Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat het die apostel Paulus bedoel toe hy na homself verwys het as “iemand wat te vroeg gebore is”? (1 Korintiërs 15:8)

Volgens 1 Korintiërs 15:8 het Paulus gesê: “Laaste van almal het hy ook aan my verskyn asof aan iemand wat te vroeg gebore is.” In die verlede het ons verduidelik dat Paulus blykbaar verwys het na sy eie ondervinding toe hy ’n visioen van Jesus in sy hemelse heerlikheid gehad het. Dit was asof hy die eer gekry het om voor die tyd as ’n gees gebore, of opgewek, te word, jare voordat daardie soort opstanding sou moes gebeur. Maar verdere studie van hierdie vers het gewys dat die verduideliking van hierdie vers moet verander.

Paulus het hier gepraat van wat by sy bekering gebeur het. Maar wat het hy bedoel toe hy gesê het dat hy “vroeg gebore” was? Daar is ’n hele paar moontlikhede.

Sy bekering was skielik en traumaties. ’n Vroeggeboorte is dikwels onverwags. Terwyl Saul (wat later Paulus geword het) na Damaskus gereis het om die Christene daar te vervolg, het hy nie verwag om ’n visioen van Jesus wat opgewek is, te kry nie. Paulus se bekering was nie net vir hom ’n verrassing nie, maar ook vir die Christene wat hy van plan was om in daardie stad te vervolg. En hierdie ondervinding was so traumaties dat hy sy sig tydelik verloor het. – Hand. 9:1-9, 17-19.

Sy bekering was op “die verkeerde tyd”. Die oorspronklike Griekse woord wat vertaal is as “een wat te vroeg gebore is”, kan ook vertaal word as “een wat op die verkeerde tyd gebore is”. The Jerusalem Bible stel dit so: “Dit was asof ek gebore is toe niemand dit verwag het nie.” Teen die tyd van Paulus se bekering was Jesus alreeds in die hemel. Anders as dié van wie Paulus in die vorige verse gepraat het, het hy nie Jesus ná sy opstanding terwyl hy nog op die aarde was gesien nie (1 Kor. 15:4-8). Jesus se onverwagse verskyning aan Paulus het hom daardie geleentheid gegee, al het dit gelyk asof dit op “die verkeerde tyd” was.

Hy het op ’n beskeie manier van homself gepraat. Volgens party geleerdes kan die uitdrukking wat Paulus hier gebruik het, klink asof hy krities was. As dit is wat Paulus in gedagte gehad het, het hy erken dat hy die voorreg wat hy ontvang het, nie verdien het nie. Om die waarheid te sê, hy het bygevoeg: “Ek is die minste van die apostels, en ek is dit nie waardig om ’n apostel genoem te word nie omdat ek die gemeente van God vervolg het. Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek is.” – 1 Kor. 15:9, 10.

So dit lyk asof Paulus kon verwys het na die onverwagse en skielike manier waarop Jesus aan hom verskyn het, die onverwagse tyd van sy bekering of die feit dat hy nie geestelik waardig was om so ’n wonderlike openbaring te hê nie. Wat ook al die geval is, dit is duidelik dat hierdie ondervinding vir Paulus baie spesiaal was. Dit het sonder twyfel aan hom bewys dat Jesus uit die dood opgewek is. Dit is geen wonder dat hy baie keer na hierdie onverwagse ondervinding verwys het wanneer hy Jesus se opstanding aan ander verkondig het nie. – Hand. 22:6-11; 26:13-18.