Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah sal sorg dat sy naam tot in alle ewigheid verheerlik word

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoe het die artikel “Laat u naam geheilig word” in Die Wagtoring van Junie 2020 ons gehelp om die kwessie oor Jehovah se naam en sy soewereiniteit beter te verstaan?

In daardie artikel het ons geleer dat daar eintlik net een kwessie is wat alle mense en engele raak: die heiliging van Jehovah se groot naam. Die kwessie van soewereiniteit – dit wil sê, of Jehovah se manier van regeer die beste is – is ’n aspek van die een groot kwessie. Net so is die kwessie van mense se integriteit nog ’n aspek van daardie een groot kwessie.

Hoekom beklemtoon ons nou dat die grootste kwessie verband hou met Jehovah se naam en om dit te heilig? Kom ons kyk na drie redes.

Satan belaster God se naam al vanaf die opstand in die tuin van Eden

Eerstens, Satan het Jehovah se naam, of reputasie, aangeval in die tuin van Eden. Satan se slinkse vraag aan Eva het geïmpliseer dat Jehovah ’n onvrygewige God is wat onredelike beperkings op Sy knegte geplaas het. Toe het Satan die teenoorgestelde gesê van wat Jehovah gesê het en in werklikheid gesê dat God ’n leuenaar is. So hy het Jehovah se naam belaster. Hy het “die Duiwel” geword, wat “lasteraar” beteken (Joh. 8:44). Omdat Eva Satan se leuens geglo het, was sy ongehoorsaam aan God en het sy teen sy soewereiniteit gerebelleer (Gen. 3:1-6). Tot vandag toe belaster Satan God se naam, en hy versprei leuens oor Jehovah as ’n Persoon. Dié wat sulke leuens glo, sal heel moontlik ongehoorsaam aan Jehovah wees. So vir God se volk is laster teen Jehovah se heilige naam die ergste onreg. Dit is die hoofrede hoekom daar so baie lyding en goddeloosheid in die wêreld is.

Tweedens, Jehovah is vasbeslote om sy naam te regverdig en om dit van alle oneer te reinig om die hele skepping te bevoordeel. Dit is vir Jehovah die heel belangrikste. Daarom sê hy: “Ek sal beslis my groot naam heilig” (Eseg. 36:23). En toe Jesus gesê het: “Laat u naam geheilig word”, het hy dit duidelik gemaak wat die belangrikste moet wees in die gebede van alle getroue knegte van Jehovah (Matt. 6:9). Die Bybel beklemtoon oor en oor hoe belangrik dit is om Jehovah se naam te verheerlik. Kyk na net ’n paar voorbeelde: “Gee Jehovah die eer wat sy naam verdien” (1 Kron. 16:29; Ps. 96:8). “Sing liedere om sy glorieryke naam te loof” (Ps. 66:2). “Ek sal u naam vir ewig verheerlik” (Ps. 86:12). Een van die kere dat Jehovah self uit die hemel gepraat het, was by die tempel in Jerusalem, waar Jesus gesê het: “Vader, verheerlik u naam.” En Jehovah het geantwoord: “Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik.” – Joh. 12:28. a

Derdens, Jehovah se voorneme sal altyd verband hou met sy naam, of reputasie. Dink hieraan: Wat sal gebeur ná die finale toets wat volg op die Duisendjarige Heerskappy van Christus? Hoe sal alle engele en mense op daardie tyd voel oor Jehovah se naam? Om ons te help om die antwoord op daardie vraag te kry, kom ons dink weer aan die twee aspekte wat hiermee verband hou – mense se integriteit en universele soewereiniteit. Op daardie tyd sal dit nie meer vir mense nodig wees om hulle integriteit te bewys nie. Hulle sal volmaak en heeltemal getoets wees. Die ewige lewe sal vir hulle voorlê. En dit sal nie meer nodig wees om te bewys of Jehovah se manier van regeer die beste is nie. Dan sal almal in die hemel en op die aarde verenig wees en Jehovah se heerskappy aanvaar. Maar wat van Jehovah se naam?

Teen daardie tyd sal almal die waarheid oor Jehovah weet en sal sy naam heeltemal geheilig wees. Maar Jehovah se naam sal steeds die belangrikste vir al sy knegte in die hemel en op die aarde wees. Hoekom? Want hulle sal sien hoe Jehovah aanhou om wonderlike dinge te doen. Dink hieraan: Omdat Jesus nederig alle heerskappy sal teruggee aan Jehovah, sal God “alles vir elkeen” wees (1 Kor. 15:28). Daarna sal mense op die aarde “die glorieryke vryheid van die kinders van God” geniet (Rom. 8:21). En Jehovah sal sy voorneme vervul om een verenigde familie te hê wat bestaan uit sy kinders in die hemel en op die aarde. – Ef. 1:10.

Hoe sal daardie verwikkelinge Jehovah se gesin in die hemel en op die aarde raak? Ons sal beslis nog steeds ’n sterk begeerte hê om Jehovah se pragtige naam te loof. Die psalmis Dawid was geïnspireer om te skryf: “Mag Jehovah God . . . geloof word. . . . Mag sy glorieryke naam vir ewig geloof word” (Ps. 72:18, 19). Tot in alle ewigheid sal ons nuwe en opwindende redes bly vind om dit te doen.

Jehovah se naam stel alles omtrent hom voor. Sy naam herinner ons hoofsaaklik aan sy liefde (1 Joh. 4:8). Ons sal altyd onthou dat Jehovah ons uit liefde gemaak het, dat hy die losprysoffer uit liefde voorsien het en dat sy manier van regeer regverdig en liefdevol is. Maar ons sal Jehovah se liefde vir ons vir ewig bly voel. Tot in alle ewigheid sal ons gemotiveerd wees om nader aan hom te kom as ons Vader en om liedere te sing om sy glorieryke naam te loof. – Ps. 73:28.

a Die Bybel wys ook dat Jehovah “ter wille van sy naam” optree. Byvoorbeeld, hy lei sy volk, help hulle, red hulle, vergewe hulle en beskerm hulle – alles ter wille van sy groot naam, Jehovah. – Ps. 23:3; 31:3; 79:9; 106:8; 143:11.