Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 7

LIED 51 Ons is aan God toegewy!

Lesse wat ons by die Nasireërs kan leer

Lesse wat ons by die Nasireërs kan leer

“Al die dae van sy Nasireërskap is hy heilig vir Jehovah.”NUM. 6:8.

DOEL

Hoe die voorbeeld van die Nasireërs ons kan leer om moedig te wees en om gewillig te wees om opofferings vir Jehovah te maak.

1. Watter goeie gesindheid het aanbidders van Jehovah regdeur die geskiedenis geopenbaar?

 IS JOU verhouding met Jehovah vir jou kosbaar? Natuurlik is dit! En jy is nie die enigste een wat so voel nie. Baie mense voel al vanaf eertydse tye soos jy (Ps. 104:​33, 34). Baie het opofferings gemaak om Jehovah te aanbid. Dit was beslis die geval met dié in eertydse Israel wat bekend staan as Nasireërs. Wie was hulle, en wat kan ons uit hulle voorbeeld leer?

2. (a) Wie was die Nasireërs? (Numeri 6:​1, 2) (b) Hoekom het party Israeliete gekies om ’n Nasireër te word?

2 Die woord “Nasireër” kom van die Hebreeuse term wat beteken “iemand wat afgesonder, afgeskeie is; gewyde”. Hierdie term is ’n goeie beskrywing van die ywerige Israeliete wat sekere persoonlike opofferings gemaak het om Jehovah op ’n spesiale manier te dien. Die Wet van Moses het voorsiening gemaak vir ’n man of ’n vrou om ’n spesiale gelofte aan Jehovah te maak deur te kies om vir ’n ruk lank as ’n Nasireër te lewe. (Lees Numeri 6:​1, 2.) a Wanneer ’n Israeliet ’n gelofte gemaak het om ’n Nasireër te wees, sou hy of sy riglyne moes volg wat nie vir die res van die Israeliete nodig was om te volg nie. Hoekom sou ’n Israeliet dan ’n Nasireër wou word? So ’n Israeliet was heel moontlik gemotiveer deur diep liefde vir Jehovah en opregte dankbaarheid vir Sy ryk seën. – Deut. 6:5; 16:17.

3. Hoe is God se volk van vandag soortgelyk aan die Nasireërs?

3 Toe “die wet van die Christus” die Wet van Moses vervang het, kon God se volk nie meer Nasireërs word nie (Gal. 6:2; Rom. 10:4). Maar soos die Nasireërs hou God se volk vandag aan om te wys dat hulle ’n baie sterk begeerte het om hom met hulle hele hart, siel, verstand en krag te dien (Mark. 12:30). Ons maak gewilliglik ’n gelofte om dit te doen wanneer ons onsself aan Jehovah toewy. Om daardie gelofte na te kom, sluit in dat ons ons aan Jehovah se wil onderwerp en opofferings maak. Terwyl ons ondersoek hoe die Nasireërs hulle gelofte nagekom het, kan ons waardevolle lesse leer oor hoe ons ons s’n kan nakom (Matt. 16:24). b Kom ons bespreek ’n paar voorbeelde.

MAAK OPOFFERINGS

4. Watter opoffering het die Nasireërs gemaak volgens Numeri 6:​3, 4?

4 Lees Numeri 6:​3, 4. Nasireërs was nie toegelaat om alkohol te drink en dinge te eet soos druiwe en rosyntjies nie. Mense rondom hulle sou gereeld sulke kossoorte geniet en met goeie rede, aangesien niks daarmee verkeerd was nie. Die Bybel beskryf “wyn wat die hart van die mens vrolik maak” as ’n geskenk van God (Ps. 104:​14, 15). Maar die Nasireërs het gewilliglik hulle reg om sulke dinge te geniet, opgeoffer. c

Is jy bereid om opofferings te maak, soos die Nasireërs? (Sien paragraaf 4-6)


5. Watter persoonlike opofferings het Madián en Marcela gekies om te maak, en hoekom?

5 Soos die Nasireërs maak ons ook opofferings om meer vir Jehovah te doen. Kyk na die voorbeeld van Madián en Marcela. d Hierdie Christenpaartjie het ’n gemaklike lewe gehad. Madián het ’n goeie werk gehad, en hulle het in ’n pragtige woonstel gebly. Maar hulle wou meer in hulle diens aan Jehovah doen. Om daardie doelwit te bereik, het hulle besluit om ’n paar veranderinge te maak. “Ons het begin om ons uitgawes te verminder,” sê hulle. “Ons het na ’n kleiner woonstel getrek en ons kar verkoop.” Dit was nie vir Madián en Marcela nodig om hierdie opofferings te maak nie – hulle het gekies om dit te doen omdat hulle meer in Jehovah se diens wou doen. Hulle is tevrede en voel gelukkig oor hulle besluite.

6. Hoekom maak Christene van vandag opofferings? (Sien ook prent.)

6 Christene van vandag vind vreugde daarin om persoonlike opofferings te maak sodat hulle meer tyd aan teokratiese aktiwiteite kan spandeer (1 Kor. 9:​3-6). Jehovah vereis nie dat ons hierdie opofferings moet maak nie; en die dinge wat ons opgeoffer het, is nie noodwendig verkeerd nie. Byvoorbeeld, party is bereid om ’n werk wat hulle graag wil hê, ’n huis of selfs ’n troeteldier op te offer. Baie het besluit om vir langer ongetroud te bly of om nie onmiddellik kinders te hê nadat hulle trou nie. Ander het gekies om te dien waar daar hulp nodig is, al beteken dit dat hulle ver weg van geliefdes moet bly. Baie van ons maak gewilliglik sulke opofferings omdat ons Jehovah ons bes wil gee. Wees verseker dat Jehovah enige opoffering, groot of klein, wat jy kies om te maak om hom te dien, baie waardeer. – Heb. 6:10.

WEES BEREID OM ANDERS TE WEES

7. Wat het dit dalk vir ’n Nasireër moeilik gemaak om by sy gelofte te bly? (Numeri 6:5) (Sien ook prent.)

7 Lees Numeri 6:5. Nasireërs het ’n gelofte gemaak om nie hulle hare te sny nie. Dit was ’n manier om vir Jehovah te wys dat hulle hulle heeltemal aan hom onderwerp. As ’n Israeliet vir ’n lang tyd ’n Nasireër was, sou sy hare lank word en ander sou dit maklik raaksien. As dié rondom hom sy begeerte ondersteun het om by sy gelofte te bly, sou dit dalk nie ’n uitdaging gewees het nie. Maar ongelukkig was daar tye in Israel se geskiedenis toe Nasireërs nie waardeer of ondersteun is nie. Gedurende die tyd van die profeet Amos het afvallige Israeliete “vir die Nasireërs wyn bly gee om te drink,” heel moontlik om hulle te probeer kry om hulle gelofte te breek om nie wyn te drink nie (Amos 2:12). Soms moes die Nasireërs baie moedig wees om by hulle gelofte te bly en om anders te wees.

’n Nasireër wat by sy gelofte gebly het, was bereid om anders te wees (Sien paragraaf 7)


8. Wat vind jy aanmoedigend omtrent jong Benjamin se ondervinding?

8 Met Jehovah se hulp kan ons ook moedig en anders wees, al is ons van nature skaam. Kyk na die voorbeeld van Benjamin, ’n 10-jarige Getuie in Noorweë. As gevolg van die oorlog in Oekraïne het sy skool iets gereël om hulle ondersteuning te wys vir die mense van Oekraïne. Die kinders is gevra om ’n liedjie te sing terwyl hulle Oekraïne se nasionale kleure dra. Benjamin het beplan om hierdie nasionalistiese geleentheid te vermy deur ’n entjie weg te staan van waar dit sou gebeur. Maar ’n onderwyser het hom gesien en uitgeroep: “Kom sluit nou by ons aan. Ons almal wag vir jou!” Benjamin het moedig na die onderwyser gegaan en gesê: “Ek is neutraal, en ek neem nie deel aan politieke dinge nie. Om die waarheid te sê, baie van Jehovah se Getuies is in die tronk omdat hulle weier om oorlog te voer.” Die onderwyser het sy verduideliking aanvaar en vir Benjamin gesê dat hy nie aan die geleentheid hoef deel te neem nie. Maar sy klasmaats het begin vra hoekom hy nie by hulle aangesluit het nie. Benjamin was so senuweeagtig dat hy amper begin huil het, maar hy het moedig aan die hele klas herhaal wat hy vir die onderwyser gesê het. Daarna het Benjamin vir sy ouers gesê dat hy gevoel het dat Jehovah hom gehelp het om op te staan vir sy geloof.

9. Op watter manier kan ons Jehovah se hart bly maak?

9 Omdat ons kies om ons aan Jehovah se wil te onderwerp, is ons anders as die mense om ons. Ons het moed nodig om onsself by die werk of by die skool as Jehovah se Getuies te identifiseer. En soos hierdie wêreld se gesindhede en gedrag al hoe erger word, sal dit heel moontlik vir ons moeiliker wees om volgens Bybelbeginsels te lewe en die goeie nuus met ander te deel (2 Tim. 1:8; 3:13). Maar onthou altyd dat ons Jehovah se ‘hart bly maak’ wanneer ons moedig en anders is as dié wat hom nie dien nie. – Spr. 27:11; Mal. 3:18.

HOU JEHOVAH EERSTE IN JOU LEWE

10. Hoe was dit moontlik ’n toets vir die Nasireërs om gehoorsaam te wees aan die vereiste in Numeri 6:​6, 7?

10 Lees Numeri 6:​6, 7. Nasireërs kon nie naby ’n dooie liggaam gaan nie. Dalk dink jy nie dat dit ’n groot opoffering was nie. Maar in Bybeltye sou hierdie vereiste ’n groot uitdaging vir ’n Nasireër wees wanneer ’n nabye familielid gesterf het. Begrafnisgebruike in Bybeltye het dikwels vereis dat mense naby die liggaam van die oorledene moet wees (Joh. 19:​39, 40; Hand. 9:​36-40). Maar ’n Nasireër kon nie sulke gebruike volg nie. Selfs wanneer Nasireërs gedurende baie hartseer tye familiesituasies hanteer het, het hulle gewys dat hulle sterk geloof het deur by hulle gelofte te bly. Jehovah het beslis sy toegewyde aanbidders versterk om die uitdagings te hanteer wat hulle moes deurmaak.

11. Wat moet ’n Christen vasbeslote wees om te doen wanneer hy familiesake hanteer? (Sien ook prent.)

11 As Christene neem ons ons toewydingsgelofte aan Jehovah ernstig op. Dit affekteer ons besluite en dade wanneer dit kom by familiesake. Ons werk hard om om te sien na die behoeftes van ons familie, maar ons stel nooit die begeertes van ons familielede bo wat Jehovah van ons vereis nie (Matt. 10:​35-37; 1 Tim. 5:8). Soms sal ons dalk besluite moet maak waarmee ons familielede nie tevrede is nie maar wat Jehovah gelukkig maak.

Is jy bereid om Jehovah se wil eerste te stel selfs in die moeilikste omstandighede? (Sien paragraaf 11) e


12. Wat het Alexandru gedurende ’n moeilike familiesituasie gedoen en wat het hy nie gedoen nie?

12 Kyk na die voorbeeld van Alexandru en sy vrou, Dorina. Nadat die paartjie die Bybel ’n jaar lank studeer het, het Dorina besluit om op te hou, en sy wou hê dat Alexandru ook moes ophou. Maar hy het op ’n kalm en taktvolle manier vir haar gesê dat hy sou aanhou. Dorina was nie gelukkig daarmee nie en het probeer om hom te dwing om op te hou studeer. Alexandru sê dat hy haar reaksie probeer verstaan het, maar dit was nie vir hom maklik nie. Soms, wanneer Dorina hom gekritiseer het en lelike dinge gesê het, het hy gevoel dat hy wil ophou met die Bybelstudie. Maar Alexandru het aangehou om Jehovah eerste te stel en het op dieselfde tyd gewys dat hy sy vrou baie liefhet en respekteer. Op die ou end het sy goeie voorbeeld haar gemotiveer om weer met haar Bybelstudie te begin, en sy het haar later laat doop. – Sien op jw.org die video Alexandru en Dorina Văcar: “Liefde is geduldig en goedhartig in die reeks “Die waarheid verander lewens”.

13. Hoe kan ons wys dat ons Jehovah en ons familie liefhet?

13 Jehovah het die familiereëling ingestel en wil hê dat ons ’n gelukkige familie moet hê (Ef. 3:​14, 15). As ons werklik gelukkig wil wees, moet ons dinge op Jehovah se manier doen. Wees verseker dat Jehovah die opofferings waardeer wat jy maak om hom te dien terwyl jy vir jou familie sorg en hulle met liefde en respek behandel. – Rom. 12:10.

MOEDIG MEKAAR AAN OM SOOS DIE NASIREËRS TE WEES

14. Veral wie moet ons probeer om met ons woorde aan te moedig?

14 Almal wat vandag kies om Jehovah te aanbid, moet bereid wees om opofferings te maak wat deur liefde gemotiveer is. Soms is dit nie maklik om dit te doen nie. Hoe kan ons mekaar help om so ’n gesindheid te openbaar? Deur mekaar met ons woorde aan te moedig (Job 16:5). Is daar party broers en susters in jou gemeente wat probeer om hulle lewe te vereenvoudig sodat hulle ’n groter deelname aan teokratiese aktiwiteite kan hê? Ken jy jongmense wat moedig en anders is as ander by die skool, al is dit vir hulle moeilik om dit te doen? Wat van Bybelstudente en broers en susters wat dalk sukkel om getrou te bly as gevolg van familieteenstand? Kom ons gebruik elke geleentheid om sulke dierbare broers en susters aan te moedig en om vir hulle te sê dat ons hulle moed en wat hulle vir Jehovah doen, waardeer. – Filem. 4, 5, 7.

15. Hoe het party dié ondersteun wat in die voltydse diens is?

15 Soms sal ons praktiese hulp kan aanbied aan mede-Christene wat in die voltydse diens is (Spr. 19:17; Heb. 13:16). Dit was die opregte begeerte van ’n getroue bejaarde suster wat in Sri Lanka bly. Sy het ’n verhoging in haar pensioen ontvang en wou twee jong pioniersusters help om in hulle bediening aan te hou ten spyte van ekonomiese probleme. Daarom het sy besluit om elke maand ’n spesifieke bedrag by te dra om hulle te help om hulle telefoonuitgawes te betaal. Daardie suster het ’n pragtige gesindheid.

16. Wat kan ons by die Nasireërs in eertydse tye leer?

16 Ons kan beslis baie leer uit die goeie voorbeeld wat die Nasireërs gestel het! Maar hierdie reëling leer ons ook iets omtrent ons hemelse Vader, Jehovah. Hy is daarvan oortuig dat ons die opregte begeerte het om hom gelukkig te maak en dat ons bereid is om opofferings te maak om ons toewydingsgelofte na te kom. Hy eer ons deur ons die geleentheid te gee om te kies om ons liefde vir Hom te wys (Spr. 23:​15, 16; Mark. 10:​28-30; 1 Joh. 4:19). Die reëling om ’n Nasireër te word, wys dat Jehovah die opofferings wat ons maak om hom te dien, raaksien en waardeer. So mag ons vasbeslote wees om Jehovah te bly dien en hom gewilliglik ons heel beste te gee.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Op watter maniere het die Nasireërs opofferings gemaak en gewys dat hulle moedig is?

  • Hoe kan ons mekaar aanmoedig om soos die Nasireërs opofferings vir Jehovah te maak?

  • Wat leer die reëling om ’n Nasireër te word ons oor die vertroue wat Jehovah in sy aanbidders het?

LIED 124 Bly lojaal

a Al het Jehovah ’n paar mense gekies om Nasireërs te wees, was die meeste heel moontlik Israeliete wat aangebied het om ’n ruk lank as Nasireërs te dien. – Sien die venster “ Nasireërs wat deur Jehovah aangestel is”.

b Soms het ons publikasies die Nasireërs vergelyk met dié wat in die voltydse diens is. Maar in hierdie artikel sal ons fokus op hoe alle toegewyde knegte van Jehovah soos die Nasireërs kan wees.

c Oor die algemeen lyk dit nie asof ’n Nasireër enige ekstra verpligtinge, soos ’n werkstoewysing, gehad het om uit te voer sodat hy sy gelofte kon nakom nie.

d Sien die artikel “Ons het besluit om ons lewe te vereenvoudig” op jw.org in die reeks “Ondervindinge van Jehovah se Getuies”.

e BESKRYWING VAN PRENT.: ’n Nasireër hou die begrafnis van ’n geliefde familielid van sy dak af dop. Sy gelofte keer dat hy daaraan deelneem.