Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 17

Ma’s – Leer uit die voorbeeld van Eunice

Ma’s – Leer uit die voorbeeld van Eunice

“Moenie die onderrigting van jou ma verwerp nie. Dit is ’n aantreklike krans vir jou kop en ’n pragtige versiering vir jou nek.” – SPR. 1:8, 9.

LIED 137 Getroue vroue, Christensusters

IN HIERDIE ARTIKEL a

Timoteus se ma, Eunice, en sy ouma, Loïs, loop oor van vreugde en trots terwyl hulle kyk hoe hy gedoop word (Sien paragraaf 1)

1-2. (a) Wie was Eunice, en watter uitdaging het sy gehad? (b) Beskryf die prent op die voorblad.

 AL NOEM die Bybel nie Timoteus se doop nie, kan ons net dink hoe bly sy ma, Eunice, daardie dag moes gewees het (Spr. 23:25). Verbeel jou hoe sy met groot trots na Timoteus kyk terwyl hy in die water staan. Sy glimlag terwyl Loïs, Timoteus se ouma, haar vashou. Sy snak na haar asem wanneer sy sien hoe Timoteus onder die water verdwyn. Wanneer hy met ’n groot glimlag op sy gesig uit die water opkom, kan sy nie meer haar trane keer nie. Al was dit nie maklik nie, het Eunice dit reggekry om haar seun te leer om Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, lief te kry. Maar watter uitdagings moes sy oorkom?

2 Timoteus se ouers het nie aan dieselfde godsdiens behoort nie. Sy pa was Grieks, en sy ma en ouma was Jode (Hand. 16:1). Timoteus was moontlik ’n tiener toe Eunice en Loïs Christene geword het. Maar sy pa het nie ’n Christen geword nie. Watter keuse sou Timoteus maak? Hy was seker oud genoeg om sy eie besluit te neem. Sou hy sy pa se godsdiens kies? Sou hy vasklou aan die Joodse tradisies waarmee hy grootgeword het? Of sou hy kies om ’n dissipel van Jesus Christus te word?

3. Volgens Spreuke 1:8, 9, hoe voel Jehovah oor alles wat ma’s doen om hulle kinders te help om sy vriende te word?

3 Soos Eunice, is Christenma’s lief vir hulle gesin. Hulle grootste begeerte is om hulle kinders te help om ’n sterk vriendskap met Jehovah te hê. En Jehovah het groot waardering vir alles wat hulle doen om hulle kinders te help. (Lees Spreuke 1:8, 9.) Jehovah het al baie ma’s gehelp om hulle kinders te leer om die waarheid lief te kry.

4. Watter uitdagings het baie ma’s vandag?

4 Van tyd tot tyd sal ’n ma natuurlik wonder of haar kinders sal kies om Jehovah te dien, soos Timoteus gedoen het. Want ouers weet hoeveel druk hulle kinders in Satan se wêreld ondervind (1 Pet. 5:8). En boonop moet baie ma’s hulle kinders alleen grootmaak, of saam met ’n man wat Jehovah nie dien nie. Byvoorbeeld, ’n suster met die naam Christine b sê: “My man was ’n goeie man en ’n goeie pa, maar hy was baie gekant teen die waarheid en hy wou nie hê dat ek die kinders as Jehovah se Getuies moet grootmaak nie. Oor die jare het ek al baie gehuil omdat ek gewonder het hoe ek my kinders ooit kon help om Jehovah te dien.”

5. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

5 As jy ’n Christenma is, kan jy, net soos Eunice, suksesvol wees. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe jy haar voorbeeld kan navolg en jou kinders kan leer deur wat jy en deur wat jy doen. Ons sal ook kyk na hoe Jehovah jou sal help.

LEER JOU KINDERS DEUR WAT JY 

6. Volgens 2 Timoteus 3:14, 15, hoe het Timoteus ’n Christen geword?

6 Toe Timoteus klein was, het sy ma haar bes gedoen om hom van “die heilige geskrifte” te leer. Sy het natuurlik net die Hebreeuse Geskrifte geken, en sy het niks geweet omtrent Jesus Christus nie. Maar wat Timoteus uit die Skrif geleer het, het hom oortuig dat hy ’n Christen moet word. Maar sou hy? As ’n jong man het hy die reg gehad om te besluit of hy ’n Christen sou word. Een rede hoekom Timoteus oortuig is om die waarheid oor Jesus te glo, is omdat sy ma haar bes gedoen het om hom daarvan te leer. (Lees 2 Timoteus 3:14, 15.) Dink net hoe bly Eunice moes gewees het dat sy, ten spyte van die uitdagings, dit reggekry het om haar seun te leer om Jehovah lief te kry. Die naam Eunice kom van ’n woord af wat “oorwin” beteken. En sy het beslis bewys dat sy ’n oorwinnaar is.

7. Hoe kon Eunice haar seun help om ná sy doop vordering te maak?

7 Doop was ’n belangrike stap in Timoteus se lewe, maar dit was nie die einde van Eunice se bekommernisse nie. Hoe sou haar seun sy lewe gebruik? Sou hy by slegte assosiasie betrokke raak? Sou hy in Atene gaan studeer en die leringe van die heidense filosowe daar begin glo? Sou hy sy tyd, energie en sy beste jare mors deur rykdom na te jaag? Eunice kon nie vir Timoteus besluite neem nie, maar sy kon hom help. Hoe? Sy kon aanhou om haar bes te doen om haar seun se liefde vir Jehovah te versterk en om hom te help om te waardeer wat Jehovah en Jesus vir hulle gedoen het. Maar dit is nie net ouers wie se huweliksmaat nie in die waarheid is wat hierdie uitdagings ondervind nie. Selfs al is albei ouers in die waarheid, kan dit nog steeds moeilik wees om kinders te help om Jehovah lief te kry en te dien. Wat kan ouers uit Eunice se voorbeeld leer?

8. As albei ouers in die waarheid is, hoe kan ’n ma haar man help om na hulle kinders se geestelike behoeftes om te sien?

8 Studeer die Bybel met jou kinders. As jou man in die waarheid is, wil Jehovah hê dat jy hom moet help om na die geestelike behoeftes van julle kinders om te sien. Een manier hoe jy dit kan doen, is deur julle program vir Gesinsaanbidding gereeld te ondersteun. Wees opgewonde daaroor en dink aan wat jy kan doen om dit lekker te maak en om ’n liefdevolle atmosfeer te skep. Miskien kan jy jou man help om ’n spesiale Bybelstudieprojek te beplan. En as party van julle kinders oud genoeg is om baat te vind by ’n studie in die boek Geniet die lewe vir ewig!, kan jy dalk saam met jou man werk om seker te maak dat hulle studie gehou word.

9. Waar kan ’n ma wie se man nie in die waarheid is nie, hulp kry?

9 Ma’s wat enkelouers is of wie se man nie in die waarheid is nie, moet die leiding neem om die Bybel met hulle kinders te studeer. As jy in daardie situasie is, moet jy nie te angstig word nie. Jehovah sal jou help. Gebruik die hulpmiddele wat deur sy organisasie voorsien word om met jou kinders te studeer. En miskien kan jy ander ervare ouers vir nuwe idees vra oor hoe om hierdie hulpmiddele vir gesinsaanbidding te gebruik (Spr. 11:14). c Jehovah kan jou ook help om met jou kinders te kommunikeer. Vra hom om jou te help om aan die regte vrae te dink sodat jy kan uitvind wat jou kinders dink en hoe hulle voel (Spr. 20:5). ’n Eenvoudige vraag soos ‘Wat is jou grootste uitdaging by die skool?’ kan tot ’n lekker gesprek lei.

10. Wat kan jy nog doen om jou kinders oor Jehovah te leer?

10 Skep geleenthede om jou kinders oor Jehovah te leer. Praat oor Jehovah en oor al die goeie dinge wat hy al vir jou gedoen het (Deut. 6:6, 7; Jes. 63:7). Dit is veral belangrik as jy nie gereeld by die huis met jou kinders kan studeer nie. Christine, wat vroeër aangehaal is, sê: “Daar was so min geleenthede om geestelike dinge te bespreek dat ek van elke oomblik gebruik gemaak het om dit te doen. Ons sou gaan stap of in ’n kano gaan roei om oor Jehovah se wonderlike skepping en oor baie ander geestelike dinge te praat. Toe my kinders groot genoeg was, het ek hulle aangemoedig om die Bybel op hulle eie te studeer.” Wanneer jy met jou kinders praat, moet jy ook op ’n positiewe manier oor Jehovah se organisasie en oor jou broers en susters praat. Moenie sleg praat van die ouermanne nie. Wat jy oor hulle sê, kan bepaal of jou kinders na hulle toe sal gaan wanneer hulle hulp nodig het.

11. Volgens Jakobus 3:18, hoekom is dit belangrik om vrede by die huis te bevorder?

11 Bevorder vrede by die huis. Wys gereeld vir jou man en vir jou kinders dat jy hulle liefhet. Praat op ’n liefdevolle en respekvolle manier oor jou man, en leer jou kinders om dieselfde te doen. Wanneer jy dit doen, sal jy vrede by die huis bevorder, en dan sal dit vir jou kinders makliker wees om oor Jehovah te leer. (Lees Jakobus 3:18.) Kyk na die voorbeeld van Jozsef, wat as ’n spesiale pionier in Roemenië dien. Terwyl hy grootgeword het, het sy pa dit vir hom, sy ma en sy broers en susters moeilik gemaak om Jehovah te dien. Jozsef sê: “My ma het hard probeer om seker te maak dat daar vrede is by die huis. Hoe moeiliker my pa die lewe vir ons gemaak het, hoe liefdevoller was my ma. Wanneer sy gesien het dat ons sukkel om my pa te respekteer en om gehoorsaam aan hom te wees, het sy Efesiërs 6:1-3 met ons bespreek. Dan sou sy oor my pa se goeie eienskappe praat en vir ons help om te sien hoekom ons vir hom lief moet wees. So het sy ons gehelp om baie moeilike situasies te hanteer.”

LEER JOU KINDERS DEUR WAT JY DOEN

12. Volgens 2 Timoteus 1:5, watter uitwerking het Eunice se voorbeeld op Timoteus gehad?

12 Lees 2 Timoteus 1:5. Eunice het ’n goeie voorbeeld vir Timoteus gestel. Sy het seker vir hom geleer dat ware geloof deur ’n mens se dade gesien kan word (Jak. 2:26). Timoteus kon sien dat alles wat sy ma gedoen het, bewys het dat sy baie lief was vir Jehovah. Timoteus kon sien dat dit sy ma gelukkig maak om Jehovah te dien. Watter uitwerking het Eunice se voorbeeld op Timoteus gehad? Soos die apostel Paulus genoem het, het Timoteus ook sterk geloof gehad, net soos sy ma. En hy het nie daardie geloof per toeval ontwikkel nie. Hy het sy ma dopgehou en besluit om haar voorbeeld te volg. Vandag het baie ma’s ook “sonder ’n woord” die hart van hulle gesinslede bereik (1 Pet. 3:1, 2). Jy kan dieselfde doen. Hoe?

13. Hoekom moet ’n ma haar verhouding met Jehovah eerste in haar lewe stel?

13 Stel jou verhouding met Jehovah eerste (Deut. 6:5, 6). Soos die meeste ma’s, maak jy baie opofferings. Jy offer baie van jou tyd, geld, slaap en ander dinge op om vir jou kinders te sorg. Maar jy moet nooit so besig wees dat jou verhouding met Jehovah daaronder ly nie. Maak gereeld tyd om te bid, persoonlike studie te doen en vergaderinge by te woon. As jy dit doen, sal jy nader aan Jehovah kom en ’n goeie voorbeeld vir jou gesin en vir ander stel.

14-15. Wat leer jy uit die voorbeeld van Leanne, Maria en João?

14 Kyk na ’n paar voorbeelde van jongmense wat geleer het om Jehovah lief te kry en om hom te vertrou deur hulle ma se voorbeeld dop te hou. Christine se dogter Leanne sê: “Ons kon nie die Bybel studeer wanneer my pa by die huis was nie. Maar my ma het al die vergaderinge getrou bygewoon. Haar voorbeeld en sterk geloof het ons gehelp om sterk geloof op te bou, al het ons min omtrent die waarheid geweet. Ons het geweet dat dit die waarheid is lank voordat ons vergaderinge begin bywoon het.”

15 Maria, wie se pa hulle gesin soms gestraf het omdat hulle vergaderinge bygewoon het, sê: “My ma is een van die moedigste susters wat ek ken. Toe ek ’n kind was, het ek soms geweier om sekere dinge te doen omdat ek bang was vir wat ander sou sê. Maar toe ek sien hoe moedig sy is en hoe sy Jehovah altyd eerste in haar lewe stel, het dit my gehelp om mensevrees te oorkom.” João, wie se pa hulle verbied het om geestelike dinge by die huis te bespreek, sê: “Ek dink wat my die meeste geraak het, was dat my ma bereid was om enige iets op te offer – behalwe haar liefde vir Jehovah – om my pa tevrede te stel.”

16. Watter uitwerking kan ’n ma se voorbeeld op ander hê?

16 Ma’s, hou in gedagte dat julle voorbeeld ander raak. Hoe? Wel, dink aan die uitwerking wat Eunice se voorbeeld op die apostel Paulus gehad het. Hy het gepraat van Timoteus se opregte geloof, wat “Eunice eers gehad het” (2 Tim. 1:5). Wanneer het Paulus Eunice se geloof vir die eerste keer gesien? Hy het Loïs en Eunice heel moontlik gedurende sy eerste sendingreis in Listra ontmoet, en hy het hulle dalk gehelp om Christene te word (Hand. 14:4-18). Dink net: Toe Paulus – omtrent 15 jaar later – vir Timoteus geskryf het, het hy Eunice se dade van geloof nog steeds onthou en het hy haar as ’n voorbeeld gebruik van iemand wat ’n mens kan navolg! Dit is duidelik dat sy ’n baie groot indruk op Paulus, en seker ook op baie ander Christene, gemaak het. As jy jou kinders alleen grootmaak, of saam met ’n man wat nie in die waarheid is nie, kan jy seker wees dat jou getroue voorbeeld ander om jou versterk en motiveer.

Dit neem tyd om ’n kind te help om geestelik te groei. Moenie opgee nie! (Sien paragraaf 17)

17. Wat moet jy doen as dit lyk asof jou kind nie die waarheid wil aanvaar nie, al doen jy jou bes om hom op te lei?

17 Sê nou dit lyk asof jou kind nie die waarheid wil aanvaar nie, al doen jy jou bes om hom op te lei? Onthou, dit neem tyd om ’n kind op te lei. Wanneer ’n mens ’n saadjie plant, wonder jy soms of dit ooit sal groei en ’n plant sal word wat vrug dra. Al kan jy die plant nie forseer om te groei nie, kan jy aanhou om dit water te gee en om dit die beste geleentheid te gee om te kan groei (Mark. 4:26-29). As ’n ma, wonder jy ook miskien soms of jy jou kind se hart bereik. Jy het geen beheer oor die besluite wat jou kinders maak nie. Maar as jy aanhou om jou bes te doen om hulle op te lei, gee jy vir hulle die beste geleentheid om geestelik te groei. – Spr. 22:6.

VERTROU OP JEHOVAH

18. Hoe kan Jehovah jou kinders help om geestelik te groei?

18 Vanaf Bybeltye het Jehovah baie jongmense al gehelp om sy vriende te word (Ps. 22:9, 10). Hy kan jou kinders ook help om geestelik te groei, as dit hulle begeerte is (1 Kor. 3:6, 7). Al lyk dit asof jou kinders van die pad af dwaal, sal Jehovah aanhou om ’n liefdevolle ogie oor hulle te hou (Ps. 11:4). Al sien hy maar net die kleinste teken dat hulle “die regte gesindheid” het, sal hy daar wees om hulle te help om sy vriend te word (Hand. 13:48; 2 Kron. 16:9). Hy kan jou help om die regte ding op die regte tyd te sê – wanneer jou kinders dit die nodigste het (Spr. 15:23). Of hy kan ’n liefdevolle broer of suster in die gemeente beweeg om spesiale belangstelling in hulle te toon. En selfs nadat jou kinders grootgeword het, kan Jehovah hulle aan iets laat dink wat jy hulle in die verlede geleer het (Joh. 14:26). Wanneer jy aanhou om jou bes te doen om jou kinders te leer deur wat jy sê en deur wat jy doen, gee jy vir Jehovah baie om te seën.

19. Hoekom kan jy seker wees dat jy Jehovah se goedkeuring het?

19 Jehovah se liefde vir jou hang nie van jou kinders se keuses af nie. Hy is lief vir jou omdat jy vir hom lief is. As jy ’n enkelouer is, moet jy onthou dat Jehovah belowe om ’n Vader vir jou kinders te wees en om ’n Beskermer vir jou te wees (Ps. 68:5). Jy kan jou kinders nie forseer om Jehovah te dien nie. Maar as jy aanhou om op Jehovah te vertrou en om jou bes te doen, sal jy sy goedkeuring hê.

LIED 134 Kinders is ’n erfdeel van God

a In hierdie artikel gaan ons bespreek hoe Christenma’s uit die voorbeeld van Timoteus se ma, Eunice, kan leer en hoe hulle hulle kinders kan help om Jehovah te leer ken en lief te kry.

b Party name is verander.

c Sien byvoorbeeld les 50 in die boek Geniet die lewe vir ewig! en die artikel “Idees vir gesinsaanbidding en persoonlike studie” in Die Wagtoring van 15 Augustus 2011, bl. 6-7.