Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 18

Hoe om geestelike doelwitte te stel en te bereik

Hoe om geestelike doelwitte te stel en te bereik

“Dink na oor hierdie dinge, wees verdiep daarin, sodat almal jou vooruitgang duidelik kan sien.” – 1 TIM. 4:15.

LIED 84 Ons doen ons bes

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Watter geestelike doelwitte kan ons vir onsself stel?

 AS WARE Christene is ons baie lief vir Jehovah. Ons wil ons beste gee in ons diens aan hom. Maar as ons ons volle potensiaal wil bereik, moet ons geestelike doelwitte stel, soos om Christelike eienskappe te ontwikkel, om sekere vaardighede aan te leer en om na maniere te soek om ander te dien. b

2. Hoekom moet ons geestelike doelwitte stel en hard werk om dit te bereik?

2 Hoekom wil ons geestelike vordering maak? Eerstens, omdat ons ons liefdevolle hemelse Vader gelukkig wil maak. Dit maak Jehovah se hart bly wanneer hy sien dat ons ons talente en vermoëns ten volle in sy diens gebruik. Tweedens, ons wil geestelike vordering maak sodat ons ons broers en susters meer kan help (1 Tess. 4:9, 10). Ons almal kan geestelike vordering maak, maak nie saak hoe lank ons in die waarheid is nie. Kom ons kyk hoe ons dit kan doen.

3. Volgens 1 Timoteus 4:12-16, wat het die apostel Paulus Timoteus aangemoedig om te doen?

3 Toe die apostel Paulus sy eerste brief aan Timoteus geskryf het, was daardie jong man al ’n ervare ouerman. Maar Paulus het hom nog steeds aangemoedig om aan te hou om geestelike vordering te maak. (Lees 1 Timoteus 4:12-16.) Terwyl jy Paulus se raad lees, sal jy sien dat hy wou hê dat Timoteus twee dinge moes doen. Hy wou hê dat Timoteus Christelike eienskappe moes ontwikkel soos liefde, geloof en sedelike reinheid en dat hy moes verbeter wanneer dit kom by sekere vaardighede, soos openbare voorlesing, aansporing en onderrigting. Met Timoteus se voorbeeld in gedagte, kom ons kyk hoe ons geestelike vordering kan maak deur redelike doelwitte te stel en te bereik. En ons sal ook kyk na hoe ons meer in Jehovah se diens kan doen.

ONTWIKKEL CHRISTELIKE EIENSKAPPE

4. Volgens Filippense 2:19-22, hoekom kon Jehovah Timoteus gebruik?

4 Hoekom kon Jehovah Timoteus gebruik? Omdat hy pragtige Christelike eienskappe gehad het. (Lees Filippense 2:19-22.) Uit Paulus se beskrywing van Timoteus kan ons sien dat hy nederig, lojaal, hardwerkend en betroubaar was. Hy was baie liefdevol en het baie vir die broers omgegee. En daarom was Paulus baie lief vir Timoteus en het hy nie gehuiwer om vir hom moeilike toewysings te gee nie (1 Kor. 4:17). Net so, as ons eienskappe ontwikkel wat Jehovah liefhet, sal hy ons meer liefhê en sal ons meer kan doen om ons broers en susters te help. – Ps. 25:9; 138:6.

Identifiseer ’n Christelike eienskap waaraan jy graag wil werk (Sien paragraaf 5-6)

5. (a) Hoe kan jy besluit watter Christelike eienskap jy moet ontwikkel? (b) Soos ons in die prent sien, hoe werk die jonger suster aan haar doelwit om meer meegevoel vir ander te hê?

5 Kies ’n spesifieke doelwit. Bid en dink na oor watter aspek van jou persoonlikheid werk nodig het. Kies een spesifieke eienskap waaraan jy wil werk. Kan jy byvoorbeeld meer meegevoel ontwikkel of jou begeerte versterk om jou broers en susters te ondersteun? Moet jy leer om ’n vredemaker te wees en om ander makliker te vergewe? Miskien kan jy een van jou goeie vriende vra vir wenke oor hoe jy kan verbeter. – Spr. 27:6.

6. Wat kan jy doen om ’n Christelike eienskap te ontwikkel?

6 Hoe om jou doelwit te bereik. Studeer die eienskap waaraan jy wil werk. Sê nou jy wil ander makliker vergewe. Jy kan dalk lees en nadink oor Bybelverslae van persone wat ander vryelik vergewe het en van ander wat dit nie gedoen het nie. Dink aan Jesus se voorbeeld. Hy het ander vryelik vergewe (Luk. 7:47, 48). En hy het hulle potensiaal raakgesien en nie op hulle foute gefokus nie. Maar die Fariseërs in Jesus se dag het “ander as niks beskou” nie (Luk. 18:9). Nadat jy oor hierdie voorbeelde nagedink het, kan jy jouself vra: ‘Wat sien ek in ander? Op watter van hulle eienskappe fokus ek?’ As jy sukkel om iemand te vergewe, probeer om soveel van daardie persoon se goeie eienskappe neer te skryf as wat jy kan. En dan kan jy jouself vra: ‘Hoe beskou Jesus hierdie persoon? Sou Jesus hom vergewe?’ So ’n studieprojek kan jou help om jou denke te verander. Aan die begin sal dit dalk vir ons moeilik wees om iemand wat ons seergemaak het, te vergewe. Maar as ons aanhoudend probeer verbeter, sal dit vir ons makliker word om ander te vergewe.

LEER NUWE VAARDIGHEDE AAN

Bied aan om te leer om instandhoudingswerk by jou Koninkryksaal te doen (Sien paragraaf 7) e

7. Met Spreuke 22:29 in gedagte, hoe gebruik Jehovah vaardige werkers vandag?

7 Nog ’n doelwit wat jy vir jouself kan stel, is om ’n vaardigheid aan te leer. Dink aan hoeveel werkers nodig is om Bethelfasiliteite, Byeenkomssale en Koninkryksale te bou. Baie van hierdie werkers het hulle vaardighede aangeleer deur saam met broers te werk wat ervare ambagsmanne is. Soos ons in die prent sien, leer broers sowel as susters die vaardighede aan wat hulle nodig het om Byeenkomssale en Koninkryksale in stand te hou. So dit is duidelik dat Jehovah God, “die Koning van die ewigheid,” en Jesus Christus, “die Koning van [die] konings”, vaardige werkers gebruik om wonderlike dinge te doen. (1 Tim. 1:17; 6:15; lees Spreuke 22:29.) Ons wil hard werk en ons vaardighede gebruik om Jehovah te verheerlik, en nie onsself nie. – Joh. 8:54.

8. Hoe kan jy besluit watter vaardigheid jy moet aanleer?

8 Kies ’n spesifieke doelwit. Watter vaardigheid kan jy aanleer? Vra die ouermanne in jou gemeente en miskien jou kringopsiener watter vaardigheid hulle dink jy kan aanleer. As hulle byvoorbeeld voorstel dat jy as ’n onderrigter moet verbeter, kan jy hulle vra om iets spesifieks te identifiseer waaraan jy kan werk. Dan moet jy hard probeer om te verbeter. Hoe kan jy dit doen?

9. Hoe kan jy ’n vaardigheid aanleer?

9 Hoe om jou doelwit te bereik. Sê nou jy wil ’n beter onderrigter word. Jy kan die brosjure Leer hoe om beter te lees en onderrig deeglik studeer. Wanneer jy ’n deel op die Lewe en Bediening-vergadering het, kan jy ’n ervare broer voor die tyd vra om na jou te luister en om vir jou wenke te gee oor hoe jy kan verbeter. Probeer ook om ’n reputasie op te bou as iemand wat hardwerkend en betroubaar is. – Spr. 21:5; 2 Kor. 8:22.

10. Gee ’n voorbeeld wat wys hoe ons ’n vaardigheid kan aanleer.

10 Sê nou dit is vir jou moeilik om ’n sekere vaardigheid aan te leer. Moenie opgee nie! ’n Broer met die naam Garry het byvoorbeeld gesukkel om te lees. Hy onthou hoe skaam hy gevoel het toe hy by die vergaderinge moes lees. Maar hy het heeltyd probeer verbeter. As gevolg van die opleiding wat hy gekry het, kan hy nou toesprake in die gemeente, by kringbyeenkomste en by streekbyeenkomste gee!

11. Wat sal ons help om meer te doen in ons diens aan Jehovah?

11 Het Timoteus ’n uitstekende spreker en onderrigter geword? Die Bybel sê nie. Maar Timoteus het sy verantwoordelikhede natuurlik al hoe beter uitgevoer omdat hy Paulus se raad toegepas het (2 Tim. 3:10). En as ons vaardighede aanleer, sal ons ook meer in Jehovah se diens kan doen.

SOEK NA MANIERE OM ANDER TE DIEN

12. Hoe het jou broers en susters jou al gehelp?

12 Ons almal het al die hulp van ons broers en susters ondervind. Wanneer ons in die hospitaal is, is ons dankbaar vir die ondersteuning van ouermanne wat op Hospitaalskakelkomitees en Pasiëntbesoekgroepe dien. Wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan, waardeer ons dit as ’n liefdevolle ouerman na ons luister en ons vertroos. Wanneer ons hulp nodig het met ’n Bybelstudie, is ons bly wanneer ’n ervare pionier saam met ons na die Bybelstudie toe gaan en vir ons voorstelle gee. Al hierdie broers en susters help ons met graagte. En as ons onsself beskikbaar maak om ons broers en susters te dien, sal ons vreugde ondervind. Jesus het gesê: “Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). As jy ook meer in Jehovah se diens wil doen, wat sal jou help om jou doelwitte te bereik?

13. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons ’n doelwit stel?

13 Moenie ’n doelwit stel wat nie spesifiek genoeg is nie. Byvoorbeeld, miskien wil jy die doelwit stel om meer in die gemeente te doen. Dit sal moeilik wees om so ’n doelwit te bereik en om te weet wanneer jy dit bereik het. So stel ’n duidelike, spesifieke doelwit. Jy kan selfs jou doelwit neerskryf, en hoe jy beplan om dit te bereik.

14. Hoekom moet ons aanpasbaar wees wanneer ons doelwitte stel?

14 Ons moet ook aanpasbaar wees wanneer ons doelwitte stel. Hoekom? Omdat ons nie altyd ons omstandighede kan beheer nie. Dink byvoorbeeld aan wat gebeur het nadat die apostel Paulus gehelp het om die gemeente in Tessalonika te vorm. Hy wou natuurlik daar bly om daardie nuwe Christene te help. Maar teenstanders het Paulus gedwing om daardie stad te verlaat (Hand. 17:1-5, 10). As Paulus daar gebly het, sou hy sy broers in gevaar gestel het. Maar Paulus het by sy omstandighede aangepas en het nog steeds probeer om hulle te help. Hy het Timoteus gestuur om na die geestelike behoeftes van die nuwe Christene in Tessalonika om te sien (1 Tess. 3:1-3). Die broers en susters in Tessalonika was seker baie dankbaar dat Timoteus homself beskikbaar gemaak het om te dien waar daar hulp nodig was.

15. Hoe kan ons omstandighede dalk ons doelwitte affekteer? Gee ’n voorbeeld.

15 Wat leer ons uit Paulus se ondervinding in Tessalonika? Miskien laat ons omstandighede ons nie toe om ’n sekere doelwit te bereik nie (Pred. 9:11). As jy in daardie situasie is, kan jy dalk ’n ander doelwit stel wat jy wel kan bereik. Dit is wat Ted en Hiedi, ’n getroude paartjie gedoen het. As gevolg van ’n gesondheidsprobleem moes hulle Bethel verlaat. Maar hulle liefde vir Jehovah het hulle gemotiveer om na ander maniere te soek om meer in Jehovah se diens te doen. Hulle het eers begin pionier. Daarna is hulle as spesiale pioniers aangestel, en Ted het opleiding gekry om as ’n instaankringopsiener te dien. Maar later het hulle as gevolg van hulle ouderdom nie meer vir hierdie toewysing gekwalifiseer nie. Al was hulle teleurgesteld, het hulle besef dat hulle Jehovah op ander maniere kan dien. Ted sê: “Ons het geleer dat ons nie ons diens aan Jehovah tot net een vorm van diens moet beperk nie.”

16. Watter les leer ons in Galasiërs 6:4?

16 Ons het nie beheer oor alles wat in ons lewe gebeur nie. En daarom is dit belangrik dat ons nie ons waarde meet aan ons voorregte nie en dat ons nie ons voorregte met dié van ander vergelyk nie. Hiedi sê: “Jou vrede verdwyn wanneer jy jou lewe met iemand anders se lewe vergelyk.” (Lees Galasiërs 6:4.) Dit is belangrik dat ons na maniere soek om ander te help en om Jehovah te dien. c

17. Wat kan jy doen as jy vir ’n voorreg wil kwalifiseer?

17 Jy sal meer in Jehovah se diens kan doen as jy jou lewe eenvoudig hou en onnodige skuld vermy. Stel kleiner doelwitte wat jou sal help om jou langtermyndoelwitte te bereik. Byvoorbeeld, as dit jou langtermyndoelwit is om ’n gewone pionier te word, kan jy probeer om eers elke maand hulppionierdiens te doen. As dit jou doelwit is om ’n bedieningskneg te word, kan jy probeer om meer velddiens te doen en om die siekes en bejaardes in jou gemeente te besoek. Die ondervinding wat jy nou kry, kan jou help om vir voorregte in die toekoms te kwalifiseer. Wees vasbeslote om jou beste te doen in enige toewysing wat jy ontvang. – Rom. 12:11.

Kies ’n spesifieke doelwit wat binne jou bereik is (Sien paragraaf 18) f

18. Soos ons in die prent sien, wat leer ons uit Beverley se ondervinding?

18 Ons is nooit te oud om geestelike doelwitte te stel en te bereik nie. Kyk na die voorbeeld van ’n 75-jarige suster met die naam Beverley. Sy het ’n ernstige gesondheidsprobleem gehad wat dit vir haar moeilik gemaak het om te loop. Maar sy wou graag meer doen om die Gedenkmaalkampanje te ondersteun, en daarom het sy spesifieke doelwitte gestel. Toe Beverley haar doelwitte vir die kampanje bereik het, was sy baie bly. En haar voorbeeld het ander gemotiveer om meer in die bediening te doen. Jehovah waardeer die werk van ons ouer broers en susters, al laat hulle omstandighede hulle nie toe om te doen wat hulle graag wil doen nie. – Ps. 71:17, 18.

19. Watter geestelike doelwitte kan ons vir onsself stel?

19 Stel doelwitte wat binne jou bereik is. Ontwikkel eienskappe waarvoor Jehovah lief is. Leer vaardighede aan wat jou in staat sal stel om meer vir ons God en sy organisasie te doen. En soek na maniere om jou broers en susters te dien. d Soos in Timoteus se geval, sal Jehovah jou daarvoor seën en sal “almal jou vooruitgang duidelik kan sien”. – 1 Tim. 4:15.

LIED 38 Hy maak jou sterk

a Timoteus was ’n uitstekende verkondiger van die goeie nuus. Maar die apostel Paulus het hom aangemoedig om aan te hou om geestelike vordering te maak. Omdat Timoteus Paulus se raad gevolg het, kon Jehovah hom meer gebruik en kon hy sy broers en susters meer help. Wil jy ook graag meer vir Jehovah en vir jou broers en susters doen? Natuurlik wil jy. Watter doelwitte sal jou help om dit te doen? En wat moet jy doen om daardie doelwitte te stel en te bereik?

b WAT DIT BETEKEN: Geestelike doelwitte verwys na enige doelwitte wat ons stel om meer vir Jehovah te doen en om hom gelukkig te maak.

c Sien “Dien waar hulp nodig is” in die boek Georganiseer om Jehovah se wil te doen, hoofstuk 10, par. 6-9.

d Sien les 60, “Hou aan om vordering te maak”, in die boek Geniet die lewe vir ewig!

e BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer lei twee susters op om instandhoudingswerk te doen, en hulle maak goed gebruik van hulle nuwe vaardigheid.

f BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster wat nie haar huis kan verlaat nie, doen telefoongetuieniswerk, en sy nooi mense na die Gedenkmaal.