Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 31

Waardeer jou voorreg van gebed

Waardeer jou voorreg van gebed

“Mag my gebed wees soos reukwerk wat voor u voorberei is.” – PS. 141:2.

LIED 47 Bid elke dag tot Jehovah

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe moet ons voel oor die feit dat ons tot Jehovah kan bid?

 DIE Maker van hemel en aarde het vir ons ’n kosbare voorreg gegee. Hy laat ons toe om tot hom te bid. Dink net: Ons kan ons harte op enige tyd en in enige taal voor Jehovah uitstort sonder dat ons ’n afspraak hoef te maak. Ons kan tot hom bid uit ’n hospitaalbed of uit ’n tronksel met die vertroue dat ons liefdevolle Vader na ons sal luister. Ons is baie dankbaar vir hierdie voorreg.   

2. Hoe het koning Dawid gewys dat hy die voorreg van gebed waardeer?

2 Koning Dawid het die voorreg van gebed waardeer. Hy het tot Jehovah gesing: “Mag my gebed wees soos reukwerk wat voor u voorberei is” (Ps. 141:1, 2). In Dawid se tyd het die priesters baie moeite gedoen om die heilige reukwerk wat in ware aanbidding gebruik was, voor te berei (Eks. 30:34, 35). Die feit dat Dawid oor reukwerk gepraat het, wys dat hy baie mooi wou dink oor wat hy gaan sê wanneer hy met sy hemelse Vader praat. Dit is wat ons ook baie graag wil doen. Ons wil hê dat ons gebede Jehovah se goedkeuring moet hê.

3. Wat moet ons gesindheid wees wanneer ons met Jehovah praat, en hoekom?

3 Wanneer ons met Jehovah praat, moet ons nie te informeel wees nie. Ons moet eerder baie respekvol wees. Dink aan die wonderlike visioene wat Jesaja, Esegiël, Daniël en Johannes ontvang het. Daardie visioene was almal anders, maar hulle het iets in gemeen. Hulle almal beskryf Jehovah as ’n indrukwekkende Koning. Jesaja het “Jehovah op ’n hoë en verhewe troon sien sit” (Jes. 6:1-3). Esegiël het Jehovah op Sy hemelse strydwa gesien sit, en daar was “’n glans reg rondom hom wat gelyk het soos ’n reënboog” (Eseg. 1:26-28). Daniël het “die Oue van Dae” gesien met wit klere aan, en daar het vuurvlamme by Sy troon uitgekom (Dan. 7:9, 10). En Johannes het Jehovah op ’n troon sien sit, en daar was ’n reënboog wat soos smarag gelyk het rondom Hom (Op. 4:2-4). Terwyl ons nadink oor Jehovah se onvergelyklike heerlikheid, word ons herinner aan die wonderlike voorreg wat ons het om tot hom te bid en hoe belangrik dit is om dit met respek te doen. Maar hoe moet ons bid?

“JULLE MOET DAN SÓ BID”

4. Wat leer ons uit die openingswoorde van die modelgebed in Matteus 6:9, 10?

4 Lees Matteus 6:9, 10. In die Bergpredikasie het Jesus sy dissipels geleer hoe om te bid op ’n manier wat God goedkeur. Nadat Jesus gesê het “julle moet dan só bid”, het hy eers belangrike dinge genoem wat direk verband hou met Jehovah se voorneme: die heiliging van Sy naam, die koms van die Koninkryk, wat al God se vyande sal vernietig, en die toekomstige seëninge wat Hy vir die aarde en die mensdom in gedagte het. Wanneer ons oor sulke dinge bid, wys ons dat God se wil vir ons belangrik is.

5. Mag ons oor persoonlike dinge bid?

5 In die volgende deel van die gebed het Jesus gewys dat ons oor persoonlike dinge mag bid. Ons kan Jehovah vra om vir ons kos vir die dag te gee, om ons sondes te vergewe, om ons teen versoekings te beskerm en om ons van die Duiwel te verlos (Matt. 6:11-13). Wanneer ons Jehovah vir hierdie dinge vra, erken ons dat ons van hom afhanklik is, en ons wys dat ons graag sy goedkeuring wil hê.   

Waaroor kan ’n man saam met sy vrou bid? (Sien paragraaf 6) *

6. Mag ons net vir die dinge bid wat in die modelgebed genoem word? Verduidelik.

6 Jesus het nie van sy volgelinge verwag om presies dieselfde woorde van die modelgebed te gebruik nie. In ander gebede van Jesus het hy ander dinge genoem wat op daardie stadium vir hom belangrik was (Matt. 26:39, 42; Joh. 17:1-26). Ons kan ook oor enige iets bid wat vir ons belangrik is. Wanneer ons ’n besluit moet maak, kan ons vir wysheid en begrip bid (Ps. 119:33, 34). Wanneer ons met ’n moeilike toewysing moet begin, kan ons vir insig en goeie oordeel bid (Spr. 2:6). Ouers kan vir hulle kinders bid, kinders kan vir hulle ouers bid, en ons almal kan en moet vir ons Bybelstudente bid, en vir dié vir wie ons preek. Maar wanneer ons bid, moet ons nie net vir dinge vra nie.

Waarvoor kan ons Jehovah loof en dank wanneer ons bid? (Sien paragraaf 7-9) *

7. Hoekom moet ons Jehovah in ons gebede loof?

7 Ons moet onthou om Jehovah in ons gebede te loof. Niemand verdien lof meer as ons God nie. Hy is “goed en vergewe vryelik”. Hy is ook ’n God wat “genadig is en medelye betoon, wat nie gou kwaad word nie en vol lojale liefde en getrouheid is” (Ps. 86:5, 15). Ons het beslis goeie rede om Jehovah te loof vir wie hy is en vir wat hy doen.

8. Wat is party dinge waarvoor ons vir Jehovah dankie kan sê? (Psalm 104:12-15, 24)

8 Ons loof Jehovah in ons gebede, maar ons word ook beweeg om vir hom dankie te sê vir die wonderlike dinge wat hy vir ons gee. Byvoorbeeld, ons kan vir hom dankie sê vir die pragtige kleure in die blomme, vir al die verskillende soorte lekker kos en die goeie geselskap van dierbare vriende. Ons liefdevolle Vader gee vir ons hierdie dinge en nog baie meer, net om ons gelukkig te maak. (Lees Psalm 104:12-15, 24.) En nog belangriker, ons dank Jehovah vir al die geestelike voedsel wat hy vir ons gee en vir die wonderlike hoop wat ons vir die toekoms het.

9. Wat kan ons help om te onthou om vir Jehovah dankie te sê? (1 Tessalonisense 5:17, 18)

9 Dit kan so maklik wees om te vergeet om vir Jehovah dankie te sê vir al die dinge wat hy vir ons doen. Wat kan jou help om te onthou? Jy kan ’n lys maak van die spesifieke dinge waarvoor jy gebid het, en later kan jy na jou lys kyk om te sien hoe Jehovah jou gebede beantwoord het. Dan kan jy vir hom dankie sê vir sy hulp. (Lees 1 Tessalonisense 5:17, 18.) Dink hieraan: Ons voel gelukkig en geliefd wanneer ander wys dat hulle ons waardeer. Net so maak dit Jehovah se hart bly wanneer ons onthou om vir hom dankie te sê omdat hy ons gebede beantwoord het (Kol. 3:15). Maar wat is nog ’n belangrike rede om vir ons God dankie te sê?

DANK JEHOVAH VIR SY GELIEFDE SEUN

10. Hoekom moet ons vir Jehovah dankie sê dat hy Jesus na die aarde toe gestuur het, volgens 1 Petrus 2:21?

10 Lees 1 Petrus 2:21. Ons moet vir Jehovah dankie sê dat hy sy geliefde Seun gestuur het om ons te leer. Wanneer ons Jesus se lewe bestudeer, leer ons baie dinge oor Jehovah en hoe om hom gelukkig te maak. As ons wys dat ons geloof het in die losprysoffer van Christus, kan ons ’n sterk, persoonlike verhouding met Jehovah God hê en vrede met Hom geniet. – Rom. 5:1.

11. Hoekom bid ons in Jesus se naam?

11 Ons dank Jehovah dat ons deur sy Seun tot hom kan bid. Jesus is die kanaal wat Jehovah gebruik om ons gebede te beantwoord. Wanneer ons in Jesus se naam bid, luister Jehovah na daardie gebede en beantwoord hy dit. Jesus het verduidelik: “Enigiets wat julle in my naam vra, sal ek doen, sodat die Vader as gevolg van die Seun geëer kan word.” – Joh. 14:13, 14.

12. Wat is nog ’n rede om vir Jehovah dankie te sê vir sy Seun?

12 Jehovah vergewe ons sondes as gevolg van Jesus se losprysoffer. Die Bybel beskryf Jesus as ons “hoëpriester [wat] aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemel . . . sit” (Heb. 8:1). Jesus is ons “helper by die Vader” (1 Joh. 2:1). Ons is baie dankbaar dat Jehovah vir ons ’n Hoëpriester gegee het wat ons swakhede verstaan en wat “vir ons pleit” (Rom. 8:34; Heb. 4:15). Ons is onvolmaakte mense, so sonder Jesus se offerande sou ons nie tot Jehovah kon bid nie. Jy sal beslis saamstem dat ons Jehovah nooit genoeg sal kan bedank vir die kosbare geskenk wat hy vir ons gegee het nie – die geskenk van sy dierbare Seun!

BID VIR JOU BROERS EN SUSTERS

13. Hoe het Jesus op die aand voor sy dood gewys dat hy vir sy dissipels lief is?

13 Op die aand voor sy dood het Jesus lank vir sy dissipels gebid en vir sy Vader gevra om “hulle teen die Duiwel [te] beskerm” (Joh. 17:15). Dit het gewys hoe lief Jesus vir hulle was. Alhoewel hy geweet het dat hy binnekort baie sou ly, was hy nog steeds bekommerd oor sy apostels.

Oor watter dinge kan ons bid wanneer ons vir ons broers en susters bid? (Sien paragraaf 14-16) *

14. Hoe kan ons wys dat ons vir ons broers en susters lief is?

14 Soos Jesus dink ons nie net aan wat ons nodig het nie. Ons bid eerder gereeld vir ons broers en susters. Wanneer ons dit doen, is ons gehoorsaam aan Jesus se opdrag om mekaar lief te hê, en ons wys vir Jehovah hoe lief ons vir ons broers en susters is (Joh. 13:34). Om vir ons broers en susters te bid, is nie ’n mors van tyd nie. God se Woord sê vir ons dat “die smeekgebede van ’n regverdige man . . . ’n kragtige uitwerking” het. – Jak. 5:16.

15. Hoekom moet ons vir ons broers en susters bid?

15 Ons moet vir ons broers en susters bid omdat hulle deur moeilike tye gaan. Ons kan vir Jehovah vra om hulle te help om siekte, natuurrampe, oorloë, vervolging en ander moeilike tye te verduur. Ons kan ook vir ons broers en susters bid wat hard werk om dié te help wat hulp nodig het. Jy ken dalk broers en susters wat deur soortgelyke moeilike tye gaan. Kan jy dalk hulle name in jou persoonlike gebede noem? Ons wys opregte broederlike liefde wanneer ons vir Jehovah vra om hulle te help om te volhard.

16. Hoekom moet ons bid vir dié wat die leiding onder ons neem?

16 Dié wat die leiding onder ons neem, waardeer die gebede van ander baie, en dit help hulle. Dit was so in die apostel Paulus se geval. Hy het geskryf: “Bid ook vir my, dat die woorde aan my gegee sal word wanneer ek my mond oopmaak, sodat ek die heilige geheim van die goeie nuus moedig kan bekend maak” (Ef. 6:19). Ons het ook vandag hardwerkende broers wat die leiding onder ons neem. Ons wys dat ons vir hulle lief is deur Jehovah te vra om hulle werk te seën.

WANNEER JY NAMENS ANDER BID

17-18. Wanneer sal ons dalk gevra word om namens ander te bid, en wat moet ons in gedagte hou?

17 Partykeer word ons gevra om namens ander te bid. Byvoorbeeld, ’n suster wat ’n Bybelstudie hou, sal dalk die suster wat saam met haar gaan, vra om te bid. Daardie suster ken dalk nie die student goed nie, so sy sal miskien verkies om aan die einde van die studie te bid. Op daardie manier sal dit vir haar makliker wees om te weet wat om te sê wanneer sy vir die student bid.

18 ’n Broer sal dalk gevra word om by ’n velddiensvergadering of ’n gemeentelike vergadering te bid. Broers wat daardie voorreg het, moet die doel van die vergadering in gedagte hou. Gebede moenie gebruik word om vir die gemeente raad te gee of om aankondigings te maak nie. Vir die meeste gemeentelike vergaderinge is ’n totaal van vyf minute toegewys vir die lied en gebed, so die broer wat bid, moenie “baie woorde” gebruik nie, veral nie aan die begin van ’n vergadering nie. – Matt. 6:7.

MAAK GEBED ’N PRIORITEIT IN JOU LEWE

19. Wat sal ons help om gereed te wees vir Jehovah se dag van oordeel?

19 Omdat Jehovah se dag van oordeel naby is, moet gebed nou selfs belangriker in ons lewe wees. In verband hiermee het Jesus gesê: “Bly dus wakker en doen altyd smeekgebede sodat julle veilig kan kom deur hierdie dinge wat gaan gebeur” (Luk. 21:36). Ja, as ons gereeld bid, sal ons geloof sterk wees en sal ons gereed wees wanneer God se dag van oordeel kom.

20. Hoe kan ons gebede soos lekkerruik-reukwerk wees?

20 Wat het ons bespreek? Ons voorreg van gebed is vir ons baie kosbaar. Die belangrikste dinge waaroor ons moet bid, is dinge wat direk verband hou met Jehovah se voorneme. Ons sê ook dankie vir God se Seun en sy Koninkryksheerskappy, en ons bid vir ons broers en susters. En ons kan natuurlik vir ons eie fisiese en geestelike behoeftes bid. Wanneer ons mooi dink oor wat ons in ons gebede sê, wys ons dat ons hierdie wonderlike voorreg waardeer. Ons woorde sal soos lekkerruik-reukwerk vir Jehovah wees – ‘aangenaam vir hom’. – Spr. 15:8.

LIED 45 Die bepeinsing van my hart

^ Om tot Jehovah te bid, is ’n groot voorreg, en ons waardeer dit baie. Ons wil hê dat ons gebede soos lekkerruik-reukwerk moet wees, of dat Jehovah dit moet aanvaar. In hierdie artikel sal ons bespreek waaroor ons kan bid. Ons sal ook ’n paar punte bespreek wat ons in gedagte moet hou wanneer ons gevra word om ander in gebed te verteenwoordig.

^ BESKRYWING VAN PRENT: ’n Man bid saam met sy vrou oor hulle kind se veiligheid by die skool, ’n bejaarde ouer se gesondheid en ’n Bybelstudent se vordering.

^ BESKRYWING VAN PRENT: ’n Jong broer dank Jehovah vir Jesus se losprysoffer, ons pragtige aardse tuiste en gesonde kos.

^ BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster bid dat Jehovah die Bestuursliggaam met sy gees seën en dié help wat ly as gevolg van natuurrampe en vervolging.