Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 6

Wat die Bybel ons leer oor die Skrywer daarvan

Wat die Bybel ons leer oor die Skrywer daarvan

“Skryf in ’n boek al die woorde wat ek vir jou sê.” – JER. 30:2.

LIED 96 God se boek — ’n Ware skat

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoekom is jy dankbaar vir die Bybel?

 ONS is baie dankbaar teenoor Jehovah God omdat hy vir ons die Bybel gegee het! In die Bybel gee hy vir ons wyse raad wat ons kan help om die probleme wat ons vandag het, suksesvol te hanteer. Hy gee ons ook ’n wonderlike hoop vir die toekoms. Nog belangriker, Jehovah het die Bybel gebruik om ons te leer watter soort God hy is. Wanneer ons nadink oor sy pragtige eienskappe, word ons harte diep geraak en word ons gemotiveer om nader aan ons God te kom deur ’n sterk vriendskap met hom op te bou. – Ps. 25:14.

2. Op watter verskillende maniere het Jehovah vir mense gewys watter soort Persoon hy is?

2 Jehovah wil hê dat mense hom moet ken. In die verlede het hy deur middel van drome, visioene en selfs engele gewys watter soort Persoon hy is (Num. 12:6; Hand. 10:3, 4). Maar hoe kon hierdie drome, visioene of boodskappe van engele gestudeer word as dit nie neergeskryf was nie? Daarom het Jehovah manne gebruik om die dinge wat hy wou hê ons moet weet ‘in ’n boek te skryf’ (Jer. 30:2). Omdat “die weg van die ware God . . . volmaak [is]”, kan ons seker wees dat hierdie metode van kommunikasie uitstekend is en ons sal help. – Ps. 18:30.

3. Hoe het Jehovah seker gemaak dat die Bybel vandag nog beskikbaar is? (Jesaja 40:8)

3 Lees Jesaja 40:8. God se Woord gee al duisende jare lank goeie raad vir getroue mans en vrouens. Hoe is dit moontlik? Die Bybel is baie lank gelede geskryf op materiaal wat nie lank hou nie, so ons het nie vandag enige van die oorspronklike dokumente nie. Maar Jehovah het seker gemaak dat kopieë gemaak is van die heilige teks. Al was die kopiiste onvolmaak, was hulle baie versigtig. Een geleerde het byvoorbeeld oor die Hebreeuse Geskrifte geskryf: “Ons is seker dat daar nie ’n ander eertydse boek is wat so akkuraat oorgeskryf is nie.” So al is die Bybel lank gelede geskryf op materiaal wat nie lank hou nie, en al was die mense wat dit oorgeskryf het, onvolmaak, kan ons seker wees dat die woorde wat ons vandag in ons Bybels lees, die gedagtes van die Skrywer, Jehovah, oordra.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Jehovah is die Bron van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jak. 1:17). Die Bybel is een van die beste geskenke wat Jehovah vir ons gegee het. Wanneer iemand vir ons ’n geskenk gee, wys die geskenk vir ons hoe goed hy ons en ons behoeftes ken. Dit is dieselfde met die Persoon wat vir ons die Bybel gegee het. Wanneer ons hierdie geskenk ondersoek, leer ons baie oor Jehovah. Ons leer dat hy ons baie goed ken en weet wat ons nodig het. In hierdie artikel sal ons bespreek wat ons uit die Bybel leer oor drie van Jehovah se eienskappe: sy wysheid, sy geregtigheid en sy liefde. Kom ons kyk eers hoe die Bybel wys dat God wys is.

DIE BYBEL WYS GOD SE WYSHEID

5. Wat is een manier hoe die Bybel wys dat God wys is?

5 Jehovah weet dat ons sy wyse raad nodig het. En sy geskenk, die Bybel, is vol van sy wysheid. Die Bybel se raad het ’n positiewe uitwerking op mense. Die Bybel verander lewens. Toe die eerste boeke van die Bybel geskryf is, het Moses vir God se volk, die Israeliete, gesê: “Dit is nie vir julle leë woorde nie, maar julle lewe hang daarvan af” (Deut. 32:47). Dié wat aan die Skrif gehoorsaam was, kon suksesvol en gelukkig wees (Ps. 1:2, 3). Al is God se Woord lank gelede geskryf, het dit nog steeds die krag om mense se lewens te verbeter. Byvoorbeeld, in die reeks “Die Bybel verander lewens”, op jw.org, sal jy baie ware verhale vind wat wys hoe die Bybel kragtig in “die gelowiges, aan die werk is”. – 1 Tess. 2:13.

6. Hoekom kan ons sê dat die Bybel soos geen ander boek is nie?

6 Geen ander boek is soos God se Woord nie. Hoekom is dit so? Omdat die Skrywer van daardie boek, Jehovah God, almagtig is, ewig is en wyser is as enige iemand anders. Baie ander boeke word nog steeds gelees selfs nadat hulle skrywers dood is, maar die raad in daardie boeke is dikwels later nie meer van toepassing nie. Aan die ander kant werk die wyse beginsels in die Bybel altyd; dit het baie mense regdeur die jare nog altyd gehelp. Wanneer ons daardie heilige boek lees en nadink oor wat ons leer, gebruik die Skrywer sy kragtige heilige gees om ons te help om te sien hoe ons die Bybel se raad in ons lewens kan toepas (Ps. 119:27; Mal. 3:16; Heb. 4:12). Ja, die Bybel se lewende Skrywer wil jou baie graag help. Dit moet ons motiveer om die Bybel gereeld te lees!

Hoe het die Bybel Jehovah se volk in die verlede en in ons dag verenig? (Sien paragraaf 7-8)

7. Hoe het die Bybel God se volk in die verlede verenig?

7 Die feit dat die Bybel God se volk help om verenig te wees, is nog ’n uitstekende manier hoe die Bybel wys dat God wys is. Toe die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, het hulle in verskillende gebiede gaan bly. Party het vissermanne geword, ander het met vee geboer en ander het die grond bewerk. Israeliete wat in een gebied gebly het, kon maklik belangstelling verloor het in ander Israeliete wat in ander dele van die land gebly het. Maar Jehovah het gereël dat die Israeliete op verskillende geleenthede moet bymekaarkom om te luister hoe sy Woord gelees en verduidelik word (Deut. 31:10-13; Neh. 8:2, 8, 18). Dink net hoe ’n getroue Israeliet moes gevoel het wanneer hy in Jerusalem aangekom het en dalk miljoene van sy medeaanbidders uit elke deel van die land gesien het! Op hierdie manier het Jehovah sy volk gehelp om verenig te bly. Later, toe die Christengemeente gevorm was, het dit bestaan uit mans en vrouens wat baie tale gepraat het en wat uit verskillende sosiale en ekonomiese agtergronde gekom het. Maar as gevolg van hulle liefde vir die Skrif, was hulle verenig in aanbidding van die ware God. Dié wat gelowiges geword het, kon God se Woord net verstaan met die hulp van medeaanbidders en deur saam met hulle bymekaar te kom. – Hand. 2:42; 8:30, 31.

8. Hoe verenig die Bybel Jehovah se volk vandag?

8 Ons wyse God hou aan om sy volk te leer en te verenig deur middel van die Bybel. Dit is die bron van die geestelike kos wat ons so baie geniet. Ons kom gereeld bymekaar by ons gemeentelike vergaderinge, byeenkomste en streekbyeenkomste om te hoor hoe die Bybel gelees, verduidelik en bespreek word. So die Bybel speel ’n baie belangrike rol in Jehovah se doel dat sy aanbidders “hom skouer aan skouer [moet] dien”. – Sef. 3:9.

9. Watter eienskap is baie belangrik om die Bybel se boodskap te verstaan? (Lukas 10:21)

9 Kyk na nog ’n bewys van Jehovah se wysheid. Hy het baie dele van die Bybel op so ’n manier laat skryf dat dit net deur nederige lesers verstaan sou word. (Lees Lukas 10:21.) Regoor die wêreld lees mense die Bybel. Een geleerde het gesê dat meer mense die Bybel as enige ander boek lees en dat hulle meer aandag daaraan skenk wanneer hulle dit lees as aan enige ander boek. Maar net nederige mense verstaan regtig wat dit sê en pas dit regtig toe. – 2 Kor. 3:15, 16.

10. Wat is nog ’n manier hoe die Bybel wys dat Jehovah wys is?

10 Daar is nog ’n manier hoe die Bybel ons oor Jehovah se wysheid leer. Jehovah gebruik die Bybel nie net om ons as ’n groep te leer nie, maar ook om ons as individue te leer en te vertroos. Ons almal kan Jehovah se persoonlike belangstelling in ons sien wanneer ons sy Woord lees (Jes. 30:21). Hoe dikwels het jy al, wanneer jy ’n probleem ondervind, ’n vers gelees en gevoel dat dit net vir jou geskryf is? En tog raak die Bybel miljoene mense se harte. Hoe kan dit inligting bevat wat so op datum is dat dit presies is wat jy nodig het? Dit is net moontlik omdat die Skrywer van die Bybel die wysste Persoon in die heelal is. – 2 Tim. 3:16, 17.

DIE BYBEL WYS GOD SE GEREGTIGHEID

11. Hoe het God gewys dat hy onpartydig is toe die Bybel geskryf is?

11 Geregtigheid is nog een van Jehovah se eienskappe (Deut. 32:4). Geregtigheid hou verband met onpartydigheid, en Jehovah is onpartydig (Hand. 10:34, 35; Rom. 2:11). Sy onpartydigheid kan gesien word in die tale wat gebruik is om die Bybel te skryf. Die eerste 39 Bybelboeke was meestal in Hebreeus geskryf, wat God se volk op daardie tyd maklik verstaan het. Maar teen die eerste eeu HJ het die meeste mense Grieks gepraat, so die laaste 27 boeke van die Bybel was hoofsaaklik in daardie taal geskryf. Jehovah het nie sy Woord tot een taal beperk nie. Vandag praat die amper agt miljard mense op die aarde baie tale. Hoe kan so baie mense van Jehovah leer?

12. Wat is een manier hoe Daniël 12:4 in hierdie laaste dae vervul is?

12 Deur die profeet Daniël het Jehovah belowe dat “die ware kennis” in die Bybel in die tyd van die einde “oorvloedig [sou] word”. Baie sou dit verstaan. (Lees Daniël 12:4.) Een manier hoe sulke kennis oorvloedig geword het, is deur die vertaling, publisering en verspreiding van Bybels en Bybellektuur. Die Bybel is in meer tale vertaal en is al meer versprei as enige ander boek in die wêreld. Bybelvertalings wat deur kommersiële maatskappye gemaak word, is soms baie duur. Jehovah se volk het God se Woord sover, in sy geheel of gedeeltelik, in meer as 240 tale vertaal, en enige iemand kan verniet ’n kopie kry. As gevolg daarvan leer mense van alle nasies van die “goeie nuus van die Koninkryk” voordat die einde kom (Matt. 24:14). Ons God van geregtigheid wil soveel mense as moontlik die geleentheid gee om hom te leer ken deur sy Woord te lees. Dit is omdat hy ons almal baie liefhet.

DIE BYBEL WYS GOD SE LIEFDE

13. Hoekom kan ons sê dat die Bybel Jehovah se liefde wys? (Johannes 21:25)

13 Die Bybel gee bewyse van die Skrywer daarvan se grootste eienskap – liefde (1 Joh. 4:8). Dink aan wat Jehovah in die Bybel ingesluit het en wat hy uitgelaat het. Hy het ons gegee net wat ons nodig het om ’n verhouding met hom te hê, om nou ’n gelukkige lewe te hê en om die ewige lewe te kry. Maar omdat Jehovah ons liefhet, het hy ons nie oorweldig met meer inligting as wat ons kan hanteer nie. – Lees Johannes 21:25.

14. Wat is nog ’n manier hoe ons God se liefde in die Bybel kan sien?

14 Jehovah het ook gewys dat hy vir ons lief is deur op ’n manier met ons te kommunikeer wat ons waardig laat voel. In die Bybel gee hy nie vir ons ’n lang lys reëls wat vir ons sê presies wat ons mag of nie mag doen nie. Hy gebruik eerder ware verhale, opwindende profesieë en praktiese raad om ons te help om goeie besluite te maak. Op hierdie maniere motiveer God se Woord ons om uit ons hart vir hom lief te wees en hom te gehoorsaam.

Hoekom moet ons nadink oor hoe Jehovah sy knegte in die verlede behandel het? (Sien paragraaf 15)

15. (a) Hoe het Jehovah gewys dat hy belangstel in dié wat sy Woord lees? (b) In die prent, oor watter Bybelkarakters dink die dogtertjie, die jong broer en die bejaarde suster na? (Gen. 39:1, 10-12; 2 Kon. 5:1-3; Luk. 2:25-38)

15 Die Bybel wys dat Jehovah baie in ons belangstel. Hoe so? Sy Woord is vol verslae wat wys watter gevoelens mense ervaar. Ons kan verstaan hoe Bybelkarakters gevoel het omdat hulle mense was “met gevoelens soos ons s’n” (Jak. 5:17). Nog belangriker, wanneer ons sien hoe Jehovah mense soos ons behandel het, kan ons duideliker verstaan dat “Jehovah baie liefdevol en genadig is”. – Jak. 5:11.

16. Wat leer ons oor Jehovah wanneer ons in die Bybel lees van mense wat foute gemaak het? (Jesaja 55:7)

16 Die Bybel wys Jehovah se liefde vir ons op nog ’n manier. Die Bybel verseker ons dat ons God ons nie sal verlaat wanneer ons foute maak nie. Die Israeliete het oor en oor teen Jehovah gesondig, maar wanneer hulle opreg berouvol was, het God hulle vergewe. (Lees Jesaja 55:7.) Eerste-eeuse Christene het ook geweet dat God baie lief is vir hulle. Onder inspirasie het die apostel Paulus medegelowiges aangespoor om ’n man wat ’n weg van ernstige sonde ingeslaan het maar wat berouvol was, te “vergewe en [te] vertroos” (2 Kor. 2:6, 7; 1 Kor. 5:1-5). Dit is wonderlik dat Jehovah nie sy aanbidders verwerp het net omdat hulle foute gemaak het nie! Hy het eerder liefdevol na hulle toe uitgereik, hulle reggehelp en hulle genooi om weer sy vriende te wees. Hy belowe om vandag dieselfde te doen vir alle berouvolle sondaars. – Jak. 4:8-10.

WAARDEER DIE “VOLMAAKTE GESKENK” VAN GOD SE WOORD

17. Hoekom is die Bybel so ’n wonderlike geskenk?

17 Jehovah het vir ons ’n pragtige geskenk gegee. Hoekom is sy Woord so wonderlik? Soos ons geleer het, wys die Bybel God se wysheid, sy geregtigheid en sy liefde. Hierdie boek bewys dat Jehovah wil hê dat ons hom moet leer ken. Hy wil hê dat ons sy vriende moet word.

18. Hoe kan ons wys dat ons dankbaar is vir Jehovah se “volmaakte geskenk”?

18 Ons wil nie vergeet dat God se Woord ’n “volmaakte geskenk” is nie (Jak. 1:17). So ons moet aanhou wys dat ons dankbaar is daarvoor. Ons kan dit doen deur die heilige woorde daarin te lees en daaroor na te dink. Wanneer ons dit doen, kan ons seker wees dat die groot Skrywer daarvan ons moeite sal seën en dat ons “God [sal] leer ken”. – Spr. 2:5.

LIED 98 Die Skrif — Deur God geïnspireer

a Die Bybel help ons om nader aan Jehovah te kom. Wat kan ons uit daardie heilige boek leer oor God se wysheid, sy geregtigheid en sy liefde? Wat ons leer, kan ons help om ons waardering vir God se Woord te vergroot en om die Bybel te sien vir wat dit regtig is – ’n geskenk van ons hemelse Vader.