Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 40

‘Baie mense word gehelp om ’n regverdige weg te volg’

‘Baie mense word gehelp om ’n regverdige weg te volg’

“Dié wat baie mense help om ’n regverdige weg te volg, sal . . . skyn soos die sterre, vir ewig en altyd.” – DAN. 12:3.

LIED 151 Hy sal roep

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter opwindende dinge sal gedurende die duisend jaar gebeur?

 DIT sal beslis ’n wonderlike dag wees wanneer die opstanding hier op die aarde gedurende die duisend jaar begin! Almal wat geliefdes verloor het, sien daarna uit om hulle weer te sien. Jehovah voel ook so (Job 14:15). Dink net hoe gelukkig almal op die aarde sal wees wanneer hulle weer met hulle geliefdes verenig is. Soos ons in die vorige artikel geleer het, sal “die regverdiges” wie se name in die boek van die lewe geskryf is, “’n opstanding van die lewe” kry (Hand. 24:15; Joh. 5:29). Dalk sal baie van ons geliefdes onder dié wees wat kort ná Armageddon opgewek sal word. * En “die onregverdiges”, dié wat nie genoeg geleenthede gehad het om Jehovah te leer ken nie of dié wat Jehovah nie getrou gedien het voordat hulle gesterf het nie, sal “’n opstanding van oordeel” kry.

2-3. (a) Wat sal die grootste onderrigtingswerk in die hele geskiedenis wees, volgens Jesaja 11:9, 10? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Almal wat opgewek word, sal geleer moet word (Jes. 26:9; 61:11). Daarom sal die grootste onderrigtingswerk in die hele geskiedenis gedoen moet word. (Lees Jesaja 11:9, 10.) Hoekom? Om maar een ding te noem, die onregverdiges wat opgewek word, sal moet leer van God se Koninkryk, Jesus se losprysoffer en die belangrikheid van Jehovah se naam en hoekom hy alleen die reg het om te regeer. Selfs die regverdiges sal op datum gebring moet word met wat Jehovah geleidelik oor sy doel vir die aarde geopenbaar het. Party van hierdie getroues het gesterf lank voordat die Bybel voltooi was. Die onregverdiges en die regverdiges sal baie hê om te leer.

3 In hierdie artikel sal ons die volgende vrae bespreek: Hoe sal hierdie groot onderrigtingswerk gedoen word? Hoe sal hierdie werk bepaal of mense se name permanent in die boek van die lewe geskryf word of nie? Die antwoorde op hierdie vrae is vandag vir ons belangrik. Soos ons sal sien, sal party fassinerende profesieë in die boeke Daniël en Openbaring ons help om beter te verstaan wat sal gebeur wanneer die dooies opgewek word. Kom ons kyk eers na die opwindende gebeure wat in die profesie in Daniël 12:1, 2 voorspel word.

“DIÉ WAT IN DIE STOF . . . SLAAP, SAL WAKKER WORD”

4-5. Wat openbaar Daniël 12:1 oor die tyd van die einde?

4 Lees Daniël 12:1. Die boek Daniël openbaar die volgorde van opwindende gebeure wat gedurende die tyd van die einde sal plaasvind. Byvoorbeeld, Daniël 12:1 openbaar dat Migael, wat Jesus Christus is, “tot voordeel van [God se] volk staan”. Daardie deel van die profesie het in 1914 begin waar word toe Jesus as Koning van God se hemelse Koninkryk aangestel is.

5 Maar daar was ook vir Daniël gesê dat Jesus sou “opstaan” gedurende “’n moeilike tyd . . . soos daar nie was vandat ’n nasie ontstaan het tot op daardie tyd nie”. Hierdie “moeilike tyd” is die “groot verdrukking” wat in Matteus 24:21 genoem word. Jesus staan op, of tree op, om God se volk te verdedig aan die einde van hierdie moeilike tyd, dit wil sê by Armageddon. Die boek Openbaring verwys na hierdie groep as “’n groot menigte” “wat uit die groot verdrukking kom”. – Op. 7:9, 14.

6. Wat gebeur nadat die groot menigte die groot verdrukking oorleef? Verduidelik. (Sien ook “Vrae van lesers” in hierdie tydskrif omtrent die opstanding op die aarde.)

6 Lees Daniël 12:2. Wat gebeur nadat die groot menigte hierdie moeilike tyd oorleef? Hierdie profesie verwys nie na ’n simboliese opstanding, ’n geestelike opstanding van God se knegte wat gedurende die laaste dae plaasvind, soos ons voorheen verstaan het nie. * Hierdie woorde verwys eerder na die opstanding van die dooies wat in die komende nuwe wêreld plaasvind. Hoekom sê ons so? Die uitdrukking “die stof” word ook in Job 17:16 gebruik en het dieselfde betekenis as “die Graf”. Dit wys dat Daniël 12:2 verwys na die letterlike opstanding wat sal plaasvind nadat die laaste dae geëindig het en ná die oorlog van Armageddon.

7. (a) In watter sin sal party tot “die ewige lewe” opgewek word? (b) Hoe is dit “’n beter opstanding”?

7 Maar wat beteken Daniël 12:2 wanneer dit sê dat party tot “die ewige lewe” opgewek sal word? Dit beteken dat dié wat opgewek word en Jehovah en Jesus leer ken – of aanhou om hulle beter te leer ken – en hulle gehoorsaam gedurende die duisend jaar uiteindelik die ewige lewe sal ontvang (Joh. 17:3). Dit sal “’n beter opstanding” wees as wat party mense in die verlede gehad het (Heb. 11:35). Hoekom? Omdat daardie onvolmaakte mense weer gesterf het.

8. Hoe word ander “tot skande en ewige verwerping” opgewek?

8 Maar nie almal wat opgewek word, sal deur Jehovah geleer wil word nie. Daniël se profesie sê dat party “tot skande en ewige verwerping” opgewek sal word. Omdat hulle ’n opstandige gesindheid sal hê, sal hulle name nie in die boek van die lewe geskryf word nie en sal hulle nie die ewige lewe ontvang nie. Hulle sal eerder “ewige verwerping”, of vernietiging, ontvang. So Daniël 12:2 praat van wat uiteindelik met almal wat opgewek word, sal gebeur op grond van wat hulle hulle opstanding doen (Op. 20:12). * Party sal die ewige lewe ontvang en ander sal nie.

‘BAIE MENSE WORD GEHELP OM ’N REGVERDIGE WEG TE VOLG’

9-10. Wat sal nog ná die groot verdrukking gebeur, en wie “sal so helder skyn soos die hemele”?

9 Lees Daniël 12:3. Wat sal nog gebeur ná die komende “moeilike tyd”? Behalwe vir die dinge wat in Daniël 12:2 genoem word, praat vers 3 ook van iets wat die groot verdrukking gebeur.

10 Wie “sal so helder skyn soos die hemele”? Ons vind ’n leidraad in Jesus se woorde in Matteus 13:43: “In daardie tyd sal die regverdiges so helder soos die son skyn in die Koninkryk van hulle Vader.” In die konteks van hierdie woorde praat Jesus van “die kinders van die Koninkryk,” sy gesalfde broers wat saam met hom in die hemelse Koninkryk sal dien (Matt. 13:38). So Daniël 12:3 moet na die gesalfdes verwys en die werk wat hulle gedurende die duisend jaar sal doen.

Die 144 000 sal saam met Jesus Christus toesig hou oor die onderrigtingswerk wat gedurende die duisend jaar gedoen sal word (Sien paragraaf 11)

11-12. Watter werk sal die 144 000 gedurende die duisend jaar doen?

11 Hoe sal die gesalfdes “baie mense help om ’n regverdige weg te volg”? Die gesalfdes sal saam met Jesus Christus toesig hou oor die onderrigtingswerk wat hier op die aarde gedurende die duisend jaar gedoen sal word. Die 144 000 sal nie net as konings regeer nie, maar ook as priesters dien (Op. 1:6; 5:10; 20:6). So hulle sal help met “die genesing van die nasies” en sal mense help om geleidelik weer volmaak te word (Op. 22:1, 2; Eseg. 47:12). Dit sal die gesalfdes baie gelukkig maak!

12 Wie sal deel wees van die “baie mense” wat gehelp word om ’n regverdige weg te volg? Dit sal dié wees wat opgewek word en ook dié wat Armageddon oorleef saam met enige kinders wat dalk in die nuwe wêreld gebore word. Teen die einde van die duisend jaar sal almal op die aarde volmaak wees. So wanneer sal hulle name permanent in ink en nie in potlood nie in die boek van die lewe geskryf word?

DIE FINALE TOETS

13-14. Wat sal alle volmaakte mense op die aarde moet bewys voordat hulle die ewige lewe ontvang?

13 Ons moet onthou dat volmaaktheid nie beteken dat iemand outomaties die ewige lewe sal ontvang nie. Dink aan Adam en Eva. Hulle was volmaak, maar hulle moes hulle gehoorsaamheid aan Jehovah God bewys voordat hulle die ewige lewe sou ontvang. En ongelukkig was hulle ongehoorsaam aan hom. – Rom. 5:12.

14 Wat sal die situasie wees van dié op die aarde aan die einde van die duisend jaar? Almal sal volmaak wees. Sal al daardie volmaakte mense Jehovah se heerskappy vir ewig ten volle ondersteun? Of sal party soos Adam en Eva wees wat ongehoorsaam geword het, al was hulle volmaak? Hierdie vrae moet beantwoord word, maar hoe?

15-16. (a) Wanneer sal alle mense ’n geleentheid kry om te bewys dat hulle lojaal aan Jehovah is? (b) Wat sal die finale uiteinde van hierdie toets wees?

15 Satan sal vir die duisend jaar opgesluit word. Gedurende daardie tyd sal hy nie enige iemand kan mislei nie. Maar aan die einde van die duisend jaar sal Satan vrygelaat word. Dan sal hy volmaakte mense probeer mislei. Gedurende daardie toets sal alle volmaakte mense op die aarde ’n geleentheid hê om te wys of hulle God se naam respekteer en sy heerskappy ondersteun (Op. 20:7-10). Hoe elkeen van hulle op Satan se pogings reageer, sal bepaal of hulle name permanent in die boek van die lewe geskryf moet word.

16 Party sal wys dat hulle soos Adam en Eva is deur Jehovah se heerskappy te verwerp. Wat sal met hulle gebeur? Openbaring 20:15 sê: “As iemand se naam nie in die boek van die lewe geskryf is nie, is hy in die poel van vuur gegooi.” Ja, hierdie opstandiges sal vir ewig heeltemal vernietig word. Maar die meeste volmaakte mense sal hierdie finale toets slaag. Hulle name sal dan permanent in die boek van die lewe geskryf word.

GEDURENDE “DIE TYD VAN DIE EINDE”

17. Wat het die engel vir Daniël gesê sal in ons tyd gebeur? (Daniël 12:4, 8-10)

17 Dit is baie opwindend om aan die dinge te dink wat in die toekoms gaan gebeur! Maar Daniël het ook belangrike inligting oor ons tyd, “die tyd van die einde” by ’n engel gekry. (Lees Daniël 12:4, 8-10; 2 Tim. 3:1-5.) Die engel het vir Daniël gesê: “Ware kennis sal oorvloedig word.” Ja, die profetiese woorde in sy boek sou baie beter deur God se volk verstaan word. Die engel het ook gesê dat die goddeloses gedurende daardie tyd “goddeloos [sal] optree, en nie een van die goddeloses sal verstaan nie”.

18. Wat sal binnekort met die goddeloses gebeur?

18 Vandag lyk dit dalk asof die goddeloses wegkom met die goddelose dinge wat hulle doen (Mal. 3:14, 15). Maar binnekort sal Jesus die bokagtige mense oordeel en hulle skei van die skaapgeaardes (Matt. 25:31-33). Hierdie goddelose mense sal nie die groot verdrukking oorleef nie, en hulle sal ook nie in die nuwe wêreld opgewek word nie. Hulle name sal nie in die “gedenkboek” waarvan Maleagi 3:16 praat, wees nie.

19. Wat moet ons nou doen, en hoekom? (Maleagi 3:16-18)

19 Ons moet nou bewys dat ons nie deel van die goddeloses is nie. (Lees Maleagi 3:16-18.) Jehovah maak dié bymekaar wat hy as ’n “spesiale eiendom”, of ’n kosbare besitting, beskou. Ons wil beslis deel van hulle wees.

Dit sal baie opwindend wees om te sien hoe Daniël, ons geliefdes en nog baie ander “opstaan” om hulle deel in die nuwe wêreld te ontvang! (Sien paragraaf 20)

20. Watter finale belofte was aan Daniël gemaak, en hoekom sien jy uit na die tyd wanneer daardie belofte sal waar word?

20 Ons lewe beslis in opwindende tye. Maar daar is selfs opwindender dinge wat binnekort gaan gebeur. Binnekort sal ons sien hoe alle goddeloosheid vernietig word. Daarna sal ons sien hoe Jehovah se belofte aan Daniël waar word: “Jy sal opstaan om jou deel te ontvang aan die einde van die dae” (Dan. 12:13). Sien jy uit na die dag wanneer Daniël saam met jou geliefdes weer “sal opstaan”? As dit so is, doen jou bes om nou getrou te bly, en jy kan seker wees dat jou naam in Jehovah se boek van die lewe sal bly.

LIED 80 ‘Kom ondervind dat Jehovah goed is’

^ Hierdie artikel bespreek ’n verandering in ons begrip in verband met die groot onderrigtingswerk wat in Daniël 12:2, 3 beskryf word. Ons sal bespreek wanneer dit sal gebeur en wie daaraan sal deelneem. Ons sal ook sien hoe hierdie onderrigtingswerk dié op die aarde sal voorberei vir die finale toets aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy.

^ Die opstanding sal dalk begin met dié wat gedurende die laaste dae getrou gesterf het, en dan sal dié wat voor hulle gesterf het, opgewek word, generasie vir generasie. As dit die geval is, sal elke generasie ’n geleentheid hê om dié wat hulle persoonlik geken het, terug te verwelkom. Wat ook al die geval is, die Bybel praat van ’n “regte volgorde” in verband met die hemelse opstanding, en ons kan aanneem dat die aardse opstanding ook op ’n ordelike manier sal plaasvind. – 1 Kor. 14:33; 15:23.

^ Hierdie verduideliking is ’n aanpassing in ons begrip wat gevind word in die boek Gee ag op Daniël se profesie! hoofstuk 17, en in Die Wagtoring van 1 Julie 1987, bl. 21-25.

^ Maar die terme “die regverdiges” en “die onregverdiges” in Handelinge 24:15 en die woorde “dié wat goeie dinge gedoen het” en “dié wat walglike dinge gedoen het” in Johannes 5:29 fokus op die gedrag van dié wat opgewek is voordat hulle gesterf het.