Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 43

“Hy sal [jou] sterk maak” – Hoe?

“Hy sal [jou] sterk maak” – Hoe?

“[Jehovah] sal [jou] standvastig maak, hy sal [jou] sterk maak, hy sal [jou] ’n stewige fondament gee.” – 1 PET. 5:10.

LIED 38 Hy maak jou sterk

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoe het God sy getroue knegte in die verlede versterk?

 GOD SE WOORD beskryf getroue manne dikwels as sterk. Maar selfs die sterkstes onder hulle het nie altyd sterk gevoel nie. Byvoorbeeld, partykeer het koning Dawid gevoel dat hy “so sterk soos ’n berg” is, maar ander kere het hy “baie bang geword” (Ps. 30:7). God se gees het Simson baie fisiese krag gegee, maar Simson het erken dat hy “swak [sal] word en soos alle ander mense [sal] word” sonder God se krag (Rigt. 14:​5, 6; 16:17). Hierdie getroue manne was net sterk omdat Jehovah hulle krag gegee het.

2. Hoekom het die apostel Paulus gesê dat hy swak, maar ook sterk is? (2 Korintiërs 12:​9, 10)

2 Die apostel Paulus het erken dat hy ook krag van Jehovah nodig gehad het. (Lees 2 Korintiërs 12:​9, 10.) Soos baie van ons het Paulus gesukkel met gesondheidsprobleme (Gal. 4:​13, 14). Partykeer het hy ook gesukkel om die regte ding te doen (Rom. 7:​18, 19). En soms was hy angstig en onseker (2 Kor. 1:​8, 9). Maar toe Paulus swak was, het hy sterk geword. Hoe? Jehovah het Paulus die krag gegee wat hy nodig gehad het. Hy het Paulus sterk gemaak.

3. Watter vrae sal ons in hierdie artikel beantwoord?

3 Jehovah belowe om ons ook sterk te maak (1 Pet. 5:10). Maar ons kan nie verwag om daardie krag te ontvang sonder dat ons self iets doen nie. Byvoorbeeld, ’n enjin kan ’n kar die krag gee om vorentoe te beweeg. Maar ’n bestuurder moet die versneller trap as hy êrens heen wil gaan. Net so is Jehovah gereed om vir ons die krag te gee wat ons nodig het, maar ons moet iets doen om daarby baat te vind. Wat het Jehovah voorsien om ons sterk te maak? En wat moet ons doen om daardie krag te ontvang? Ons sal uitvind wat die antwoorde op daardie vrae is deur te kyk na hoe Jehovah drie Bybelkarakters versterk het – die profeet Jona, Jesus se ma, Maria, en die apostel Paulus. Ons sal ook sien hoe Jehovah aanhou om sy knegte vandag op soortgelyke maniere te versterk.

GEBED EN STUDIE KAN JOU DIE KRAG GEE OM TE VOLHARD

4. Hoe kan ons krag van Jehovah ontvang?

4 Een manier hoe ons krag van Jehovah kan ontvang, is deur tot hom te bid. Jehovah sal ons gebede beantwoord deur ons “die krag wat bo die normale is” te gee (2 Kor. 4:7). Ons kan ook versterk word wanneer ons sy Woord lees en daaroor nadink (Ps. 86:11). Jehovah se boodskap aan ons in die Bybel is “kragtig” (Heb. 4:12). Wanneer jy tot Jehovah bid en sy Woord lees, sal jy die krag ontvang wat jy nodig het om te volhard, om jou vreugde te behou of om ’n moeilike toewysing uit te voer. Kyk hoe Jehovah die profeet Jona versterk het.

5. Hoekom het die profeet Jona krag nodig gehad?

5 Die profeet Jona het krag nodig gehad. Hy het weggehardloop van ’n moeilike toewysing wat Jehovah hom gegee het. As gevolg daarvan het hy amper sy lewe in ’n groot storm verloor en het hy die lewens van die ander mense op die skip in gevaar gestel. Toe hy oorboord gegooi is, het hy homself in ’n plek bevind waar hy nog nooit voorheen was nie – die donker maag van ’n groot vis. Hoe dink jy het Jona gevoel? Het hy verwag om daar te sterf? Het hy dalk gewonder of Jehovah hom verwerp het? Jona het seker baie angstig gevoel.

Wat kan ons versterk wanneer ons, soos die profeet Jona, deur ’n moeilike tyd gaan? (Sien paragraaf 6-9)

6. Wat het Jona versterk toe hy in ’n vis se maag was soos ons kan sien in Jona 2:​1, 2, 7?

6 Wat het Jona gedoen om krag te ontvang toe hy alleen in ’n vis se maag was? Hy het tot Jehovah gebid. (Lees Jona 2:​1, 2, 7.) Al was hy ongehoorsaam aan Jehovah, was Jona oortuig dat Jehovah na sy nederige en berouvolle gebed sou luister. Jona het ook oor die Skrif nagedink. Hoekom kan ons dit sê? Sy gebed, wat in Jona hoofstuk 2 opgeteken is, gebruik baie van dieselfde woorde en uitdrukkings wat gevind word in die Psalms. (Byvoorbeeld, vergelyk Jona 2:​2, 5 met Psalm 69:1; 86:7.) Dit is duidelik dat Jona daardie gedeeltes goed geken het. En omdat hy gedurende sy moeilike tyd daaroor nagedink het, was hy seker dat Jehovah hom sou help. Later, toe Jona weer op droë grond was, was hy gereed om sy volgende toewysing te aanvaar en uit te voer. – Jona 2:10–3:4.

7-8. Wat het een broer in Taiwan versterk gedurende sy moeilike tye?

7 Jona se voorbeeld kan ons help wanneer ons deur moeilike tye gaan. Byvoorbeeld, Zhiming, b ’n broer in Taiwan, sukkel met ernstige gesondheidsprobleme. Sy familie staan hom ook baie erg teë as gevolg van sy geloof in Jehovah. Hy kry krag van Jehovah deur gebed en studie. Hy erken: “Partykeer, wanneer daar probleme is, voel ek so angstig dat ek nie genoeg kan kalmeer om my persoonlike studie te doen nie.” Maar hy gee nie op nie. Hy sê: “Eerstens bid ek tot Jehovah. Dan sit ek my oorfone op en luister ek na ons Koninkryksliedjies. Partykeer sing ek dit selfs saggies totdat ek kalmeer. Dan begin ek studeer.”

8 Persoonlike studie het Zhiming op onverwagse maniere versterk. Byvoorbeeld, terwyl hy herstel het van ’n groot operasie, het ’n verpleegster vir hom gesê dat hy ’n bloedoortapping nodig het omdat sy rooibloedseltelling baie laag is. Die aand voor sy operasie het Zhiming van ’n suster gelees wat dieselfde operasie gehad het. Haar rooibloedseltelling het selfs laer as syne gedaal, maar sy het nie ’n bloedoortapping aanvaar nie en kon herstel. Daardie ondervinding het Zhiming versterk om getrou te bly.

9. Wat kan jy doen as jy angstig is omdat jy deur ’n moeilike tyd gaan? (Sien ook prente.)

9 Voel jy ooit te angstig om tot Jehovah te bid wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan? Of voel jy te swak om te studeer? Onthou dat Jehovah jou situasie heeltemal verstaan. So selfs wanneer jy ’n eenvoudige gebed doen, kan jy seker wees dat hy jou presies sal gee wat jy nodig het (Ef. 3:20). As jou fisiese of emosionele pyn dit vir jou moeilik maak om te lees en te studeer, kan jy probeer om na oudio-opnames van die Bybel of Bybelpublikasies te luister. Dit sal jou dalk ook help as jy na een van ons liedjies luister of na ’n video op jw.org kyk. Deur tot Jehovah te bid en na die antwoord in die geestelike voorsienings te soek wat hy beskikbaar maak, nooi jy hom om jou sterk te maak.

JOU BROERS EN SUSTERS KAN JOU VERSTERK

10. Hoe versterk ons Christenbroers en -susters ons?

10 Jehovah kan ons Christenbroers en -susters gebruik om ons te versterk. Hulle kan “’n bron van groot vertroosting” wees wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan of sukkel om ’n moeilike toewysing uit te voer (Kol. 4:​10, 11). Ons het vriende veral gedurende “moeilike tye” nodig (Spr. 17:17). Wanneer ons swak voel, kan ons broers en susters ons fisies, emosioneel en geestelik help. Kyk hoe Maria, Jesus se ma, deur ander versterk is.

11. Hoekom het Maria krag nodig gehad?

11 Maria het krag nodig gehad. Dink net hoe oorweldig sy gevoel het nadat sy ’n belangrike toewysing van die engel Gabriël gekry het. Sy was nie getroud nie, maar sy sou swanger word. Sy het nog nooit self kinders grootgemaak nie, maar sy sou vir die seuntjie sorg wat die Messias sou word. En aangesien sy nog nooit seksuele omgang gehad het nie, hoe sou Maria al hierdie dinge aan haar verloofde, Josef, verduidelik? – Luk. 1:​26-33.

12. Hoe het Maria die krag ontvang wat sy nodig gehad het volgens Lukas 1:​39-45?

12 Hoe het Maria die krag ontvang wat sy nodig gehad het om hierdie ongewone en belangrike toewysing uit te voer? Sy het staatgemaak op ander vir hulp. Byvoorbeeld, sy het Gabriël gevra om vir haar nog inligting te gee oor die toewysing (Luk. 1:34). Kort daarna het sy al die pad na “die bergland” van Juda gereis om haar familielid Elisabet te besoek. Daardie besoek was die moeite werd. Elisabet het Maria geprys, en Jehovah het haar geïnspireer om ’n aanmoedigende profesie te gee oor Maria se ongebore seun. (Lees Lukas 1:​39-45.) Maria het van Jehovah gesê: “Met sy arm het hy magtige dade gedoen” (Luk. 1:​46-51). Jehovah het Maria versterk deur Gabriël en Elisabet.

13. Wat het gebeur toe ’n suster haar broers en susters vir hulp gevra het?

13 Soos in Maria se geval kan jy ook versterk word deur jou broers en susters. Dit is iets wat Dasuri, ’n suster in Bolivia, nodig gehad het. Toe haar pa gediagnoseer is met ’n terminale siekte en in die hospitaal opgeneem is, het Dasuri gewilliglik die verantwoordelikheid aanvaar om vir hom te sorg (1 Tim. 5:4). Dit was nie altyd maklik nie. Sy erken: “Ek het baie keer gevoel asof ek nie kan aangaan nie.” Het sy vir hulp gevra? Nie aan die begin nie. Sy verduidelik: “Ek wou nie die broers en susters pla nie. Ek het gedink: ‘Jehovah is die een wat my die hulp sal gee wat ek nodig het.’ Maar toe het ek besef dat ek besig is om my probleme op my eie te probeer hanteer omdat ek myself van ander afsonder” (Spr. 18:1). Dasuri het besluit om vir ’n paar van haar vriende te skryf en haar situasie te verduidelik. Sy sê: “Woorde kan nie beskryf hoe baie ek versterk is deur my dierbare broers en susters nie. Hulle het kos na die hospitaal toe gebring en vertroostende Bybelverse met my gedeel. Dit is ’n wonderlike gevoel om te weet dat ons nie alleen is nie. Ons behoort aan Jehovah se groot familie – ’n familie wat bereid is om jou ’n handjie te gee, saam met jou te huil en saam met jou te veg.”

14. Hoekom moet ons die ouermanne se hulp aanvaar?

14 Een manier hoe Jehovah ons krag gee, is deur middel van die ouermanne. Hulle is gawes wat hy gebruik om ons te versterk en te verfris (Jes. 32:​1, 2). So wanneer jy angstig is, sê vir die ouermanne hoe jy voel. Moenie huiwer om die ouermanne se hulp te aanvaar nie. Jehovah kan jou sterk maak deur middel van hulle.

JOU HOOP VIR DIE TOEKOMS KAN JOU VERSTERK

15. Watter hoop is vir alle Christene kosbaar?

15 Ons Bybelse hoop kan ons krag gee (Rom. 4:​3, 18-20). As Christene het ons die kosbare vooruitsig om vir ewig te lewe – of in ’n herstelde aardse paradys of in die hemelse Koninkryk. Ons hoop versterk ons om moeilike tye te verduur, die goeie nuus te verkondig en verskillende toewysings in die gemeente uit te voer (1 Tess. 1:3). Daardie selfde hoop het die apostel Paulus versterk.

16. Hoekom het die apostel Paulus krag nodig gehad?

16 Paulus het krag nodig gehad. In sy brief aan die Korintiërs het hy homself vergelyk met ’n breekbare kleihouer. Hy was “onder swaar druk geplaas”, hy het “nie altyd [geweet] wat om te doen nie”, hy was “vervolg” en hy was “neergeslaan”. Sy lewe was selfs in gevaar (2 Kor. 4:​8-10). Paulus het hierdie woorde geskryf gedurende sy derde sendingreis. Hy het dit dalk nie op daardie stadium geweet nie, maar sy probleme was nog nie verby nie. Hy sou deur ’n skare aangeval word, gearresteer word, skipbreuk ly en in die tronk gegooi word.

17. Wat het Paulus versterk om moeilike tye te verduur volgens 2 Korintiërs 4:​16-18?

17 Omdat Paulus op sy hoop gefokus het, het dit hom die krag gegee om te volhard. (Lees 2 Korintiërs 4:​16-18.) Hy het vir die Korintiërs gesê dat selfs as sy fisiese liggaam besig was om “weg te teer,” hy nie sou toelaat dat dit hom mismoedig maak nie. Paulus het op sy toekoms gefokus. Sy hoop van ewige lewe in die hemel was iets “wat met niks vergelyk kan word nie”. Dit was enige moeilike tyd wat hy ondervind het, werd. Paulus het oor daardie hoop nagedink, en daarom het hy gevoel dat hy “van dag tot dag nuut gemaak” is.

18. Hoe het hoop Tihomir en sy gesin versterk?

18 Tihomir, ’n broer in Bulgarye, word versterk deur sy hoop vir die toekoms. ’n Paar jaar gelede is sy jonger broer, Zdrawko, dood in ’n ongeluk. Vir ’n ruk daarna was Tihomir verskriklik hartseer. Om hulle te help om dit te hanteer, het hy en sy gesin gedink aan hoe die opstanding gaan wees. Hy verduidelik: “Ons praat byvoorbeeld oor waar ons Zdrawko gaan ontmoet, watter kos ons vir hom gaan maak, wie na die eerste partytjie genooi gaan word wanneer hy opgewek is en wat ons vir hom gaan sê oor die laaste dae.” Tihomir sê dat dit sy gesin versterk om te bly volhard en te bly wag vir Jehovah se tyd om sy broer op te wek omdat hulle op hulle hoop fokus.

Hoe dink jy sal jou lewe in die nuwe wêreld wees? (Sien paragraaf 19) c

19. Wat kan jy doen om jou hoop te versterk? (Sien ook prent.)

19 Hoe kan jy jou hoop versterk? As jy byvoorbeeld die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, lees oor die Bybel se beskrywing van die Paradys en dink daaroor na (Jes. 25:8; 32:​16-18). Dink na oor hoe die lewe in die nuwe wêreld sal wees. Sien jouself daar. Wie sien jy? Watter geluide hoor jy? Hoe voel jy? Om jou verbeelding aan die gang te kry, kyk na prente in ons publikasies van die Paradys of kyk ’n musiekvideo, soos In die nuwe wêreld, Net om die draai of Ek dink aan ’n tyd. As ons die hoop van die nuwe wêreld helder in ons verstand hou, sal ons probleme “net ’n kort rukkie [duur] en . . . lig” wees (2 Kor. 4:17). Jehovah sal jou deur middel van die hoop wat hy jou gegee het, sterk maak.

20. Hoe kan ons krag kry, selfs wanneer ons swak voel?

20 Selfs wanneer ons swak voel, sal ons “deur God . . . krag kry” (Ps. 108:13). Jehovah het reeds vir jou gegee wat jy nodig het om krag van hom te ontvang. So wanneer jy hulp nodig het om ’n toewysing uit te voer, om ’n moeilike tyd te verduur of om jou vreugde te behou, bid ernstig tot Jehovah en vra sy leiding deur middel van persoonlike studie. Aanvaar aanmoediging van jou Christenbroers en -susters. Hou jou hoop duidelik en helder. Dan sal “God [jou] met sy glorieryke mag versterk sodat [jy] ten volle kan volhard met geduld en vreugde”. – Kol. 1:11.

LIED 33 Gee jou laste vir Jehovah

a Hierdie artikel sal dié help wat dalk oorweldig voel deur ’n moeilike tyd of deur ’n toewysing wat hulle voel te moeilik is om uit te voer. Ons sal leer hoe Jehovah ons kan versterk en wat ons kan doen om sy hulp te ontvang.

b Party name is verander.

c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Dowe suster dink na oor die Bybel se beloftes en speel ’n musiekvideo om haar te help dink aan hoe haar lewe in die nuwe wêreld sal wees.