Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 44

Studeer die Bybel deeglik

Studeer die Bybel deeglik

“Verstaan [ten volle] wat die breedte en lengte en hoogte en diepte van die waarheid is.” – EF. 3:18.

LIED 95 Die lig word helderder

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. Wat is die beste manier om die Bybel te lees en te studeer? Gee ’n voorbeeld.

 STEL jou voor dat jy besig is om te besluit of jy ’n huis gaan koop. Wat sal jy wil sien voordat jy jou besluit maak? Net ’n foto van die voorkant van die huis? Jy sal beslis self die huis wil sien sodat jy rondom die huis kan stap, kan ingaan om deur al die vertrekke te loop en mooi na elke deel van die huis kan kyk. Jy sal dalk selfs die planne van die huis wil ondersoek om uit te vind hoe dit gebou is. Jy sal natuurlik alle aspekte van jou toekomstige huis wil sien.

2 Ons kan iets soortgelyks doen wanneer ons die Bybel lees en studeer. ’n Bybelgeleerde het gesê dat die Bybel soos “’n massiewe gebou is wat baie hoog is en wat diep fondasies het”. So hoe kan ons dan alles wat in die Bybel is, goed leer ken? As jy dit net vinnig lees, sal jy dalk net basiese feite leer – “die basiese dinge van die heilige verklarings van God” (Heb. 5:12). Gaan eerder, net soos met die huis, “in” om die Bybel te ondersoek sodat jy dit beter kan verstaan. ’n Uitstekende manier om die Bybel te studeer, is om te sien hoe die verskillende dele van die boodskap daarin met mekaar verband hou. Probeer om nie net te verstaan wat jy glo nie, maar ook hoekom jy dit glo.

3. Wat het die apostel Paulus sy Christenbroers en -susters aangemoedig om te doen, en hoekom? (Efesiërs 3:​14-19)

3 Om al die dele van God se Woord ten volle te verstaan, moet ons diep Bybelwaarhede leer. Die apostel Paulus het sy Christenbroers en -susters aangemoedig om God se Woord deeglik te studeer sodat hulle “ten volle [kan] verstaan wat die breedte en lengte en hoogte en diepte van die waarheid is”. Dan sou hulle verder “stewig gewortel en gevestig” word in hulle geloof. (Lees Efesiërs 3:​14-19.) Ons moet dieselfde doen. Kom ons kyk hoe ons God se Woord kan ondersoek sodat ons die betekenis daarvan ten volle kan verstaan.

ONDERSOEK DIEP BYBELWAARHEDE

4. Wat kan ons doen om nader aan Jehovah te kom? Gee voorbeelde.

4 As Christene is ons nie daarmee tevrede om net ’n oppervlakkige begrip van die Bybel te hê nie. Met die hulp van God se heilige gees is ons gretig om “selfs die diep dinge van God” te leer (1 Kor. 2:​9, 10). Hoekom begin jy nie ’n persoonlike studieprojek wat jou nader aan Jehovah sal bring nie? Byvoorbeeld, jy kan ondersoek hoe hy sy liefde vir sy eertydse knegte gewys het en hoe dit bewys dat hy jou ook liefhet. Jy kan Jehovah se reëling vir aanbidding in Israel ondersoek en dit vergelyk met die Christelike reëling van vandag. Of dalk kan jy ’n in diepte studie maak van die profesieë wat Jesus vervul het gedurende sy lewe en bediening op die aarde.

5. Is daar ’n onderwerp waaroor jy graag navorsing wil doen as ’n persoonlike studieprojek?

5 ’n Paar ywerige studente van die Bybel is gevra watter dieper dinge hulle graag persoonlik in God se Woord wil ondersoek. Party van hulle antwoorde is in die venster “ Onderwerpe vir persoonlike studieprojekte”. Dit kan jou baie vreugde gee om sulke onderwerpe te studeer met die hulp van die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies. Diep Bybelstudie kan jou geloof versterk en jou help om “God [te] leer ken” (Spr. 2:​4, 5). Kom ons fokus nou op ’n paar diep Bybelwaarhede wat ons kan ondersoek.

DINK DIEP NA OOR GOD SE DOEL

6. (a) Wat is die verskil tussen ’n plan en ’n doel? (b) Hoekom kan daar gesê word dat Jehovah se doel vir die mens en die aarde ewig is? (Efesiërs 3:11)

6 Kyk byvoorbeeld na wat die Bybel sê oor God se doel. Daar is ’n duidelike verskil tussen ’n plan en ’n doel. ’n Plan is soos ’n spesifieke en vaste roete wat jou na jou bestemming toe kan lei. Maar die plan kan misluk wanneer daar ’n padblokkade langs die pad is. ’n Doel fokus net op die bestemming. Ons weet presies waarheen ons wil gaan, maar ons kan verskillende paaie neem om daar uit te kom. As ons nie op een pad kan reis nie, kan ons ’n ander een kies. Gelukkig het Jehovah sy “ewige voorneme [of doel]” geleidelik in die Bybel geopenbaar (Ef. 3:11). Op die een of ander manier is hy altyd suksesvol omdat hy “alles tot sy voorneme [laat] bydra” (Spr. 16:4). En die resultaat van wat Jehovah doen, sal vir ewig duur. Wat is Jehovah se doel, en watter aanpassings het hy gemaak om dit te bereik?

7. Hoe het Jehovah die manier hoe hy sy doel sou bereik, aangepas nadat die eerste mense gerebelleer het? (Matteus 25:34)

7 God het vir die eerste mense gesê wat sy doel vir hulle is. Hy het gesê: “Wees vrugbaar en word baie, vul die aarde en bewerk dit. Heers oor . . . al die lewende diere” op die aarde (Gen. 1:28). Toe Adam en Eva gerebelleer het en sonde oor die mensegesin gebring het, het dit Jehovah nie gekeer om sy doel te bereik nie. Hy het die manier hoe hy dit sou bereik, aangepas. Hy het dadelik besluit om ’n Koninkryk in die hemel op te rig wat sy oorspronklike doel vir mense en die aarde sou bereik. (Lees Matteus 25:34.) Op sy vasgestelde tyd het Jehovah liefdevol sy eersgebore Seun na die aarde toe gestuur om mense oor die Koninkryk te leer en om sy lewe te gee om ons van sonde en die dood te red. Toe is Jesus opgewek om as Koning van God se Koninkryk in die hemel te regeer. Maar daar is selfs meer wat ons oor God se doel kan leer.

Dink aan die tyd wanneer alle intelligente skepsele in die hemel en op die aarde verenig sal wees in hulle lojaliteit aan Jehovah! (Sien paragraaf 8)

8. (a) Wat is die tema van die Bybel? (b) Wat is Jehovah se einddoel soos verduidelik word in Efesiërs 1:​8-11? (Sien prent op voorblad.)

8 Die hooftema van die Bybel is dat Jehovah se naam geregverdig sal word terwyl hy sy doel vir die aarde vervul deur middel van sy Koninkryk onder Christus. Jehovah se doel kan nie verander word nie. Hy het belowe dat alles sal gebeur net soos hy gesê het (Jes. 46:​10, 11, voetnote; Heb. 6:​17, 18). Met verloop van tyd sal die aarde in ’n paradys verander word waar volmaakte, regverdige nakomelinge van Adam en Eva “vir ewig [sal] lewe” (Ps 22:26). Maar dit is nie al wat Jehovah sal bereik nie. Sy einddoel is om al sy intelligente skepsele in die hemel en op die aarde te verenig. Dan sal almal wat lewe hulle lojaal onderwerp aan hom as hulle Soewerein. (Lees Efesiërs 1:​8-11.) Is jy nie verstom oor die wonderlike manier hoe Jehovah sy doel bereik nie?

DINK DIEP NA OOR JOU TOEKOMS

9. Hoe ver kan ons in die toekoms sien deur die Bybel te lees?

9 Kyk na die profesie wat Jehovah gegee het in die tuin van Eden, wat in Genesis 3:15 opgeteken is. b Dit het verwys na gebeure wat sy doel sou vervul, maar wat eers duisende jare later sou gebeur. Hierdie gebeure het ingesluit dat Abraham ’n nageslag sou voortbring, die geslagslyn wat tot die geboorte van die Christus sou ly (Gen. 22:​15-18). Toe, in 33 HJ, is Jesus in die hakskeen gewond, soos voorspel is (Hand. 3:​13-15). Die laaste gebeurtenis van daardie profesie, die feit dat Satan se kop vergruis sal word, sal meer as 1 000 jaar van nou af gebeur (Op. 20:​7-10). En die Bybel sê baie meer oor wat sal gebeur terwyl die vyandskap tussen Satan se stelsel en Jehovah se organisasie ’n klimaks bereik.

10. (a) Watter toekomstige gebeure sal binnekort plaasvind? (b) Hoe kan ons ons verstand en hart voorberei? (Sien voetnoot.)

10 Dink oor hierdie buitengewone gebeure wat die Bybel voorspel. Eerstens, die nasies sal sê dat daar “vrede en veiligheid” is (1 Tess. 5:​2, 3). Die groot verdrukking sal “onverwags” begin wanneer die nasies alle valse godsdiens aanval (Op. 17:16). Daarna sal daar dalk ’n bonatuurlike vertoning wees wanneer “die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel” kom (Matt. 24:30). Jesus sal mense oordeel en die skape van die bokke skei (Matt. 25:​31-33, 46). Maar Satan sal nie sit en niks doen nie. Omdat hy God se volk so baie haat, sal hy ’n groep nasies wat die Bybel Gog van die land Magog noem, beweeg om Jehovah se rein aanbidders aan te val (Eseg. 38:​2, 10, 11). Op die een of ander tyd sal die gesalfde oorblyfsel na die hemel geneem word om by Christus en sy hemelse leërmag aan te sluit om in die oorlog van Armageddon te veg, die finale deel van die groot verdrukking (Matt. 24:31; Op. 16:​14, 16). c Dan sal Christus se Duisendjarige Heerskappy oor die aarde begin. – Op. 20:6.

Hoe na aan Jehovah sal jy voel nadat jy vir miljarde jare oor hom geleer het? (Sien paragraaf 11)

11. Wat beteken die vooruitsig om vir ewig te lewe vir jou? (Sien ook prent.)

11 Dink nou selfs verder in die toekoms. Die Bybel sê dat ons Skepper “selfs die ewigheid in [ons] hart gesit” het (Pred. 3:11). Dink aan wat dit vir jou en jou verhouding met Jehovah beteken. Die boek Kom nader aan Jehovah, bladsy 319, maak hierdie opwindende stelling: “Nadat ons honderde, duisende, miljoene, ja, selfs duisendmiljoene jare gelewe het, sal ons baie meer van Jehovah God weet as nou. Maar ons sal nog steeds voel dat daar ’n mag der menigte wonderlike dinge is om te leer. . . . Die ewige lewe sal onbeskryflik sinvol en interessant wees—en om nader aan Jehovah te kom, sal altyd die lonendste aspek daarvan wees.” Intussen, wat kan ons nog ondersoek terwyl ons aanhou om God se Woord te studeer?

KYK HOOG IN DIE HEMEL OP

12. Hoe kan ons hoog in die hemel opkyk? Gee ’n voorbeeld.

12 God se Woord gee vir ons ’n kykie van hoe dit is om in Jehovah se teenwoordigheid “in die hoogtes daar bo” te wees (Jes. 33:5). Die Bybel openbaar wonderlike dinge oor Jehovah en die hemelse deel van sy organisasie (Jes. 6:​1-4; Dan. 7:​9, 10; Op. 4:​1-6). Ons kan byvoorbeeld lees oor die indrukwekkende dinge wat Esegiël gesien het toe “die hemel oopgegaan [het] en [hy] visioene van God begin sien” het. – Eseg. 1:1.

13. Wat waardeer jy omtrent Jesus se rol in die hemel soos verduidelik word in Hebreërs 4:​14-16?

13 Dink ook aan Jesus se rol in die hemel as ons heersende Koning en simpatieke Hoëpriester. Deur hom kan ons God se “troon van onverdiende goedheid” in gebed nader en vir genade en hulp “op die regte tyd” vra. (Lees Hebreërs 4:​14-16.) Laat ons nooit ’n dag laat verbygaan sonder om na te dink oor wat Jehovah en Jesus vir ons vanuit die hemel gedoen het en nog steeds doen nie. Hulle liefde vir ons moet ons hart diep raak en ons motiveer om ywerig in ons diens en aanbidding te wees. – 2 Kor. 5:​14, 15.

Dink hoe bly dit jou in die nuwe wêreld sal maak om te weet dat jy ander gehelp het om Getuies van Jehovah en dissipels van Jesus te word! (Sien paragraaf 14)

14. Wat is een van die beste dinge wat ons kan doen om te wys hoe baie ons Jehovah en Jesus waardeer? (Sien ook prente.)

14 Een van die beste maniere om te wys hoe baie ons ons God en sy Seun waardeer, is om ander te probeer help om Getuies van Jehovah en dissipels van Jesus te word (Matt. 28:​19, 20). Dit is wat die apostel Paulus uit dankbaarheid vir God en Christus gedoen het. Hy het geweet dat dit Jehovah se wil is dat “alle soorte mense gered moet word en akkurate kennis van die waarheid moet kry” (1 Tim. 2:​3, 4). Hy het baie hard in sy bediening gewerk om soveel mense as wat hy kon, te help sodat hy “op elke moontlike manier sommige kan red”. – 1 Kor. 9:​22, 23.

VIND VREUGDE DAARIN OM GOD SE WOORD TE ONDERSOEK

15. Wat sal ons gelukkig maak volgens Psalm 1:2?

15 Die skrywer van die eerste psalm het ’n gelukkige, suksesvolle persoon beskryf as iemand wat “vreugde [vind] in die wet van Jehovah” en wat ‘dag en nag oor Sy wet nadink’ (Ps. 1:​1-3). ’n Bybelvertaler, Joseph Rotherham, het in sy boek Studies in the Psalms gesê dat ’n persoon “so baie vreugde in God se leiding [moet] vind dat hy daarvoor sal soek, dit sal studeer en lank daaroor sal dink”. Hy het ook gesê dat “’n persoon ’n dag gemors het as die dag verbygegaan het sonder dat hy die Bybel gelees het”. Jy kan vreugde vind wanneer jy die Bybel studeer deur belang te stel in die talle belangrike besonderhede daarin en te kyk hoe dit alles met mekaar verband hou. Dit is ’n vreugde om elke aspek van God se Woord te ondersoek!

16. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

16 Die pragtige waarhede wat Jehovah ons in sy Woord leer, is nie buite ons bereik nie. In die volgende artikel sal ons een van die dieper waarhede bespreek – Jehovah se groot geestelike tempel, wat Paulus beskryf het in sy brief aan die Hebreeuse Christene. Mag jy groot vreugde daarin vind om daardie onderwerp te ondersoek.

LIED 94 Dankbaar vir God se Woord

a Om die Bybel te studeer, kan ons gelukkig maak vir so lank as wat ons lewe. Dit help ons en bring ons nader aan ons hemelse Vader. In hierdie artikel sal ons sien hoe ons “die breedte en lengte en hoogte en diepte” van God se Woord kan ondersoek.

b Sien die artikel “’n Eertydse profesie wat jou raak” in Die Wagtoring van Julie 2022.

c Om te leer hoe om jouself voor te berei vir die buitengewone gebeure wat in die nabye toekoms gaan plaasvind, sien die boek God se Koninkryk regeer! bl. 230.