Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

1923 – Honderd jaar gelede

1923 – Honderd jaar gelede

“ONS verwag dat die jaar 1923 baie opwindend gaan wees,” het The Watch Tower van 1 Januarie 1923 gesê. “Dit is ’n groot voorreg om vir mense wat onderdruk word, te sê dat daar beter tye gaan kom.” Gedurende die jaar 1923 het die Bybelstudente opwindende veranderinge aan hulle vergaderinge, byeenkomste en predikingswerk gemaak. En as gevolg daarvan het hulle al hoe meer verenig geword.

VERGADERINGE HET HULLE EENHEID VERSTERK

’n Kalender met tekste en gesangnommers

Gedurende die jaar het die organisasie ’n paar veranderinge gemaak wat gehelp het om eenheid van aanbidding onder die Bybelstudente te bevorder. The Watch Tower het kommentare begin publiseer wat die teks verduidelik het wat hulle by hulle weeklikse Gebeds-, Lof- en Getuienisvergadering bespreek het. En die Bybelstudente het ’n kalender gemaak wat die teks vir elke week aangedui het, sowel as ’n gesang wat gedurende persoonlike studie en gesinsaanbidding gesing kon word.

By hulle vergaderinge het Bybelstudente ’n velddiensondervinding vertel, gesê waarvoor hulle teenoor Jehovah dankbaar is, ’n liedjie gesing of selfs ’n gebed gedoen. Eva Barney, wat in 1923 gedoop is toe sy 15 was, het gesê: “As jy ’n getuienis wou gee, het jy opgestaan en iets begin sê soos: ‘Ek wil graag vir die Here dankie sê vir al die goeie dinge wat hy vir my gedoen het.’” Party broers het dit geniet om getuienisse te gee. Suster Barney het verder gesê: “Liewe ou broer Godwin het so baie dinge gehad waarvoor hy vir die Here wou dankie sê. Maar wanneer sy vrou gesien het dat die broer wat die vergadering hou, onrustig word, het sy aan haar man se baadjie getrek, en dan het hy opgehou praat en gaan sit.”

Een keer ’n maand het elke klas, of gemeente, ’n spesiale Gebeds-, Lof- en Getuienisvergadering gehou. The Watch Tower van 1 April 1923 het hierdie vergadering beskryf en gesê: “Die helfte van die vergadering moet kommentare en ondervindinge wees wat oor die bediening gaan en wat die werkers aanmoedig. . . . Ons glo hierdie aanmoedigende vergaderinge sal die broers en susters nader aan mekaar bring.”

Charles Martin, ’n 19-jarige klaswerker (gemeentelike verkondiger) van Vancouver, Kanada, het baie by hierdie vergaderinge baat gevind. Hy het later gesê: “Dit is waar ek geleer het wat om by die deure te sê. Iemand het dikwels ’n ondervinding vertel wat hulle in die deur-tot-deur-werk gehad het. Dit het my idees gegee oor wat om te sê en hoe om verskillende besware te beantwoord.”

DIE PREDIKINGSWERK HET HULLE EENHEID VERSTERK

Die Bulletin van 1 Mei 1923

“Velddiensdae” het die broers ook gehelp om meer verenig te wees. The Watch Tower van 1 April 1923 het aangekondig: “Sodat ons almal in dieselfde werk verenig is . . . , is Dinsdag 1 Mei 1923 opsygesit as ’n algemene velddiensdag. Daarna sal elke eerste Dinsdag van die maand ’n velddiensdag wees . . . Elke lid van elke gemeente moet op die een of ander manier aan die werk deelneem.”

Selfs jong Bybelstudente het aan hierdie werk deelgeneem. Hazel Burford, wat toe net 16 jaar oud was, het gesê: “Die Bulletin het velddiensinstruksies (soortgelyk aan voorgestelde gesprekke) gegee wat ons kon memoriseer. a Ek en Oupa het ywerig aan al hierdie aktiwiteite deelgeneem.” Maar suster Burford was verbaas oor hoe een broer gevoel het oor die feit dat sy preek. Sy het gesê: “Een dierbare ou broer het gevoel dat ek glad nie met mense moet praat nie. Op daardie tyd het party nie verstaan dat alle Bybelstudente, insluitende ‘jong manne en jong vroue’, ’n deelname daaraan moet hê om ons Groot Skepper te loof nie” (Ps. 148:​12, 13). Maar suster Burford het aangehou preek. Later het sy die tweede klas van die Gileadskool bygewoon en as ’n sendeling in Panama gedien. Op die ou end het daardie broers hulle gesindheid oor jongmense in die bediening verander.

BYEENKOMSTE HET DIE EENHEID VAN DIE BROERS VERSTERK

Plaaslike en streekbyeenkomste het ook die broers verenig. Gedurende baie van hierdie byeenkomste is daar ’n dag opsygesit vir velddiens. Byvoorbeeld, by die byeenkoms in Winnipeg, Kanada, was almal wat die byeenkoms bygewoon het, genooi om op 31 Maart in daardie stad te preek. Baie meer mense is op hierdie spesiale velddiensdae gekontak, en daar was goeie resultate. Op 5 Augustus het omtrent 7 000 mense nog ’n byeenkoms in Winnipeg bygewoon. Op daardie tyd was dit die hoogste bywoning wat daar al ooit vir ’n byeenkoms in Kanada was.

Die belangrikste byeenkoms van Jehovah se volk in 1923 was gehou op 18-26 Augustus in Los Angeles, Kalifornië. In die weke voor die byeenkoms was daar advertensies vir die byeenkoms in die koerante en het Bybelstudente meer as 500 000 strooibiljette versprei. Advertensies is op openbare vervoer en privaat voertuie vasgemaak.

Die Bybelstudente se byeenkoms in 1923 in Los Angeles

Op Saterdag 25 Augustus het broer Rutherford die toespraak met die titel “Skape en bokke” gegee, waarin hy duidelik gewys het dat die “skape” mense met die regte gesindheid is wat op ’n paradysaarde sal lewe. Hy het ook die resolusie gelees met die titel: “’n Waarskuwing”. Hierdie resolusie het die Christendom veroordeel en opregte mense aangemoedig om uit “Babilon die Grote” uit te gaan (Op. 18:​2, 4). Ywerige Bybelstudente regoor die aarde het later miljoene kopieë van hierdie resolusie versprei.

“Ons glo hierdie aanmoedigende vergaderinge sal die broers en susters nader aan mekaar bring”

Op die laaste dag van die byeenkoms het ’n gehoor van meer as 30 000 broer Rutherford se toespraak gehoor met die titel: “Alle nasies marsjeer na Armageddon maar miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie”. Omdat die Bybelstudente baie mense verwag het, het hulle ’n pasgeboude stadion in Los Angeles gehuur. Om seker te maak dat almal kan hoor, het die broers die stadion se luidsprekerstelsel gebruik, wat op daardie tyd nuwe tegnologie was. Baie ander het na die program oor die radio geluister.

INTERNASIONALE UITBREIDING

In die jaar 1923 het die predikingswerk baie uitgebrei in Afrika, Europa, Indië en Suid-Amerika. In Indië het A. J. Joseph, terwyl hy vir sy vrou en ses kinders gesorg het, gehelp om lektuur te vervaardig in Hindi, Tamil, Teloegoe en Oerdoe.

William R. Brown en sy gesin

In Sierra Leone het die Bybelstudente Alfred Joseph en Leonard Blackman vir die wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, geskryf om vir hulp te vra. Op 14 April 1923 is hulle versoek beantwoord. Alfred het gesê: “Laat een Saterdagaand het ek ’n onverwagse telefoonoproep ontvang.” Hy het ’n harde stem hoor vra: “Is jy die persoon wat aan die Wagtoringgenootskap geskryf het en vir predikers gevra het?” “Ja,” het Alfred gesê. “Wel, hulle het my gestuur.” Dit was William R. Brown se stem. Hy het daardie dag van die Karibiese Eilande af daar aangekom, saam met sy vrou, Antonia, en hulle jong dogters, Louise en Lucy. Die broers het nie lank gewag om die nuwe mense te ontmoet nie.

Alfred het verder gesê: “Terwyl ek en Leonard die volgende dag ons weeklikse Bybelstudie gehou het, het ’n lang man skielik by die deur verskyn. Dit was broer Brown. Hy was so ywerig vir die waarheid dat hy sommer die volgende dag ’n openbare toespraak wou gee.” In minder as ’n maand het broer Brown al die lektuur geplaas wat hy saam met hom gebring het. Hy het gou weer nog 5 000 boeke ontvang. En kort voor lank was selfs meer boeke nodig. Maar broer Brown was nie bekend as ’n boeke-verkoper nie. Regdeur sy lang loopbaan as ’n ywerige kneg van Jehovah het hy heeltyd in sy toesprake na die Bybel verwys, en daarom het mense hom “Bible Brown” genoem.

Die Bethel in Maagdenburg in die 1920’s

Intussen was die bestaande takkantoor in Barmen, Duitsland, te vol, en hulle het gehoor dat die Franse leërmag binnekort daardie stad sou binneval. Die Bybelstudente het ’n kompleks in Maagdenburg gevind wat perfek gelyk het vir hulle drukwerk. Op 19 Junie het die broers al die druktoerusting en ander meubels klaar opgepak en na die nuwe Bethel in Maagdenburg getrek. Die dag nadat die wêreldhoofkwartier in kennis gestel is dat hulle klaar getrek het, het die koerante aangekondig dat Frankryk die stad Barmen ingeneem het. Die broers het die trek as ’n bewys gesien van Jehovah se seën en beskerming.

George Young met Sarah Ferguson (regs) en haar suster

In Brasilië het George Young, wat baie gereis het om die goeie nuus te versprei, ’n nuwe takkantoor gevorm en begin om The Watch Tower in Portugees te publiseer. In net ’n paar maande het hy meer as 7 000 tydskrifte en boekies geplaas. Sarah Ferguson was baie opgewonde toe broer Young haar familie besoek het. Sy het al vanaf 1899 The Watch Tower gelees, maar sy kon nooit haar toewyding deur middel van waterdoop simboliseer nie. ’n Paar maande later kon suster Ferguson en haar vier kinders uiteindelik gedoop word.

‘ONS DIEN GOD MET YWER EN VREUGDE’

Aan die einde van die jaar het The Watch Tower van 15 Desember 1923 beskryf watter uitwerking die veranderinge aan hulle vergaderinge, bediening en byeenkomste op die Bybelstudente gehad het. Dit het gesê: “Dit is duidelik dat die gemeentes sterk geloof het . . . Laat ons ons gereed kry vir meer werk en aanhou om God met ywer en vreugde te dien gedurende die jaar 1924.”

Die jaar 1924 was ook ’n baie opwindende jaar vir die Bybelstudente. Die broers by Bethel het maande lank gewerk op ’n stuk grond in Staten Island, wat naby hulle hoofkwartier in Brooklyn was. Die fasiliteite wat op daardie nuwe perseel gebou is, is vroeg in 1924 voltooi, en dit het gehelp om die broers en susters te verenig en om die goeie nuus op maniere te versprei wat nooit voorheen moontlik was nie.

Die bouspan op Staten Island

a Nou Ons Christelike Lewe en BedieningVergaderingwerkboek.