Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Ek het dit geniet om oor Jehovah te leer en om ander van hom te leer

Ek het dit geniet om oor Jehovah te leer en om ander van hom te leer

TERWYL ek in Easton, Pennsilvanië, VSA, grootgeword het, was ek vasbeslote om universiteit toe te gaan sodat ek iets van myself kon maak. Ek het dit geniet om te leer, en ek het goed gedoen in wiskunde en wetenskap. In 1956 het ’n organisasie vir burgerlike regte vir my 25 dollar (R365) gegee omdat ek die hoogste punte onder die swart studente gehad het. Later het my doelwitte verander. Hoekom?

HOE EK OOR JEHOVAH GELEER HET

In die vroeë 1940’s het my ouers die Bybel met Jehovah se Getuies studeer. Alhoewel hulle opgehou het om die Bybel te studeer, het my ma nog steeds kopieë van Die Wagtoring en Ontwaak! gekry. In 1950 is ’n internasionale byeenkoms in die stad New York gehou, en my gesin het die uitnodiging om dit by te woon, aanvaar.

Kort daarna het broer Lawrence Jeffries ons begin besoek. Hy het my probeer help om die waarheid te leer. Aan die begin het ek nie met hom saamgestem oor die feit dat Jehovah se Getuies nie by die politiek en die weermag betrokke raak nie. Ek het vir hom gesê dat vyande kon kom en die hele land kon oorneem as almal in Amerika geweier het om oorlog te voer. Broer Jeffries het geduldig geredeneer: “Wat dink jy sou Jehovah God doen as al die mense in Amerika hom gedien het en vyande kom om hulle aan te val?” Wat hy daaroor en oor ander dinge gesê het, het my gehelp om te sien dat ek verkeerd was. Dit het my belangstelling geprikkel.

My doop

Ek het ure lank ouer nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! gelees wat my ma in die kelder gebêre het. Later het ek besef dat ek besig is om die waarheid te leer, en daarom het ek broer Jeffries se aanbod van ’n Bybelstudie aanvaar. Ek het ook vergaderinge gereeld begin bywoon. Ek was baie lief vir die dinge wat ek geleer het, en ek het ’n verkondiger van die goeie nuus geword. My doelwitte het verander toe ek verstaan het dat “die groot dag van Jehovah . . . naby [is]” (Sef. 1:14). Ek wou nie nou meer universiteit toe gaan nie; ek wou eerder ander help om Bybelwaarheid te leer.

Ek het op 13 Junie 1956 klaargemaak met hoërskool, en drie dae later is ek by ’n kringbyeenkoms gedoop. Ek het nie besef dat ek so baie seëninge van Jehovah af sou kry omdat ek gekies het om my lewe te gebruik om oor hom te leer en om ander van hom te leer nie.

EK LEER EN EK LEER ANDER AS ’N PIONIER

Ses maande ná my doop het ek ’n gewone pionier geword. Die Koninkryksbediening van Desember 1956 het ’n artikel bespreek wat ons aangemoedig het om te dien waar daar hulp nodig is. Ek was iemand wat dit kon doen. Ek wou help waar daar min mense was wat die goeie nuus verkondig het. – Matt. 24:14.

Ek het na Edgefield in Suid-Carolina getrek. Daar was net vier verkondigers in daardie gemeente. Saam met my was dit vyf. Ons het vergaderinge in ’n broer se sitkamer gehou. Elke maand het ek 100 uur in die bediening spandeer. Ek was besig omdat ek die leiding in die bediening geneem het en toesprake in die gemeente gehou het. Maar hoe besiger ek was, hoe meer het ek oor Jehovah geleer.

Een vrou met wie ek die Bybel studeer het, het ’n begrafnisonderneming gehad in Johnston, ’n dorpie ’n paar kilometer daarvandaan. Sy het vir my deeltydse werk gegee, wat ek baie nodig gehad het en het ons toegelaat om ’n klein gebou as ons Koninkryksaal te gebruik.

Broer Jolly Jeffries, die seun van die broer wat met my studeer het, het van Brooklyn, New York, af getrek en my pioniermaat geword. Ons het saam in ’n klein woonwa gebly wat ’n broer vir ons geleen het.

Mense het maar min verdien in die Suide. Ons het twee of drie dollar (R29 of R44) vir ’n dag se werk gekry. Eenkeer het ek my laaste paar sente gebruik om kos te koop. Toe ek by die winkel uitstap, het ’n man na my toe gekom en vir my gevra: “Wil jy werk? Ek sal jou ’n dollar (R14) ’n uur betaal.” Hy het vir my drie dae se werk gegee, en ek moes ’n bouperseel skoonmaak. Dit was duidelik dat Jehovah my gehelp het om in Edgefield te bly. Maar ek het wel die internasionale byeenkoms in 1958 in die stad New York bygewoon.

Op ons troudag

Op die tweede dag van die byeenkoms het iets spesiaals gebeur. Ek het Ruby Wadlington ontmoet wat ’n gewone pionier in Gallatin, Tennessee, was. Ons het albei daarin belanggestel om sendelinge te wees, en daarom het ons die Gileadvergadering by daardie byeenkoms bygewoon. Later het ons vir mekaar begin skryf. Toe is ek Gallatin toe genooi om ’n openbare toespraak te gee. Ek het daardie geleentheid gebruik om haar te vra om met my te trou. Ek het na Ruby se gemeente toe getrek, en ons is in 1959 getroud.

EK LEER EN EK LEER ANDER IN DIE GEMEENTE

Toe ek 23 was, is ek as die gemeentekneg (nou koördineerder van die liggaam van ouermanne) in Gallatin aangestel. Ons was die eerste gemeente wat Charles Thompson as ’n kringopsiener besoek het. Hy het baie ondervinding gehad, maar tog het hy my opinie gevra oor wat die broers nodig gehad het en hoe ander kringopsieners vir die gemeentes gesorg het. Ek het by hom geleer dat dit goed is om vrae te vra en om eers al die feite te kry voordat ’n mens besluite neem.

In Mei 1964 is ek genooi om die maand lange Koninkryksbedieningskool in South Lansing, New York, by te woon. Die broers wat hierdie skool gehou het, het ’n sterk begeerte in my wakker gemaak om meer te leer en om geestelik te groei.

EK LEER EN EK LEER ANDER IN DIE KRING- EN STREEKWERK

Ek en Ruby is in Januarie 1965 genooi om kringwerk te begin doen. Ons eerste kring het ’n groot gebied gedek van Knoxville, Tennessee, tot amper by Richmond, Virginië. Dit het gemeentes in Noord-Carolina, Kentucky en Wes-Virginië ingesluit. Ek het net die swart gemeentes besoek omdat die rasseskeidingswette in die suide van die Verenigde State nie swart mense toegelaat het om vergaderinge saam met wit mense by te woon nie. Die broers was maar arm, en ons het geleer om wat ons gehad het met ander te deel. ’n Broer wat al lank ’n kringopsiener was, het my ’n belangrike les geleer: “Wees ’n broer. Moenie jou soos ’n baas gedra wanneer jy gemeentes besoek nie. Jy kan hulle net help as hulle jou as hulle broer beskou.”

Terwyl ons ’n klein gemeente besoek het, het Ruby ’n studie met ’n jong vrou begin wat ’n eenjarige dogtertjie gehad het. Toe niemand in die gemeente die studie kon hou nie het Ruby dit deur die pos gedoen. Op ons volgende besoek het die vrou elke vergadering bygewoon. Toe twee spesiale pioniersusters daarheen getrek het, het hulle die studie oorgevat, en sy is kort daarna gedoop. Omtrent 30 jaar later in 1995, by Patterson Bethel, het ’n jong suster haarself aan Ruby voorgestel. Dit was die dogter van die vrou met wie Ruby studeer het. Die dogter en haar man was studente in die 100ste klas van die Gileadskool.

Ons tweede kring was in sentraal-Florida. Omtrent hierdie tyd het ons ’n kar nodig gehad, so ons het een teen ’n baie goeie prys gekoop. Maar in die eerste week het die waterpomp gebreek. Ons het nie geld gehad om dit reg te maak nie. Ek het ’n broer gebel wat ek gedink het ons dalk sou kon help. Hy het laat een van sy werkers die kar regmaak, en hy wou nie enige geld daarvoor hê nie. Hy het net gesê: “Julle skuld my niks nie.” Hy het selfs vir ons geld as ’n geskenk gegee! Dit was ’n pragtige voorbeeld van hoe Jehovah vir sy knegte sorg. Dit het ons daaraan herinner om vrygewig teenoor ander te wees.

Wanneer ons ook al ’n gemeente besoek het, het ons by die broers gebly. As gevolg daarvan het ons baie goeie vriende gemaak. Eendag was ek besig met my verslag oor die gemeente, en ek het dit in my tikmasjien gelos. Toe ek daardie aand teruggekom het, het ek uitgevind dat die driejarige seun van die gesin waar ons gebly het, my “gehelp het” om die verslag klaar te maak. Ek het hom nog jare daarna daaroor geterg.

In 1971 het ek ’n brief gekry waarin ek aangewys was as streekopsiener in die stad New York. Ons was geskok! Toe ons daarheen getrek het, was ek maar net 34 jaar oud. Die broers het my, hulle eerste swart streekopsiener, liefdevol verwelkom.

As streekopsiener het ek dit geniet om elke naweek by ’n kringbyeenkoms ander van Jehovah te leer. Baie van die kringopsieners het baie meer ondervinding as ek gehad. Een van hulle het my dooptoespraak gegee. ’n Ander broer, Theodore Jaracz, het later ’n lid van die Bestuursliggaam geword. Daar was ook baie ervare broers wat by die Bethel in Brooklyn gedien het. Ek was so dankbaar dat die kringopsieners en die Betheliete my gemaklik laat voel het. Ek het persoonlik gesien dat hulle liefdevolle herders was wat op God se Woord staatgemaak het en die organisasie lojaal ondersteun het. Hulle nederigheid het dit vir my maklik gemaak om die streekopsiener te wees.

EK BEGIN WEER MET KRINGWERK

In 1974 het die Bestuursliggaam ’n ander groep kringopsieners as streekopsieners aangestel, en ek het weer ’n kringopsiener geword – hierdie keer in Suid-Carolina. Teen daardie tyd was die wit en swart gemeentes en kringe nie meer geskei nie, en dit het die broers baie gelukkig gemaak.

Laat in 1976 is ek na ’n kring in Georgia tussen Atlanta en Columbus gestuur. Ek kan nog goed onthou dat ek die begrafnistoespraak vir vyf swart kinders gegee het wat gesterf het toe mense hulle huis aan die brand gesteek het. Die ma was in die hospitaal as gevolg van haar beserings. Daar was heeltyd baie broers en susters, swart en wit, wat die ouers in die hospitaal kom besoek het om hulle te vertroos. Die broers het hulle liefde op ’n wonderlike manier bewys. Sulke meegevoel kan God se knegte help om die moeilikste omstandighede te verduur.

EK LEER EN EK LEER ANDER BY BETHEL

In 1977 is ons gevra om vir ’n paar maande na die Bethel in Brooklyn te kom om te help met ’n projek. Toe dit amper klaar was, het twee lede van die Bestuursliggaam vir my kom vra of ek en Ruby bereid sou wees om permanent by Bethel te dien. Ons het die uitnodiging aanvaar.

Ek het vir 24 jaar in die Diensafdeling gewerk, waar broers dikwels met sensitiewe en moeilike vrae te doen kry. Oor die jare het die Bestuursliggaam riglyne in ooreenstemming met Bybelbeginsels voorsien. Dit word gebruik as die grondslag om vrae te beantwoord, maar dit is ook die grondslag om kringopsieners, ouermanne en pioniers op te lei. Hierdie opleiding het baie broers gehelp om geestelik te groei. En dit het weer Jehovah se organisasie versterk.

Van 1995 tot 2018 het ek verskillende takkantore besoek as ’n verteenwoordiger van die wêreldhoofkwartier, wat voorheen ’n sone-opsiener genoem was. Ek het met Takkomitee, Betheliete en sendelinge bymekaargekom om hulle aan te moedig en hulle met enige probleme te help. Ek en Ruby was nog altyd aangemoedig deur die ondervindinge wat hulle met ons gedeel het. Byvoorbeeld, in 2000 het ons Rwanda besoek. Toe ons hoor hoe die broers en die Bethelgesin die volksmoord van 1994 oorleef het, het dit ons diep geraak. Baie het geliefdes verloor. Ten spyte hiervan was hierdie broers gelukkig en het hulle geloof en hoop gehad.

Op ons 50ste huweliksherdenking

Ons is nou in ons 80’s. Ek dien al die laaste 20 jaar op die Takkomitee in die Verenigde State. Ek het nooit universiteit toe gegaan nie, maar ek het die beste opleiding van Jehovah en sy organisasie ontvang. Dit het my gehelp om mense Bybelwaarhede te leer wat hulle vir ewig kan help (2 Kor. 3:5; 2 Tim. 2:2). Ek het gesien hoe die Bybel se boodskap mense gehelp het om hulle lewens te verbeter en om ’n verhouding met hulle Skepper op te bou (Jak. 4:8). Wanneer ons ook al kan, hou ek en Ruby aan om ander aan te moedig om die voorreg te waardeer om oor Jehovah te leer en om Bybelwaarhede aan ander te leer – die grootste voorreg wat ’n kneg van Jehovah kan geniet!