Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 6

LIED 10 Loof Jehovah, ons God!

“Loof die naam van Jehovah”

“Loof die naam van Jehovah”

“Bring lof, o knegte van Jehovah, loof die naam van Jehovah.”PS. 113:1.

DOEL

Om te beklemtoon wat ons motiveer om Jehovah se heilige naam by elke geleentheid te loof.

1-2. Wat kan ons help verstaan hoe Jehovah voel oor die leuens wat oor hom vertel is?

 DINK hieraan: Iemand vir wie jy omgee, sê iets verskrikliks oor jou. Jy weet dat dit ’n leuen is; tog glo party dit. Wat dit selfs erger maak, is dat hulle begin om die leuen oor te vertel, en baie ander glo dit ook. Hoe sou jy voel? As jou goeie reputasie en mense vir jou belangrik is, sou die leuen jou beslis sleg laat voel. – Spr. 22:1.

2 Hierdie scenario kan ons help verstaan hoe Jehovah gevoel het toe sy reputasie beskadig is. Een van sy geesseuns het vir die eerste vrou, Eva, ’n leuen oor hom vertel. Sy het die leuen geglo. Daardie leuen het veroorsaak dat ons eerste ouers teen Jehovah rebelleer. As gevolg daarvan sondig alle mense en sterf hulle op die ou end (Gen. 3:​1-6; Rom. 5:12). Al die probleme wat ons in die wêreld sien – die sterftes, die oorloë, die hartseer – is die resultaat van die leuens wat Satan in die tuin van Eden begin versprei het. Voel Jehovah hartseer as gevolg van al hierdie leuens en die resultate daarvan? Beslis. Maar Jehovah is nie bitter nie. Om die waarheid te sê, hy bly “die gelukkige God”. – 1 Tim. 1:11.

3. Watter voorreg het ons?

3 Ons het die voorreg om by te dra tot die regverdiging van Jehovah se naam deur gehoorsaam te wees aan hierdie eenvoudige bevel: “Loof die naam van Jehovah” (Ps. 113:1). Ons doen dit deur goed te praat van die Een wat deur daardie heilige naam verteenwoordig word. Sal jy dit doen? Kom ons bespreek drie kragtige redes wat ons sal help om die naam van ons God heelhartig te loof.

ONS MAAK JEHOVAH GELUKKIG WANNEER ONS SY NAAM LOOF

4. Hoekom maak dit Jehovah gelukkig wanneer ons hom loof? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook prent.)

4 Ons maak ons hemelse Vader gelukkig wanneer ons sy naam loof (Ps. 119:108). Maar beteken dit dat die almagtige God soos onvolmaakte mense is wat wil hê dat ander hulle moet prys omdat hulle onseker van hulleself voel? Nee. Kyk na ’n voorbeeld. ’n Klein dogtertjie gooi haar arms liefdevol om haar pa se nek en sê: “Pa is die beste pa in die hele wêreld!” Dit maak die pa gelukkig, hy is selfs diep geraak, omdat hy dit nie verwag het nie. Hoekom? Dit is nie omdat hy onseker van homself voel en lof van sy dogter nodig het nie. Dit is eerder omdat hy sy dogter liefhet en bly is dat sy liefde en waardering wys. Hy weet dat sulke eienskappe sal bydra tot haar geluk terwyl sy grootword. Vir soortgelyke redes maak dit Jehovah, die grootste Vader, gelukkig wanneer ons hom loof.

Net soos dit ’n pa gelukkig maak wanneer sy kind liefde en waardering wys, maak dit Jehovah gelukkig wanneer ons sy naam loof (Sien paragraaf 4)


5. Watter leuen word as onwaar bewys wanneer ons Jehovah loof?

5 Wanneer ons ons hemelse Vader loof, help ons om te bewys dat ’n leuen wat ons persoonlik raak, onwaar is. Satan beweer dat geen mens God se naam lojaal sal verdedig nie. Volgens hom het nie een van ons integriteit nie. Hy sê dat ons almal teen God sou draai as ons dink dat ons daarby sou baat vind (Job 1:​9-11; 2:4). Maar getroue Job het bewys dat Satan ’n leuenaar is. Wat van jou? Elkeen van ons het die voorreg om lojaal op te staan vir ons Vader se naam en hom gelukkig te maak deur hom met integriteit te dien (Spr. 27:11). Dit is werklik ’n eer om dit te doen.

6. Hoe kan ons koning Dawid en die Leviete navolg? (Nehemia 9:5)

6 Liefde vir God motiveer mense om sy naam heelhartig te loof. Koning Dawid het geskryf: “Ek sal Jehovah loof. Met alles wat binne-in my is, sal ek sy heilige naam loof” (Ps. 103:1). Dawid het geweet dat ons eintlik Jehovah self loof wanneer ons Jehovah se naam loof. Jehovah se naam sluit sy reputasie in, so dit laat ons dink aan al sy pragtige eienskappe en sy wonderlike dade. Dawid wou sy Vader se naam as heilig beskou en dit loof. Hy wou dit doen met “alles wat binne-in” hom is – dit wil sê heelhartig. Net so het die Leviete die leiding daarin geneem om Jehovah te loof. Hulle het nederig erken dat hulle woorde nooit die lof wat Jehovah se heilige naam verdien, heeltemal kon uitdruk nie. (Lees Nehemia 9:5.) Sulke nederige, opregte lof het Jehovah se hart beslis bly gemaak.

7. Hoe kan ons Jehovah in ons bediening en in ons daaglikse lewe loof?

7 Vandag kan ons Jehovah gelukkig maak deur oor hom te praat op ’n manier wat wys hoe dankbaar ons is en hoe baie ons hom liefhet. Wanneer ons in die bediening is, hou ons in gedagte dat ons hoofdoel is om mense na Jehovah toe te trek, om hulle te help om ons geliefde Vader te sien soos ons hom sien (Jak. 4:8). Ons geniet dit om vir mense te wys hoe die Bybel Jehovah beskryf – dit openbaar sy liefde, geregtigheid, wysheid, krag en ander aantreklike eienskappe. Ons loof ook Jehovah en maak hom gelukkig deur ons bes te doen om hom na te volg (Ef. 5:1). Wanneer ons dit doen, staan ons uit in hierdie goddelose wêreld. Mense let dalk op dat ons anders is en wonder dalk hoekom (Matt. 5:​14-16). Wanneer ons met hulle te doen kry, kry ons dalk die geleentheid om te verduidelik hoekom ons anders is. As gevolg daarvan voel opregte mense aangetrokke tot ons God. Wanneer ons Jehovah op hierdie maniere loof, maak ons sy hart bly. – 1 Tim. 2:​3, 4.

ONS MAAK JESUS GELUKKIG WANNEER ONS JEHOVAH SE NAAM LOOF

8. Hoe het Jesus die leiding daarin geneem om Jehovah se naam te loof?

8 Uit al die intelligente skepsele in die hemel en op die aarde ken die Seun die Vader die beste (Matt. 11:27). Jesus is lief vir sy Vader, en hy het die leiding daarin geneem om Jehovah se naam te loof (Joh. 14:31). Op die aand voordat hy gesterf het, het hy in ’n gebed tot sy Vader sy bediening op die aarde so opgesom: “Ek het u naam . . . bekend gemaak” (Joh. 17:26). Wat het hy bedoel?

9. Watter voorbeeld het Jesus gebruik om sy Vader op die duidelikste manier moontlik te verduidelik?

9 Jesus het meer gedoen as om net vir mense te vertel dat God se naam Jehovah is. Die Jode vir wie Jesus geleer het, het klaar geweet wat God se naam is. Maar Jesus “het duidelik gemaak wie Hy is” (Joh. 1:​17, 18). Byvoorbeeld, die Hebreeuse Geskrifte wys dat Jehovah genadig is en medelye betoon (Eks. 34:​5-7). Jesus het daardie waarheid duideliker as ooit gemaak toe hy die voorbeeld van die verlore seun en sy pa gebruik het. Wanneer ons lees hoe daardie pa hardloop om sy berouvolle seun te ontmoet “terwyl hy nog ’n hele ent weg” is, hom omhels en hom heelhartig vergewe, sien ons Jehovah se genade en medelye baie duidelik (Luk. 15:​11-32). Jesus het gewys watter soort persoon Jehovah werklik is.

10. (a) Hoe weet ons dat Jesus sy Vader se persoonlike naam gebruik het en wou hê dat ander dieselfde moes doen? (Markus 5:19) (Sien ook prent.) (b) Wat wil Jesus hê moet ons vandag doen?

10 Wou Jesus ook hê dat ander sy Vader se persoonlike naam moet gebruik? Beslis. Party godsdiensleiers het dalk geglo dat dit disrespekvol is om God se naam te gebruik, maar Jesus het nooit toegelaat dat sulke onskriftuurlike tradisies hom keer om sy Vader se naam te eer nie. Dink aan die tyd toe hy ’n man in die gebied van die Geraseners genees het wat ’n demoon gehad het. Die mense het bang geword en Jesus gesmeek om weg te gaan, en daarom het hy nie in daardie gebied gebly nie (Mark. 5:​16, 17). Maar Jesus wou hê dat Jehovah se naam daar bekend gemaak moet word. Daarom het Jesus vir die man wat hy genees het, gesê om nie vir die mense te vertel wat hy gedoen het nie, maar wat Jehovah gedoen het. (Lees Markus 5:19.) a Vandag wil hy dieselfde hê – dat ons sy Vader se naam regoor die hele wêreld bekend moet maak! (Matt. 24:14; 28:​19, 20). Wanneer ons ons deel doen, maak ons ons Koning, Jesus, gelukkig.

Jesus het vir die man wat voorheen ’n demoon in hom gehad het, gesê om vir die mense te vertel hoe Jehovah hom gehelp het (Sien paragraaf 10)


11. Waarvoor het Jesus sy volgelinge geleer om te bid, en hoekom is dit belangrik? (Esegiël 36:23)

11 Jesus het geweet dat dit Jehovah se doel is om Sy naam te heilig, dit wil sê om dit van alle oneer te reinig. Dit is hoekom ons Meester sy volgelinge geleer het om te bid: “Ons Vader in die hemel, laat u naam geheilig word” (Matt. 6:9). Jesus het verstaan dat dit die grootste kwessie is wat die hele skepping raak. (Lees Esegiël 36:23.) Daar is nie ’n intelligente skepsel in die heelal wat al ooit meer gedoen het om Jehovah se naam te heilig as wat Jesus gedoen het nie. Maar van watter sonde het Jesus se vyande hom aangekla toe hy gearresteer is? Laster! Jesus het beslis gevoel dat om sy Vader se heilige naam te misbruik of om oneer daarop te bring, die ergste sonde is. Die feit dat hy aangekla en van hierdie misdaad skuldig bevind sou word, het hom diep ontstel. Dit is dalk die hoofrede hoekom Jesus “soveel angs ervaar” het voordat hy gearresteer is. – Luk. 22:​41-44.

12. Hoe het Jesus sy Vader se naam op die grootste manier moontlik geheilig?

12 Om sy Vader se naam te heilig, het Jesus elke soort mishandeling, belediging en valse aanklag teen hom verduur. Hy het geweet dat hy in alle dinge gehoorsaam was aan sy Vader; hy het niks gehad om voor skaam te wees nie (Heb. 12:2). Hy het ook geweet dat Satan hom direk aangeval het gedurende daardie donker oomblikke (Luk. 22:​2-4; 23:​33, 34). Satan het beslis gehoop om Jesus se integriteit te breek; maar Satan het heeltemal misluk! Jesus het oortuigende bewyse gegee dat Satan ’n wrede leuenaar is en dat Jehovah lojale knegte het, wat hulle integriteit behou selfs gedurende die moeilikste toetse!

13. Hoe kan jy jou heersende Koning gelukkig maak?

13 Wil jy jou heersende Koning gelukkig maak? Hou aan om Jehovah se naam te loof deur ander te help om ons God te leer ken vir wie hy werklik is. Wanneer jy dit doen, volg jy Jesus se voetstappe (1 Pet. 2:21). Net soos Jesus maak jy Jehovah bly en bewys jy dat Sy teenstander, Satan, ’n skaamtelose leuenaar is!

ONS HELP OM LEWENS TE RED WANNEER ONS JEHOVAH SE NAAM LOOF

14-15. Watter wonderlike dinge kan gebeur wanneer ons mense oor Jehovah leer?

14 Wanneer ons Jehovah se naam loof, help ons om lewens te red. Hoe so? Wel, Satan “het die verstande van die ongelowiges verblind” (2 Kor. 4:4). As gevolg daarvan het hulle sataniese leuens begin glo soos: God bestaan nie, God is ver weg van ons af en gee nie om oor die mensdom nie, God is wreed en straf mense wat verkeerde dinge doen vir ewig. Sulke leuens is net bedoel om Jehovah se naam en reputasie te beskadig sodat mense nie ’n begeerte het om nader aan hom te kom nie. Maar ons werk ry Satan se doel in die wiele. Ons leer mense die waarheid oor ons Vader en loof die heilige naam van ons God. Met watter resultaat?

15 Die waarhede van God se Woord is baie kragtig. Wanneer ons mense leer oor Jehovah en oor watter persoon hy werklik is, kry ons die kans om iets wonderliks te sien. Die blinddoek van sataniese leuens kom geleidelik af, en hierdie mense begin ons geliefde Vader sien soos ons hom sien. Hulle word gevul met ontsag as gevolg van sy onbeperkte krag (Jes. 40:26). Hulle leer om op hom te vertrou as gevolg van sy perfekte geregtigheid (Deut. 32:4). Hulle leer so baie uit sy groot wysheid (Jes. 55:9; Rom. 11:33). En dit vertroos hulle om te leer dat hy liefde is (1 Joh. 4:8). Terwyl hulle nader aan Jehovah kom, word hulle hoop om vir ewig as sy kinders te lewe, seker. Dit is vir ons ’n groot voorreg om mense te help om nader aan hulle Vader te kom! Wanneer ons dit doen, beskou Jehovah ons as sy “medewerkers”. – 1 Kor. 3:​5, 9.

16. Hoe word party geraak wanneer hulle God se naam leer? Gee voorbeelde.

16 Aan die begin leer ons mense dalk net dat God se naam Jehovah is. Dit kan ’n groot impak op ’n opregte persoon hê. Byvoorbeeld, ’n jong vrou met die naam Aaliyah b is in ’n nie-Christelike huisgesin grootgemaak. Maar sy was nie tevrede met haar godsdiens nie en het nie na aan God gevoel nie. Dit het verander nadat sy met die Getuies begin studeer het. Sy het begin om God as haar Vriend te sien. En sy was verbaas om te leer dat God se naam uit baie Bybels verwyder is en met titels, soos Here, vervang is. Toe sy Jehovah se naam leer, het dit haar lewe verander. Sy het uitgeroep: “My beste Vriend het ’n naam!” Wat was die resultaat? Sy sê: “Ek het nou so baie vrede in my hart. Ek voel baie geëerd.” ’n Man met die naam Steve was ’n musikant wat uit ’n streng Joodse agtergrond kom. Hy wou nie deel wees van ’n georganiseerde godsdiens nie omdat hy so baie skynheiligheid gesien het. Maar nadat sy ma gesterf het, het hy ingestem om ’n Bybelstudie by te woon wat deur een van Jehovah se Getuies gehou is. Hy was diep geraak toe hy God se naam leer. Hy sê: “Ek het nooit geleer wat God se naam is nie.” Hy sê verder: “Ek het vir die eerste keer verstaan dat God regtig bestaan! Ek het hom as ’n Persoon gesien. Ek het toe geweet dat ek ’n Vriend gevind het.”

17. Hoekom is jy vasbeslote om aan te hou om Jehovah se naam te loof? (Sien ook prent.)

17 Deel jy die heilige naam, Jehovah, met ander in die predikings- en onderrigtingswerk? Help jy hulle om te sien watter soort persoon ons God werklik is? Wanneer jy dit doen, loof jy God se naam. Mag jy aanhou om Jehovah se heilige naam te loof deur mense te help om die Persoon agter daardie naam te leer ken. Op daardie manier sal jy lewens red. Jy sal die leiding van jou Koning, Christus Jesus, volg. En nog belangriker, jy sal jou liefdevolle Vader, Jehovah, gelukkig maak. Mag jy sy “naam vir ewig en altyd loof”! – Ps. 145:2.

Ons loof Jehovah se naam deur dit vir mense te leer en hulle te wys watter soort persoon Jehovah is (Sien paragraaf 17)

WANNEER ONS GOD SE NAAM LOOF, . . .

  • hoe maak ons Jehovah gelukkig?

  • hoe maak ons Christus Jesus gelukkig?

  • hoe red ons lewens?

LIED 2 Jehovah is u naam

a Daar is goeie redes om te glo dat Markus oorspronklik God se naam in hierdie aanhaling van Jesus gebruik het. Daarom is dit teruggesit in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel.

b Name is verander.