Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 2

LIED 19 Die Here se Aandmaal

Is jy gereed vir die belangrikste dag van die jaar?

Is jy gereed vir die belangrikste dag van die jaar?

“Hou aan om dit te doen as ’n herinnering aan my.”LUK. 22:19.

DOEL

Kyk hoekom die Gedenkmaal so spesiaal is, hoe ons daarvoor kan voorberei en hoe ons ander kan help om dit by te woon.

1. Hoekom is die Gedenkmaal die belangrikste dag van die jaar? (Lukas 22:​19, 20)

 VIR Jehovah se volk is die Herdenking van Christus se dood die belangrikste dag van die jaar. Dit is die enigste geleentheid wat Jesus sy volgelinge spesifiek beveel het om te herdenk. (Lees Lukas 22:​19, 20.) Ons sien vir ’n hele paar redes uit na die Gedenkmaal. Kom ons bespreek ’n paar van hulle.

2. Wat is ’n paar redes hoekom ons na die Gedenkmaal uitsien?

2 Die Gedenkmaal help ons om na te dink oor die waarde van die losprys. Dit herinner ons aan maniere hoe ons waardering kan wys vir Jesus se offerande (2 Kor. 5:​14, 15). Dit gee ons ook ’n geleentheid om ons broers en susters ‘aan te moedig’ (Rom. 1:12). Elke jaar woon ’n hele paar onbedrywiges dit by. Party word selfs beweeg om na Jehovah terug te keer as gevolg van die liefdevolle manier hoe hulle verwelkom word. En baie belangstellendes word gemotiveer om op die pad van die lewe te begin deur wat hulle sien en hoor. Dit is geen wonder dat die Gedenkmaal so ’n spesiale plek in ons hart het nie!

3. Hoe verenig die Gedenkmaal ons broers en susters regoor die wêreld? (Sien ook prent.)

3 Dink ook aan hoe die Gedenkmaal ons broers en susters regoor die wêreld verenig. Jehovah se Getuies kom bymekaar terwyl die son geleidelik regoor die wêreld sak. Ons almal hoor ’n toespraak wat beklemtoon hoe belangrik die losprys is. Ons sing twee lofliedere, stuur die embleme om en sê heelhartig “amen” vir vier gebede. Binne omtrent 24 uur sou alle gemeentes dieselfde patroon gevolg het. Kan jy jou voorstel hoe bly Jehovah en Jesus is wanneer hulle sien hoe almal van ons regoor die aarde hulle op hierdie manier eer?

Die Gedenkmaal verenig ons broers en susters regoor wêreld (Sien paragraaf 3) f


4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 In hierdie artikel sal ons hierdie vrae bespreek: Hoe kan ons ons hart vir die Gedenkmaal voorberei? Hoe kan ons ander help om daarby baat te vind? En hoe kan ons dié help wat onbedrywig is? Die antwoorde op hierdie vrae sal ons help om gereed te wees vir hierdie heilige geleentheid.

HOE KAN ONS ONS HART VIR DIE GEDENKMAAL VOORBEREI?

5. (a) Hoekom moet ons nadink oor die waarde van die losprys? (Psalm 49:​7, 8) (b) Wat het jy geleer uit die video Waarom het Jesus gesterf?

5 Een van die belangrikste maniere hoe ons ons hart vir die Gedenkmaal kan voorberei, is deur na te dink oor die waarde van Jesus Christus se losprysoffer. Op ons eie sou ons nooit onsself van sonde en die dood kon red nie. (Lees Psalm 49:​7, 8; sien ook die video Waarom het Jesus gesterf?) a So Jehovah en sy dierbare Seun het ’n baie hoë prys betaal toe Jehovah gereël het dat Jesus sy lewe vir ons opoffer (Rom. 6:23). Hoe meer ons nadink oor wat Jehovah en Jesus vir ons opgeoffer het, hoe meer sal ons die losprys waardeer. Ons sal net ’n paar van die dinge bespreek wat die losprys Jehovah en Jesus gekos het. Maar eerstens, wat het die losprys ingesluit?

6. Wat het die losprys ingesluit?

6 ’n Losprys is ’n prys wat betaal word om iets terug te koop. Die eerste man, Adam, was volmaak toe hy geskep is. Toe hy gesondig het, het hy die vooruitsig om vir ewig te lewe nie net vir homself verloor nie, maar ook vir al sy kinders. Om terug te koop wat Adam verloor het, het Jesus sy eie volmaakte lewe opgeoffer. Gedurende sy hele lewe op die aarde het Jesus “nooit gesondig nie, en hy het nooit iets bedriegliks gesê nie” (1 Pet. 2:22). Toe Jesus gesterf het, het sy volmaakte lewe presies ooreengestem met die lewe wat Adam verloor het. – 1 Kor. 15:45; 1 Tim. 2:6.

7. Wat is ’n paar toetse wat Jesus ondervind het terwyl hy op die aarde was?

7 Jesus was volmaak gehoorsaam aan sy hemelse Vader, al het hy baie toetse ondervind terwyl hy op die aarde was. As ’n kind moes Jesus hom onderwerp aan die gesag van sy onvolmaakte ouers, al is hy as ’n volmaakte mens gebore (Luk. 2:51). As ’n tiener moes hy enige druk weerstaan om ongehoorsaam of ontrou te wees. En as ’n volwassene moes Jesus Satan die Duiwel se versoekings weerstaan, insluitende direkte aanvalle op sy lojaliteit aan God (Matt. 4:​1-11). Satan was vasbeslote om Jesus te laat sondig sodat hy nie die losprys sou kon betaal nie.

8. Watter ander toetse het Jesus verduur?

8 Gedurende Jesus se aardse bediening het hy nog toetse verduur. Hy is vervolg, en sy lewe was in gevaar (Luk. 4:​28, 29; 13:31). Hy moes die onvolmaakthede van sy volgelinge verduur (Mark. 9:​33, 34). Toe hy verhoor is, is hy gemartel en gespot. Toe is hy op ’n verskriklik pynlike en vernederende manier doodgemaak (Heb. 12:​1-3). Hy moes die laaste deel van daardie moeilike tyd op sy eie deurmaak, sonder Jehovah se beskerming. – Matt. 27:46. b

9. Hoe voel ons oor Jesus se offerande? (1 Petrus 1:8)

9 Dit is duidelik dat die losprys Jesus baie gekos het. Voel ons nie diep liefde vir Jesus wanneer ons nadink oor hoe hy bereid was om so baie vir ons op te offer nie? – Lees 1 Petrus 1:8.

10. Wat het die losprys Jehovah gekos?

10 Wat van Jehovah? Wat was hy bereid om op te offer sodat Jesus die losprys kon betaal? Jehovah en Jesus het die sterkste band wat daar tussen ’n pa en seun kan bestaan (Spr. 8:30). So dink net hoe dit Jehovah geraak het toe hy sien hoe Jesus so baie moeilike tye ondervind terwyl hy op die aarde was. Dit het Jehovah beslis baie seergemaak om te sien dat sy Seun mishandel, verwerp en getoets word.

11. Gebruik ’n voorbeeld om te wys hoe Jehovah gevoel het toe Jesus doodgemaak is.

11 Enige ouer wat ’n kind aan die dood verloor het, weet baie goed hoe verskriklik hartseer daardie verlies jou maak. Ons het sterk geloof in die opstanding, maar dit neem nie die pyn weg wat ons voel wanneer ’n geliefde sterf nie. Hierdie voorbeeld help ons om te verstaan hoe Jehovah gevoel het terwyl hy gesien het hoe sy geliefde Seun op daardie lentedag op 33 HJ ly en sterf. – Matt. 3:17. c

12. Wat kan ons doen gedurende die weke voor die Gedenkmaal?

12 Hoekom doen jy nie tussen nou en die Gedenkmaal ’n persoonlike studieprojek of ’n Gesinsaanbiddingprojek wat op die losprys fokus nie? Gebruik die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies (as dit in jou taal beskikbaar is) of ander Bybelstudiehulpmiddele om die onderwerp in diepte te ondersoek. d Volg ook die Bybelleesgedeelte vir die Gedenkmaal wat in Ons Christelike Lewe en BedieningVergaderingwerkboek verskyn. En moenie vergeet om die spesiale Oggendaanbidding-program op die dag van die Gedenkmaal te kyk nie. Wanneer ons ons eie hart vir die Gedenkmaal voorberei, sal ons in ’n goeie posisie wees om ander te help om ook daarby baat te vind. – Esra 7:10.

HELP ANDER OM BAAT TE VIND

13. Wat is die eerste ding wat ons kan doen om ander te help om by die Gedenkmaal baat te vind?

13 Hoe kan ons ander help om by die Gedenkmaal baat te vind? Die eerste ding wat ons kan doen, is natuurlik om hulle te nooi. Behalwe vir dié wat ons in ons gewone bediening ontmoet, kan ons ’n lys maak van mense wat ons graag wil nooi. Hulle kan ons familielede, werksmaats, skoolmaats en ander insluit. Al het ons nie genoeg gedrukte kopieë van die uitnodiging nie, kan ons ’n skakel na die elektroniese weergawe stuur. Ons sal dalk verbaas wees deur hoeveel mense die uitnodiging aanvaar! – Pred. 11:6.

14. Gee ’n voorbeeld van die krag van ’n persoonlike uitnodiging.

14 Moet nooit die krag van ’n persoonlike uitnodiging onderskat nie. Eendag was ’n suster wie se man nie ’n Getuie is nie, verbaas toe hy vir haar sê dat hy beplan om saam met haar na die Gedenkmaal te gaan. Hoekom was sy verbaas? Omdat sy hom al baie keer in die verlede aangemoedig het om dit by te woon, maar hy het dit nooit gedoen nie. Wat het hierdie keer anders gemaak? “Ek het ’n persoonlike uitnodiging gekry,” het hy gesê, en hy het verduidelik dat ’n plaaslike ouerman wat hy ken, hom genooi het. Die man het dit daardie jaar en vir baie jare daarna bygewoon.

15. Wat wil ons in gedagte hou wanneer ons mense na die Gedenkmaal nooi?

15 Hou in gedagte dat dié wat ons nooi dalk vrae sal hê – veral as hulle nog nooit een van ons vergaderinge bygewoon het nie. Dit sal goed wees as ons dink aan die vrae wat hulle dalk sal vra en voorberei om dit te beantwoord (Kol. 4:6). Byvoorbeeld, party wonder dalk: ‘Wat gaan daar gebeur?’ ‘Hoe lank gaan dit wees?’ ‘Wat moet ek aantrek?’ ‘Moet ek betaal om dit by te woon?’ ‘Sal kollektes geneem word?’ Wanneer ons iemand na die Gedenkmaal nooi, kan ons eenvoudig vra: “Het jy enige vrae?” en dan die vrae beantwoord wat die persoon dalk het. Ons kan ook die video’s Herdenk Jesus se dood en Wat gebeur by ’n Koninkryksaal? gebruik om die persoon te help verstaan hoe ons vergaderinge gehou word. En les 28 van die Geniet die lewe vir ewig!-boek gee ons ’n hele paar goeie punte wat ons met hulle kan deel.

16. Watter ander vrae het dié dalk wat die Gedenkmaal bywoon?

16 Nadat nuwe belangstellendes die Gedenkmaal bygewoon het, het hulle dalk ander vrae. Miskien wonder hulle hoekom net ’n paar (indien enige) van die embleme gebruik het. Hulle wonder dalk ook hoe dikwels ons die Gedenkmaal herdenk. En hulle wil dalk weet of al die vergaderinge van Jehovah se Getuies op dieselfde manier gehou word. Al word baie van hierdie punte gedurende die Gedenkmaaltoespraak bespreek, sal die nuwelinge dalk ’n meer gedetailleerde verduideliking nodig hê. Die artikel op jw.org met die titel “Waarom verskil die manier waarop Jehovah se Getuies die Here se Aandmaal herdenk, van hoe ander godsdienste dit doen?” kan ons help om party van hulle vrae te beantwoord. Ons wil doen wat ons ook al kan – voor, gedurende en ná die Gedenkmaal – om dié te help wat “die regte gesindheid” het om by hierdie herdenking baat te vind. – Hand. 13:48.

HELP ONBEDRYWIGES

17. Hoe kan ouermanne dié help wat onbedrywig is? (Esegiël 34:​12, 16)

17 Hoe kan ouermanne onbedrywiges help gedurende die Gedenkmaalseisoen? Gee hulle liefdevolle aandag. (Lees Esegiël 34:​12, 16.) Probeer om voor die Gedenkmaal soveel as moontlik te kontak. Verseker hulle van julle liefde en julle begeerte om hulle te help op enige manier wat julle kan. Nooi hulle na die Gedenkmaal. As hulle dit bywoon, verwelkom hulle liefdevol. Bly ná die Gedenkmaal in kontak met hierdie dierbare broers en susters, en gee hulle watter hulp hulle ook al nodig het om na Jehovah terug te keer. – 1 Pet. 2:25.

18. Hoe kan ons almal onbedrywiges help? (Romeine 12:10)

18 Almal in die gemeente kan onbedrywiges help wat die Gedenkmaal bywoon. Hoe? Deur liefdevol, vriendelik en respekvol teenoor hulle te wees. (Lees Romeine 12:10.) Onthou dat hierdie dierbare skapies dalk gehuiwer het om weer ’n vergadering by te woon. Dalk was hulle bang vir hoe mense in die gemeente sou reageer. e So vermy dit om ongemaklike vrae te vra of om iets te sê wat hulle kan seermaak (1 Tess. 5:11). Hierdie broers en susters is ons medeaanbidders. Ons is bly om weer saam met hulle te aanbid! – Ps. 119:176; Hand. 20:35.

19. Hoe vind ons daarby baat wanneer ons Jesus se dood herdenk?

19 Dit is geen wonder dat Jesus gereël het dat ons elke jaar sy dood herdenk nie. Wanneer ons dit doen, vind ons en ander op baie maniere daarby baat (Jes. 48:​17, 18). Ons liefde vir Jehovah en Jesus word sterker. Ons wys hoe baie ons dit wat hulle vir ons gedoen het, waardeer. Ons kom al hoe nader aan ons broers en susters. En ons help ander dalk om te leer hoe hulle ook die seëninge kan geniet wat die losprys moontlik maak. So laat ons alles doen wat ons kan om gereed te wees vir hierdie jaar se Gedenkmaal – die belangrikste dag van die jaar!

HOE KAN ONS . . .

  • ons hart vir die Gedenkmaal voorberei?

  • ander help om daarby baat te vind?

  • onbedrywiges help?

LIED 18 Dankbaar vir die losprys

a Gebruik die soekfunksie op jw.org om die artikels en video’s te vind waarna hierdie artikel verwys.

b Sien die artikel “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van April 2021.

d Sien die venster “ Idees vir navorsing”.

e Sien die prente en die venster “ Hoe het die gemeente gereageer?” ’n Onbedrywige broer is huiwerig om by die Koninkryksaal in te gaan, maar hy oorkom die gevoel. Hy word liefdevol verwelkom en geniet dit om daar te wees.

f BESKRYWING VAN PRENT: Terwyl Jehovah se volk die Gedenkmaal in een gebied van die wêreld herdenk, berei hulle broers en susters van ander dele van die wêreld voor vir daardie spesiale geleentheid.