Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 25

Jehovah seën dié wat ander vergewe

Jehovah seën dié wat ander vergewe

“Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook vergewe.” – KOL. 3:13.

LIED 130 Wees vergewensgesind

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Waarvan verseker Jehovah berouvolle sondaars?

 ALHOEWEL Jehovah ons Skepper, Wetgewer en Regter is, is hy ook ons liefdevolle hemelse Vader (Ps. 100:3; Jes. 33:22). Wanneer ons teen hom sondig en regtig berouvol is, het hy die gesag om ons sondes te vergewe, en hy wil dit ook graag doen (Ps. 86:5). Deur middel van die profeet Jesaja het Jehovah hierdie liefdevolle versekering gegee: “Al is julle sondes so rooi soos skarlaken, sal dit so wit soos sneeu gemaak word.” – Jes. 1:18.

2. Wat moet ons doen as ons in vrede met ander wil lewe?

2 Omdat ons onvolmaak is, sê en doen ons almal dinge wat ander seermaak (Jak. 3:2). Maar dit beteken nie dat ons nie goeie verhoudings met hulle kan hê nie. Ons kan, as ons leer om ander te vergewe (Spr. 17:9; 19:11; Matt. 18:21, 22). As iemand iets kleins sê of doen wat ons seermaak, wil Jehovah hê dat ons hulle moet vergewe (Kol. 3:13). Ons het goeie rede om dit te doen. Onthou, Jehovah vergewe ons “ryklik”. – Jes. 55:7.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons bespreek hoe onvolmaakte mense Jehovah se voorbeeld kan navolg en ander vergewe. Van watter sondes moet ons die ouermanne vertel? Hoekom wil Jehovah hê dat ons ander moet vergewe? En wat kan ons leer by party van ons broers en susters wat deur ’n baie moeilike tyd gegaan het as gevolg van ander se sondes?

WANNEER ’N CHRISTEN ERNSTIG SONDIG

4. (a) Wat moet ’n kneg van Jehovah doen wanneer hy ernstig sondig? (b) Watter verantwoordelikheid het die ouermanne wanneer hulle met iemand vergader wat ernstig gesondig het?

4 Wanneer iemand ernstig sondig, moet ons die ouermanne daarvan vertel. Voorbeelde van sulke sondes kan gevind word in 1 Korintiërs 6:9, 10. Hierdie soort sondes is ’n baie ernstige oortreding van God se wet. As ’n Christen so ’n sonde pleeg, moet hy Jehovah in gebed vra om hom te vergewe, en hy moet na die ouermanne van die gemeente gaan (Ps. 32:5; Jak. 5:14). Watter verantwoordelikheid het die ouermanne? Net Jehovah het die gesag om sondes heeltemal te vergewe, en hy vergewe ons sondes op grond van die losprysoffer. * Maar Jehovah het die ouermanne die verantwoordelikheid gegee om deur middel van die Bybel te bepaal of die persoon wat gesondig het in die gemeente kan bly (1 Kor. 5:12). Een van die dinge wat hulle sal doen, is om die volgende vrae te probeer beantwoord: Het die persoon beplan om te sondig? Het die persoon probeer om dit weg te steek? Het hy dieselfde sonde oor ’n lang tydperk gepleeg? En die belangrikste is, is daar bewyse dat hy regtig berouvol is? Is daar tekens dat Jehovah hom vergewe het? – Hand. 3:19.

5. Watter voordele hou die werk van die ouermanne in?

5 Wanneer die ouermanne vergader met die persoon wat gesondig het, is hulle doelwit om dieselfde besluit op die aarde te maak wat reeds in die hemel gemaak is (Matt. 18:18). Hoe help hierdie reëling die gemeente? Dit beskerm die gemeente deur seker te maak dat onberouvolle sondaars nie in die gemeente bly en ’n slegte uitwerking op Jehovah se kosbare skape het nie (1 Kor. 5:6, 7, 11-13; Tit. 3:10, 11). Dit kan ook die persoon help om berou te toon en om deur Jehovah vergewe te word (Luk. 5:32). Die ouermanne bid namens ’n berouvolle persoon en vra Jehovah om daardie persoon te help om sy verhouding met hom te herstel. – Jak. 5:15.

6. Kan ’n persoon nog vergewe word nadat hy uitgesit is? Verduidelik.

6 Sê nou ’n persoon is nie berouvol wanneer die ouermanne met hom vergader nie? In daardie geval sal hy uit die gemeente gesit word. As hy ’n landswet gebreek het, sal die ouermanne hom nie teen die gevolge daarvan beskerm nie. Jehovah laat die regering toe om enige iemand wat die wet breek, te oordeel en te straf – of hy nou berouvol is of nie (Rom. 13:4). Maar as die persoon later besef dat die dinge wat hy gedoen het, verkeerd is en regtig berouvol is en omdraai, is Jehovah bereid om hom te vergewe (Luk. 15:17-24). Dit is waar selfs as sy sondes baie ernstig is. – 2 Kron. 33:9, 12, 13; 1 Tim. 1:15.

7. In watter sin kan ons iemand vergewe wat teen ons gesondig het?

7 Ons is so dankbaar om te weet dat ons nie die verantwoordelikheid het om te besluit of Jehovah iemand sal vergewe nie! Maar daar is wel iets wat ons moet besluit. Wat is dit? In party gevalle het ’n persoon dalk ’n ernstige sonde teen ons gepleeg, maar dan sê hy jammer en vra hy ons om hom te vergewe. In ander gevalle doen die persoon dit dalk nie. Maar ons kan kies om die persoon te vergewe in die sin dat ons kan besluit om nie vir hom kwaad te bly nie. Dit sal natuurlik tyd en moeite neem, veral as ons diep seergemaak is. Die Wagtoring van 15 September 1994 sê: “As jy ’n sondaar vergewe, moet jy ook besef dat dit nie beteken dat jy die sonde vergoeilik [of, goedkeur] nie. Vir die Christen beteken vergifnis dat hy met vertroue die saak aan Jehovah oorlaat. Hy is die regverdige Regter van die ganse heelal, en hy sal op die regte tyd geregtigheid laat geskied.” Hoekom moedig Jehovah ons aan om ander te vergewe en om dinge in sy hande te los?

HOEKOM JEHOVAH ONS AANMOEDIG OM TE VERGEWE

8. Hoe wys dit dat ons dankbaar is vir Jehovah se genade as ons ander vergewe?

8 Wanneer ons vergewe, wys ons dat ons dankbaar is. In een vergelyking het Jesus Jehovah met ’n meester vergelyk wat een van sy slawe se groot skuld afgeskryf het toe hy hom nie kon terugbetaal nie. Maar die slaaf wat vergewe is, was nie genadig teenoor ’n slaaf wat hom ’n baie kleiner bedrag geld geskuld het nie (Matt. 18:23-35). Wat het Jesus ons geleer? As ons regtig Jehovah se groot genade teenoor ons waardeer, sal dit ons motiveer om ander te vergewe (Ps. 103:9). Die Wagtoring het dit jare gelede só gestel: “Maak nie saak hoeveel keer ons ander vergewe nie, ons sal ander mense nooit soveel keer vergewe soos wat God elkeen van ons vergewe het op grond van Christus se offerande nie.”

9. Teenoor wie is Jehovah genadig? (Matteus 6:14, 15)

9 As ons ander vergewe, sal Jehovah ons vergewe. Jehovah is genadig teenoor dié wat genadig is (Matt. 5:7; Jak. 2:13). Jesus het dit duidelik gemaak toe hy sy dissipels geleer het hoe om te bid. (Lees Matteus 6:14, 15.) Ons leer ’n soortgelyke les uit wat Jehovah vir Job gesê het. Daardie getroue man was diep seergemaak deur die lelike woorde van drie mans met die name Elifas, Bildad en Sofar. Jehovah het vir Job gesê om vir hulle te bid. Nadat Job dit gedoen het, het Jehovah hom geseën. – Job 42:8-10.

10. Hoekom is dit sleg vir ons as ons kwaad bly vir iemand? (Efesiërs 4:31, 32)

10 Om kwaad te bly vir iemand, is sleg vir ons. Om kwaad te wees, is soos ’n swaar las, en Jehovah wil hê dat ons die vrede moet ondervind wat ons sal voel wanneer ons daarvan ontslae raak. (Lees Efesiërs 4:31, 32.) Hy moedig ons aan: “Hou op om kwaad te wees en laat vaar die woede” (Ps. 37:8). As ons daardie raad volg, sal dit ons help. Om kwaad te bly vir iemand, kan sleg wees vir ons fisiese en verstandelike gesondheid (Spr. 14:30). As ons kwaad bly vir iemand, is dit nie sleg vir hom nie, net soos dit nie vir hom sleg sou wees as ons gif drink nie. So wanneer ons ander vergewe, gee ons onsself ’n geskenk (Spr. 11:17). Ons vind innerlike vrede, en ons kan voortgaan in ons diens aan Jehovah.

11. Wat sê die Bybel oor wraak neem? (Romeine 12:19-21)

11 Wraak behoort aan Jehovah. Jehovah het ons nie die gesag gegee om wraak te neem wanneer iemand teen ons gesondig het nie. (Lees Romeine 12:19-21.) Omdat ons beskouing beperk en onvolmaak is, kan ons nie sake reg oordeel soos God kan nie (Heb. 4:13). En soms laat ons toe dat ons emosies inmeng met ons goeie oordeel. Jehovah het Jakobus geïnspireer om te skryf: “’n Mens se woede lei nie tot God se regverdigheid nie” (Jak. 1:20). Ons kan seker wees dat Jehovah die regte ding sal doen en sal seker maak dat die saak regverdig geoordeel word.

Probeer om nie meer kwaad te wees nie. Los dinge in God se hande. Hy sal al die skade wat deur sonde veroorsaak is, wegneem (Sien paragraaf 12)

12. Hoe kan ons wys dat ons vertrou dat Jehovah ’n regverdige God is?

12 As ons vergewe, wys ons dat ons vertrou dat Jehovah ’n regverdige God is. As ons dinge in Jehovah se hande los, wys ons dat ons vertrou dat Jehovah al die slegte dinge wat deur sonde veroorsaak is, sal regmaak – dit sal wees asof dit nooit bestaan het nie. In die nuwe wêreld wat hy belowe het, sal daar nooit weer aan pynlike herinneringe “gedink word nie en dit sal ook nie in die hart opkom nie” (Jes. 65:17). Maar sê nou ons is diep seergemaak? Is dit regtig moontlik om nie meer vir die persoon kwaad te wees nie en om ontslae te raak van al daardie slegte gevoelens wat ons dalk in ons hart het? Kom ons kyk hoe party dit al reggekry het.

SEËNINGE WANNEER ONS VERGEWE

13-14. Wat het jy oor vergifnis geleer uit die ondervinding van Tony en José?

13 Baie van ons Christenbroers en -susters het besluit om te vergewe al het ander hulle diep seergemaak. Watter seëninge het hulle gekry omdat hulle dit gedoen het?

14 Lank voordat Tony, * wat in die Filippyne woon, die waarheid geleer het, het hy uitgevind dat een van sy ouer broers deur ’n man met die naam José vermoor is. Op daardie tyd was Tony ’n baie aggressiewe en gewelddadige persoon, en hy wou wraak neem. José was gearresteer en tronk toe gestuur vir sy misdaad. Later, toe José vrygelaat is, was Tony vasbeslote om hom te vind en hom dood te maak. Hy het ’n vuurwapen gekoop om dit te doen. Intussen het Tony die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer. Hy sê: “Terwyl ek studeer het, het ek geleer dat ek my persoonlikheid en my gedrag moet verander en dit het ingesluit dat ek nie meer moes kwaad wees nie.” Later is Tony gedoop, en hy is uiteindelik as ’n ouerman in die gemeente aangestel. Dink net hoe verbaas hy was toe hy uitvind dat José ook ’n gedoopte Getuie van Jehovah geword het! Toe die twee ontmoet het, het hulle mekaar liefdevol omhels, en Tony het vir José gesê dat hy hom vergewe het. Tony sê dat dit hom so bly gemaak het om José te vergewe dat dit vir hom moeilik was om daardie wonderlike gevoel te beskryf. Ja, Jehovah het Tony geseën omdat hy bereid was om te vergewe.

Die voorbeeld van Peter en Sue wys dat ons kan ophou om kwaad te wees en kan aangaan met die lewe (Sien paragraaf 15-16)

15-16. Wat het jy oor vergifnis geleer uit die ondervinding van Peter en Sue?

15 In 1985 het Peter en Sue ’n vergadering by die Koninkryksaal bygewoon toe daar skielik ’n baie groot ontploffing was. ’n Man het ’n bom in die Koninkryksaal geplant! Sue het ernstige beserings gehad wat haar sig en gehoor permanent beskadig het. Sy kan ook nie meer ruik nie. * Peter en Sue wonder dikwels: ‘Watter soort persoon sou so ’n slegte ding doen?’ Die man wat die bom geplant het, was nie ’n Getuie van Jehovah nie en is baie jare later gearresteer en lewenslank tronk toe gestuur. Toe hulle gevra is of hulle hierdie man vergewe het, het Peter en Sue gesê: “Jehovah leer ons dat dit fisies, emosioneel en verstandelik sleg kan wees vir ons as ons kwaad bly en aanhou dink aan ons pyn. So van die begin af het ons Jehovah gevra om ons te help om nie meer kwaad te wees nie sodat ons kon aangaan met ons lewe.”

16 Was dit vir hulle maklik om hierdie man te vergewe? Nie altyd nie. Hulle sê verder: “Elke nou en dan, wanneer Sue sukkel as gevolg van haar beserings, voel ons weer kwaad. Maar ons dink nie die hele tyd daaraan nie, so hierdie gevoelens gaan vinnig weg. Ons kan eintlik uit die hart uit sê dat as hierdie man eendag ons broer word, sal ons hom verwelkom. Hierdie ondervinding het ons geleer dat Bybelbeginsels ons regtig vrymaak. Dit maak ons vry op maniere waaraan ons nooit eers kon dink nie! Dit vertroos ons ook om te weet dat Jehovah binnekort al die skade sal wegneem – dit sal wees asof dit nooit daar was nie.”

17. Wat het jy oor vergifnis geleer uit die ondervinding van Myra?

17 Myra het die waarheid geleer toe sy klaar getroud was en twee jong kinders gehad het. Haar man het nie die waarheid aanvaar nie. Later het hy egbreuk gepleeg en die gesin verlaat. Myra sê: “Toe my man my en ons twee kinders gelos het, het ek die emosies gevoel wat baie voel nadat hulle deur ’n geliefde verraai is – jy is geskok, jy kan dit nie glo nie, jy is hartseer, jy voel spyt, jy blameer jouself en jy is kwaad.” Al het die huwelik geëindig, het sy nog steeds pyn ervaar omdat haar man haar verraai het. Myra sê verder: “Ek het maande lank gesukkel met daardie gevoelens, en ek het besef dat dit my verhouding met Jehovah en met ander affekteer.” Myra sê nou dat sy nie meer kwaad is nie en dat sy nie wil hê dat enige iets slegs met haar vorige man moet gebeur nie. Sy hoop dat hy eendag die waarheid sal aanvaar. Myra kan nou op die toekoms fokus. As ’n enkelma het sy haar twee kinders as knegte van Jehovah grootgemaak. Vandag geniet Myra dit om Jehovah saam met haar kinders en hulle gesinne te dien.

JEHOVAH IS DIE PERFEKTE REGTER

18. Watter vertroue kan ons in Jehovah as die perfekte Regter hê?

18 Ons is so verlig om te weet dat ons nie hoef te besluit hoe mense geoordeel moet word nie! As die perfekte Regter sal Jehovah hierdie belangrike werk doen (Rom. 14:10-12). Ons kan volle vertroue hê dat hy altyd volgens sy perfekte standaarde van reg en verkeerd sal oordeel (Gen. 18:25; 1 Kon. 8:32). Hy sal nooit enige iets onregverdigs doen nie!

19. Waarna kan ons uitsien as gevolg van Jehovah se perfekte regverdigheid?

19 Ons sien uit na die tyd wanneer Jehovah al die slegte gevolge van onvolmaaktheid en sonde heeltemal sal wegneem – dit sal wees asof dit nooit daar was nie. Dan sal al ons fisiese en emosionele wonde heeltemal gesond wees (Ps. 72:12-14; Op. 21:3, 4). Ons sal nooit weer daaraan dink nie. Terwyl ons wag vir daardie wonderlike tyd om te kom, is ons baie dankbaar dat Jehovah ons die vermoë gegee het om hom na te volg en ander te vergewe.

LIED 18 Dankbaar vir die losprys

^ Jehovah wil berouvolle sondaars graag vergewe. As Christene wil ons sy voorbeeld navolg wanneer iemand ons seermaak. In hierdie artikel gaan ons bespreek watter sondes ons persoonlik kan vergewe, en ons gaan sondes bespreek waarvan ons die ouermanne moet vertel. Ons gaan ook bespreek hoekom Jehovah wil hê dat ons ander moet vergewe en watter seëninge ons sal kry as ons dit doen.

^ Sien Die Wagtoring van 15 April 1996, “Vrae van lesers”.

^ Party name is verander.

^ Sien die Ontwaak! van 8 Januarie 1992, bl. 9-13. Sien ook die video op JW Broadcasting® met die titel Peter and Sue Schulz: A Trauma Can Be Overcome.