Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 38

Bewys dat jy betroubaar is

Bewys dat jy betroubaar is

“Die betroubare persoon kan iets vertroulik hou.” – SPR. 11:13.

LIED 101 Werk eensgesind saam

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe weet ons of iemand betroubaar is?

 ’N BETROUBARE persoon doen sy bes om sy beloftes te hou, en hy praat die waarheid (Ps. 15:4). Mense weet dat hulle op hom kan staatmaak. Ons wil hê dat ons broers en susters so oor ons moet voel. Wat kan ons help om hulle vertroue te wen?

2. Hoe kan ons bewys dat ons betroubaar is?

2 Ons kan nie ander dwing om ons te vertrou nie. Vertroue moet verdien word. Daar was al gesê dat vertroue soos geld is. Dit is moeilik om dit te verdien, maar dit is maklik om dit te verloor. Jehovah het beslis ons vertroue verdien. Hy sal ons nooit ’n rede gee om vertroue in hom te verloor nie, want “alles wat hy doen, is betroubaar” (Ps. 33:4). En hy verwag dat ons hom moet navolg (Ef. 5:1). Kom ons kyk na party voorbeelde van Jehovah se knegte wat hulle hemelse Vader nagevolg het en bewys het dat hulle betroubaar is. Ons sal ook vyf eienskappe identifiseer wat ons sal help om betroubaar te wees.

LEER BY BETROUBARE KNEGTE VAN JEHOVAH

3-4. Hoe het die profeet Daniël bewys dat hy betroubaar is, en wat moet ons onsself afvra?

3 Die profeet Daniël was ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat betroubaar was. Al was hy deur die Babiloniërs gevange geneem, het hy gewys dat hy betroubaar is en dat hy vertrou kon word. Mense het hom selfs meer vertrou toe hy met Jehovah se hulp verduidelik het wat die drome van die Babiloniese koning Nebukadnesar beteken het. Eenkeer moes Daniël vir die koning sê dat Jehovah ontevrede met hom was, nie die soort boodskap wat ’n koning sou wou hoor nie. Daniël het moed nodig gehad om dit vir hom te sê, want Nebukadnesar het ’n gewelddadige humeur gehad! (Dan. 2:12; 4:20-22, 25). Baie jare later het Daniël weer bewys dat hy betroubaar is toe hy akkuraat verduidelik het wat ’n geheimsinnige boodskap beteken wat op die muur in die paleis in Babilon verskyn het (Dan. 5:5, 25-29). Later het Darius die Meder en sy aangestelde amptenare ook gesien dat Daniël “besonder wys” was. Hulle het erken dat Daniël “betroubaar en . . . glad nie nalatig of oneerlik [was] nie” (Dan. 6:3, 4). Ja, selfs heidense heersers het erken dat hierdie aanbidder van Jehovah vertrou kon word!

4 Met Daniël se voorbeeld in gedagte sal dit goed wees as ons onsself afvra: ‘Watter reputasie het ek buite die gemeente? Is ek bekend as iemand wat sy verantwoordelikhede nakom en wat vertrou kan word?’ Hoekom moet ons hierdie vrae beantwoord? Want ons eer Jehovah wanneer ons betroubaar is.

Nehemia het betroubare manne gekies om belangrike take te hanteer (Sien paragraaf 5)

5. Hoekom was Hananja bekend as iemand wat betroubaar was?

5 In 455 VHJ, nadat goewerneur Nehemia die mure van Jerusalem herbou het, het hy gesoek na betroubare manne wat goed vir die stad sou sorg. Nehemia het Hananja as die hoof van die Vesting gekies. Die Bybel beskryf Hananja as “’n baie betroubare man [wat] die ware God meer gevrees [het] as baie ander mense” (Neh. 7:2). Liefde vir Jehovah en ’n vrees om hom seer te maak, het Hananja beweeg om enige toewysing wat hy gekry het, ernstig op te neem. Daardie eienskappe sal ons ook help om betroubaar te wees in ons diens aan God.

6. Hoe het Tigikus bewys dat hy ’n betroubare vriend van die apostel Paulus was?

6 Kyk na die voorbeeld van Tigikus, ’n betroubare vriend van die apostel Paulus. Toe Paulus onder huisarres was, het hy op Tigikus staatgemaak en hom beskryf as ’n “getroue bedienaar” (Ef. 6:21, 22). Paulus het hom nie net vertrou om briewe vir die broers in Efese en Kolosse te neem nie, maar ook om hulle aan te moedig en te vertroos. Tigikus herinner ons aan die getroue, betroubare manne wat vandag na ons geestelike behoeftes omsien. – Kol. 4:7-9.

7. Wat kan jy oor betroubaarheid leer by die ouermanne en bedieningsknegte in jou gemeente?

7 Vandag het ons groot waardering vir ons betroubare ouermanne en bedieningsknegte. Soos Daniël, Hananja en Tigikus neem hulle hulle verantwoordelikhede ernstig op. Wanneer ons byvoorbeeld die vergadering in die week bywoon, twyfel ons nie of al die dele op die program aan iemand toegewys is nie. Die ouermanne waardeer dit wanneer dié wat dele het, voorbereid is om hulle dele by die vergadering te gee. En ons huiwer nie om ons Bybelstudente te nooi om die vergadering oor die naweek by te woon omdat ons bang is dat daar niemand sal wees om die openbare toespraak te gee nie. En ons vertrou dat die lektuur wat ons in die bediening nodig het, beskikbaar sal wees. Hierdie getroue broers kyk mooi na ons, en ons dank Jehovah vir hulle! Maar hoe kan ons wys dat ons betroubaar is?

WEES BETROUBAAR WANNEER DIT BY VERTROULIKE DINGE KOM

8. Hoe moet ons gebalanseerd wees wanneer ons belangstelling in ander toon? (Spreuke 11:13)

8 Ons is lief vir ons broers en susters, en ons stel belang in hoe dit met hulle gaan. Maar ons moet gebalanseerd wees en hulle privaatheid respekteer. Party in die Christengemeente in die eerste eeu het ‘geskinder en in ander mense se sake ingemeng en gepraat oor dinge waaroor hulle nie behoort te praat nie’ (1 Tim. 5:13). Ons wil beslis nie soos hulle wees nie. Maar sê nou iemand deel persoonlike inligting met ons en vra ons om niemand daarvan te vertel nie. Byvoorbeeld, ’n suster vertel ons dalk van ’n gesondheidsprobleem of een of ander probleem wat sy het, en sy vra ons om dit vir onsself te hou. Ons moet haar wense respekteer. * (Lees Spreuke 11:13.) Kom ons kyk nou na ’n paar ander situasies waarin dit belangrik is dat ons iets vertroulik hou.

9. Hoe kan familielede wys dat hulle betroubaar is?

9 In die familie. Elke lid van die familie het ’n verantwoordelikheid om sensitiewe, familiesake privaat te hou. Byvoorbeeld, ’n Christenvrou het dalk ’n gewoonte wat haar man snaaks vind. Sou hy met ander daaroor praat en haar in die verleentheid stel? Natuurlik nie. Hy is lief vir sy vrou, en hy sou nooit enige iets wou doen om haar seer te maak nie (Ef. 5:33). Tieners wil met ’n bietjie respek behandel word. Dit is belangrik dat ouers dit moet onthou. Hulle sal nie hulle kinders in die verleentheid stel deur ander van hulle foute te vertel nie (Kol. 3:21). Kinders moet leer om nie vir ander dinge te vertel wat ander lede van die familie in die verleentheid kan stel nie (Deut. 5:16). Wanneer elke familielid sy deel doen om persoonlike familiesake privaat te hou, word die familieband sterker.

10. Wat behels dit om ’n ware vriend te wees? (Spreuke 17:17)

10 In ons vriendskappe. Die meeste van ons sal op die een of ander tyd voel dat ons met ’n goeie vriend moet praat oor hoe ons voel. Soms kan dit moeilik wees. Ons is dalk nie gewoond daaraan om ons diepste gedagtes met enige iemand te deel nie, en ons sal baie seergemaak wees as ons later uitvind dat ons vriend vir ander daarvan vertel het. Maar ons waardeer iemand wat iets vertroulik kan hou. Hy is “’n ware vriend”. – Lees Spreuke 17:17.

Ouermanne vertel nie hulle familielede van vertroulike sake nie (Sien paragraaf 11) *

11. (a) Hoe wys ouermanne en hulle vrouens dat hulle betroubaar is? (b) Watter les kan ons leer by ’n ouerman wat saam met sy familie was nadat hy ’n vertroulike gemeentelike saak hanteer het? (Sien prent.)

11 In die gemeente. Ouermanne wat daarvoor bekend is om iets vertroulik te hou, is “’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling” (Jes. 32:2). Ons weet dat ons vryelik met hierdie manne kan praat omdat ons weet dat wat ons vir hulle sê, vertroulik gehou sal word. Ons plaas nie druk op hulle om vir ons dinge te sê wat hulle privaat moet hou nie. En ons waardeer ons ouermanne se vrouens omdat hulle nie hulle mans probeer kry om vir hulle vertroulike inligting oor ander te vertel nie. Dit is eintlik ’n seën dat ’n ouerman se vrou nie persoonlike inligting oor haar broers en susters weet nie. Een ouerman se vrou het gesê: “Ek is dankbaar dat my man nie vir my enige iets sê oor mense wat hulp van die ouermanne nodig het nie, en hy sê nie eers vir my wie hulle is nie. Ek waardeer dit dat my man inligting vertroulik hou sodat ek nie bekommerd hoef te wees oor probleme waaraan ek niks kan doen nie. As gevolg hiervan voel ek op my gemak om met enige iemand in die gemeente te praat. En ek weet dat wanneer ek my man van my persoonlike gevoelens of probleme vertel, dit ook vertroulik sal bly.” Ons wil natuurlik almal bekend staan as iemand wat betroubaar is. Watter eienskappe sal ons help om daardie doelwit te bereik? Kom ons kyk na vyf van hulle.

ONTWIKKEL EIENSKAPPE WAT JOU HELP OM BETROUBAAR TE WEES

12. Hoekom kan ons sê dat liefde die grondslag van vertroue is? Gee ’n voorbeeld.

12 Liefde is die grondslag van vertroue. Jesus het gesê dat die twee grootste gebooie is om Jehovah lief te hê en om ons naaste lief te hê (Matt. 22:37-39). Ons liefde vir Jehovah motiveer ons om sy perfekte voorbeeld van betroubaarheid na te volg. Byvoorbeeld, liefde vir ons broers en susters motiveer ons om hulle persoonlike sake privaat te hou. Ons wil nooit iets vertroulik oor iemand vir ander vertel wat hulle in die verleentheid kan stel of kan seermaak nie. – Joh. 15:12.

13. Hoe help nederigheid ons om betroubaar te wees?

13 Nederigheid sal ons help om betroubaar te wees. ’n Christen wat nederig is, probeer nie ander beïndruk deur die eerste persoon te wees om vir hulle iets te vertel nie (Fil. 2:3). Hy probeer nie ander laat dink dat hy belangrik is omdat hy dinge weet waaroor hy nie mag praat nie. Nederigheid sal ook keer dat ons ons persoonlike opinie versprei oor dinge wat nie in die Bybel of in ons publikasies bespreek word nie.

14. Hoe help goeie oordeel ons om betroubaar te wees?

14 Goeie oordeel sal ’n Christen help om te weet wanneer dit “’n tyd [is] om stil te bly en ’n tyd [is] om te praat” (Pred. 3:7). “Praat is soos silwer, maar stilte is soos goud” is ’n algemene uitdrukking in party kulture. Met ander woorde, daar is tye wanneer dit beter is om stil te bly as om te praat. Dit is hoekom Spreuke 11:12 sê: “Die man wat insig het, bly stil.” Kom ons kyk na ’n voorbeeld. ’n Ervare ouerman word dikwels gevra om ander gemeentes met hulle moeilike probleme te help. ’n Ander ouerman het die volgende oor hom gesê: “Hy maak altyd seker dat hy nooit oor ander gemeentes se sensitiewe inligting praat nie.” As gevolg van hierdie ouerman se goeie oordeel respekteer die ander ouermanne in sy gemeente hom. Hulle is oortuig daarvan dat hy nooit hulle vertroulike sake met ander sal deel nie.

15. Gee ’n voorbeeld wat wys hoe eerlikheid die vertroue van ander kan wen.

15 Eerlikheid is nog ’n element van vertroue. Ons vertrou ’n eerlike persoon omdat ons weet dat hy altyd die waarheid sal praat (Ef. 4:25; Heb. 13:18). Byvoorbeeld, sê nou jy wil ’n beter onderrigter word. Jy vra iemand om na jou toespraak te luister en om voorstelle te gee oor hoe jy kan verbeter. Wie sal jy vertrou om vir jou eerlike raad te gee? Sal dit iemand wees wat vir jou sê wat jy wil hoor of iemand wat vir jou op ’n liefdevolle manier die waarheid vertel? Die antwoord is duidelik. Die Bybel sê: “’n Openlike teregwysing is beter as liefde wat weggesteek word. Al maak ’n vriend se teregwysing seer, bewys dit sy getrouheid” (Spr. 27:5, 6). Al is dit aan die begin moeilik om te hoor, sal ’n vriend se eerlike kommentare ons op die ou ent help.

16. Hoe beklemtoon Spreuke 10:19 die belangrikheid van selfbeheersing?

16 Selfbeheersing is baie belangrik as ons wil hê dat ander ons moet vertrou. Hierdie eienskap help ons om stil te bly wanneer ons in die versoeking kom om iets vertroulik vir ander te vertel. (Lees Spreuke 10:19.) Dit kan moeilik wees om selfbeheersing te hê wanneer ons sosiale media gebruik. As ons nie versigtig is nie, kan ons per ongeluk vertroulike dinge met baie mense deel. En sodra ons die inligting elektronies versprei het, het ons geen beheer oor hoe dit gebruik sal word of oor hoeveel skade dit sal veroorsaak nie. Selfbeheersing help ons ook om stil te bly wanneer teenstanders ons probeer kry om dinge te openbaar wat ons broers en susters in gevaar kan stel. Dit gebeur dalk wanneer ons deur die polisie ondervra word in ’n land waar ons werk verbied is of beperk is. Ons kan die beginsel om ons “mond met ’n muilband toe [te] maak” in hierdie en in ander situasies toepas (Ps. 39:1). Of ons nou met ons familie, ons vriende, ons broers en susters of enige iemand anders te doen het, ons moet betroubaar wees. En om betroubaar te wees, het ons selfbeheersing nodig.

17. Hoe kan ons vertroue in ons gemeente bevorder?

17 Hoe dankbaar is ons dat Jehovah ons getrek het na ’n broederskap wat bestaan uit mense wat liefdevol en betroubaar is! Ons almal het die verantwoordelikheid om die vertroue van ons broers en susters te wen. Wanneer ons elkeen hard probeer om liefde, nederigheid, goeie oordeel, eerlikheid en selfbeheersing te bewys, bevorder ons die vertroue in ons gemeente. Om te bewys dat ons iemand is wat ander kan vertrou, is ’n aanhoudende proses. Mag ons ons God, Jehovah, navolg en aanhou bewys dat ons betroubaar is.

LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde

^ As ons wil hê dat ander ons moet vertrou, moet ons eers bewys dat ons betroubaar is. In hierdie artikel sal ons sien hoekom vertroue so belangrik is en watter eienskappe ons sal help om die soort persoon te wees wat ander kan vertrou.

^ As ons uitvind dat iemand in die gemeente ’n ernstige sonde gepleeg het, moet ons hom aanmoedig om na die ouermanne toe te gaan vir hulp. As hy dit nie doen nie, moet lojaliteit aan Jehovah en aan die Christengemeente ons motiveer om die geestelike herders daarvan te vertel.

^ BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ouerman vertel nie vir sy familie van ’n vertroulike saak wat hy hanteer het nie.