Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om angstigheid te hanteer

Hoe om angstigheid te hanteer

ANGSTIGHEID kan soos ’n swaar las wees wat ons regtig onderkry (Spr. 12:25). Het jy al die intense druk ondervind wat deur angstigheid veroorsaak word? Het jy al ooit gevoel dat jou emosies breekpunt bereik het? Wel, dan is jy beslis nie alleen nie. Baie van ons is miskien al deur ’n natuurramp getref, of miskien het ons ’n geliefde in die dood verloor of moes ons vir ’n siek familielid sorg. Al hierdie dinge kan ons fisies, verstandelik en emosioneel uitput. Maar wat kan ons help om angstigheid te hanteer? a

Ons kan baie leer oor hoe om angstigheid te hanteer deur na koning Dawid se voorbeeld te kyk. Dwarsdeur sy lewe het hy baie moeilike situasies ondervind, en hy het soms selfs die dood in die gesig gestaar (1 Sam. 17:34, 35; 18:10, 11). Hoe het Dawid angstigheid hanteer? En hoe kan ons sy voorbeeld navolg?

HOE DAWID ANGSTIGHEID HANTEER HET

Dawid het soms ’n hele paar probleme op dieselfde tyd ondervind. Dink byvoorbeeld aan wat gebeur het toe koning Saul hom wou doodmaak en hy vir sy lewe gevlug het. Eenkeer, toe Dawid en sy manne ná ’n geveg by die huis aangekom het, was hulle geskok om te sien dat hulle vyande hulle besittings gesteel het, hulle huise afgebrand het en hulle gesinne gevange geneem het. Hoe het Dawid gereageer? “Dawid en sy manne het hard gehuil totdat hulle nie meer krag gehad het om te huil nie.” Om dinge nog erger te maak, het Dawid se eie manne “gesê dat hulle hom met klippe wil doodgooi” (1 Sam. 30:1-6). Dawid het toe drie groot probleme gehad: Sy gesin was in gevaar, hy was bang dat sy manne hom sou doodmaak en koning Saul was nog op sy spoor. Dink net hoe angstig Dawid moes gewees het!

Wat het Dawid toe gedoen? “Dawid het [onmiddellik] by Jehovah sy God hulp gesoek, en so is hy versterk.” Hoe het Dawid dit moontlik gedoen? Dit was Dawid se gewoonte om Jehovah te vra om hom te help en om na te dink oor hoe Jehovah hom in die verlede gehelp het (1 Sam. 17:37; Ps. 18:2, 6). Dawid het geweet dat hy Jehovah se leiding nodig gehad het. En daarom het hy vir Jehovah gevra wat hy moet doen. Nadat Dawid Jehovah se antwoord gekry het, het hy dadelik opgetree. Jehovah het hom en sy manne hiervoor geseën, en hulle het hulle gesinne en besittings teruggekry (1 Sam. 30:7-9, 18, 19). Het jy opgelet watter drie dinge Dawid gedoen het? Hy het tot Jehovah gebid vir hulp, nagedink oor hoe Jehovah hom in die verlede gehelp het en opgetree toe hy Jehovah se leiding ontvang het. Hoe kan ons Dawid navolg? Kom ons kyk na drie maniere.

VOLG DAWID NA WANNEER JY ANGSTIG IS

1. Bid. Wanneer ons angstig begin voel, kan ons vir Jehovah vra om ons te help en om vir ons wysheid te gee. Ons kan vir Jehovah ons laste gee deur ons hart in gebed uit te stort. Of, as ons omstandighede ons nie toelaat om dit te doen nie, kan ons ’n kort, stille gebed doen. Elke keer wanneer ons Jehovah vir hulp vra, wys ons dat ons hom vertrou net soos Dawid hom vertrou het. Dawid het gesê: “Jehovah is my groot rots en my vesting en die Een wat my red. My God is my rots, by wie ek beskerming soek” (Ps. 18:2). Kan gebed ’n mens regtig help? ’n Pioniersuster met die naam Kahlia sê: “Nadat ek bid, het ek innerlike vrede. Gebed help my om te dink soos Jehovah dink en dit versterk my vertroue in hom.” Gebed is beslis ’n kragtige voorsiening van Jehovah wat ons help om angstigheid te hanteer.

2. Dink na. Was daar al moeilike tye in jou lewe wat jy net met Jehovah se hulp kon deurmaak? Wanneer ons nadink oor hoe Jehovah ons, sowel as sy knegte van die verlede, ondersteun het, versterk dit ons vertroue in hom en kry ons innerlike vrede (Ps. 18:17-19). ’n Ouerman met die naam Joshua sê: “Ek het ’n lys gemaak van gebede wat Jehovah al beantwoord het. Dit herinner my aan die tye toe ek vir Jehovah vir iets spesifieks gevra het en hy vir my presies gegee het wat ek nodig gehad het.” Wanneer ons nadink oor alles wat Jehovah vir ons gedoen het, kry ons nuwe krag wat ons help om teen angstigheid te stry.

3. Tree op. Voordat ons besluit wat ons in ’n sekere situasie moet doen, kan ons God se Woord gebruik om die betroubaarste leiding te kry (Ps. 19:7, 11). Baie mense het al gevind dat navorsing oor ’n spesifieke vers hulle help om te sien hoe daardie vers op hulle lewe van toepassing is. ’n Ouerman met die naam Jarrod sê: “Navorsing help my om meer oor die vers te leer en om te verstaan wat Jehovah vir my sê. Dit laat dit in my hart insink sodat ek volgens sy leiding kan optree.” As ons Jehovah se leiding in die Bybel soek en daarvolgens optree, sal dit ons help om angstigheid te hanteer.

JEHOVAH SAL JOU HELP OM ANGSTIGHEID TE HANTEER

Dawid het geweet dat hy Jehovah se hulp nodig gehad het om angstigheid te hanteer. Hy het Jehovah se ondersteuning so baie waardeer dat hy gesê het: “Deur God se krag kan ek teen ’n muur opklim . . . Die ware God is die Een wat my krag gee” (Ps. 18:29, 32). Ons probleme lyk miskien vir ons soos hoë mure waaroor ons nie kan klim nie. Maar met Jehovah se hulp kan ons enige muuragtige probleme oorkom! So wanneer ons tot Jehovah bid vir hulp, nadink oor alles wat hy vir ons gedoen het en volgens sy leiding optree, kan ons seker wees dat hy vir ons die krag en die wysheid sal gee wat ons nodig het om angstigheid te hanteer!

a ’n Persoon wat intense angstigheid ondervind, sal miskien mediese hulp moet kry.