Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoekom het uitlanders in koning Dawid se leërmag gedien?

KONING Dawid se leërmag het uitlandse vegters ingesluit soos Selek, die Ammoniet en Uria, die Hetiet en Jitma, die Moabiet (1 Kron. 11:​39, 41, 46). a Dawid se leërmag het ook “die Keretiete, die Peletiete en al die Gittiete” ingesluit (2 Sam. 15:18). Dit lyk asof die Keretiete en die Peletiete nabye familielede van die Filistyne was (Eseg. 25:16). Die Gittiete was van die Filistynse stad Gat. – Jos. 13:​2, 3; 1 Sam. 6:​17, 18.

Hoekom het Dawid hierdie manne toegelaat om in sy leërmag te wees? Hy het die vertroue gehad dat hulle lojaal aan hom en, nog belangriker, Jehovah is. Byvoorbeeld, The New Interpreter’s Dictionary of the Bible sê die volgende oor die Keretiete en die Peletiete: “Hulle het lojaal aan Dawid gebly in die moeilikste omstandighede gedurende sy heerskappy.” Hoe so? Toe “al die manne van Israel” koning Dawid verlaat het om “’n moeilikheidmaker met die naam Seba” te volg, het die Keretiete en die Peletiete lojaal aan Dawid gebly en gehelp om die opstand wat Seba begin het, te stop (2 Sam. 20:​1, 2, 7). By ’n ander geleentheid het koning Dawid se seun Adonia die koningskap probeer oorneem. Maar die Keretiete en die Peletiete het lojaal aan Dawid gebly en gehelp om Salomo, die een wat Jehovah gekies het, die volgende koning te maak. – 1 Kon. 1:​24-27, 38, 39.

Nog ’n uitlander wat baie lojaal aan Dawid gebly het, is Ittai, die Gittiet. Ittai en sy 600 vegters het koning Dawid ondersteun toe Dawid se seun Absalom gerebelleer het en die harte van die manne van Israel teen die koning gedraai het. Dawid het vir Ittai gesê dat hy nie vir hom hoef te veg nie omdat hy ’n uitlander is. Maar Ittai het gesê: “So waar as wat Jehovah lewe en so waar as wat my heer die koning lewe, waar my heer die koning ook al gaan, sal u kneg gaan, selfs al beteken dit dat ek moet sterf!” – 2 Sam. 15:​6, 18-21.

Ittai was lojaal aan Dawid, Jehovah se gesalfde koning

Al was die Keretiete, die Peletiete en die Gittiete uitlanders, het hulle besef dat Jehovah die ware God is en dat Jehovah Dawid gesalf het. Dawid was sekerlik dankbaar om sulke lojale manne aan sy sy te hê!

a God se wet in Deuteronomium 23:​3-6 het Ammoniete en Moabiete verbied om in die gemeente van Israel te kom. Dit lyk asof hulle nie wettige burgers met al die natuurlike regte van ’n Israeliet kon word nie, maar hulle kon met God se volk assosieer en onder hulle bly. Sien Insight on the Scriptures, deel 1, bl. 95.