Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wie sal op die aarde opgewek word, en watter soort opstanding sal hulle ontvang?

Kyk hoe die Bybel hierdie vrae beantwoord.

Handelinge 24:15 sê vir ons dat daar “’n opstanding van die regverdiges en die onregverdiges sal wees”. Die regverdiges is dié wat gehoorsaam was aan God voordat hulle gesterf het, so hulle name is in die boek van die lewe (Mal. 3:16). Die onregverdiges is dié wat nie genoeg geleenthede gehad het om Jehovah te leer ken voordat hulle gesterf het nie, so hulle name is nie in die boek van die lewe nie.

Johannes 5:28, 29 verwys na dieselfde twee groepe wat in Handelinge 24:15 genoem word. Jesus sê dat “dié wat goeie dinge gedoen het,” sal uitkom “tot ’n opstanding van die lewe, en dié wat walglike dinge gedoen het, tot ’n opstanding van oordeel”. Die regverdiges het goeie dinge gedoen voordat hulle gesterf het. Hulle sal uitkom tot ’n opstanding van die lewe omdat hulle name nog steeds in die boek van die lewe is. Maar die onregverdiges het walglike dinge gedoen voordat hulle gesterf het. Hulle sal uitkom tot ’n opstanding van oordeel. Hulle name is nog nie in die boek van die lewe nie, en hulle sal ’n tydperk van oordeel, of ’n proeftydperk, deurmaak. Gedurende daardie tyd sal hulle ’n geleentheid hê om Jehovah te leer ken en om hulle name in die boek van die lewe te laat skryf.

Openbaring 20:12, 13 verduidelik dat almal wat opgewek is, gehoorsaam sal moet wees aan die dinge “wat in die boekrolle geskryf is,” dit wil sê die nuwe wette wat God ons sal gee in die nuwe wêreld. Dié wat nie gehoorsaam is nie, sal verwyder word. – Jes. 65:20.

Daniël 12:2 voorspel dat party wakker sal word “tot die ewige lewe en ander tot skande en ewige verwerping”. Hierdie vers praat van die finale uiteinde van hulle opstanding – “die ewige lewe” of “ewige verwerping”. So aan die einde van die duisend jaar sal party die ewige lewe ontvang en ander sal vir ewig vernietig word. – Op. 20:15; 21:3, 4.

Kyk na ’n illustrasie. Die situasie van die twee groepe wat opgewek is, kan vergelyk word met die situasie van uitlanders wat in ’n nuwe land wil bly. Die regverdiges is soos dié wat ’n werksvisum of ’n inwonersvisum kry wat hulle ’n mate van erkenning en vryheid gee. Maar die onregverdiges is soos uitlanders wat dalk ’n tydelike visum of ’n besoekersvisum kry. Sulke uitlanders moet hulleself bewys voordat hulle toegelaat word om in die nuwe land te bly. Net so sal die onregverdiges Jehovah se wette moet gehoorsaam en hulleself regverdig moet bewys om in die Paradys te bly. En maak nie saak watter visum uitlanders kry wanneer hulle na ’n nuwe land toe gaan nie, party word dalk later toegelaat om as burgers daar te bly terwyl ander dalk uit die land gestuur word. Die finale besluit sal gebaseer word op hulle gesindheid en gedrag in die nuwe land. Net so sal die finale uiteinde van almal wat opgewek is, afhang van hulle getrouheid en gedrag in die nuwe wêreld.

Jehovah is nie net die God van meegevoel nie, maar ook die God van geregtigheid en regverdigheid (Deut. 32:4; Ps. 33:5). Hy sal sy liefde wys deur die regverdiges en die onregverdiges op te wek. Maar hy sal van hulle almal verwag om sy standaarde van wat reg en wat verkeerd is, te gehoorsaam. Slegs dié wat hom liefkry en wat sy standaarde gehoorsaam, sal toegelaat word om in die nuwe wêreld te bly.