Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 1

LIED 38 Hy maak jou sterk

Oorkom vrees deur op Jehovah te vertrou

Oorkom vrees deur op Jehovah te vertrou

ONS JAARTEKS VIR 2024: “Wanneer ek bang is, stel ek my vertroue in u.”PS. 56:3.

DOEL

Leer hoe ons ons vertroue in Jehovah kan versterk en ons vrese kan oorkom.

1. Hoekom voel ons soms bang?

 ALMAL voel soms bang. Ons studie van die Bybel het ons natuurlik bevry van vrees vir die dooies, vrees vir die bonatuurlike en vrees vir die toekoms. Maar ons lewe nog steeds in ’n tyd wat gekenmerk word deur “skrikwekkende dinge”, soos oorlog, misdaad en siekte (Luk. 21:11). Ons is dalk ook bang vir mense, insluitende regerings wat ons onderdruk of selfs familielede wat ware aanbidding teëstaan. Party is bekommerd dat hulle nie sal kan volhard gedurende ’n moeilike tyd wat hulle nou ondervind of een wat hulle dalk in die toekoms sal ondervind nie.

2. Beskryf Dawid se situasie terwyl hy in Gat was.

2 Dawid was soms bang. Byvoorbeeld, toe koning Saul hom agternagesit het en hom wou doodmaak, het Dawid besluit om na die Filistynse stad Gat te vlug. Die koning van Gat, Agis, het gou uitgevind dat Dawid die magtige vegter is wat in ’n lied geprys is omdat hy “tienduisende” Filistyne doodgemaak het. Dawid “het baie bang geword” (1 Sam. 21:​10-12). Hy was bekommerd oor wat Agis aan hom sou doen. Hoe het Dawid sy vrese oorkom?

3. Hoe het Dawid sy vrese oorkom volgens Psalm 56:​1-3, 11?

3 In Psalm 56 sê Dawid hoe hy gevoel het terwyl hy in Gat was. In daardie psalm verduidelik Dawid reguit hoekom hy bang was, maar hy verduidelik ook hoe hy daardie vrese oorkom het. Toe Dawid bang gevoel het, het hy op Jehovah vertrou. (Lees Psalm 56:​1-3, 11.) Dawid het goeie redes gehad om op Jehovah te vertrou. Met Jehovah se seën het Dawid ’n ongewone maar effektiewe strategie uitgedink: Hy het gemaak asof hy mal is! Agis het Dawid nou meer as ’n irritasie as ’n bedreiging gesien, en daarom kon Dawid ontsnap. – 1 Sam. 21:13–22:1.

4. Hoe kan ons ons vertroue in Jehovah versterk? Gee ’n voorbeeld.

4 Ons kan ook vrees oorkom deur op Jehovah te vertrou. Maar hoe versterk ons ons vertroue in Jehovah, veral wanneer ons bang is? Kyk na ’n voorbeeld. As jy uitvind dat jy ’n siekte het, voel jy dalk aan die begin bang. Maar jy sal kalmer voel as jy jou dokter vertrou. Hy het dalk al baie pasiënte gehelp met ’n soortgelyke siekte. Hy luister dalk mooi en oortuig jou dat hy jou gevoelens regtig verstaan. En hy stel dalk ’n behandeling voor wat al goed vir ander gewerk het. Net so versterk ons ons vertroue in Jehovah deur te kyk na wat hy reeds gedoen het, wat hy nou doen en wat hy nog vir ons gaan doen. Dit is wat Dawid gedoen het. Terwyl ons na van sy geïnspireerde woorde in Psalm 56 kyk, dink aan hoe jy ook jou vertroue in Jehovah kan versterk en jou vrese kan oorkom.

WAT HET JEHOVAH REEDS GEDOEN?

5. Waaroor het Dawid nagedink om sy vrese te oorkom? (Psalm 56:​12, 13)

5 Terwyl Dawid se lewe nog in gevaar was, het hy gefokus op wat Jehovah reeds gedoen het. (Lees Psalm 56:​12, 13.) Dit was Dawid se denkpatroon regdeur sy lewe. Byvoorbeeld, soms het hy nagedink oor Jehovah se skeppingswerke, wat hom herinner het aan Jehovah se almagtige krag en belangstelling in mense (Ps. 65:​6-9). Dawid het ook nagedink oor wat Jehovah vir ander gedoen het (Ps. 31:19; 37:​25, 26). En hy het veral nagedink oor wat Jehovah reeds vir hom persoonlik gedoen het. Jehovah het Dawid van kleins af ondersteun en beskerm (Ps. 22:​9, 10). Dink net hoe sulke bepeinsing Dawid se vertroue in Jehovah versterk het!

Dawid het sy vertroue in Jehovah versterk deur te fokus op wat Hy reeds gedoen het, besig was om te doen en nog sou doen (Sien paragraaf 5, 8, 12) d


6. Wat sal ons help om op Jehovah te vertrou wanneer ons bang voel?

6 Wanneer jy bang voel, vra jouself: ‘Wat het Jehovah reeds gedoen?’ Dink na oor wat hy geskep het. Byvoorbeeld, wanneer ons ‘goed dophou’ hoe Jehovah vir die voëls en die blomme sorg – wat nie na sy beeld geskep is nie en hom nie kan aanbid nie – sal dit ons vertroue versterk dat hy ook vir ons sal sorg (Matt. 6:​25-32). Kyk ook na wat Jehovah vir sy aanbidders gedoen het. Jy kan ’n Bybelkarakter bestudeer wat gewys het dat hy buitengewone geloof het, of miskien kan jy ’n ondervinding lees van ’n hedendaagse kneg van Jehovah. a En dink na oor hoe Jehovah reeds vir jou gesorg het. Hoe het hy jou na die waarheid toe getrek? (Joh. 6:44). Hoe het hy jou gebede beantwoord? (1 Joh. 5:14). Hoe vind jy elke dag baat by die offerande van sy geliefde Seun? – Ef. 1:7; Heb. 4:​14-16.

Ons versterk ons vertroue in Jehovah deur te fokus op wat hy reeds gedoen het, besig is om te doen en nog sal doen (Sien paragraaf 6, 9-10, 13-14) e


7. Hoe het die ondervinding van die profeet Daniël Vanessa gehelp om haar vrees te oorkom?

7 Vanessa, b ’n suster in Haïti, was in ’n situasie wat haar baie bang gemaak het. ’n Man in haar gemeenskap het haar elke dag gebel en vir haar boodskappe gestuur om druk op haar te plaas om ’n verhouding met hom te hê. Vanessa het ferm geweier. Maar die man het al hoe aggressiewer geword en haar selfs gedreig. “Ek was bang,” sê sy. Hoe het Vanessa haar vrees oorkom? Sy het praktiese dinge gedoen om haarself te beskerm. ’n Ouerman het haar gehelp om die owerhede te kontak. Maar sy het ook gefokus op hoe Jehovah sy knegte in die verlede beskerm het. “Die eerste persoon waaraan ek gedink het, was die profeet Daniël,” sê Vanessa. “Hy was in ’n leeukuil met honger leeus gegooi, al was hy onskuldig. Maar Jehovah het vir hom gesorg. Ek het Jehovah gevra om die hele situasie oor te neem. Daarna was ek nie meer bang nie.” – Dan. 6:​12-22.

WAT DOEN JEHOVAH NOU?

8. Waarvan was Dawid oortuig? (Psalm 56:8)

8 Al was Dawid se lewe in gevaar toe hy in Gat was, het hy geweier om toe te laat dat sy vrese hom oorweldig. Hy het eerder gekies om te kyk na wat Jehovah besig was om op daardie oomblik vir hom te doen. Dawid kon sien dat Jehovah hom lei en beskerm en dat Hy sy gevoelens verstaan. (Lees Psalm 56:8.) Dawid het ook vriende gehad, soos Jonatan en die hoëpriester Ahimeleg, wat hom lojaal ondersteun het en op praktiese maniere gehelp het (1 Sam. 20:​41, 42; 21:​6, 8, 9). En al wou koning Saul hom doodmaak, het Dawid ontsnap. Hy was oortuig dat Jehovah heeltemal bewus is van die moeilike tyd wat hy deurmaak en hoe dit hom emosioneel raak.

9. Wat sien Jehovah raak wanneer dit by elkeen van ons kom?

9 Wanneer jy ’n moeilike tyd ondervind wat jou bang maak, onthou dat Jehovah daarvan bewus is en van hoe dit jou laat voel. Byvoorbeeld, Jehovah het nie net die mishandeling van die Israeliete in Egipte raakgesien nie, maar hy was ook “bewus van hoe hulle [gely het]” (Eks. 3:7). Dawid het gesing dat Jehovah gesien het hoe hy “swaarkry” en bewus was van sy “groot angs” (Ps. 31:7). En wanneer God se volk gely het – al was dit as gevolg van hulle eie dwase besluite – “het hy saam met hulle gely” (Jes. 63:9). Wanneer jy bang is, verstaan Jehovah hoe jy voel en is hy gretig om jou te help om jou vrese te oorkom.

10. Hoekom is jy oortuig dat Jehovah jou raaksien en dat hy jou sal help om enige moeilike tyd te hanteer?

10 Maar miskien wonder jy hoe Jehovah jou ondersteun terwyl jy ’n moeilike tyd ondervind wat jou baie bang maak. So vra hom om jou te help om te sien hoe hy jou ondersteun (2 Kon. 6:​15-17). Dink dan hieraan: Het ’n toespraak of ’n kommentaar by ’n gemeentelike vergadering jou versterk? Het ’n publikasie, ’n video of ’n Broadcasting-liedjie jou aangemoedig? Het iemand ’n aanmoedigende gedagte of teks met jou gedeel? Ons kan ons liefdevolle broederskap en die geestelike kos wat ons ontvang, maklik as vanselfsprekend aanvaar. Tog is dit buitengewone geskenke van Jehovah (Jes. 65:13; Mark. 10:​29, 30). Dit bewys dat hy vir jou omgee (Jes. 49:​14-16). En dit bewys dat hy jou vertroue verdien.

11. Wat het Aida gehelp om haar vrese te oorkom?

11 Aida, wat in Senegal bly, het opgelet hoe Jehovah haar gedurende ’n moeilike tyd ondersteun het. Aangesien sy die oudste kind is, het haar ouers van haar verwag om genoeg geld te maak om na haarself en na hulle te kyk. Maar nadat sy haar lewe vereenvoudig het om te pionier, het Aida finansieel gesukkel. Haar gesin was toe kwaad vir haar en het haar gekritiseer. “Ek was bang dat ek nie my ouers sou kon help nie en dat almal my sou verwerp,” sê sy. “Ek het Jehovah selfs blameer omdat hy dinge so erg laat word het.” Toe het sy ’n toespraak by ’n vergadering gehoor. “Die spreker het ons daaraan herinner dat Jehovah weet watter pyn in ons elkeen se hart is. Die raad van die ouermanne en ander het my stadig maar seker van Jehovah se liefde verseker. Ek het met nuwe vertroue tot Jehovah begin bid, en ek het ’n diep vrede gevoel toe ek sien hoe hy my gebede beantwoord.” Met verloop van tyd het Aida ’n werk gekry wat haar gehelp het om haarself as ’n pionier te onderhou, asook om haar ouers en ander finansieel te help. “Ek het geleer om heeltemal op Jehovah te vertrou,” sê sy. “Nou verdwyn my vrese baie keer nadat ek gebid het.”

WAT GAAN JEHOVAH NOG DOEN?

12. Waarvan was Dawid oortuig volgens Psalm 56:9?

12 Lees Psalm 56:9. Hierdie vers wys nog ’n manier hoe Dawid sy vrese oorkom het: Al was sy lewe nog steeds in gevaar, het hy nagedink oor wat Jehovah nog vir hom sou doen. Dawid het geweet dat Jehovah hom op die regte tyd sou red. Om die waarheid te sê, Jehovah het gesê dat Dawid die volgende koning van Israel sou wees (1 Sam. 16:​1, 13). Vir Dawid was enige belofte wat Jehovah gemaak het, so goed as vervul.

13. Watter vertroue kan ons in Jehovah hê?

13 Wat het Jehovah belowe om vir jou te doen? Ons verwag nie dat Jehovah ons teen alle probleme moet beskerm nie. c Maar Jehovah sal enige moeilike tye wat jy in hierdie wêreld ondervind, in die komende nuwe wêreld verwyder (Jes. 25:​7-9). Ons Skepper is beslis sterk genoeg om die dooies op te wek, om ons te genees en om alle teenstanders te verwyder. – 1 Joh. 4:4.

14. Waaroor kan ons nadink?

14 Wanneer jy bang voel, dink na oor wat Jehovah in die toekoms gaan doen. Dink oor hoe jy sal voel wanneer Satan nie meer daar is nie, wanneer goddelose mense deur regverdige mense vervang word en wanneer onvolmaaktheid elke dag bietjie vir bietjie verdwyn. ’n Demonstrasie op die 2014-streekbyeenkomsprogram het gewys hoe ons oor ons hoop kan nadink. ’n Pa het met sy gesin bespreek hoe 2 Timoteus 3:​1-5 anders bewoord kan word as daardie verse voorspel het hoe dit in die Paradys sou wees: “In die nuwe wêreld sal ons die gelukkigste tye ondervind. Want mense sal ander liefhê, geestelike skatte liefhê, beskeie wees, nederig wees, God loof, aan ouers gehoorsaam wees, dankbaar wees, lojaal wees, hulle families baie liefhê, bereid wees om in te stem, altyd van ander goed praat, selfbeheersing hê, sagmoedig wees, lief wees vir wat goed is, betroubaar wees, toegewend wees, nederig van hart wees, eerder vir God lief wees as vir plesier, deur opregte toegewydheid aan God gemotiveer word; en bly na aan hierdie mense.” Praat jy met jou familie of jou broers en susters oor hoe die lewe in die nuwe wêreld sal wees?

15. Al was Tanja bang, wat het haar gehelp om haar vrese te oorkom?

15 ’n Suster in Noord-Masedonië met die naam Tanja het haar vrese oorkom deur na te dink oor toekomstige seëninge. Haar ouers het haar studie van die Bybel erg teëgestaan. Sy sê: “Party van die dinge wat ek gevrees het sou gebeur, het gebeur. My ma het my ná elke vergadering geslaan. My ouers het gedreig om my dood te maak as ek een van Jehovah se Getuies word.” Uiteindelik het Tanja se ouers haar uit die huis gegooi. Hoe het sy gereageer? Sy sê: “Ek het gefokus op hoe ek vir ewig gelukkig sou wees omdat ek kies om my integriteit te behou. Ek het ook gedink aan hoe Jehovah my in die nuwe wêreld sou beloon vir enige iets wat ek dalk in hierdie wêreld sou verloor en hoe alle slegte dinge vergete sou wees.” Tanja het toe haar integriteit behou. En met Jehovah se hulp het sy ’n plek gevind om te bly. Vandag is Tanja met ’n getroue broer getroud, en hulle dien gelukkig saam in die voltydse bediening.

VERSTERK JOU VERTROUE VANDAG

16. Wat sal ons help om moedig te bly wanneer ons die gebeure sien wat in Lukas 21:​26-28 voorspel word?

16 Gedurende die groot verdrukking sal mense oor die algemeen “flou word van vrees”. Maar God se volk sal standvastig en moedig bly. (Lees Lukas 21:​26-28.) Hoekom sal ons nie deur vrees oorweldig word nie? Omdat ons dan reeds sou geleer het om op Jehovah te vertrou. Tanja, wat vroeër aangehaal is, sê dat haar ondervindinge in die verlede haar help om ander moeilike situasies te hanteer. “Ek het geleer dat Jehovah ons kan help om in enige situasie te volhard en ons sal seën,” sê sy. “Soms lyk dit dalk asof ander in beheer is, maar in werklikheid het hulle net soveel beheer as wat Jehovah toelaat. En al is die situasie moeilik, sal dit tot ’n einde kom.”

17. Hoe sal ons jaarteks vir 2024 ons help? (Sien prent op voorblad.)

17 Dit is vandag normaal om bang te wees. Maar soos Dawid kan ons weier om toe te laat dat vrees ons beheer. Ons jaarteks vir 2024 is Dawid se gebed tot Jehovah: “Wanneer ek bang is, stel ek my vertroue in u” (Ps. 56:3). ’n Bybelnaslaanwerk het oor hierdie vers gesê: Dawid “voed nie sy vrees en fokus nie op sy probleme nie, maar fokus op sy Verlosser wat hom sal red”. Dink aan ons jaarteks in die komende maande, veral wanneer jy situasies ondervind wat jou baie bang maak. Neem tyd om na te dink oor wat Jehovah in die verlede gedoen het, wat hy nou doen en wat hy in die toekoms gaan doen. Dan kan jy net soos Dawid sê: “In God stel ek my vertroue, en ek is nie bang nie.” – Ps. 56:4.

Gedurende ’n ramp dink ’n suster na oor die jaarteks (Sien paragraaf 17)

HOE KAN JY VREES OORKOM DEUR NA TE DINK OOR . . .

  • wat Jehovah reeds gedoen het?

  • wat Jehovah nou doen?

  • wat Jehovah nog gaan doen?

LIED 33 Gee jou laste vir Jehovah

a Jy kan geloofversterkende inligting op jw.org vind deur “volg hulle geloof na” of “ondervindinge” in die soekblokkie te tik. In die JW Library®-app kyk onder die artikelreeks “Volg hulle geloof na” of “Lewensverhale van Jehovah se Getuies”.

b Party name is verander.

d BESKRYWING VAN PRENT: Dawid het nagedink oor hoe Jehovah hom die krag gegee het om ’n beer dood te maak, hom praktiese hulp gegee het deur middel van Ahimeleg en hom nog koning sou maak.

e BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer wat in die tronk is as gevolg van sy geloof, dink na oor hoe Jehovah hom gehelp het om op te hou rook, hom aanmoedig deur middel van briewe van geliefdes en hom nog ewige lewe in die Paradys sal gee.