Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Twee nuwe lede van die Bestuursliggaam

Twee nuwe lede van die Bestuursliggaam

OP WOENSDAG 18 Januarie 2023 het ’n spesiale aankondiging op jw.org verskyn, wat gesê het dat broers Gage Fleegle en Jeffrey Winder aangestel is om as lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies te dien. Albei broers het ’n lang geskiedenis van getroue diens aan Jehovah.

Gage Fleegle en sy vrou, Nadia

Broer Fleegle is in die weste van Pennsilvanië, VSA, grootgemaak deur sy godvresende ouers. Toe hy ’n tiener was, het sy gesin na ’n klein plattelandse dorpie getrek waar daar ’n behoefte was. Hy is kort daarna op 20 November 1988 gedoop.

Broer Fleegle se ouers het hom altyd aangemoedig om met die voltydse diens te begin. Hulle het dikwels kringopsieners en Betheliete na hulle huis oorgenooi, en broer Fleegle kon sien hoe gelukkig hierdie broers en susters was. Kort ná sy doop, op 1 September 1989, het hy as ’n gewone pionier begin dien. Twee jaar daarna het hy ’n doelwit bereik wat hy gestel het toe hy 12 jaar oud was – die doelwit om by Bethel te dien. Hy het in Oktober 1991 met sy diens by die Bethel in Brooklyn begin.

By Bethel het broer Fleegle agt jaar lank in die Bindery gewerk, en daarna in die Diensafdeling. Gedurende daardie tyd het hy vir ’n paar jaar in ’n Russiese gemeente gedien. In 2006 het hy met sy vrou, Nadia, getrou, wat saam met hom by Bethel begin dien het. Saam het hulle in die Portugese veld gedien, en vir meer as tien jaar in die Spaanse veld. Ná baie jare in die Diensafdeling het broer Fleegle in die Onderrigtingskomitee-kantoor en later in die Dienskomitee-kantoor gewerk. In Maart 2022 is hy aangestel as ’n helper van die Dienskomitee van die Bestuursliggaam.

Jeffrey Winder en sy vrou, Angela

Broer Winder is in Murrieta, Kalifornië, VSA, grootgemaak. Sy ouers het hom in die waarheid grootgemaak, en hy is op 29 Maart 1986 gedoop. Hy het besluit om sommer die volgende maand hulppionierdiens te doen. Hy het dit so baie geniet dat hy daarmee wou aanhou. Nadat hy vir ’n hele paar maande hulppionierdiens gedoen het, het hy op 1 Oktober 1986 as ’n gewone pionier begin dien.

Toe broer Winder ’n tiener was, het hy sy twee ouer broers besoek wat op daardie stadium by Bethel gedien het. Daardie besoek het hom die begeerte gegee om vir Betheldiens aansoek te doen toe hy ouer was. En in Mei 1990 is hy genooi om by die Bethel in Wallkill te dien.

By Bethel het broer Winder in verskillende afdelings gewerk, insluitende die Skoonmaakafdeling, die Plaas-afdeling en die Bethelkantoor. Hy het in 1997 met sy vrou, Angela, getrou, en hulle dien van toe af saam by Bethel. In 2014 is hulle na Warwick gestuur, waar broer Winder gehelp het om die wêreldhoofkwartier te bou. In 2016 het hulle na die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson getrek, waar broer Winder in Oudio/video-dienste gewerk het. Vier jaar later het hulle na Warwick teruggetrek en het broer Winder in die Personeelkomitee-kantoor gewerk. In Maart 2022 is hy aangestel as ’n helper van die Personeelkomitee van die Bestuursliggaam.

Ons bid dat Jehovah hierdie “gawes in die vorm van mense” sal seën terwyl hulle aanhou om hard te werk vir Koninkryksbelange. – Ef. 4:8.