Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat sê die Bybel oor ede?

’n Eed is al gedefinieer as “’n baie ernstige verklaring of belofte om iets te doen, waarby God gewoonlik as getuie aangeroep word”. Dit kan mondelings of op skrif gedoen word.

Party mense dink miskien dat dit verkeerd is om ’n eed te sweer omdat Jesus gesê het: “Moet glad nie [’n eed] sweer nie . . . Laat julle ‘ja’ net ja wees en julle ‘nee’, nee, want enigiets meer as dit is van die Duiwel af” (Matt. 5:33-37). Jesus het natuurlik geweet dat die Wet van Moses vereis het dat ede onder sekere omstandighede gesweer word en dat getroue knegte van God in die verlede ede gesweer het (Gen. 14:22, 23; Eks. 22:10, 11). Hy het ook geweet dat Jehovah self ede gesweer het (Heb. 6:13-17). So Jesus het nie bedoel dat ons nooit ’n eed moet sweer nie. Hy het eerder gewaarsku dat ons nie ede oor onbelangrike of betekenislose dinge moet sweer nie. Ons moet besef dat dit ’n heilige plig is om ons woord te hou. Ons moet bedoel wat ons sê.

Wat moet jy doen as jy gevra word om ’n eed te sweer? Maak eers seker dat jy kan doen wat jy sweer om te doen. As jy nie seker is nie, sal dit beter wees dat jy nie die eed sweer nie. God se Woord waarsku: “Dit is beter dat jy nie ’n gelofte maak nie as dat jy ’n gelofte maak en dit nie nakom nie” (Pred. 5:5). Daarna moet jy aan Bybelbeginsels dink wat met die eed verband hou, en dan moet jy in ooreenstemming met jou Bybelopgeleide gewete optree. Wat is party van hierdie beginsels?

Party ede is nie teen God se wil nie. Byvoorbeeld, wanneer Jehovah se Getuies trou, maak hulle die ernstige belofte dat hulle aan mekaar getrou sal bly. Hierdie ernstige belofte is ’n soort eed. Die bruid en bruidegom belowe voor God en voor ooggetuies dat hulle mekaar sal liefhê, sal koester en sal respekteer “solank as wat [hulle] lewe”. (Party paartjies sal miskien nie hierdie presiese woorde sê wanneer hulle trou nie, maar hulle maak nog steeds ’n ernstige belofte voor God.) Hulle word dan man en vrou, en hulle huwelik moet ’n lewenslange verbintenis wees (Gen. 2:24; 1 Kor. 7:39). Die huweliksgelofte is gepas, en dit is in ooreenstemming met God se wil.

Party ede is teen God se wil. ’n Ware Christen sal nooit ’n eed sweer om sy land in ’n oorlog te verdedig of om sy geloof in God op te gee nie. Dit sou teen God se gebooie wees. Christene moet “geen deel van die wêreld” wees nie, en daarom sal ons nie by politieke kwessies en die konflikte van hierdie wêreld betrokke raak nie. – Joh. 15:19; Jes. 2:4; Jak. 1:27.

Party ede hang van ’n mens se gewete af. Voordat ons besluit of ons ’n eed sal sweer of nie, sal ons soms eers mooi moet nadink oor Jesus se woorde: “Betaal . . . aan die keiser wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.” – Luk. 20:25.

Sê nou ’n Christen vind uit dat hy ’n eed van getrouheid moet sweer wanneer hy aansoek doen vir burgerskap of vir ’n paspoort. As daardie eed beteken dat hy iets moet doen wat duidelik teen God se wet is, sal sy Bybelopgeleide gewete hom nie toelaat om daardie eed te sweer nie. Maar die regering sal hom miskien toelaat om die bewoording van die eed volgens sy gewete aan te pas.

Daardie aangepaste eed sal dalk in ooreenstemming wees met die beginsel in Romeine 13:1, wat sê: “Laat elkeen onderdanig wees aan die hoër owerhede.” So die Christen sal miskien besluit om daardie eed te sweer omdat dit in ooreenstemming is met wat God sê ons moet doen.

Dit is ook belangrik dat ons ons Bybelopgeleide gewete volg wanneer ons gevra word om ’n voorwerp te gebruik of om ’n sekere gebaar te maak wanneer ons ’n eed sweer. Die Romeine en die Skitiërs het by hulle swaarde gesweer om te wys dat wat hulle sê, betroubaar is, want die swaard was die simbool van hulle oorlogsgod. En die Grieke het hulle hand na die hemel opgelig wanneer hulle ’n eed gesweer het. Deur dit te doen, het hulle erken dat daar ’n goddelike mag is wat alles sien wat mense sê en doen en teenoor wie mense aanspreeklik is.

’n Kneg van Jehovah sal natuurlik nie sweer by enige nasionale simbool wat met valse aanbidding verband hou nie. Maar sê nou jy word in ’n hof gevra om jou hand op die Bybel te sit om te sweer dat jy die waarheid sal praat? In so ’n geval sal jy miskien besluit om dit te doen omdat daar voorbeelde in die Bybel is van getroue knegte van Jehovah wat ’n gebaar gemaak het toe hulle ’n eed gesweer het (Gen. 24:2, 3, 9; 47:29-31). Wanneer jy so ’n eed sweer, is dit belangrik om in gedagte te hou dat jy voor God sweer om die waarheid te praat. Jy moet gereed wees om enige vraag wat jy gevra word, eerlik te beantwoord.

Omdat ons ons verhouding met Jehovah baie waardeer, moet ons bid en mooi nadink oor enige eed wat ons gevra word om te sweer. En ons moet seker maak dat dit nie teen ons gewete of teen Bybelbeginsels is nie. As jy besluit om ’n eed te sweer, moet jy seker maak dat jy dit nakom. – 1 Pet. 2:12.