Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 36

Dra wat jy moet, en raak ontslae van die res

Dra wat jy moet, en raak ontslae van die res

“Ons [moet] ook ontslae raak van elke gewig en . . . die wedloop wat voor ons is, met volharding hardloop.” – HEB. 12:1.

LIED 33 Gee jou laste vir Jehovah

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat moet ons doen om die eindstreep in ons wedloop om die lewe te bereik volgens Hebreërs 12:1?

 DIE Bybel vergelyk ons lewe as Christene met ’n wedloop. Die hardlopers wat die eindstreep suksesvol bereik, word beloon met die ewige lewe (2 Tim. 4:7, 8). Ons moet ons bes doen om aan te hou hardloop, veral omdat die eindstreep nader as ooit tevore is. Die apostel Paulus, wat sy wedloop om die lewe suksesvol voltooi het, het gesê wat ons sal help om die wedloop te wen. Hy het gesê dat ons “ontslae [moet] raak van elke gewig en . . . die wedloop wat voor ons is, met volharding [moet] hardloop”. – Lees Hebreërs 12:1.

2. Wat beteken dit dat ons “ontslae [moet] raak van elke gewig”?

2 Het Paulus, toe hy geskryf het dat ons “ontslae [moet] raak van elke gewig”, bedoel dat daar nie ’n vrag is wat ’n Christen moet dra nie? Nee, dit was nie sy punt nie. Hy het eerder bedoel dat ons ontslae moet raak van elke onnodige gewig. Hierdie soort gewig kan ons stadiger maak en ons moeg maak. Om te volhard, moet ons enige onnodige gewig wat ons stadiger kan maak, vinnig identifiseer en ontslae raak daarvan. Maar op dieselfde tyd wil ons nie ontslae raak van vragte wat ons moet dra nie. Anders kan ons onsself vir die wedloop diskwalifiseer (2 Tim. 2:5). Watter vragte moet ons dra?

3. (a) Wat moet ons dra volgens Galasiërs 6:5? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek, en hoekom?

3 Lees Galasiërs 6:5. Paulus het iets geïdentifiseer wat ons moet dra. Hy het geskryf: “Elkeen sal sy eie vrag dra.” Hier het Paulus verwys na ons persoonlike vrag van verantwoordelikheid voor God – iets wat ons self moet dra. In hierdie artikel sal ons bespreek wat ons “eie vrag” behels en hoe ons dit kan dra. Ons sal ook onnodige gewigte identifiseer wat ons dalk dra en leer hoe ons daarvan ontslae kan raak. As ons ons eie vrag dra en ontslae raak van onnodige gewigte, sal dit ons help om ons wedloop om die lewe suksesvol te hardloop.

VRAGTE WAT ONS MOET DRA

Om ons eie vrag te dra, sluit die volgende in: Om ons toewydingsbelofte aan Jehovah na te kom, om ons gesinsverantwoordelikhede na te kom en om die gevolge van ons besluite te aanvaar (Sien paragraaf 4-9)

4. Hoekom is ons toewydingsbelofte nie ’n las nie? (Sien ook prent.)

4 Ons toewydingsbelofte. Toe ons onsself aan Jehovah toegewy het, het ons belowe om hom te aanbid en om sy wil te doen. Ons moet daardie belofte nakom. Dit is ’n groot verantwoordelikheid om ons toewyding uit te leef, maar dit is nie ’n las nie. Dit is omdat Jehovah ons gemaak het om sy wil te doen (Op. 4:11). Hy het ons met die begeerte gemaak om hom te ken en te dien, en hy het ons na sy beeld gemaak. As gevolg daarvan kan ons nader aan hom kom en dit geniet om sy wil te doen (Ps. 40:8). En wanneer ons God se wil doen en sy Seun volg, sal ons “nuwe krag kry”. – Matt. 11:28-30.

(Sien paragraaf 4-5)

5. Wat kan jou help om jou toewyding uit te leef? (1 Johannes 5:3)

5 Hoe kan jy die vrag dra? Twee dinge kan jou help. Eerstens, hou aan om jou liefde vir Jehovah te versterk. Jy kan dit doen deur na te dink oor al die goeie dinge wat hy vir jou gedoen het en die seëninge wat hy vir jou belowe. Hoe meer jou liefde vir God groei, hoe makliker sal dit vir jou wees om hom te gehoorsaam. (Lees 1 Johannes 5:3.) Tweedens, volg Jesus na. Hy het God se wil suksesvol gedoen omdat hy Jehovah se hulp in gebed gevra het en gefokus gebly het op sy beloning (Heb. 5:7; 12:2). Soos Jesus, bid tot Jehovah vir krag, en bly gefokus op die hoop van die ewige lewe. Terwyl jou liefde vir God groei en jy sy Seun navolg, sal jy jou toewyding kan uitleef.

6. Hoekom moet ons ons gesinsverantwoordelikhede nakom? (Sien ook prent.)

6 Ons gesinsverantwoordelikhede. In ons wedloop om die lewe moet ons liewer wees vir Jehovah en Jesus as vir ons gesinslede (Matt. 10:37). Maar dit beteken nie dat ons ons gesinsverantwoordelikhede kan afskeep asof dit ons terughou om God en Christus gelukkig te maak nie. Om die waarheid te sê, om aanvaarbaar te wees vir God en Christus, moet ons ons gesinsverantwoordelikhede nakom (1 Tim. 5:4, 8). Wanneer ons dit doen, sal ons gelukkiger wees. Jehovah weet dat gesinne gelukkig sal wees wanneer die man en die vrou mekaar met liefde en respek behandel, wanneer ouers hulle kinders liefhet en hulle oplei en wanneer kinders gehoorsaam is aan hulle ouers. – Ef. 5:33; 6:1, 4.

(Sien paragraaf 6-7)

7. Hoe kan jy jou verantwoordelikheid in die gesin nakom?

7 Hoe kan jy die vrag dra? Maak nie saak watter rol jy in die gesin het nie, vertrou op die wysheid in die Bybel eerder as om staat te maak op emosies, kultuur of wat sogenaamde kenners dalk sê (Spr. 24:3, 4). Maak goed gebruik van ons Bybelpublikasies. Dit bevat praktiese voorstelle oor hoe om Bybelbeginsels toe te pas. Byvoorbeeld, die artikelreeks “Hulp vir die gesin” het uitstekende inligting oor die spesifieke uitdagings wat paartjies, ouers en tieners vandag ondervind. b Wees vasbeslote om toe te pas wat die Bybel sê, selfs as ander gesinslede dit nie doen nie. Wanneer jy dit doen, sal dit jou gesin help, en Jehovah sal jou seën. – 1 Pet. 3:1, 2.

8. Hoe kan ons besluite ons affekteer?

8 Verantwoordelikheid vir ons besluite. Jehovah het ons die geskenk van vrye wil gegee, en hy wil hê dat ons die voordele moet geniet wat ons sal kry as ons goeie besluite maak. Maar hy beskerm ons ook nie teen die gevolge van slegte besluite nie (Gal. 6:7, 8). Daarom aanvaar ons die gevolge wanneer ons slegte keuses gemaak het en wanneer ons iets verkeerds gesê of gedoen het. Afhangende van wat ons gedoen het, pla ’n skuldige gewete ons dalk. Maar omdat ons weet dat ons verantwoordelikheid moet aanvaar vir ons besluite, kan dit ons motiveer om ons sondes te bely, ons foute reg te stel en om nie weer dieselfde foute te maak nie. As ons dit doen, kan dit ons help om in die wedloop om die lewe te bly.

(Sien paragraaf 8-9)

9. Wat kan jou help as jy ’n slegte besluit gemaak het? (Sien ook prent.)

9 Hoe kan jy die vrag dra? As jy nie ’n slegte besluit kan verander nie, aanvaar jou huidige situasie. Besef dat jy nie die verlede kan verander nie. Moenie jou emosionele en verstandelike energie mors deur jouself te regverdig of jouself of ander te blameer vir jou slegte besluite nie. Erken eerder jou foute, en probeer om die beste van jou huidige omstandighede te maak. As jy skuldig voel oor ’n fout wat jy gemaak het, bid nederig tot Jehovah, erken jou fout en vra hom om jou te vergewe (Ps. 25:11; 51:3, 4). Sê jammer vir dié wat jy dalk seergemaak het, en as dit nodig is, vra die ouermanne vir hulp (Jak. 5:14, 15). Leer uit jou foute, en probeer om nie weer dieselfde foute te maak nie. Terwyl jy dit doen, kan jy seker wees dat Jehovah genadig sal wees teenoor jou en jou die ondersteuning sal gee wat jy nodig het. – Ps. 103:8-13.

GEWIGTE WAARVAN ONS ‘ONTSLAE MOET RAAK’

10. Hoekom is onrealistiese verwagtinge ’n swaar las? (Galasiërs 6:4)

10 Onrealistiese verwagtinge. Ons kan onsself belaai met onrealistiese verwagtinge wanneer ons onsself met ander vergelyk. (Lees Galasiërs 6:4.) As ons onsself die hele tyd met ander vergelyk, kan ons jaloers word en met mekaar begin kompeteer (Gal. 5:26). Dit kan skadelik wees vir ons as ons probeer doen wat ander doen, al laat ons vermoëns en omstandighede dit nie toe nie. En die Bybel sê vir ons: “’n Uitgestelde verwagting maak die hart siek” (Spr. 13:12). So dit sal ons selfs nog mismoediger maak as ons verwagtinge stel wat ons nooit kan bereik nie! As ons dit doen, kan ons so moeg word dat ons stadiger word in ons wedloop om die lewe. – Spr. 24:10.

11. Wat kan jou help om onrealistiese verwagtinge te vermy?

11 Hoe kan jy ontslae raak van daardie gewig? Moenie meer van jouself verwag as wat Jehovah verwag nie. Hy verwag nooit dat jy moet gee wat jy nie het nie (2 Kor. 8:12). Wees verseker dat Jehovah nie die dinge wat jy doen, vergelyk met wat ander doen nie (Matt. 25:20-23). Hy waardeer jou heelhartige diens, jou getrouheid en jou volharding. Wees beskeie en aanvaar dat jou ouderdom, gesondheid en omstandighede dalk kan beperk wat jy nou kan doen. Soos Barsillai, wees bereid om nee te sê vir voorregte wanneer fisiese beperkings ’n probleem word (2 Sam. 19:35, 36). Soos Moses, aanvaar hulp en delegeer verantwoordelikhede aan ander wanneer dit gepas is (Eks. 18:21, 22). Wanneer jy beskeie is, sal dit keer dat jy onrealistiese verwagtinge stel wat jou kan moeg maak terwyl jy jou wedloop om die lewe hardloop.

12. Is ons verantwoordelik vir die slegte besluite wat ander maak? Verduidelik.

12 Om verantwoordelik te voel vir die slegte besluite wat ander maak. Ons kan nie vir ander besluite maak nie, en ons kan hulle ook nie altyd beskerm teen die gevolge van die slegte keuses wat hulle maak nie. Byvoorbeeld, ’n seun of ’n dogter besluit dalk met verloop van tyd om op te hou om Jehovah te dien. Daardie besluit kan die ouers baie hartseer maak. Maar ouers wat hulleself blameer vir hulle kind se slegte besluit, plaas ’n swaar las op hulleself. Dit is nie ’n gewig wat Jehovah verwag hulle moet dra nie. – Rom. 14:12.

13. Wat kan ’n ouer help as ’n kind ’n slegte besluit gemaak het?

13 Hoe kan jy ontslae raak van daardie gewig? Besef dat Jehovah ons almal vrye wil gegee het. Hy laat toe dat elke persoon sy eie keuse maak. Dit sluit in of ons hom wil dien of nie. Jehovah weet dat jy nie ’n perfekte ouer is nie; hy wil net hê dat jy jou bes moet doen. Die keuse wat jou kind maak, is sy verantwoordelikheid, nie joune nie (Spr. 20:11). Maar jy is dalk nog steeds bekommerd oor die foute wat jy as ’n ouer gemaak het. As dit die geval is, sê vir Jehovah hoe jy voel en vra hom om jou te vergewe. Hy weet dat jy nie kan teruggaan en die verlede kan verander nie. En hy verwag nie dat jy moet keer dat jou kind oes wat hy gesaai het nie. Onthou dat Jehovah jou kind met ope arms sal terugverwelkom as hy op die een of ander manier probeer om na Jehovah terug te keer. – Luk. 15:18-20.

14. Hoekom is oormatige skuldgevoelens ’n gewig waarvan ons ontslae moet raak?

14 Om vas te hou aan skuldgevoelens. Wanneer ons sondig, is dit verstaanbaar dat ons skuldig sal voel. Maar om vas te hou aan skuldgevoelens, is ’n gewig wat ons nooit veronderstel was om te dra nie. Dit is ’n gewig waarvan ons ontslae moet raak. Hoe weet ons of ons vashou aan skuldgevoelens? As ons ons sonde bely het, berou getoon het en stappe neem om nie weer dieselfde fout te maak nie, kan ons die vertroue hê dat Jehovah ons vergewe het (Hand. 3:19). Nadat ons hierdie dinge gedoen het, wil Jehovah nie hê dat ons moet aanhou om skuldig te voel nie. Hy weet hoe skadelik dit kan wees as ons heeltyd skuldig voel (Ps. 31:10). As ons heeltyd baie hartseer voel, kan ons dalk ophou om in ons wedloop om die lewe te hardloop. – 2 Kor. 2:7.

Nadat jy opreg berou getoon het, dink Jehovah nie die hele tyd aan jou sondes nie, en jy moet ook nie (Sien paragraaf 15)

15. Wat kan jou help as jy vashou aan skuldgevoelens? (1 Johannes 3:19, 20) (Sien ook prent.)

15 Hoe kan jy ontslae raak van daardie gewig? As jy vashou aan skuldgevoelens, moet jy fokus op die “ware vergifnis” wat God voorsien (Ps. 130:4). Wanneer hy dié vergewe wat opreg berou toon, belowe hy: “Ek sal nie meer aan hulle sonde dink nie” (Jer. 31:34). Dit beteken dat Jehovah jou vorige sondes nie daarna teen jou sal hou nie. So moenie dink dat die gevolge van jou sondes ’n bewys is dat hy jou nie vergewe het nie. En moenie jouself straf omdat jou vorige foute dalk beperk wat jy nou in sy diens kan doen nie. Jehovah dink nie die hele tyd aan jou sondes nie, en jy moet ook nie. – Lees 1 Johannes 3:19, 20.

HARDLOOP OM TE WEN

16. Wat moet ons besef as hardlopers?

16 Terwyl ons in ons wedloop om die lewe hardloop, moet ons “hardloop op so ’n manier dat [ons] dit kan wen” (1 Kor. 9:24). Ons kan dit doen as ons besef wat die verskil is tussen die gewigte wat ons moet dra en die gewigte waarvan ons ontslae moet raak. In hierdie artikel het ons net ’n paar voorbeelde bespreek van wat ons moet dra en waarvan ons ontslae moet raak. Maar ander kan genoem word. Jesus het gesê dat ons “oorweldig [kan] word deur te veel te eet en te veel te drink en deur die bekommernisse van die lewe” (Luk. 21:34). Hierdie en ander tekste kan jou help om veranderinge te identifiseer wat jy dalk sal moet maak terwyl jy in jou wedloop om die lewe hardloop.

17. Hoekom kan ons seker wees dat ons die wedloop om die lewe sal wen?

17 Ons kan seker wees dat ons die wedloop om die lewe sal wen omdat Jehovah ons die krag sal gee wat ons nodig het (Jes. 40:29-31). Daarom moet jy nie stadiger hardloop nie! Volg die apostel Paulus na wat sy bes gedoen het om die prys wat voor hom was, te ontvang (Fil. 3:13, 14). Niemand kan hierdie wedloop vir jou hardloop nie, maar met Jehovah se hulp kan jy suksesvol wees. Jehovah kan jou help om jou vrag te dra en om ontslae te raak van onnodige gewigte (Ps. 68:19). Met Jehovah aan jou kant sal jy jou wedloop met volharding kan hardloop en kan wen!

LIED 65 Gaan vooruit!

a Hierdie artikel sal ons help om die wedloop om die lewe te hardloop. As hardlopers moet ons sekere vragte dra. Dit sluit ons toewydingsbelofte in, sowel as gesinsverantwoordelikhede en die verantwoordelikheid wat ons het vir die besluite wat ons maak. Maar ons moet ontslae raak van enige onnodige gewig wat ons stadiger kan maak. Wat sluit dit in? Hierdie artikel sal daardie vraag beantwoord.

b Jy kan die artikelreeks “Hulp vir die gesin” op jw.org kry. Party voorbeelde van artikels wat beskikbaar is vir getroude paartjies is: “Hoe om respek te toon” en “Toon waardering”; vir ouers: “Leer jou kinders om ’n slimfoon verantwoordelik te gebruik” en “Hoe om met jou tiener te kommunikeer”; en vir tieners: “Hoe om portuurdruk te weerstaan” en “Wat jy kan doen as jy eensaam voel”.