Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 9

Waardeer God se geskenk van lewe

Waardeer God se geskenk van lewe

“Deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons.” – HAND. 17:28.

LIED 141 Die lewenswonderwerk

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoe kosbaar is ons lewe vir Jehovah?

 STEL jou voor dat ’n vriend vir jou ’n baie ou maar kosbare skildery gegee het – ’n meesterstuk. Die kleure is nie meer so helder nie, en daar is merke en krake op. Maar die skildery is miljoene rande werd. Jy sou daardie skildery sekerlik waardeer en beskerm. Net so het Jehovah vir ons ’n kosbare geskenk gegee, die geskenk van lewe. Om die waarheid te sê, Jehovah wys hoe kosbaar ons lewe vir hom is deur sy Seun as ’n losprys vir ons te gee. – Joh. 3:16.

2. Wat verwag Jehovah van ons volgens 2 Korintiërs 7:1?

2 Jehovah is die Bron van lewe (Ps. 36:9). Die apostel Paulus het dit ook geglo en het gesê: “Deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons” (Hand. 17:25, 28). So ons kan sê dat ons lewe ’n geskenk van God is. Hy gee ons liefdevol wat ons nodig het om aan die lewe te bly (Hand. 14:15-17). Maar Jehovah doen nie wonderwerke om ons aan die lewe te hou nie. Hy verwag eerder van ons om alles te doen wat ons kan om na ons fisiese en geestelike gesondheid te kyk. (Lees 2 Korintiërs 7:1.) Hoekom moet ons ons gesondheid en lewe beskerm, en hoe kan ons dit doen?

WYS DAT DIE GESKENK VAN LEWE VIR JOU KOSBAAR IS

3. Wat is een rede hoekom ons moet probeer om gesond te bly?

3 Een rede hoekom ons moet probeer om gesond te bly, is sodat ons Jehovah na die beste van ons vermoë kan dien (Mark. 12:30). Ons wil graag ons liggame aanbied “as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanvaarbaar is”, en daarom doen ons nie dinge wat ons weet ons siek kan maak nie (Rom. 12:1). Daar is natuurlik net soveel wat ons kan doen om gesond te bly. Maar ons doen wat ons kan, want ons wil vir ons hemelse Vader wys dat ons die geskenk van lewe waardeer.

4. Wat wou koning Dawid doen?

4 Koning Dawid het verduidelik hoekom hy God se geskenk van lewe waardeer toe hy geskryf het: “Watter voordeel is daar as ek doodgaan, as ek na die graf afgaan? Sal die stof u loof? Sal dit van u getrouheid praat?” (Ps. 30:9). Dawid het dalk hierdie woorde neergeskryf teen die einde van sy lewe. Maar hy was vasbeslote om vir so lank as moontlik aan die lewe en gesond te bly sodat hy Jehovah kon loof. Ons almal voel sekerlik ook so.

5. Wat kan ons doen, maak nie saak hoe oud of hoe siek ons is nie?

5 As ons siek is of oud word, kan ons dalk nie meer baie van die dinge doen wat ons voorheen gedoen het nie. Daarom voel ons dalk gefrustreerd en hartseer. Maar ons moet nooit opgee en ophou om na ons gesondheid te kyk nie. Hoekom nie? Want ons kan Jehovah nog steeds loof, net soos koning Dawid, maak nie saak hoe oud of siek ons is nie. Dit is baie vertroostend om te weet dat ons vir ons God kosbaar is, al is ons siek of oud! (Matt. 10:29-31). Selfs al sterf ons, sal hy ons graag wil opwek (Job 14:14, 15). Terwyl ons lewe, wil ons doen wat ons kan om ons gesondheid en lewe te beskerm.

VERMY SLEGTE GEWOONTES

6. Wat verwag Jehovah van ons wanneer dit kom by ons eet- en drinkgewoontes?

6 Al is die Bybel nie ’n boek oor gesondheidsorg nie, of al sê dit nie vir ons wat om te eet nie, leer dit ons baie oor hoe Jehovah oor hierdie dinge voel. Byvoorbeeld, hy spoor ons aan om weg te bly van “skadelike dinge” wat ’n slegte uitwerking op ons liggaam kan hê (Pred. 11:10). Die Bybel sê dat ons nie te veel kos moet eet of te veel alkohol moet drink nie, want hierdie dinge kan sleg wees vir ons gesondheid en kan ons selfs doodmaak (Spr. 23:20). Jehovah verwag dat ons selfbeheersing moet hê wanneer ons besluit wat en hoeveel om te eet en te drink. – 1 Kor. 6:12; 9:25.

7. Hoe help die raad in Spreuke 2:11 ons om goeie besluite oor ons gesondheid te maak?

7 Ons kan besluite maak wat wys dat ons God se geskenk van lewe waardeer deur ons denkvermoë te gebruik. (Ps. 119:99, 100; lees Spreuke 2:11.) Byvoorbeeld, ons sal goeie keuses maak wanneer dit kom by wat ons eet. As ons van ’n sekere soort kos hou, maar ons weet dat dit ons siek maak, gaan ons dit natuurlik vermy. Ons is ook wys as ons probeer om genoeg slaap te kry, gereeld te oefen en ons liggaam en huis skoon te hou.

WEES VEILIGHEIDSBEWUS

8. Wat leer die Bybel ons oor hoe belangrik ons veiligheid vir Jehovah is?

8 Jehovah se Wet aan die nasie Israel het riglyne ingesluit wat sou help keer dat ernstige ongelukke by die huis en by die werk gebeur (Eks. 21:28, 29; Deut. 22:8). As iemand per ongeluk ’n ander persoon doodgemaak het, sou daar ernstige gevolge wees (Deut. 19:4, 5). Die Wet het gesê dat selfs dié wat ’n ongebore kind per ongeluk seergemaak het, gestraf moet word (Eks. 21:22, 23). Die Bybel wys duidelik dat Jehovah wil hê dat ons veiligheidsbewus moet wees.

Hoe kan ons in hierdie situasies wys dat ons lewe respekteer? (Sien paragraaf 9)

9. Wat kan ons doen om ongelukke te vermy? (Sien ook prente.)

9 Ons wys dat ons God se geskenk van lewe waardeer deur by die huis en by die werk veilig te probeer wees. Byvoorbeeld, ons raak op ’n veilige manier ontslae van skerp voorwerpe, giftige chemikalieë of medisyne, en ons maak ook seker dat kinders nie hierdie dinge in die hande kan kry nie. Ons is versigtig wanneer ons werk met oop vlamme, warm vloeistof en masjiengereedskap, en ons loop nie weg terwyl ons besig is met hierdie dinge nie. Ons bestuur nie ’n kar as ons medikasie of alkohol geneem het wat dit gevaarlik kan maak om te bestuur nie of as ons te moeg is om veilig te bestuur nie. Ons gebruik ook nie ons selfoon wanneer ons bestuur nie.

WANNEER DAAR ’N RAMP IS

10. Wat kan ons voor en gedurende ’n lewensgevaarlike ramp doen?

10 Partykeer kan ons nie keer dat lewensgevaarlike dinge gebeur nie. Dit is veral so wanneer dit kom by natuurrampe, epidemies en gewelddadige konflikte. Maar wanneer sulke rampe gebeur, kan ons probeer om so veilig as moontlik te bly deur gehoorsaam te wees aan die regering wanneer hulle sê dat ons die gebied moet verlaat of ander dinge moet doen (Rom. 13:1, 5-7). Dit is moontlik om vir party noodgevalle voor te berei, en daarom moet ons na die riglyne van die regering luister om ons te help om gereed te wees daarvoor. Byvoorbeeld, dit sal dalk goed wees om seker te maak dat jy water en kos het wat nie sal bederf nie, sowel as ’n basiese noodhulpkissie.

11. Wat moet ons bereid wees om te doen as ’n aansteeklike siekte versprei waar ons bly?

11 Wat moet ons doen as ’n aansteeklike siekte versprei waar ons bly? Ons moet gehoorsaam wees aan die riglyne van die regering wanneer dit kom by dinge soos om ons hande te was, fisiese afstand te behou, ’n masker te dra en onsself in kwarantyn te plaas. Wanneer ons hierdie dinge doen, wys ons hoe baie ons God se geskenk van lewe waardeer.

12. Hoe kan Spreuke 14:15 ons help om te besluit watter inligting om te glo wanneer daar ’n ramp is?

12 Gedurende noodgevalle hoor ons partykeer dinge by ons vriende, bure of in die nuus wat nie waar is nie. Eerder as om “elke woord” te glo wat ons hoor, moet ons luister na die akkuraatste inligting wat ons van die regering en dokters kry. (Lees Spreuke 14:15.) Die Bestuursliggaam en die takkantore doen alles wat hulle kan om akkurate inligting te kry voordat hulle riglyne gee oor gemeentelike vergaderinge en die predikingswerk (Heb. 13:17). Deur hierdie riglyne te volg, beskerm ons onsself en ander. Ons sal dalk ook ander help om ’n goeie indruk van Jehovah se Getuies te hê. – 1 Pet. 2:12.

BEREI VOOR OM NIE ’N BLOEDOORTAPPING TE KRY NIE

13. Hoe wys ons dat ons God se geskenk van lewe waardeer wanneer dit kom by bloed?

13 Jehovah se Getuies is bekend daarvoor dat hulle bloed as heilig beskou. Ons gehoorsaam Jehovah se wet oor bloed deur nie ’n bloedoortapping te aanvaar nie, selfs gedurende ’n mediese noodgeval (Hand. 15:28, 29). Maar dit beteken nie dat ons wil doodgaan nie. Om die waarheid te sê, ons waardeer God se geskenk van lewe. Ons doen ons bes om die hulp van mediese dokters te kry wat bereid is om baie goeie sorg te voorsien sonder ’n bloedoortapping.

14. Hoe kan ons die kanse verminder dat ons ’n ernstige mediese prosedure moet kry?

14 Ons kan die kanse verminder dat ons ’n ernstige mediese prosedure moet kry deur die wenke te volg wat vroeër in hierdie artikel genoem is. Hoe gesonder ons is, hoe vinniger sal ons herstel wanneer ons wel ’n operasie moet kry. Ons kan ook die kanse verminder dat ons ’n noodoperasie moet kry deur ons huis en werksplek veilig te hou en deur die verkeerswette streng te gehoorsaam.

Omdat die geskenk van lewe vir ons kosbaar is, vul ons ’n DPA-kaart in en dra ons dit altyd saam met ons (Sien paragraaf 15) d

15. (a) Hoekom is dit belangrik dat ons ’n “durable power of attorney” saam met ons dra wat op datum is? (Sien ook prent.) (b) Volgens die video, hoe kan ons goeie besluite maak oor die mediese gebruik van bloed?

15 Omdat ons die geskenk van lewe waardeer, vul ons ’n “durable power of attorney” (advance health-care directive) in en dra ons dit altyd saam met ons. b Deur middel van hierdie dokument, sê ons wat ons besluit is wanneer dit kom by bloedoortappings en party mediese behandelings. Is jou DPA-kaart op datum? As jy een moet invul of een moet aanpas, doen dit onmiddellik. As ons ons besluite duidelik neerskryf, sal dit keer dat ons behandeling onnodig uitgestel word. Ons sal ook seker maak dat ons nie behandeling of medikasie kry wat vir ons gevaarlik kan wees nie. c

16. Wat kan ons doen as ons onseker is oor hoe om ’n DPA-kaart in te vul?

16 Dit maak nie saak hoe jonk of hoe gesond ons is nie, ’n ongeluk kan met ons almal gebeur, en ons almal kan siek word (Pred. 9:11). Daarom sal dit beslis wys wees om ’n DPA-kaart in te vul. As jy onseker is oor hoe om hierdie dokument in te vul, vra die ouermanne in jou gemeente om jou te help. Hulle maak seker dat hulle weet hoe om die dokument in te vul, maar hulle sal nie mediese besluite vir jou maak nie. Dit is jou verantwoordelikheid (Gal. 6:4, 5). Maar hulle kan jou help om te verstaan wat jou opsies is en jou help wanneer jy hierdie dokument invul.

WEES REDELIK

17. Hoe kan ons wys dat ons redelik is wanneer dit kom by gesondheidsake?

17 Ons baseer baie van ons besluite oor ons gesondheid en mediese behandeling op die dinge wat ons uit die Bybel geleer het (Hand. 24:16; 1 Tim. 3:9). Wanneer ons besluite maak en met ander praat oor die besluite wat ons gemaak het, moet ons onthou wat Filippense 4:5 sê: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word.” Wanneer ons redelik is, is ons nie te bekommerd oor ons gesondheid nie, en ons dwing ook nie ons opinie op ander af nie. Ons is lief vir en respekteer ons broers en susters, selfs as die besluite wat hulle maak, anders is as ons s’n. – Rom. 14:10-12.

18. Hoe kan ons wys dat ons dankbaar is vir die geskenk van lewe?

18 Ons wys dat ons dankbaar is teenoor Jehovah, die Bron van lewe, deur ons lewe te beskerm en hom ons bes te gee (Op. 4:11). Vir nou word ons siek en tref rampe ons. Maar dit is nie die lewe wat ons Skepper vir ons wou hê nie. Binnekort sal hy ons die ewige lewe gee sonder pyn en die dood (Op. 21:4). Intussen geniet ons dit om te lewe en om ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, te dien!

LIED 140 Eindelik kan ons vir ewig leef!

a Hierdie artikel sal ons help om God se geskenk van lewe selfs meer te waardeer. Ons gaan na spesifieke dinge kyk wat ons kan doen om ons gesondheid en lewe te beskerm wanneer ’n ramp ons tref, en ons gaan sien hoe ons potensiële ongelukke kan vermy. Ons gaan ook bespreek wat ons moet doen om voorbereid te wees vir ’n mediese noodgeval.

b Hierdie dokument word ook ’n DPA genoem.

d BESKRYWING VAN PRENT: ’n Jong broer vul sy DPA-kaart in en maak seker dat hy dit saam met hom vat.