Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Behandel jy vrouens soos Jehovah hulle behandel?

Behandel jy vrouens soos Jehovah hulle behandel?

ONS het die voorreg om Jehovah saam met baie getroue vrouens te dien. En ons is lief vir en waardeer elkeen van hierdie lojale, hardwerkende susters! a So broers, probeer om hulle met liefde, regverdigheid en respek te behandel. Maar omdat ons onvolmaak is, sukkel ons dalk soms om dit te doen. Party broers het nog ’n uitdaging.

Party het in kulture grootgeword waarin baie mans vrouens as minderwaardig behandel. Byvoorbeeld, Hans, ’n kringopsiener in Bolivia, sê: “Party mans was in ’n baie macho-kultuur grootgemaak, wat veroorsaak het dat hulle ’n diepgewortelde gevoel ontwikkel dat mans beter is as vrouens.” b Shengxian, ’n ouerman in Taiwan, sê: “Waar ek bly, voel baie mans dat vrouens nie hulle neus in hulle sake moet steek nie. As ’n man ’n vrou se opinie oor iets noem, sal ander mans dalk op hom neerkyk.” Ander mans wys op minder opvallende maniere dat hulle teen vrouens diskrimineer. Byvoorbeeld, hulle vertel dalk disrespekvolle grappies oor vrouens.

Gelukkig is geen man vasgevang in die kultuur waarin hy grootgeword het nie. Hy kan die gevoel oorkom dat mans beter is as vrouens (Ef. 4:​22-24). Dit kan gedoen word deur Jehovah se voorbeeld na te volg. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe Jehovah vrouens behandel, hoe broers kan leer om vrouens te behandel soos Jehovah hulle behandel en hoe ouermanne die leiding daarin kan neem om te wys dat hulle susters respekteer.

HOE BEHANDEL JEHOVAH VROUENS?

Jehovah stel die perfekte voorbeeld wanneer dit kom by hoe om vrouens te behandel. Hy is ’n liefdevolle Vader wat al sy kinders liefhet (Joh. 3:16). En getroue susters is soos kosbare dogters vir hom. Kyk na die volgende maniere hoe Jehovah wys dat hy vrouens liefhet en respekteer.

Hy behandel hulle onpartydig. Jehovah het mans en vrouens na sy beeld geskep (Gen. 1:27). Hy het nie mans intelligenter of talentvoller as vrouens gemaak nie; hy verkies ook nie mans bo vrouens nie (2 Kron. 19:7). Hy het mans en vrouens geskep met dieselfde verstandelike vermoë om Bybelwaarhede te verstaan en sy pragtige eienskappe te openbaar. Jehovah beskou ook die geloof van mans en vrouens as ewe belangrik – of hulle nou die hoop het om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe of om as konings en priesters in die hemel te dien (2 Pet. 1:1). Dit is duidelik dat Jehovah nie teen vrouens diskrimineer nie.

Hy luister na hulle. Jehovah stel belang in die gevoelens en bekommernisse van vrouens. Byvoorbeeld, hy het na die gebede van Ragel en Hanna geluister en dit beantwoord (Gen. 30:22; 1 Sam. 1:​10, 11, 19, 20). Jehovah het ook Bybelskrywers geïnspireer om verslae van manne in te sluit wat na vrouens geluister het. Byvoorbeeld, Abraham was gehoorsaam aan Jehovah se instruksie om na sy vrou, Sara, te luister (Gen. 21:​12-14). Koning Dawid het na Abigail geluister. Om die waarheid te sê, hy het gevoel dat Jehovah haar gestuur het om met hom te praat (1 Sam. 25:​32-35). Jesus, wat sy Vader se eienskappe volmaak openbaar, het na sy ma, Maria, geluister (Joh. 2:​3-10). Hierdie voorbeelde beklemtoon dat een manier hoe Jehovah wys dat hy vrouens respekteer, is deur na hulle te luister.

Hy vertrou hulle. Byvoorbeeld, Jehovah het Eva vertrou om te help om vir die hele aarde te sorg (Gen. 1:28). Deur dit te doen, het hy gewys dat hy haar nie as minderwaardig in vergelyking met haar man, Adam, beskou het nie, maar as ’n komplement aan hom. Jehovah het ook die profetesse Debora en Hulda vertrou om sy volk, insluitende ’n rigter en ’n koning, raad te gee (Rigt. 4:​4-9; 2 Kon. 22:​14-20). Vandag vertrou Jehovah Christenvrouens om sy werk uit te voer. Hierdie getroue susters dien as verkondigers, pioniers en sendelinge. Hulle help om Koninkryksale en takfasiliteite te ontwerp, te bou en in stand te hou. Party van hulle dien by Bethel; ander dien in vertaalkantore. Hierdie susters is soos ’n groot leërmag wat Jehovah gebruik om sy wil te bereik (Ps. 68:11). Dit is duidelik dat Jehovah vrouens nie as swak of onbekwaam beskou nie.

HOE KAN BROERS LEER OM VROUENS TE BEHANDEL SOOS JEHOVAH HULLE BEHANDEL?

Broers, om te bepaal of ons Christensusters behandel soos Jehovah hulle behandel, moet ons ons denke en dade eerlik ondersoek. Om dit te doen, het ons hulp nodig. Net soos ’n X-straalmasjien kan wys of daar mediese probleme in ’n persoon se letterlike hart is, kan ’n goeie vriend en God se Woord ons help om te sien of ons enige negatiewe gevoelens oor vrouens diep binne ons het. Wat kan ons doen om daardie hulp te ontvang?

Vra ’n goeie vriend (Spr. 18:17). Dit sal goed wees as ons ’n betroubare vriend wat daarvoor bekend is dat hy liefdevol en gebalanseerd is, vrae vra soos: “Hoe dink jy behandel ek susters? Voel hulle dat ek hulle respekteer? Is daar iets wat ek kan doen om hulle beter te behandel?” As jou vriend ’n paar maniere noem waarop jy kan verbeter, moenie jouself begin verdedig nie. Wees eerder bereid om die nodige veranderinge te maak.

Studeer God se Woord. Die beste manier vir ons om te weet of ons susters goed behandel, is om ons gesindheid en dade met die hulp van God se Woord te ondersoek (Heb. 4:12). Terwyl ons die Bybel studeer, leer ons oor mans wat vrouens goed behandel het en mans wat dit nie gedoen het nie. Ons kan dan hulle dade met ons eie vergelyk. En as ons Bybelverse vergelyk, kan dit keer dat ons onbewustelik tekste buite konteks toepas om ’n verkeerde beskouing wat ons oor vrouens het, te ondersteun. Byvoorbeeld, volgens 1 Petrus 3:7 moet ’n man sy vrou met respek behandel, want sy is “swakker, soos ’n delikate houer”. c Beteken dit dat sy minderwaardig – minder intelligent of bekwaam – is in vergelyking met ’n man? Glad nie! Vergelyk Petrus se woorde met wat Galasiërs 3:​26-29 aandui, naamlik dat Jehovah vrouens sowel as mans gekies het om saam met Jesus in die hemel te regeer. Wanneer ons God se Woord studeer en ’n goeie vriend vir sy of haar kommentare vra oor hoe ons vrouens behandel, kan ons leer om die gepaste respek vir ons susters te wys.

HOE WYS OUERMANNE DAT HULLE SUSTERS RESPEKTEER?

Broers in die gemeente kan ook leer om susters met respek te behandel deur die voorbeeld van liefdevolle ouermanne te volg. Hoe neem ouermanne die leiding daarin om respek vir susters te wys? Kyk na ’n paar spesifieke maniere.

Hulle prys susters. Die apostel Paulus het ’n goeie voorbeeld gestel vir ouermanne om na te volg. Hy het ’n hele paar susters in die openbaar geprys in die brief wat hy aan die gemeente in Rome geskryf het (Rom. 16:12). Kan jy jou voorstel hoe bly daardie susters was toe Paulus se brief aan die gemeente gelees is? Net so prys ouermanne susters vryelik vir hulle goeie eienskappe en vir die werk wat hulle vir Jehovah doen. Dit maak susters bewus van hoe baie hulle gerespekteer en waardeer word. Die aanmoedigende woorde van ’n ouerman is dalk presies wat hierdie susters nodig het terwyl hulle Jehovah getrou bly dien. – Spr. 15:23.

Prys

Wanneer ouermanne susters prys, moet hulle opreg en spesifiek wees. Hoekom? ’n Suster met die naam Jessica sê: “Dit is lekker wanneer broers vir ’n suster sê ‘welgedaan’. Maar ons waardeer dit veral wanneer broers ons vir iets spesifieks prys, soos wanneer ons ons kinders leer om stil te sit by die vergaderinge of wanneer ons uit ons pad uit gaan om ’n Bybelstudent vir die vergadering op te laai.” Wanneer ouermanne susters vir iets spesifieks prys, laat hulle susters waardevol voel in die gemeente.

Hulle luister na susters. Nederige ouermanne erken dat hulle nie die enigstes is wat goeie idees het nie. Sulke ouermanne nooi susters om hulle voorstelle te gee, en hulle luister mooi wanneer susters praat. Deur dit te doen, moedig ouermanne susters aan en vind hulle daarby baat. Hoe? ’n Ouerman met die naam Gerardo, wat by Bethel dien, sê: “Ek het gevind dat om susters vir hulle opinie te vra my help om my werk beter te doen. Dikwels het hulle die werk al langer as die meeste broers gedoen.” In die gemeente dien baie susters as pioniers, en daarom weet hulle baie oor die mense wat in die plaaslike gebied bly. ’n Ouerman met die naam Bryan sê: “Ons susters het baie om vir die organisasie te gee. So vind baat by hulle ondervinding!”

Luister

Wyse ouermanne is nie gou om susters se voorstelle te ignoreer nie. Hoekom nie? ’n Ouerman met die naam Edward sê: “’n Suster se opinie en ondervinding kan ’n broer help om ’n saak beter te verstaan, en dit kan hom help om empatie te ontwikkel” (Spr. 1:5). Al kan ’n ouerman nie ’n suster se voorstel gebruik nie, kan hy haar nog steeds bedank vir haar voorstel en dat sy haar insig gedeel het.

Hulle lei susters op. Wyse ouermanne soek na geleenthede om susters op te lei. Byvoorbeeld, hulle kan susters leer hoe om velddiensvergaderinge te hou wanneer ’n gedoopte broer nie beskikbaar is nie. Hulle kan hulle leer om met gereedskap of masjinerie te werk sodat hulle met teokratiese instandhoudings- en bouprojekte kan help. By Bethel het opsieners susters opgelei om na verskillende toewysings om te sien, insluitende instandhoudingswerk, aankope, rekeninge, rekenaarprogrammering, ensovoorts. Wanneer ouermanne susters oplei, wys hulle dat hulle susters as bekwaam en betroubaar beskou.

Lei op

Baie susters gebruik die opleiding wat hulle by ouermanne ontvang het om ander te help. Byvoorbeeld, party susters gebruik die opleiding wat hulle in konstruksie ontvang het om ander te help om hulle huise te herbou ná ’n natuurramp. Ander susters gebruik die vaardighede wat hulle in die openbare getuieniswerk geleer het om meer susters in hierdie aspek van die bediening op te lei. Hoe voel susters oor die ouermanne wat hulle opgelei het? ’n Suster met die naam Jennifer sê: “Toe ek op een Koninkryksaalbouprojek gewerk het, het ’n opsiener die tyd geneem om my op te lei. Hy het die werk wat ek gedoen het, raakgesien, en hy het my daarvoor geprys. Ek het dit geniet om saam met hom te werk omdat ek gevoel het dat hy my waardeer en vertrou.”

DIE VOORDELE WAT DIT INHOU WANNEER ONS SUSTERS SOOS FAMILIE BEHANDEL

Ons is lief vir ons getroue susters net soos Jehovah! Daarom behandel ons hulle soos familie (1 Tim. 5:​1, 2). Ons is bevoorreg en trots om saam met hulle te dien. En ons is baie gelukkig wanneer hulle weet dat ons hulle liefhet en hulle ondersteun. ’n Suster met die naam Vanessa sê: “Ek is so dankbaar teenoor Jehovah omdat ek deel kan wees van sy organisasie, wat vol broers is wat my baie aangemoedig het.” ’n Suster in Taiwan sê: “Ek is baie dankbaar dat vrouens en ons gevoelens so kosbaar is vir Jehovah en sy organisasie. Dit versterk my geloof en help my om die voorreg wat ek het om deel te wees van Jehovah se organisasie selfs meer te waardeer.”

Jehovah is seker so trots wanneer hy sien hoe getroue Christenmans probeer om vrouens net soos hy te beskou en te behandel! (Spr. 27:11). “Die wêreld se beskouing van vrouens kan baie disrespekvol wees,” sê ’n ouerman in Skotland met die naam Benjamin. “So wanneer vrouens in ’n Koninkryksaal instap, wil ons hê dat hulle die verskil moet voel.” Mag ons almal ons bes doen om Jehovah na te volg deur ons dierbare susters met die liefde en respek te behandel wat hulle verdien. – Rom. 12:10.

a In hierdie artikel verwys die term “susters” deurgaans na Christensusters, nie ’n persoon se fisiese susters nie.

b Die term “macho”, of “machismo”, beskryf mans wat ’n oordrewe gevoel van manlike trots of mag openbaar. Hierdie mans verheerlik dikwels manlike denke en gedrag, en hulle is disrespekvol teenoor vrouens.

c Vir ’n gedetailleerde verduideliking van die uitdrukking “delikate houer” sien die artikels met die titel “Die waarde van ‘’n swakker vat’” in Die Wagtoring van 15 Mei 2006 en “Wyse raad vir egpare” in Die Wagtoring van 1 Maart 2005.