Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat sê die Bybel oor Jehovah se vermoë om die toekoms te voorspel?

Die Bybel maak dit duidelik dat Jehovah die toekoms kan voorspel (Jes. 45:21). Dit gee nie elke besonderheid oor hoe of wanneer hy dit doen nie of selfs hoe baie hy kies om te weet nie. So ons weet nie alles oor Jehovah se vermoë om die toekoms te voorspel nie. Maar daar is ’n paar dinge wat ons wel weet.

Jehovah het geen beperkings nie behalwe dié wat hy vir homself stel. Jehovah kan sy onbeperkte wysheid gebruik om enige iets wat hy kies, te voorspel (Rom. 11:33). Omdat hy perfekte selfbeheersing het, kan hy ook kies om nie te weet wat gaan gebeur nie. – Vergelyk Jesaja 42:14.

Jehovah laat sy wil plaasvind. Hoe hou daardie feit verband met sy vermoë om die toekoms te voorspel? Jesaja 46:10 verduidelik: “Van die begin af voorspel ek die uiteinde, en van die verre verlede af voorspel ek die dinge wat nog nie gedoen is nie. Ek sê: ‘Wat ek besluit, sal gebeur, en ek sal doen wat ek ook al wil.’”

So een rede hoekom Jehovah die toekoms kan voorspel, is dat hy die krag het om dinge te laat gebeur. Dit is nie vir Jehovah nodig om uit te vind wat in die toekoms sal gebeur op dieselfde manier wat ons soms na die einde van ’n film kyk om uit te vind wat die uitkoms gaan wees nie. Jehovah kan eerder besluit dat iets op ’n spesifieke tyd sal gebeur en dit dan laat gebeur wanneer daardie tyd kom. – Eks. 9:​5, 6; Matt. 24:36; Hand. 17:31.

Vir hierdie rede gebruik die Bybel sulke terme soos “voorberei” en “besluit” om te beskryf wat Jehovah doen wanneer dit kom by party toekomstige gebeure (2 Kon. 19:25; Jes. 46:11). Hierdie terme is vertaal uit ’n woord in die oorspronklike taal wat verband hou met ’n woord wat “pottebakker” beteken (Jer. 18:4). Net soos ’n vaardige pottebakker ’n stuk klei in ’n pragtige vaas kan verander, kan Jehovah dinge vorm, of laat gebeur, om sy wil te bereik. – Ef. 1:11.

Jehovah respekteer die geskenk van vrye wil. Hy bepaal nie vooraf elke persoon se toekoms nie; hy veroorsaak ook nie dat opregte mense iets doen wat tot hulle vernietiging sal lei nie. Hy laat almal toe om te kies hoe hulle wil lewe, maar hy leer hulle hoe om op die regte manier te lewe.

Kyk na twee voorbeelde. Die eerste voorbeeld gaan oor die inwoners van Nineve. Jehovah het voorspel dat die stad vernietig sou word as gevolg van die mense se goddeloosheid. Maar toe die inwoners berou getoon het, het Jehovah “van besluit verander en nie meer die rampspoed gebring wat hy gesê het hy oor hulle sou bring nie” (Jona 3:​1-10). Jehovah het sy besluit verander oor wat hy voorspel het omdat die Nineviete hulle vrye wil gebruik het om berou te toon ná die waarskuwingsboodskap wat Jehovah aan hulle gestuur het.

Die tweede voorbeeld is die profesie oor ’n veroweraar met die naam Kores, wat die Jode uit gevangenskap sou vrylaat en die opdrag sou gee dat Jehovah se tempel herbou moet word (Jes. 44:26–45:4). Koning Kores van Persië het daardie profesie vervul (Esra 1:​1-4). Maar Kores het nie die ware God aanbid nie. Jehovah het Kores gebruik om hierdie profesie te vervul sonder om in te meng met Kores se vrye wil om te kies vir wie hy sou aanbid. – Spr. 21:1.

Dit is natuurlik net ’n paar dinge waaraan Jehovah dink wanneer hy die toekoms voorspel. Om die waarheid te sê, geen mens kan Jehovah se weë ten volle verstaan nie (Jes. 55:​8, 9). Maar wat Jehovah openbaar het, versterk ons geloof dat hy altyd doen wat reg is – insluitende wanneer hy die toekoms voorspel.