Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 12

Leer meer oor Jehovah deur sy skepping

Leer meer oor Jehovah deur sy skepping

“Sy onsigbare eienskappe . . . word van die wêreld se skepping af duidelik gesien omdat dit waargeneem kan word in die dinge wat gemaak is.” – ROM. 1:20.

LIED 6 Die hemele maak God se heerlikheid bekend

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat is een manier hoe Job Jehovah beter leer ken het?

 UIT al die gesprekke wat Job regdeur sy lewe gehad het, het een veral uitgestaan – die gesprek wat hy met Jehovah God gehad het. Om Job se vertroue te versterk in Sy wysheid en vermoë om vir Sy knegte te sorg, het Jehovah vir Job gesê om na party van die wonderlike dinge te kyk wat Hy gemaak het. Byvoorbeeld, God het Job daaraan herinner dat Hy vir die diere sorg, en daarom sou Hy ook vir Job kon sorg (Job 38:39-41; 39:1, 5, 13-16). Deur na die skepping te kyk, het Job baie oor die eienskappe van sy God geleer.

2. Hoekom is dit partykeer vir ons moeilik om Jehovah se skepping te ondersoek?

2 Ons kan ook meer oor ons God leer wanneer ons sy skepping ondersoek. Maar partykeer is dit vir ons moeilik om dit te doen. As ons in ’n stad bly, sien ons dalk nie elke dag baie dinge wat Jehovah gemaak het nie. Selfs as ons buite die stad bly, voel ons dalk dat ons min tyd het om die skepping te ondersoek. So kom ons bespreek hoekom dit goed is om tyd te maak en moeite te doen om na die skepping te kyk. Ons sal bespreek hoe Jehovah en Jesus die skepping gebruik het om te onderrig en wat ons kan doen om nog lesse uit die natuur te leer.

HOEKOM MOET ONS NA DIE SKEPPING KYK?

Jehovah wou hê dat Adam Sy skepping moes geniet en die diere name moes gee (Sien paragraaf 3)

3. Wat wys dat Jehovah wou hê dat Adam die skepping moes geniet?

3 Jehovah wou hê dat die eerste mens Sy skepping moes geniet. Toe God Adam gemaak het, het Hy vir hom ’n pragtige paradys gegee om in te bly en hom die werk gegee om daardie paradys te bewerk en dit uit te brei (Gen. 2:8, 9, 15). Dink net hoe opgewonde Adam was toe hy gesien het hoe saadjies ontkiem en hoe blomme blom. Dit was ’n groot voorreg vir Adam om vir die tuin van Eden te sorg! Jehovah het Adam ook gevra om die verskillende diere name te gee (Gen. 2:19, 20). Jehovah kon self die name gekies het, maar hy het daardie werk vir Adam gegee. Adam het beslis die diere mooi dopgehou en gekyk wat hulle gedoen het voordat hy besluit het wat om hulle te noem. Adam het dit sekerlik baie geniet. Dit het hom beslis gehelp om te verstaan hoe wys Jehovah is en hoe interessant en pragtig die dinge is wat hy gemaak het.

4. (a) Wat is een rede hoekom ons die skepping moet ondersoek? (b) Watter skeppingswerke waardeer jy veral?

4 Een rede hoekom ons die skepping moet ondersoek, is omdat Jehovah wil hê dat ons dit moet doen. Hy sê vir ons: “Kyk op na die hemel.” Dan vra hy: “Wie het hierdie dinge geskep?” Die antwoord is duidelik (Jes. 40:26). Jehovah het al die dinge in die hemel sowel as die dinge op die aarde en in die see gemaak, en al hierdie dinge leer ons oor hom (Ps. 104:24, 25). En dink net aan die manier hoe God ons gemaak het. Hy het dit vir ons moontlik gemaak om na mooi dinge in die skepping te kyk en dit te geniet. Hy het ons ook die vermoë gegee om te sien, te hoor, te voel, te proe en te ruik, sintuie wat ons in staat stel om al die verskillende dinge wat hy gemaak het, te geniet.

5. Hoe help dit ons as ons Jehovah se skepping bestudeer volgens Romeine 1:20?

5 Die Bybel gee ons nog ’n belangrike rede hoekom ons die skepping moet ondersoek. Dit leer ons oor Jehovah se eienskappe. (Lees Romeine 1:20.) Byvoorbeeld, kyk na die dinge wat Jehovah gemaak het, en let op hoe wonderlik dit ontwerp is. Dit leer ons dat God baie wys is. En dink aan die verskillende soorte kos wat ons kan geniet. Dit wys duidelik hoe baie hy ons liefhet. Wanneer ons Jehovah se eienskappe sien in die dinge wat hy gemaak het, leer ken ons hom beter, en dit motiveer ons om nader aan hom te kom. Kom ons kyk nou na ’n paar maniere hoe Jehovah die skepping gebruik het om mense belangrike lesse te leer.

GOD GEBRUIK DIE SKEPPING OM ONS OOR HOM TE LEER

6. Watter les kan ons leer as ons kyk na voëls wat migreer?

6 Jehovah het ’n tyd vasgestel vir gebeure om plaas te vind. Elke jaar tussen die einde van Februarie en middel-Mei het die Israeliete ooievaars oor die land gesien vlieg terwyl hulle in ’n noordelike rigting migreer. God het vir die Israeliete gesê: “Die ooievaar in die lug ken sy seisoene” (Jer. 8:7). Jehovah het die tyd vasgestel vir hierdie voëls om te migreer, net so het hy ’n tyd vasgestel om sy oordele uit te voer. Wanneer ons vandag sien hoe voëls migreer, word ons daaraan herinner dat ons kan vertrou dat Jehovah ’n “vasgestelde tyd” het om ’n einde te bring aan hierdie goddelose wêreld. – Hab. 2:3.

7. Watter versekering kan dit ons gee as ons kyk na hoe ’n voël vlieg? (Jesaja 40:31)

7 Jehovah gee sy knegte krag. Jehovah het deur Jesaja belowe dat Hy Sy volk sou versterk sodat hulle kan “sweef soos arende” wanneer hulle swak of mismoedig gevoel het. (Lees Jesaja 40:31.) Die Israeliete was daaraan gewoond om te sien hoe arende met min moeite opwaarts sweef op lugstrome. Dit herinner ons dat Jehovah ons krag kan gee, net soos hy krag aan hierdie voëls gee. Wanneer jy sien hoe ’n groot voël hoër en hoër sweef sonder om skaars sy vlerke te klap, moet jy onthou dat Jehovah jou die krag kan gee om bo jou probleme uit te styg.

8. Wat het Job geleer toe hy gekyk het na die dinge wat God gemaak het, en wat kan ons leer?

8 Jehovah verdien ons vertroue. Jehovah het Job gehelp om sy vertroue in Hom te versterk (Job 32:2; 40:6-8). In Sy gesprek met Job het God na baie van die dinge verwys wat Hy gemaak het, insluitende die sterre, die wolke en die weerligstrale. Jehovah het ook gepraat van die diere, soos die wilde bul en die perd (Job 38:32-35; 39:9, 19, 20). Al hierdie dinge is nie net ’n bewys van God se wonderlike krag nie, maar ook van sy liefde en groot wysheid. Hierdie gesprek het Job gehelp om meer as ooit op Jehovah te vertrou (Job 42:1-6). Net so, wanneer ons die skepping bestudeer, word ons daaraan herinner dat Jehovah baie wyser en kragtiger as ons is. Hy kan ook en sal ook ’n einde aan al ons probleme maak. Hierdie feit kan ons help om ons vertroue in hom te versterk.

JESUS HET DIE SKEPPING GEBRUIK OM ANDER OOR SY VADER TE LEER

9-10. Wat leer die son en die reën ons oor Jehovah?

9 Jesus het baie oor die natuur geweet. As “’n meesterwerker” het hy die voorreg gehad om saam met sy Vader te werk toe Hy die heelal gemaak het (Spr. 8:30). Later, toe Jesus op die aarde was, het hy die skepping gebruik om sy dissipels oor sy Vader te leer. Kyk na ’n paar lesse wat hy hulle geleer het.

10 Jehovah wys sy liefde vir almal. In die Bergpredikasie het Jesus met sy dissipels gepraat oor die son en die reën, dinge wat baie mense dink nie spesiaal is nie. Ons het albei hierdie dinge nodig om te lewe. Jehovah kon geweier het om hierdie dinge vir mense te gee wat hom nie dien nie. Maar hy gee liefdevol vir almal die son en die reën (Matt. 5:43-45). Jesus het hierdie les gebruik om sy dissipels te leer dat Jehovah wil hê dat ons liefdevol teenoor almal moet wees. Wanneer ons ’n pragtige sonsondergang geniet of sien hoe lekker dit reën, kan ons dink aan Jehovah se liefde vir alle mense. Sy voorbeeld kan ons motiveer om dieselfde soort liefde te wys deur vir almal te preek.

11. Hoe kan dit ons aanmoedig wanneer ons na die voëls kyk?

11 Jehovah voorsien in ons fisiese behoeftes. In dieselfde toespraak het Jesus ook gesê: “Hou die voëls van die hemel goed dop. Hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie, maar tog sorg julle hemelse Vader dat hulle kos het.” Jesus se gehoor kon heel moontlik sien hoe voëls in die lug vlieg toe hy hulle gevra het: “Is julle nie meer werd as hulle nie?” (Matt. 6:26). Jesus het ons op hierdie liefdevolle manier gehelp om te sien dat Jehovah in ons fisiese behoeftes sal voorsien (Matt. 6:31, 32). Hierdie les wat ons uit die natuur leer, hou aan om getroue knegte aan te moedig. ’n Jong pioniersuster in Spanje het mismoedig gevoel omdat sy nie ’n geskikte plek kon kry om te bly nie. Maar nadat sy gesien het hoe voëls saadjies en bessies eet, het sy baie beter gevoel. Sy sê: “Daardie voëls het my daaraan herinner dat Jehovah vir hulle sorg en dat hy ook vir my sal sorg.” Kort daarna het die suster ’n plek gekry om te bly.

12. Wat leer mossies ons oor Jehovah volgens Matteus 10:29-31?

12 Jehovah waardeer ons as individue. Voordat Jesus sy apostels gestuur het om te gaan preek, het hy hulle gehelp om nie bang te wees vir teenstand nie. (Lees Matteus 10:29-31.) Hy het dit gedoen deur te praat oor een van die algemeenste voëls in Israel: die mossie. In Jesus se dag het daardie voëls min waarde gehad. Maar hy het vir sy dissipels gesê: “Nie een van hulle [sal] op die grond val sonder dat julle Vader daarvan weet nie.” Hy het toe verder gesê: “Julle is meer werd as baie mossies.” Op hierdie manier het Jesus sy dissipels verseker dat Jehovah hulle as individue waardeer, en daarom was dit nie vir hulle nodig om bang te wees vir vervolging nie. Die dissipels het Jesus se woorde sekerlik onthou wanneer hulle mossies gesien het terwyl hulle van dorp tot dorp gepreek het. Wanneer jy ’n klein voëltjie sien, moet jy onthou dat Jehovah jou as ’n individu waardeer omdat jy ook “meer werd [is] as baie mossies”. Met sy ondersteuning, hoef jy nie bang te wees vir teenstand nie. – Ps. 118:6.

HOE KAN ONS MEER OOR GOD LEER DEUR DIE SKEPPING?

13. Wat sal ons help om lesse uit die skepping te leer?

13 Ons kan baie ander lesse oor Jehovah uit die skepping leer. Hoe? Eers moet ons tyd maak om na die skepping te kyk. Dan moet ons dink aan wat dit ons oor Jehovah leer. Dit is dalk nie altyd vir ons maklik om dit te doen nie. Géraldine, ’n suster van Kameroen, sê: “Ek het in die stad grootgeword, so ek besef dat ek moeite moet doen om na die natuur te kyk.” ’n Ouerman met die naam Alfonso verduidelik: “Ek het geleer dat ek tyd moet maak om alleen te wees om na Jehovah se skepping te kyk en om na te dink oor wat dit my oor hom leer.”

Wanneer Dawid na die skepping om hom gekyk het, het hy nagedink oor wat dit hom oor Jehovah geleer het (Sien paragraaf 14)

14. Wat het Dawid geleer toe hy nagedink het oor God se skepping?

14 Dawid het diep nagedink oor God se skepping. Hy het vir Jehovah gesê: “Wanneer ek u hemel sien, die werke van u vingers, die maan en die sterre wat u gemaak het, wat is die sterflike mens dat u aan hom dink?” (Ps. 8:3, 4). Ja, terwyl Dawid na die naghemel gekyk het, het hy dit nie net geniet om na die miljoene sterre te kyk nie. Hy het ook nagedink oor wat die sterre hom oor God geleer het. Hy het geleer hoe indrukwekkend Jehovah is. Ander kere het Dawid gedink aan hoe sy liggaam ontwikkel het in sy ma se baarmoeder. Terwyl hy oor hierdie wonderlike dinge nagedink het, het sy waardering vir Jehovah se wysheid gegroei. – Ps. 139:14-17.

15. Gee voorbeelde van hoe jy Jehovah se eienskappe in die skepping gesien het. (Psalm 148:7-10)

15 Net soos Dawid, hoef jy nie baie ver te kyk om iets in die natuur te sien waaroor jy diep kan nadink nie. As jy om jou kyk, kan jy baie dinge sien wat jou meer oor Jehovah se eienskappe leer. Byvoorbeeld, wees bewus van Jehovah se krag wanneer jy die warmte van die son op jou vel voel (Jer. 31:35). Dink aan God se wysheid wanneer jy ’n voël sien wat besig is om ’n nes te bou. Dink aan Jehovah se sin vir humor wanneer jy ’n hondjie sien wat sy eie stert jaag. En sê vir Jehovah dankie vir sy liefde wanneer jy ’n ma sien wat met haar baba speel. Ons het so baie geleenthede om oor Jehovah te leer omdat al die dinge wat hy gemaak het – groot en klein, naby en ver – hom loof. – Lees Psalm 148:7-10.

16. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

16 Ons God is baie wys, liefdevol en kragtig, en alles wat hy maak, is baie mooi. Ons kan leer oor hierdie eienskappe en baie meer as ons die skepping om ons ondersoek. Ons moet gereeld tyd maak om die skepping te geniet en te dink aan wat dit ons oor Jehovah leer. Deur dit te doen, sal ons al hoe nader aan ons Skepper kom (Jak. 4:8). In die volgende artikel sal ons sien hoe ouers die skepping kan gebruik om hulle kinders te help om nader aan Jehovah te kom.

LIED 5 God se wonderbare werke

a Jehovah se skepping is baie indrukwekkend. Van die oorweldigende krag van die son tot die sagte blare van ’n blom, sy werke verstom ons. Die dinge wat Jehovah gemaak het, kan ons ook baie leer oor die soort God wat hy is. In hierdie artikel sal ons bespreek hoekom ons tyd moet maak om die skepping te ondersoek en hoe dit ons kan help om nader aan ons God te kom as ons dit doen.