Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons kan gelukkig wees terwyl ons geduldig op Jehovah wag

Ons kan gelukkig wees terwyl ons geduldig op Jehovah wag

SIEN jy uit na die tyd wanneer Jehovah ’n einde sal maak aan alle goddeloosheid en alles nuut sal maak? (Op. 21:​1-5). Natuurlik! Maar dit is nie altyd maklik om op Jehovah te bly wag veral wanneer ons moeilike tye deurmaak nie. Uitgestelde hoop kan ons hartseer laat voel. – Spr. 13:​12, vtn.

Maar Jehovah verwag dat ons geduldig op hom moet wag om op sy vasgestelde tyd op te tree. Hoekom verwag hy dit van ons? Wat kan ons help om gelukkig te wees terwyl ons wag?

HOEKOM VERWAG JEHOVAH DAT ONS MOET WAG?

Die Bybel sê: “Jehovah wag geduldig om goedheid aan julle te betoon, en hy sal opstaan om genade aan julle te betoon. Want Jehovah is ’n God van geregtigheid. Gelukkig is almal wat gretig op hom bly wag” (Jes. 30:18). Hierdie woorde van Jesaja is oorspronklik aan die hardkoppige Jode geskryf (Jes. 30:1). Maar daar was ’n paar getroues onder die Jode, en hierdie woorde het vir hulle hoop gegee. Hierdie selfde woorde gee hoop vir Jehovah se getroue knegte van vandag.

So ons moet geduldig wag omdat Jehovah geduldig wag. Hy het ’n vasgestelde tyd wanneer hy ’n einde aan hierdie wêreld sal maak, en hy wag vir daardie dag en uur om te kom (Matt. 24:36). Op daardie tyd sal dit baie duidelik wees dat die Duiwel se aanklagte teen Jehovah en dié wat Hom dien, nie waar is nie. Hy sal dan Satan en enige een wat aan sy kant is, verwyder, maar hy sal “genade aan [ons] betoon”.

Intussen sal Jehovah dalk nie ons probleme verwyder nie, maar hy verseker ons dat ons gelukkig kan wees terwyl ons wag. Soos Jesaja gesê het, kan ons gelukkig wees terwyl ons hoop vir iets goeds om te gebeur (Jes. 30:18). a Wat kan ons doen om daardie geluk te kry? Vier dinge kan ons help.

HOE OM GELUKKIG TE WEES TERWYL ONS WAG

Fokus op die positiewe. Koning Dawid het regdeur sy lewe baie goddeloosheid gesien (Ps. 37:35). Tog het hy geskryf: “Bly stil voor Jehovah en wag hoopvol op hom. Moenie ontsteld wees oor die man wat sy slinkse planne suksesvol uitvoer nie” (Ps. 37:7). Dawid het dit toegepas toe hy gefokus het op Jehovah se beloftes om hom te red. Hy was ook dankbaar vir al die goeie dinge wat Jehovah vir hom gedoen het (Ps. 40:5). As ons ook op die positiewe aspekte van ons situasie fokus, en nie op die negatiewe dinge wat om ons gebeur nie, sal dit vir ons makliker wees om op Jehovah te wag.

Gebruik elke geleentheid om Jehovah te loof. Die skrywer van Psalm 71, heel moontlik Dawid, het vir Jehovah gesê: “Ek sal bly wag. Ek sal bydra tot u lof” (Ps. 71:14). Hoe sou hy Jehovah loof? Hy sou ander oor Jehovah vertel en lofliedere aan hom sing (Ps. 71:​16, 23). Soos Dawid kan ons ook gelukkig wees terwyl ons op Jehovah wag. Ons loof hom deur ons bediening, ons daaglikse gesprekke en ons liedjies vir aanbidding. Die volgende keer wanneer jy ’n Koninkryksliedjie sing, dink mooi oor die aanmoedigende boodskap daarin.

Laat jou broers en susters jou aanmoedig. Toe Dawid uitdagings ondervind het, het hy vir Jehovah gesê: “In die teenwoordigheid van u lojales sal ek op u naam hoop” (Ps. 52:9). Ons kan ook deur ons broers en susters aangemoedig word, nie net by ons vergaderinge en in die bediening nie, maar ook wanneer ons saam kuier. – Rom. 1:​11, 12.

Versterk jou hoop. Psalm 62:5 sê: “Ek wag in stilte op God, want my hoop kom van hom.” Dit is baie belangrik om sterk hoop te hê veral as die einde nie so gou kom as wat ons gedink het dit sou kom nie. Ons moet daarvan oortuig wees dat Jehovah se beloftes waar sal word maak nie saak hoe lank ons dalk daarvoor moet wag nie. Ons kan ons hoop versterk deur ’n studie te maak van God se Woord – die profesieë, hoe verskillende Bybelboeke met mekaar ooreenstem en die besonderhede wat Jehovah oor homself openbaar (Ps. 1:​2, 3). En ons moet aanhou om “met heilige gees [te] bid” om ons goeie verhouding met Jehovah te behou terwyl ons wag dat sy belofte van ewige lewe vervul word. – Jud. 20, 21.

Soos koning Dawid, wees daarvan oortuig dat Jehovah oor dié waak wat op Hom wag en Sy lojale liefde aan hulle bewys (Ps. 33:​18, 22). Hou aan om geduldig op Jehovah te wag deur op die positiewe dinge in jou lewe te fokus, deur hom te loof, deur toe te laat dat jou broers en susters jou aanmoedig en deur jou kosbare hoop sterk te hou.

a Die woord in die oorspronklike taal wat met “gretig . . . bly wag” vertaal is, kan ook beteken “hoop vir iets om te gebeur”, wat wys dat dit nie verkeerd is om te wil hê dat Jehovah ’n einde aan ons lyding moet bring nie.