Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 5

“Die liefde wat die Christus het, spoor ons aan”

“Die liefde wat die Christus het, spoor ons aan”

“Die liefde wat die Christus het, spoor ons aan . . . sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie.” – 2 KOR. 5:14, 15.

LIED 13 Christus, ons Voorbeeld

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. (a) Hoe voel ons dalk wanneer ons nadink oor Jesus se lewe en sy bediening? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

 WANNEER ons ’n geliefde in die dood verloor, verlang ons baie na daardie persoon. Eers voel ons dalk net pyn in ons hart wanneer ons terugdink aan die dae voor sy dood, veral as daardie persoon baie gely het voordat hy gesterf het. Maar later begin ons dalk weer gelukkig voel wanneer ons dink aan iets wat hy ons geleer het of aan iets wat hy gedoen of gesê het om ons aan te moedig of om ons te laat glimlag.

2 Net so maak dit ons hartseer om te lees oor Jesus se lyding en sy dood. Gedurende die Gedenkmaalseisoen maak ons tyd om na te dink oor hoe kosbaar Jesus se losprysoffer is (1 Kor. 11:24, 25). Maar dit maak ons baie gelukkig om na te dink oor al die dinge wat Jesus gesê en gedoen het terwyl hy op die aarde was. Dit moedig ons ook aan wanneer ons dink aan wat hy nou doen en aan wat hy vir ons in die toekoms sal doen. Wanneer ons nadink oor hierdie dinge en oor sy liefde vir ons, kan dit ons motiveer om ons waardering op praktiese maniere te wys, soos ons in hierdie artikel sal sien.

DANKBAARHEID MOTIVEER ONS OM JESUS NA TE VOLG

3. Watter redes het ons om dankbaar te wees vir die losprys?

3 Ons voel dankbaar wanneer ons nadink oor Jesus se lewe en sy dood. Regdeur sy bediening op die aarde het Jesus mense geleer oor die seëninge wat God se Koninkryk sou bring. Ons het groot waardering vir hierdie Koninkrykswaarhede. Ons is dankbaar vir die losprys omdat dit ons toelaat om ’n sterk vriendskap met Jehovah en Jesus te hê. Dié wat geloof in Jesus beoefen, het ook die hoop om vir ewig te lewe en om hulle geliefdes wat gesterf het, weer te sien (Joh. 5:28, 29; Rom. 6:23). Ons het niks gedoen om hierdie seëninge te verdien nie, en ons kan God en Christus ook nooit terugbetaal vir wat hulle vir ons gedoen het nie (Rom. 5:8, 20, 21). Maar ons kan vir hulle wys hoe dankbaar ons is. Hoe?

Hoe motiveer dit jou om te wys dat jy dankbaar is wanneer jy nadink oor Maria Magdalena se voorbeeld? (Sien paragraaf 4-5)

4. Hoe het Maria Magdalena gewys dat sy dankbaar is vir wat Jesus vir haar gedoen het? (Sien prent.)

4 Kyk na die voorbeeld van ’n Joodse vrou met die naam Maria Magdalena. Sy het baie gely omdat sewe demone haar geteister het. Sy moes sekerlik gevoel het dat niemand haar kon help nie. Dink net hoe dankbaar sy was toe Jesus haar van die invloed van daardie demone bevry het. Haar dankbaarheid het haar gemotiveer om sy volgeling te word en om haar tyd, energie en besittings te gebruik om hom in die bediening te ondersteun (Luk. 8:1-3). Al het Maria groot waardering gehad vir wat Jesus vir haar gedoen het, het sy dalk nie geweet dat Jesus in die toekoms baie meer vir haar sou doen nie. Hy sou sy lewe vir alle mense gee “sodat elkeen wat geloof in hom beoefen,” die ewige lewe kon geniet (Joh. 3:16). Maria het nogtans haar waardering vir Jesus gewys deur lojaal te wees. Terwyl Jesus op die folterpaal gely het, het Maria daar naby gestaan en hom en die ander emosioneel ondersteun (Joh. 19:25). Nadat Jesus gesterf het, het Maria en twee ander vroue speserye na die graf gebring (Mark. 16:1, 2). Maria was grootliks beloon vir haar lojaliteit. Sy het die voorreg gehad om Jesus ná sy opstanding te ontmoet en om met hom te praat – ’n voorreg wat die meeste dissipels nie gehad het nie. – Joh. 20:11-18.

5. Hoe kan ons wys dat ons dankbaar is vir alles wat Jehovah en Jesus vir ons gedoen het?

5 Ons kan ook wys dat ons dankbaar is vir alles wat Jehovah en Jesus vir ons gedoen het deur ons tyd, energie en geld te gebruik om die Koninkrykswerk te ondersteun. Ons kan byvoorbeeld help om geboue vir rein aanbidding te bou en in stand te hou.

LIEFDE VIR JEHOVAH EN JESUS MOTIVEER ONS OM LIEF TE WEES VIR ANDER

6. Hoekom kan ons sê dat die losprys ’n geskenk aan elkeen van ons is?

6 Wanneer ons dink aan hoe lief Jehovah en Jesus vir ons is, motiveer dit ons om ook vir hulle lief te wees (1 Joh. 4:10, 19). Ons word selfs liewer vir hulle wanneer ons besef dat Jesus vir elkeen van ons gesterf het. Die apostel Paulus het dit erken, en ons kan sy waardering sien in sy woorde aan die Galasiërs: “Die Seun van God [het] my liefgehad . . . en homself vir my oorgegee” (Gal. 2:20). As gevolg van die losprys het Jehovah jou na hom toe getrek sodat jy sy vriend kan wees (Joh. 6:44). Maak dit jou nie gelukkig om te weet dat Jehovah iets goeds in jou gesien het en dat hy die hoogste prys betaal het sodat jy sy vriend kan wees nie? Versterk dit nie jou liefde vir Jehovah en Jesus nie? Dit sal goed wees as ons onsself afvra: ‘Wat sal daardie liefde my aanspoor om te doen?’

Ons liefde vir God en Christus motiveer ons om die Koninkryksboodskap aan alle soorte mense te verkondig (Sien paragraaf 7)

7. Hoe kan almal van ons ons liefde vir Jehovah en Jesus wys, soos ons in die prent kan sien? (2 Korintiërs 5:14, 15; 6:1, 2)

7 Ons liefde vir God en Christus motiveer ons om te wys dat ons lief is vir ander. (Lees 2 Korintiërs 5:14, 15; 6:1, 2.) Een manier hoe ons ons liefde wys, is deur ywerig aan die predikingswerk deel te neem. Ons praat met almal wat ons ontmoet, maak nie saak watter ras hulle is, uit watter stam hulle kom, wat hulle sosiale agtergrond is en of hulle nou ryk of arm is nie. Op hierdie manier werk ons in ooreenstemming met Jehovah se doel dat “alle soorte mense gered moet word en akkurate kennis van die waarheid moet kry”. – 1 Tim. 2:4.

8. Hoe kan ons wys dat ons lief is vir ons broers en susters?

8 Ons wys ook ons liefde vir God en Christus deur te wys dat ons lief is vir ons broers en susters (1 Joh. 4:21). Ons stel in elkeen van hulle belang en ondersteun hulle wanneer hulle deur moeilike tye gaan. Ons vertroos hulle wanneer hulle ’n geliefde in die dood verloor het, gaan kuier vir hulle wanneer hulle siek is en doen ons bes om hulle aan te moedig wanneer hulle mismoedig is (2 Kor. 1:3-7; 1 Tess. 5:11, 14). Ons hou aan om vir hulle te bid, want ons weet dat “die smeekgebede van ’n regverdige man . . . ’n kragtige uitwerking” het. – Jak. 5:16.

9. Wat is nog ’n manier hoe ons kan wys dat ons lief is vir ons broers en susters?

9 Ons wys ook dat ons lief is vir ons broers en susters deur hard te werk om in vrede met hulle te lewe. Ons probeer ons bes om Jehovah se voorbeeld van vergifnis na te volg. As Jehovah bereid was om sy Seun vir ons sondes te laat sterf, moet ons nie ons broers en susters vryelik vergewe wanneer hulle teen ons sondig nie? Ons wil nie soos die goddelose slaaf in een van Jesus se vergelykings wees nie. Selfs nadat sy meester sy groot skuld afgeskryf het, wou daardie slaaf nie ’n ander slaaf se skuld afskryf nie, al was dit ’n klein bedrag (Matt. 18:23-35). As jy ’n misverstand met iemand in die gemeente gehad het, kan jy die eerste stap neem om vrede te maak voordat jy die Gedenkmaal bywoon? (Matt. 5:23, 24). As jy dit doen, sal dit wys dat jy baie lief is vir Jehovah en Jesus.

10-11. Hoe kan ouermanne wys dat hulle lief is vir Jehovah en Jesus? (1 Petrus 5:1, 2)

10 Hoe kan ouermanne wys dat hulle lief is vir Jehovah en Jesus? ’n Belangrike manier is deur vir Jesus se skape te sorg. (Lees 1 Petrus 5:1, 2.) Jesus het daardie punt duidelik gemaak aan die apostel Petrus. Nadat Petrus Jesus drie keer verraai het, was hy heel moontlik desperaat om te wys dat hy lief is vir Jesus. Ná Jesus se opstanding het hy vir Petrus gevra: “Simon, seun van Johannes, het jy my lief?” Ons kan seker wees dat Petrus enige iets sou gedoen het om te wys dat hy lief is vir sy Meester. Jesus het vir Petrus gesê: “Hou as herder toesig oor my skapies” (Joh. 21:15-17). En vir die res van sy lewe het Petrus goed gesorg vir die Here se skapies, wat gewys het dat hy lief was vir Jesus.

11 Ouermanne, hoe kan julle gedurende die Gedenkmaalseisoen wys dat Jesus se woorde aan Petrus vir julle belangrik is? Julle kan wys hoe lief julle Jehovah en Jesus het deur gereeld herderswerk te doen en deur selfs meer te doen om onbedrywiges te help om na Jehovah terug te keer (Eseg. 34:11, 12). Julle kan ook belangstelling toon in Bybelstudente en nuwes wat die Gedenkmaal bywoon en julle bes doen om hierdie potensiële dissipels te laat welkom voel.

LIEFDE VIR CHRISTUS MOTIVEER ONS OM MOEDIG TE WEES

12. Hoekom gee dit ons moed wanneer ons nadink oor die woorde wat Jesus op die aand voor sy dood gesê het? (Johannes 16:32, 33)

12 Op die aand voordat Jesus gesterf het, het hy vir sy dissipels gesê: “In die wêreld sal julle moeilike tye deurmaak, maar moenie bang wees nie! Ek het die wêreld oorwin.” (Lees Johannes 16:32, 33.) Wat het Jesus gehelp om moedig te wees toe sy vyande hom gedreig het en om getrou te bly tot sy dood? Hy het op Jehovah vertrou. Omdat hy geweet het dat sy volgelinge soortgelyke toetse sou hê, het Jesus Jehovah gevra om hulle te beskerm (Joh. 17:11). Hoekom gee dit ons moed? Omdat Jehovah sterker as enige van ons vyande is (1 Joh. 4:4). Hy sien alles raak. Ons is oortuig dat ons ons vrese kan oorkom en moedig kan wees as ons op Jehovah vertrou.

13. Hoe het Josef van Arimatea gewys dat hy moedig is?

13 Kyk na die voorbeeld van Josef van Arimatea. Die Jode het hom baie gerespekteer. Hy was ’n lid van die Sanhedrin, die Joodse Hoë Raad. Maar gedurende Jesus se bediening op die aarde was Josef glad nie moedig nie. Johannes het gesê dat hy “’n dissipel van Jesus [was] maar net in die geheim, want hy was bang vir die Jode” (Joh. 19:38). Al het Josef in die Koninkryksboodskap belanggestel, het hy die feit dat hy geloof in Jesus gehad het, weggesteek. Hy was heel moontlik bang dat hy sy belangrike posisie in die gemeenskap sou verloor. Maar die Bybel sê vir ons dat Josef uiteindelik ná Jesus se dood “die moed bymekaargeskraap [het] om na Pilatus toe te gaan en vir Jesus se liggaam te vra” (Mark. 15:42, 43). Almal het nou geweet dat Josef ’n dissipel was.

14. Wat moet jy doen as jy sukkel met mensevrees?

14 Is jy soms, net soos Josef, bang vir mense? Voel jy partykeer skaam om by die skool of by die werk vir ander te sê dat jy een van Jehovah se Getuies is? Is jy bang om ’n verkondiger te word of om jou te laat doop omdat jy bekommerd is oor wat ander dalk van jou sal dink? Moenie toelaat dat sulke gevoelens jou keer om te doen wat jy weet reg is nie. Bid uit jou hart tot Jehovah. Vra hom om jou die moed te gee om sy wil te doen. Wanneer jy sien hoe Jehovah jou gebede beantwoord, sal jy sterker word en meer moed hê. – Jes. 41:10, 13.

VREUGDE MOTIVEER ONS OM JEHOVAH TE BLY DIEN

15. Nadat Jesus aan sy dissipels verskyn het, wat het hulle vreugde hulle gemotiveer om te doen? (Lukas 24:52, 53)

15 Die dissipels was baie hartseer toe Jesus gesterf het. Dink net hoe hulle moes gevoel het. Hulle het nie net hulle geliefde vriend verloor nie, maar hulle het ook gevoel dat hulle hulle hoop verloor het (Luk. 24:17-21). Maar toe Jesus aan hulle verskyn het, het hy die tyd geneem om hulle te help verstaan hoe hy Bybelprofesieë vervul het. Hy het hulle ook ’n belangrike werk gegee om te doen (Luk. 24:26, 27, 45-48). Toe Jesus 40 dae later hemel toe gegaan het, was die dissipels nie meer hartseer nie, maar eerder baie vreugdevol. Hulle was baie gelukkig omdat hulle geweet het dat Jesus lewe en dat hy hulle sal help met die werk wat hy vir hulle gegee het om te doen. Hulle vreugde het hulle gemotiveer om Jehovah te bly loof. – Lees Lukas 24:52, 53; Hand. 5:42.

16. Hoe kan ons Jesus se dissipels navolg?

16 Hoe kan ons Jesus se dissipels navolg? Ons kan ons aanbidding aan Jehovah geniet nie net gedurende die Gedenkmaalseisoen nie, maar regdeur die jaar. Dit beteken dat ons God se Koninkryk eerste in ons lewe stel. Byvoorbeeld, baie het hulle werkrooster aangepas sodat hulle gereeld aan die bediening kan deelneem, vergaderinge kan bywoon en gesinsaanbidding kan hou. Party het materiële besittings wat vir ander belangrik is, opgeoffer sodat hulle meer in die gemeente kan doen of sodat hulle kan dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Al het ons volharding nodig om Jehovah te bly dien, belowe hy om ons ryklik te seën as ons Koninkryksbelange eerste in ons lewe stel. – Spr. 10:22; Matt. 6:32, 33.

Maak tyd gedurende die Gedenkmaalseisoen om na te dink oor wat Jehovah en Jesus vir jou gedoen het (Sien paragraaf 17)

17. Wat is jy vasbeslote om te doen gedurende hierdie Gedenkmaalseisoen? (Sien prent.)

17 Ons sien uit daarna om die Gedenkmaal op Dinsdag 4 April te herdenk. Maar moenie tot dan wag om oor Jesus se lewe en sy dood na te dink en oor die liefde wat hy en Jehovah vir ons gewys het nie. Maak van elke geleentheid gebruik om dit gedurende die hele Gedenkmaalseisoen te doen. Byvoorbeeld, maak tyd om die gebeure in die tabel “Die laaste week van Jesus se lewe op aarde” in Aanhangsel B12 van die Nuwe Wêreld-vertaling, te lees en daaroor na te dink. Terwyl jy dit doen, soek na Bybelverslae wat jou dankbaarheid, liefde, moed en vreugde versterk. Probeer dan dink aan spesifieke maniere hoe jy jou opregte waardering kan wys. Jy kan seker wees dat Jesus alles sal waardeer wat jy doen om hom te onthou gedurende hierdie Gedenkmaalseisoen. – Op. 2:19.

LIED 17 ‘Ek wil, ja’

a Gedurende die Gedenkmaalseisoen word ons aangemoedig om na te dink oor Jesus se lewe en sy dood en oor die liefde wat hy en sy Vader vir ons gewys het. As ons dit doen, kan dit ons motiveer om op te tree. Hierdie artikel sal praktiese maniere bespreek hoe ons ons dankbaarheid vir die losprys en ons liefde vir Jehovah en Jesus kan wys. Ons sal ook sien wat ons kan help om lief te wees vir ons broers en susters, om moedig te wees en om ons diens te geniet.