvoorbeeld, ons sal dalk instruksies kry oor hoe om voor te berei vir ’n natuurramp, maar miskien dink ons dat so iets nie in ons gebied sal gebeur nie. Of dalk dink ons dat die slaaf te versigtig is gedurende ’n pandemie. Wat moet ons doen as ons dink dat die instruksies nie prakties is nie? Ons kan dink aan hoe dit die Israeliete gehelp het toe hulle Josua en Serubbabel se instruksies gevolg het. Ons kan ook dink aan ander Bybelverslae wat ons al gelees het. Soms het God se volk instruksies gekry wat nie prakties gelyk het nie, maar wat op die ou end lewens gered het. – Rigt. 7:7; 8:10.

SIEN WAT SAGARIA GESIEN HET

17. Watter uitwerking het die visioen van die lampstaander en die twee olyfbome op die Jode gehad?

17 Al was die vyfde visioen wat Sagaria gesien het, kort, het dit die Jode gehelp om positief te wees oor hulle werk en hulle aanbidding. En toe hulle die lesse toepas wat hulle in Sagaria se visioen geleer het, het hulle gesien hoe Jehovah hulle liefdevol ondersteun en lei. Deur middel van sy kragtige heilige gees het Jehovah hulle gehelp om aan te hou met hulle werk en om hulle vreugde terug te kry. – Esra 6:16.

18. Hoe kan Sagaria se visioen jou help?

18 Sagaria se visioen van die lampstaander en die twee olyfbome kan ’n kragtige uitwerking op jou lewe hê. Soos ons bespreek het, kan dit jou help om die nodige krag te kry wanneer jy teëgestaan word, om jou vreugde te behou wanneer jou omstandighede verander en om die nodige vertroue te hê wanneer jy instruksies kry wat jy nie verstaan nie. Wat moet jy doen wanneer jy uitdagings ondervind? Eerstens moet jy sien wat Sagaria gesien het – bewyse dat Jehovah vir Sy volk sorg. En vertrou op Jehovah en hou aan om hom met jou hele hart te aanbid (Matt. 22:37). As jy dit doen, sal Jehovah jou help om hom vir ewig met vreugde te dien. – Kol. 1:10, 11.

LIED 7 Jehovah, ons sterkte

^ par. 5 Jehovah het vir die profeet Sagaria ’n reeks opwindende visioene gegee. Wat Sagaria gesien het, het vir hom en Jehovah se volk die krag gegee om die uitdagings te oorkom wat hulle ondervind het toe hulle probeer het om rein aanbidding te herstel. Hierdie visioene kan ons ook help om Jehovah getrou te dien wanneer ons uitdagings ondervind. In hierdie artikel gaan ons belangrike lesse bespreek wat ons kan leer uit Sagaria se visioen van die lampstaander en die olyfbome.

^ par. 3 Jare later, in die dae van goewerneur Nehemia, was daar ’n ander koning met die naam Artasasta wat goedgesind teenoor die Jode was.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer besef dat hy aanpassings moet maak omdat sy omstandighede verander het as gevolg van sy ouderdom en swak gesondheid.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster dink na oor hoe Jehovah “die getroue en verstandige slaaf” ondersteun, net soos hy Josua en Serubbabel ondersteun het.