Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 5

LIED 27 Die openbaring van die seuns van God

“Ek sal jou nooit . . . in die steek laat nie”!

“Ek sal jou nooit . . . in die steek laat nie”!

“[God] het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie.’”HEB. 13:5b.

DOEL

Om God se knegte op die aarde te verseker dat hy hulle nie in die steek sal laat wanneer al die oorblywende gesalfde Christene hemel toe geneem is nie.

1. Wanneer sal al die gesalfdes in die hemel wees?

 JARE gelede het Jehovah se volk gewonder: ‘Wanneer sal die laaste gesalfde Christene hemel toe geneem word?’ Ons het op een stadium gedink dat party van die gesalfdes dalk ’n ruk lank in die aardse Paradys sal bly ná die oorlog van Armageddon. Maar in Die Wagtoring van 15 Julie 2013 het ons geleer dat die gesalfdes wat nog steeds op die aarde is, hemel toe geneem sal word voordat Armageddon uitbreek. – Matt. 24:31.

2. Watter vraag ontstaan dalk, en wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

2 Maar die volgende vraag ontstaan dalk: Wat sal met Christus se “ander skape” gebeur wat Jehovah getrou op die aarde sal dien gedurende die “groot verdrukking”? (Joh. 10:16; Matt. 24:21). Party van die “ander skape” is dalk bekommerd dat hulle verlore sal voel of sal voel dat hulle in die steek gelaat is wanneer hulle geliefde gesalfde broers en susters hemel toe geneem word. Kom ons ondersoek twee Bybelverslae wat kan veroorsaak dat hulle so dink. Dan sal ons redes bespreek hoekom ons nie bekommerd hoef te wees nie.

WAT SAL NIE GEBEUR NIE?

3-4. Wat wonder party dalk, en hoekom?

3 Party is dalk bekommerd dat die ander skape sal ophou om Jehovah te dien wanneer die gesalfde broers van die Bestuursliggaam nie meer daar is om hulle te lei nie. Hulle voel dalk so as gevolg van sekere Bybelverhale. Kom ons kyk na twee voorbeelde. Die eerste een is dié van die hoëpriester Jojada. Hy was ’n getroue kneg van God. Hy en sy vrou, Josabat, het ’n jong seuntjie met die naam Joas beskerm en hom gehelp om ’n goeie en getroue koning te word. Terwyl die bejaarde Jojada gelewe het, het Joas goed gedoen. Maar nadat Jojada gesterf het, het Joas begin om slegte dinge te doen. Hy het na die goddelose leiers geluister en Jehovah verlaat. – 2 Kron. 24:​2, 15-19.

4 Die volgende voorbeeld is dié van die tweede-eeuse Christene. Die apostel Johannes, die laaste apostel wat toe nog gelewe het, het ’n goeie invloed gehad op baie Christene en het hulle gehelp om in hulle diens aan Jehovah te volhard (3 Joh. 4). Johannes en Jesus se ander getroue apostels het toe al ’n ruk lank hard gestry teen die afvalligheid wat besig was om te versprei (1 Joh. 2:18; 2 Tess. 2:7). Maar nadat Johannes gesterf het, het afvalligheid soos ’n veldbrand versprei. Binne ’n paar dekades het die Christengemeente erg besoedel geword.

5. Watter gevolgtrekkings moet ons nie uit daardie twee verslae maak nie?

5 Wys hierdie twee Bybelvoorbeelde dat iets soortgelyks met Christus se ander skape sal gebeur wanneer die gesalfdes hemel toe geneem word? Sal getroue Christene op die aarde dan van hulle opleiding afdwaal, soos Joas, of afvallig word, soos baie Christene gedurende die tweede eeu HJ? Die antwoord is beslis nie! Ons kan seker wees dat daar goed gekyk sal word na die ander skape en dat hulle geestelik sal floreer wanneer die gesalfdes hemel toe geneem word. Hoekom kan ons daarvan oortuig wees?

REIN AANBIDDING SAL NIE BESOEDEL WORD NIE

6. Watter drie tydperke sal ons kortliks bespreek?

6 Hoekom kan ons daarvan oortuig wees dat rein aanbidding, selfs gedurende die moeilike tye wat vir ons voorlê, nie besoedel sal word nie? As gevolg van wat ons uit die Bybel geleer het oor die tydperk waarin ons lewe. Hierdie tydperk verskil grootliks van die tyd van eertydse Israel en die tyd van die tweede-eeuse Christene. So kom ons ondersoek hierdie drie tydperke: (1) Die tyd van eertydse Israel, (2) die tydperk nadat die apostels gesterf het en (3) ons tyd, “die tyd wanneer alle dinge herstel word”. – Hand. 3:21.

7. Hoekom het getroue Israeliete nie hoop verloor toe die nasie en sy konings ’n goddelose weg gekies het nie?

7 Die tyd van eertydse Israel. Kort voor sy dood het Moses vir die Israeliete gesê: “Ek weet goed dat julle ná my dood goddeloos sal optree en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het” (Deut. 31:29). Moses het ook gewaarsku dat die nasie in ballingskap weggestuur sou word as die Israeliete rebelleer (Deut. 28:​35, 36). Het daardie woorde waar geword? Ja. Vir honderde jare het baie konings ’n goddelose weg gekies en God se volk laat afdwaal. As gevolg daarvan het Jehovah die goddelose Israeliete gestraf en nie meer toegelaat dat Israelitiese konings oor hulle regeer nie (Eseg. 21:​25-27). Maar toe getroue Israeliete sien dat God se woord waar geword het, het dit hulle die moed gegee om hom getrou te bly dien. – Jes. 55:​10, 11.

8. Moet ons verbaas wees dat die tweede-eeuse Christengemeente besoedel geword het? Verduidelik.

8 Die tydperk nadat die apostels gesterf het. Moet ons verbaas wees dat die tweede-eeuse Christengemeente besoedel geword het? Glad nie. Jesus het voorspel dat ’n groot afvalligheid sou plaasvind (Matt. 7:​21-23; 13:​24-30, 36-43). Die apostels Paulus, Petrus en Johannes het almal bevestig dat die vervulling van Jesus se profesie alreeds in die eerste eeu HJ begin het (2 Tess. 2:​3, 7; 2 Pet. 2:1; 1 Joh. 2:18). In die tweede eeu HJ het die Christengemeente besoedel geword. Die afvallige Christelike godsdiens het ontstaan en ’n belangrike deel geword van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. Geïnspireerde profesie was weer besig om vervul te word.

9. Hoe verskil die tydperk waarin ons lewe van die tyd van eertydse Israel en van die tyd van die tweede-eeuse Christengemeente?

9 “Die tyd wanneer alle dinge herstel word.” Ons tyd verskil van die tyd van eertydse Israel en van die tyd van die groot afvalligheid wat gedurende die tweede eeu HJ begin het. Wat word ons tydperk genoem? Ons verwys gewoonlik na die tyd waarin ons lewe as “die laaste dae” van hierdie goddelose wêreldstelsel (2 Tim. 3:1). Maar die Bybel wys dat ’n belangriker en langer tydperk op dieselfde tyd begin het. Dit sal aanhou totdat die Messiaanse Koninkryk die mensdom tot volmaaktheid herstel het en die aarde in ’n paradys verander het. Hierdie tydperk word “die tyd wanneer alle dinge herstel word” genoem (Hand. 3:21). Hierdie periode het in 1914 begin. Wat was toe herstel? Wel, Jesus is as Koning in die hemel gekroon. So Jehovah het weer eens ’n heerser gehad om Hom te verteenwoordig, ’n erfgenaam van getroue koning Dawid. Maar daardie koningskap is nie al wat Jehovah herstel het nie. Kort daarna het Jehovah begin om rein aanbidding uiteindelik te herstel! (Jes. 2:​2-4; Eseg. 11:​17-20). Sal dit weer besoedel word?

10. (a) Wat voorspel die Bybel oor rein aanbidding in ons tyd? (Jesaja 54:17) (b) Hoekom stel sulke profesieë ons gerus?

10 Lees Jesaja 54:17. Dink aan daardie profesie: “Geen wapen wat gemaak word om jou aan te val, sal enige sukses hê nie”! Daardie geïnspireerde woorde word vandag vervul. Die volgende vertroostende woorde is ook op ons tyd van toepassing: “Al jou kinders sal deur Jehovah geleer word, en jou kinders sal groot vrede geniet. Jy sal stewig gevestig wees in regverdigheid. . . . Jy sal niks vrees nie, en niks sal vir jou angs veroorsaak nie, want dit sal nie naby jou kom nie” (Jes. 54:​13, 14). Selfs “die god van hierdie wêreld”, Satan, kan nie die onderrigtingswerk stop wat Jehovah se volk uitvoer nie (2 Kor. 4:4). Rein aanbidding is herstel, en dit sal nooit weer besoedel word nie. Dit is hier om te bly, vir ewig. Geen wapen wat gemaak word om ons aan te val, sal suksesvol wees nie!

WAT SAL GEBEUR?

11. Wat oortuig ons dat die groot menigte nie in die steek gelaat sal word wanneer die gesalfdes hemel toe gaan nie?

11 Wat sal gebeur wanneer die gesalfdes hemel toe geneem word? Onthou, Jesus is ons Herder. Hy is die hoof van die Christengemeente. Jesus het duidelik gesê: “Julle het net een Leier, die Christus” (Matt. 23:10). Ons heersende Koning sal altyd vir sy ware volgelinge sorg. Omdat Christus in beheer is, het sy volgelinge hier op die aarde niks om voor bang te wees nie. Ons weet natuurlik nie presies hoe Christus sy volk op daardie tyd sal lei nie. So kom ons bespreek ’n paar Bybelvoorbeelde wat ons kan gerusstel.

12. Hoe het Jehovah vir sy volk gesorg (a) nadat Moses gesterf het? (b) nadat Elia ’n ander toewysing gekry het? (Sien ook prent.)

12 Voordat Israel die Beloofde Land binnegegaan het, het Moses gesterf. Wat het met God se volk gebeur? Het Jehovah opgehou om sy volk te help nadat hierdie getroue man gesterf het? Nee. Solank as wat hulle getrou gebly het, het Jehovah vir hulle gesorg. Voordat Moses gesterf het, het Jehovah vir hom gesê om Josua aan te stel om die volk te lei. Moses was al baie jare lank besig om Josua op te lei (Eks. 33:11; Deut. 34:9). En daar was baie ander bekwame mans wat die leiding geneem het – hoofde oor 1 000, 100, 50 en selfs 10 (Deut. 1:15). Daar was goed vir God se volk gesorg. ’n Soortgelyke voorbeeld is dié van Elia. Hy het jare lank die leiding geneem in rein aanbidding onder die Israeliete. Maar later het Jehovah hom die toewysing gegee om in Juda te dien (2 Kon. 2:1; 2 Kron. 21:12). Was getroue mense in die tienstammeryk van Israel in die steek gelaat? Nee. Elia was al jare lank besig om Elisa op te lei. Dan was daar ook “die seuns van die profete”, wat waarskynlik in opleidingskole ingedeel was (2 Kon. 2:7). As gevolg daarvan kon baie getroue manne help om God se volk te lei. Jehovah het aangehou om sy doel te bereik, en hy het vir sy getroue aanbidders gesorg.

Moses (prent aan die linkerkant) en Elia (prent aan die regterkant) het elkeen ’n bekwame opvolger opgelei (Sien paragraaf 12)


13. Watter versekering kan ons in Hebreërs 13:5b vind? (Sien ook prent.)

13 Met daardie voorbeelde in gedagte, wat dink jy sal gebeur wanneer die laaste gesalfdes hemel toe geneem word? Ons hoef nie te wonder nie. Die Bybel openbaar ’n eenvoudige, gerusstellende waarheid: Jehovah sal nooit sy volk op die aarde in die steek laat nie. (Lees Hebreërs 13:5b.) Soos Moses en Elia verstaan die klein groep gesalfde Christene wat vandag die leiding neem hoe belangrik dit is om ander op te lei. Die broers van die Bestuursliggaam lei al baie jare lank manne onder die ander skape op om die leiding te neem. Byvoorbeeld, hulle het baie skole georganiseer om ouermanne, reisende opsieners, Takkomiteelede, opsieners by Bethel en ander op te lei. Die Bestuursliggaam lei persoonlik helpers van verskillende komitees van die Bestuursliggaam op. Hierdie helpers hanteer nou baie verantwoordelikhede in die organisasie getrou. Hulle is goed voorbereid om aan te hou met die werk om vir Christus se skape te sorg.

Die Bestuursliggaam het hard gewerk om helpers op te lei en om skole te organiseer om ouermanne, reisende opsieners, Takkomiteelede, opsieners by Bethel en sendelinge regoor die wêreld op te lei (Sien paragraaf 13)


14. Wat is die hoofpunt van hierdie bespreking?

14 Hier is die hoofpunt van ons bespreking: Wanneer die laaste gesalfdes na aan die einde van die groot verdrukking hemel toe geneem word, sal rein aanbidding hier op die aarde voortgaan. Danksy Jesus Christus se leierskap sal God se aanbidders nooit ophou om Jehovah getrou te dien nie. Ons weet dat ons op daardie tyd aangeval sal word deur Gog van Magog, ’n vyandige groep nasies (Eseg. 38:​18-20). Maar daardie kort aanval sal misluk; dit sal nie God se volk keer om Jehovah te aanbid nie. Hy sal hulle beslis red! In ’n visioen het die apostel Johannes die “groot menigte” van Christus se ander skape gesien. Daar is vir Johannes gesê dat hierdie “groot menigte” dié is wat “uit die groot verdrukking” kom (Op. 7:​9, 14). Ja, hulle sal veilig gehou word!

15-16. Volgens Openbaring 17:14 wat sal Christus se gesalfdes doen gedurende die oorlog van Armageddon, en hoekom is dit aanmoedigend?

15 Maar party wonder dalk: ‘Wat van die gesalfdes? Wat sal hulle doen nadat hulle hemel toe gaan?’ Die Bybel gee ’n direkte antwoord op daardie vraag. Dit wys dat die regerings van hierdie wêreld “teen die Lam [sal] veg”. Hulle sal natuurlik verloor. Ons lees: “Die Lam sal hulle oorwin.” En wie sal hom help? Die vers gee die antwoord. Dié wat “geroep”, “uitgekies” en “getrou” is. (Lees Openbaring 17:14.) Wie is dit? Die gesalfdes wat opgewek is! So wanneer die laaste gesalfdes op die aarde na aan die einde van die groot verdrukking hemel toe geneem word, sal een van hulle eerste toewysings wees om te veg. Wat ’n ongelooflike toewysing! Party gesalfde Christene was vegters voordat hulle Jehovah se Getuies geword het. Party het selfs in die weermag gedien. Maar later het hulle ware Christene geword en geleer hoe om in vrede met ander te lewe (Gal. 5:22; 2 Tess. 3:16). Hulle het opgehou om oorloë te ondersteun. Maar nadat hulle tot lewe in die hemel opgewek is, sal hulle saam met Christus en sy heilige engele veg in die finale oorlog teen God se vyande.

16 Dink net! Party gesalfde Christene op die aarde is bejaard en selfs swak. Maar wanneer hulle tot lewe in die hemel opgewek word, sal hulle magtige en onsterflike geesskepsele wees, met die toewysing om saam met hulle Stryder-Koning, Jesus Christus, te veg. Ná die oorlog van Armageddon sal hulle saam met Jesus werk om mense te help om volmaak te word. Hulle sal sonder twyfel vanuit die hemel baie meer goeie dinge vir hulle geliefde broers en susters op die aarde kan doen as wat hulle ooit kon doen toe hulle blote onvolmaakte mense was!

17. Hoe weet ons dat al God se knegte gedurende die oorlog van Armageddon veilig sal wees?

17 Is jy een van die ander skape? As dit die geval is, wat sal jy moet doen wanneer die baie belangrike oorlog van Armageddon begin? Net dit: Vertrou op Jehovah, en volg sy leiding. Wat sal dit dalk insluit? Die Bybel gee hierdie vertroostende woorde: “Gaan in julle binnekamers in, . . . en sluit julle deure agter julle toe. Verberg julle vir net ’n oomblik, totdat die woede verby is” (Jes. 26:20). Al God se getroue knegte, in die hemel en op die aarde, sal gedurende daardie tyd veilig wees. Soos die apostel Paulus is ons oortuig dat nie “regerings of dinge wat nou gebeur of dinge wat nog gaan gebeur . . . ons sal kan skei van God se liefde [nie]” (Rom. 8:​38, 39). Onthou altyd: Jehovah is lief vir jou, en hy sal jou nooit in die steek laat nie!

WANNEER DIE LAASTE GESALFDE CHRISTENE HEMEL TOE GENEEM WORD,

  • wat sal nie gebeur nie?

  • hoekom kan ons seker wees dat rein aanbidding nie besoedel sal word nie?

  • hoekom kan ons daarvan oortuig wees dat Jehovah vir sy volk sal sorg?

LIED 8 Jehovah is ons toevlug