Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 35

Hou aan om geduldig te wees

Hou aan om geduldig te wees

“Betoon . . . geduld.” – KOL. 3:12.

LIED 114 Wees geduldig

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoekom waardeer jy mense wat geduldig is?

 ONS almal waardeer mense wat geduldig is. Hoekom is dit die geval? Ons respekteer dié wat vir iets kan wag sonder om gefrustreerd te word. Ons waardeer die feit dat ander geduldig met ons is wanneer ons foute maak. En ons is dankbaar dat ons Bybelonderrigter geduldig met ons was terwyl ons gesukkel het om ’n Bybellering te leer, te aanvaar of toe te pas. Maar ons is veral dankbaar dat Jehovah God geduldig is met ons! – Rom. 2:4.

2. In watter situasies is dit dalk vir ons moeilik om geduldig te wees?

2 Al waardeer ons dit wanneer ander geduldig is, is dit dalk nie altyd vir ons maklik om geduldig te wees nie. Byvoorbeeld, ons sukkel dalk om kalm te bly wanneer ons in die verkeer vassit, veral as ons laat is. Ons verloor dalk ons humeur wanneer ander ons irriteer. En soms kan dit moeilik wees om te bly wag vir Jehovah se beloofde nuwe wêreld. Wil jy graag geduldiger wees? In hierdie artikel sal ons kyk na wat dit beteken om geduldig te wees en hoekom dit so belangrik is. Ons sal ook bespreek wat ons kan help om geduldiger te wees.

WAT BETEKEN DIT OM GEDULDIG TE WEES?

3. Hoe reageer ’n geduldige persoon wanneer ander hom kwaad maak?

3 Kyk na vier maniere hoe ons kan wys dat ons geduldig is. Eerstens, ’n geduldige persoon word nie gou kwaad nie. Hy probeer kalm bly en probeer nie ander terugkry wanneer hulle hom kwaad maak of wanneer hy gestres is nie. Die woorde “[word] nie gou kwaad . . . nie” verskyn vir die eerste keer in die Bybel waar Jehovah beskryf word as “’n God wat genadig is en medelye betoon, wat nie gou kwaad word nie en vol lojale liefde en waarheid is”. – Eks. 34:6.

4. Hoe reageer ’n geduldige persoon wanneer hy moet wag?

4 Tweedens, ’n geduldige persoon kan kalm wag. As iets langer vat as wat verwag is, probeer so ’n persoon om nie onrustig of geïrriteerd te word nie (Matt. 18:26, 27). Daar is baie situasies waarin ons kalm moet wag. Byvoorbeeld, ons moet geduldig luister terwyl iemand praat, sonder om daardie persoon te onderbreek (Job 36:2). Ons sal dalk ook geduldig moet wees wanneer ons ’n student help om ’n Bybellering te verstaan of om ’n slegte gewoonte te oorkom.

5. Wat is nog ’n manier hoe ons kan wys dat ons geduldig is?

5 Derdens, ’n geduldige persoon is nie oorhaastig nie. Daar is natuurlik sekere situasies waarin ons vinnig moet optree. Maar wanneer ’n geduldige persoon ’n belangrike taak moet doen, begin hy nie oorhaastig daarmee nie, en hy jaag ook nie daardeur nie. Hy maak eerder seker dat hy genoeg tyd het om te beplan wat hy gaan doen. Dan neem hy die tyd om die taak goed te doen.

6. Hoe reageer ’n geduldige persoon wanneer hy probleme het of deur moeilike tye gaan?

6 Vierdens, ’n geduldige persoon probeer om sy probleme te verduur sonder om te kla. In hierdie sin hou geduld verband met volharding. Dit is natuurlik nie verkeerd om met ’n goeie vriend te praat en vir hom te sê hoe jy oor ’n probleem voel nie. Maar ’n geduldige persoon sal sy bes doen om te bly volhard terwyl hy ’n positiewe gesindheid behou (Kol. 1:11). Christene moet al hierdie aspekte van geduld wys. Hoekom? Kom ons kyk na ’n paar redes.

HOEKOM GEDULD SO BELANGRIK IS

Net soos ’n boer geduldig wag en vertrou dat hy op die regte tyd ’n oes sal hê, wag ons geduldig met die vertroue dat Jehovah al sy beloftes op die regte tyd sal nakom (Sien paragraaf 7)

7. Hoekom is geduld so belangrik volgens Jakobus 5:7, 8? (Sien ook prent.)

7 Geduld is baie belangrik as ons gered wil word. Soos getroue knegte van die verlede moet ons geduldig op God wag om sy beloftes te vervul (Heb. 6:11, 12). Die Bybel vergelyk ons situasie met dié van ’n boer. (Lees Jakobus 5:7, 8.) ’n Boer werk hard om plante te plant en dit nat te maak, maar hy weet nie presies wanneer dit sal groei nie. Daarom wag die boer geduldig, met die vertroue dat hy ’n oes sal hê. Net so bly ons besig met geestelike aktiwiteite selfs al “weet [ons] nie op watter dag [ons] Here kom nie” (Matt. 24:42). Ons wag geduldig met die vertroue dat Jehovah op die regte tyd alles wat hy belowe het, sal vervul. As ons ongeduldig sou raak, sal ons dalk moeg raak om te wag en van die waarheid af begin wegdryf. Ons kan dalk ook begin fokus op dinge wat ons net in die oomblik sal gelukkig maak. Maar as ons geduldig is, kan ons tot die einde toe volhard en gered word. – Miga 7:7; Matt. 24:13.

8. Hoe help geduld ons om goeie verhoudings met ander te hê? (Kolossense 3:12, 13).

8 Ons het geduld nodig om goeie verhoudings met ander te hê. Dit help ons om mooi te luister wanneer ander praat (Jak. 1:19). Geduld bevorder ook vrede. Dit keer dat ons te vinnig reageer en iets leliks sê wanneer ons gestres is. En as ons geduldig is, sal ons nie gou kwaad word wanneer iemand ons gevoelens seermaak nie. In plaas daarvan om hulle terug te kry, sal ons “[aanhou] om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe”. – Lees Kolossense 3:12, 13.

9. Hoe help geduld ons wanneer ons besluite moet maak? (Spreuke 21:5)

9 Geduld kan ons ook help om beter besluite te maak. Ons sal nie oorhaastig of impulsief wees nie, maar eerder die tyd neem om navorsing te doen en die opsies wat ons het, te oorweeg. (Lees Spreuke 21:5.) Byvoorbeeld, as ons na werk soek, sal ons dalk die eerste werk wil aanvaar wat ons kry, selfs al sal die werk inmeng met ons aanbidding aan Jehovah. Maar as ons geduldig is, sal ons die tyd neem om aan dinge te dink soos waar die werk is, die ure en hoe die werk ons gesin en geestelike lewe kan affekteer. Wanneer ons geduldig is, kan ons dit vermy om ’n slegte besluit te maak.

HOE OM GEDULDIGER TE WEES

10. Hoe kan ’n Christen geduld ontwikkel en dit behou?

10 Bid vir meer geduld. Geduld is ’n aspek van die vrug van die gees (Gal. 5:22, 23). So ons kan vir heilige gees bid en Jehovah vra om ons te help om die vrug daarvan te ontwikkel. As ons in ’n situasie is wat ons geduld toets “hou [ons] aan vra” vir heilige gees om ons te help om geduldig te wees (Luk. 11:9, 13). Ons kan ook vir Jehovah vra om ons te help om dinge uit sy oogpunt te sien. En dan nadat ons gebid het, moet ons ons bes doen om elke dag geduldig te wees. Hoe meer ons bid vir geduld en probeer om geduldig te wees, hoe meer sal hierdie eienskap in ons hart wortelskiet en deel van ons persoonlikheid word.

11-12. Hoe het Jehovah gewys dat hy geduldig is?

11 Dink na oor Bybelvoorbeelde. In die Bybel is daar baie voorbeelde van mense wat geduldig was. Deur na te dink oor daardie verslae, kan ons leer hoe om geduldig te wees. Voordat ons party van hierdie voorbeelde gaan bespreek, kom ons kyk na die beste voorbeeld van geduld – Jehovah.

12 In die tuin van Eden het Satan Jehovah se naam belaster en Sy reputasie as ’n regverdige en liefdevolle Heerser aangeval. Jehovah het nie die lasteraar onmiddellik vernietig nie, maar Hy het eerder geduld en selfbeheersing beoefen en geweet dat dit tyd sou neem om te bewys dat Sy heerskappy die beste is. En terwyl hy wag, verduur hy al die oneer wat oor sy naam gebring is. En Jehovah wag nog geduldig sodat meer mense die geleentheid kan hê om die ewige lewe te kry (2 Pet. 3:9, 15). As gevolg daarvan het miljoene mense hom leer ken. As ons fokus op die voordele van Jehovah se geduld, sal dit vir ons makliker wees om te wag vir die tyd wanneer hy die einde gaan bring.

Geduld sal ons help om nie gou kwaad te word wanneer ander ons irriteer nie (Sien paragraaf 13)

13. Hoe het Jesus sy Vader se geduld volmaak nagevolg? (Sien ook prent.)

13 Jesus volg sy Vader se geduld volmaak na, en hy het hierdie eienskap geopenbaar terwyl hy op die aarde was. Dit was seker nie altyd vir hom maklik om geduldig te wees nie, veral nie teenoor die skynheilige skrifgeleerdes en Fariseërs nie (Joh. 8:25-27). Maar net soos sy Vader het Jesus nie gou kwaad geword nie. Hy het nie wraak geneem toe hy beledig of uitgetart was nie (1 Pet. 2:23). Jesus het sy probleme geduldig verduur sonder om te kla. Dit is geen wonder dat die Bybel vir ons sê om “goed [te let] op die een wat die vyandige spraak moes verduur van sondaars” nie! (Heb. 12:2, 3). Met Jehovah se hulp kan ons ook enige probleme verduur wat op ons pad kom.

As ons Abraham se geduld navolg, kan ons seker wees dat Jehovah ons nou sal beloon, en selfs meer in Sy beloofde nuwe wêreld (Sien paragraaf 14)

14. Wat kan ons leer uit Abraham se geduld? (Hebreërs 6:15) (Sien ook prent.)

14 Wat as ons verwagtinge oor die einde nog nie vervul is nie? Dalk het ons verwag dat die einde lank gelede sou kom. Ons is dalk bang dat ons nie lank genoeg sal lewe om dit te sien nie. Wat kan ons help om geduldig te bly wag? Dink aan Abraham se voorbeeld. Toe Abraham 75 jaar oud en kinderloos was, het Jehovah hom belowe: “Ek sal jou ’n groot nasie maak” (Gen. 12:1-4). Het Abraham gesien hoe daardie belofte vervul word? Nie heeltemal nie. Nadat Abraham die Eufraatrivier oorgesteek het en vir 25 jaar gewag het, het hy die wonderdadige geboorte van sy seun Isak gesien, en ná nog 60 jaar is sy kleinseuns Esau en Jakob gebore. (Lees Hebreërs 6:15.) Maar Abraham het nooit gesien hoe sy nakomelinge ’n groot nasie word en die Beloofde Land beërf nie. Maar daardie getroue man het ’n sterk vriendskap met sy Skepper geniet (Jak. 2:23). En wanneer Abraham opgewek word, sal hy baie bly wees om te hoor dat sy geloof en geduld seëninge vir alle nasies gebring het! (Gen. 22:18). Wat is die les? Ons sal dalk nie nou persoonlik sien hoe Jehovah al sy beloftes vervul nie. Maar as ons geduldig is soos Abraham kan ons seker wees dat Jehovah ons nou sal beloon, en selfs meer in Sy beloofde nuwe wêreld. – Mark. 10:29, 30.

15. Wat kan ons gedurende ons persoonlike studie bestudeer?

15 In die Bybel is daar baie ander voorbeelde van mense wat geduldig was (Jak. 5:10). Hoekom maak jy dit nie ’n studieprojek om sulke voorbeelde te ondersoek nie? b Byvoorbeeld, al was Dawid baie jonk toe hy gesalf is om die toekomstige koning van Israel te wees, moes hy jare lank wag voordat hy koning geword het. Simeon en Anna het Jehovah getrou aanbid terwyl hulle vir die beloofde Messias gewag het (Luk. 2:25, 36-38). Wanneer jy sulke verslae bestudeer, kyk vir die antwoorde op die volgende vrae: Wat het hierdie persoon dalk gehelp om geduldig te wees? Hoe het dit hom gehelp omdat hy geduldig was? Hoe kan ek hom navolg? Dit sal jou dalk ook help om te leer oor dié wat nie geduldig was nie (1 Sam. 13:8-14). Jy vra dalk: ‘Wat het moontlik bygedra tot hulle gebrek aan geduld? Watter slegte dinge het gebeur omdat hulle nie geduldig was nie?’

16. Wat is ’n paar van die voordele wat dit inhou as ons geduldig is?

16 Dink aan die voordele wat dit inhou as ons geduldig is. As ons geduldig is, is ons gelukkiger en kalmer. Daarom kan geduld ons verstandelike en fisiese gesondheid verbeter. Wanneer ons geduldig is met ander, geniet ons beter verhoudings met hulle. Ons gemeente word meer verenig. As iemand ons irriteer en ons nie gou kwaad word nie, kan dit keer dat die situasie erger word (Ps. 37:8, vtn.; Spr. 14:29). Maar nog belangriker, wanneer ons geduldig is, volg ons ons hemelse Vader na en kom ons selfs nader aan hom.

17. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

17 Geduld is werklik ’n pragtige eienskap wat ons almal help! Dit is nie altyd maklik om geduldig te wees nie, maar met Jehovah se hulp kan ons aanhou om hierdie eienskap te ontwikkel. En terwyl ons geduldig vir die nuwe wêreld wag, kan ons die vertroue hê dat “die oog van Jehovah waak oor dié wat hom vrees, dié wat op sy lojale liefde wag” (Ps. 33:18). Mag ons almal vasbeslote wees om aan te hou om geduld te betoon.

LIED 41 Hoor my gebed

a Vandag is die meeste mense nie geduldig nie. Maar die Bybel sê dat ons geduld moet betoon. Hierdie artikel sal vir ons wys hoekom hierdie eienskap so belangrik is en hoe ons geduldiger kan word.

b Om Bybelverslae oor geduld te vind, kan jy in die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies gaan na die hofie “Emosies, eienskappe en gedrag” en dan na die onderhofie “Geduld”.