Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoekom herhaal die Bybel homself?

BYBELSKRYWERS het dikwels dieselfde frases woord vir woord herhaal. Kyk na drie redes hoekom die skrywers dit dalk gedoen het:

Wanneer dit geskryf is. In eertydse Israel het die meeste mense nie persoonlike kopieë van die Wet gehad nie. Hulle het hoofsaaklik gehoor hoe die Wet gelees word wanneer die nasie by die tabernakel bymekaargekom het (Deut. 31:​10-12). Daar was heel moontlik baie afleidings terwyl hulle vir ’n hele paar uur in die groot skare gestaan en luister het (Neh. 8:​2, 3, 7). By sulke geleenthede sou die herhaling van belangrike frases dit vir die volk makliker maak om die tekste te onthou en dit toe te pas. Die herhaling van sekere woorde sou hulle veral gehelp het om gedetailleerde sake te onthou, soos God se regulasies en regterlike beslissings. – Lev. 18:​4-22; Deut. 5:1.

Hoe dit geskryf is. Omtrent 10 persent van die Bybel bestaan uit liedjies – insluitende die boeke Psalms, Hooglied van Salomo en Klaagliedere. Partykeer het liedjies ’n refrein gehad. Dit het die tema van die liedjie beklemtoon en die luisteraars gehelp om die woorde te memoriseer. Byvoorbeeld, kyk na die woorde in Psalm 115:​9-11: “O Israel, vertrou op Jehovah – hy is julle hulp en julle skild. O huis van Aäron, vertrou op Jehovah – hy is julle hulp en julle skild. Julle wat Jehovah vrees, vertrou op Jehovah – hy is julle hulp en julle skild.” Die herhaling van daardie woorde sou die sangers gehelp het om daardie kosbare gedagtes te onthou.

Hoekom dit geskryf is. Bybelskrywers het partykeer belangrike frases herhaal. Byvoorbeeld, toe Jehovah die Israeliete beveel het om nie bloed te eet nie, het hy Moses ’n hele paar keer laat herhaal wat die rede daarvoor is. God wou beklemtoon dat die lewe van die vlees in die bloed is; dit wil sê, bloed verteenwoordig lewe (Lev. 17:​11, 14). Later toe die apostels en die ouermanne in Jerusalem gesê het wat Christene moet verwerp om God gelukkig te maak, het hulle weer die belangrikheid daarvan beklemtoon dat hulle hulle van bloed moet weerhou. – Hand. 15:​20, 29.

Jehovah wou nie hê dat die herhaling van Bybelfrases ’n gewoonte moet word nie. Byvoorbeeld, Jesus het gesê: “Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê” nie (Matt. 6:7). Hy het toe vir ons gepaste onderwerpe vir gebed voorsien wat in ooreenstemming is met God se wil (Matt. 6:​9-13). So al vermy ons dit om dieselfde woorde in ons gebede te herhaal, kan ons oor en oor oor dieselfde onderwerpe bid. – Matt. 7:​7-11.

Daar is goeie redes hoekom God se Woord sekere woorde en frases herhaal. Dit is een van die baie maniere hoe ons Groot Onderrigter ons leer om onsself te bevoordeel. – Jes. 48:​17, 18.