Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 18

LIED 1 Jehovah se eienskappe

Vertrou op die genadige “Regter van die hele aarde”!

Vertrou op die genadige “Regter van die hele aarde”!

“Sal die Regter van die hele aarde nie doen wat reg is nie?”GEN. 18:25.

DOEL

Om ons te help om Jehovah se genade en geregtigheid beter te verstaan wanneer dit kom by die opstanding van onregverdige mense.

1. Watter vertroostende les het Jehovah vir Abraham geleer?

 DIT was ’n gesprek wat Abraham nooit vergeet het nie. God het deur middel van ’n engel vir Abraham gesê dat Hy die stede Sodom en Gomorra gaan vernietig. Daardie getroue man was bekommerd. Hy het gevra: “Gaan u regtig die regverdige mense saam met die goddelose mense vernietig? . . . Sal die Regter van die hele aarde nie doen wat reg is nie?” Jehovah het sy geliefde mensevriend geduldig ’n les geleer waarby ons almal baat vind en wat ons almal vertroos: God sal nooit regverdige mense vernietig nie. – Gen. 18:​23-33.

2. Wat verseker ons dat Jehovah se oordele regverdig en genadig is?

2 Hoe kan ons seker wees dat Jehovah regverdig en genadig is wanneer hy mense oordeel? Omdat ons weet dat “Jehovah sien wat in [mense se] hart is” (1 Sam. 16:7). Om die waarheid te sê, hy ken “die hart van elke mens” (1 Kon. 8:39; 1 Kron. 28:9). Dit is ’n wonderlike waarheid. Jehovah is baie wyser as wat ons ooit sal wees, en daarom sal ons Jehovah se oordele dalk nie altyd ten volle verstaan nie. Die apostel Paulus het met goeie rede oor Jehovah God gesê: “Niemand kan sy oordele ten volle verstaan . . . nie!” – Rom. 11:​33, vtn.

3-4. Watter vrae het ons dalk partykeer, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek? (Johannes 5:​28, 29)

3 Maar soms het ons dalk soortgelyke vrae as dié wat Abraham gevra het. Ons wonder dalk selfs: ‘Is daar enige toekomstige hoop vir mense soos dié wat in Sodom en Gomorra geoordeel is? Sal enige van hulle opgewek word in die “opstanding van . . . die onregverdiges”?’ – Hand. 24:15.

4 Kom ons hersien wat ons omtrent die opstanding verstaan. Daar was onlangs ’n aanpassing in ons begrip van die “opstanding van die lewe” en die “opstanding van oordeel”. a (Lees Johannes 5:​28, 29.) Dit het tot verdere aanpassings gelei, wat in hierdie artikel en in die volgende een bespreek sal word. In verband met Jehovah se regverdige oordele sal ons eers bespreek wat ons nie weet nie en dan wat ons wel weet.

WAT ONS NIE WEET NIE

5. Wat het ons publikasies in die verlede gesê oor dié wat in Sodom en Gomorra vernietig is?

5 In die verlede het ons publikasies al die onderwerp bespreek oor wat met dié gebeur wat Jehovah as onregverdig oordeel. Ons het gesê dat mense soos dié in Sodom en Gomorra nie ’n hoop op ’n toekomstige opstanding het nie. Maar ná verdere studie en nadat ons selfs meer oor hierdie saak gebid het, het die vraag ontstaan: Kan ons dit regtig met sekerheid sê?

6. Wat is ’n paar voorbeelde van Jehovah se oordele teen onregverdige mense, en wat weet ons nie?

6 Kyk na ’n paar vrae wat hiermee verband hou. Baie Bybelverslae beskryf Jehovah se oordele teen onregverdige mense, soos die onbekende hoeveelheid mense wat in die Vloed gesterf het of die sewe nasies in die Beloofde Land wat Jehovah sy volk beveel het om te vernietig of die 185 000 Assiriese soldate wat in een aand deur ’n engel van Jehovah doodgemaak is (Gen. 7:23; Deut. 7:​1-3; Jes. 37:​36, 37). Gee die Bybel in hierdie gevalle vir ons genoeg inligting om te bepaal dat Jehovah al hierdie mense tot ewige vernietiging gevonnis het, met geen hoop op ’n opstanding nie? Nee. Hoekom kan ons dit sê?

7. Wat weet ons nie omtrent die mense wat in die Vloed of in die verowering van Kanaän vernietig is nie? (Sien op voorblad.)

7 Ons weet nie hoe Jehovah elke persoon geoordeel het nie; ons weet ook nie of dié wat doodgemaak is, ’n geleentheid gehad het om van Jehovah te leer en om berou te toon nie. Wanneer die Bybel praat oor die tyd van die Vloed, sê dit dat Noag “’n prediker van regverdigheid” was (2 Pet. 2:5). Maar dit sê nie dat hy, terwyl hy besig was om ’n massiewe ark te bou, ook probeer het om elke persoon op die aarde te bereik wat moontlik in die Vloed vernietig sou word nie. Net so weet ons nie of al die goddelose mense wat in die land Kanaän gebly het, ’n geleentheid gehad het om van Jehovah te leer en hulle gedrag te verander nie.

Noag en sy gesin werk aan die massiewe ark. Ons weet nie of Noag gedurende die tyd toe hulle die ark gebou het, die leiding geneem het in ’n georganiseerde predikingskampanje om al die mense van die aarde te bereik voordat die Vloed gekom het nie (Sien paragraaf 7)


8. Wat weet ons nie omtrent die mense van Sodom en Gomorra nie?

8 Wat van die mense van Sodom en Gomorra? ’n Regverdige man met die naam Lot het tussen hulle gebly. Maar weet ons of Lot vir hulle almal gepreek het? Nee. Hulle was beslis goddeloos, maar het hulle almal van beter geweet? Onthou dat ’n groep mans in daardie stad Lot se gaste wou verkrag. Die Bybel sê dat die skare bestaan het uit mense wat “jonk sowel as oud” was (Gen. 19:4; 2 Pet. 2:7). Weet ons regtig of die genadige God, Jehovah, elkeen tot die dood veroordeel het sonder ’n hoop op ’n opstanding? Jehovah het Abraham verseker dat daar nie eens tien regverdige mans in daardie stad was nie (Gen. 18:32). So hulle was onregverdig, en dit was reg van Jehovah om hulle verantwoordelik te hou vir hulle dade. Kan ons dan met sekerheid sê dat nie een van hulle in die “opstanding van . . . die onregverdiges” sal opstaan nie? Nee, ons kan nie met sekerheid sê nie!

9. Wat weet ons nie omtrent Salomo nie?

9 Aan die ander kant lees ons ook in die Bybel van regverdige mense wat onregverdig geword het. Koning Salomo is ’n voorbeeld hiervan. Hy het God se standaarde baie goed geken, en Jehovah het hom ryklik geseën, maar later het hy valse gode begin aanbid. Sy sondes het Jehovah woedend gemaak, en die hele nasie Israel het honderde jare lank die slegte gevolge daarvan gedra. Dit is waar dat die Bybel wel sê dat “Salomo by sy vaders neergelê” is, insluitende getroue manne soos koning Dawid (1 Kon. 11:​5-9, 43, vtn.; 2 Kon. 23:13). Maar is die feit dat die Bybel hierdie uitdrukking gebruik ’n waarborg dat hy opgewek sal word? Die Bybel sê nie. Maar party redeneer dalk dat die een “wat gesterf het, . . . vrygespreek [is] van sy sonde” (Rom. 6:7). Dit is so, maar dit beteken nie dat almal wat gesterf het, opgewek sal word asof ’n nuwe lewe ’n reg is wat hulle verdien het nie. Die opstanding is ’n geskenk van ’n liefdevolle God. Hy gee dit aan dié wat hy ’n geleentheid wil gee om hom vir ewig te dien (Job 14:​13, 14; Joh. 6:44). Sal Salomo so ’n geskenk ontvang? Jehovah weet wat die antwoord is; ons weet nie. Maar ons weet dat Jehovah sal doen wat reg is.

WAT ONS WEL WEET

10. Hoe voel Jehovah daaroor om mense te vernietig? (Esegiël 33:11) (Sien ook prent.)

10 Lees Esegiël 33:11. Wanneer dit kom by die manier hoe Jehovah mense oordeel, sê hy liefdevol vir ons hoe hy voel. Die apostel Petrus was geïnspireer om iets soortgelyks te sê aan die profeet Esegiël se woorde toe hy gesê het dat “Jehovah . . . nie wil hê dat enigiemand vernietig moet word nie” (2 Pet. 3:9). Omdat ons daardie versekering het, weet ons dat Jehovah mense nie sommer vir ewig sal vernietig nie. Hy is baie genadig, en hy wys genade wanneer dit ook al moontlik is.

Gedurende die opstanding van die onregverdiges sal ’n groot verskeidenheid mense ’n geleentheid kry om van Jehovah te leer (Sien paragraaf 10)


11. Wie sal nie opgewek word nie, en hoe weet ons dit?

11 Wat weet ons wel omtrent die mense wat nie opgewek sal word nie? Die Bybel noem net ’n paar voorbeelde. b Jesus het aangedui dat Judas Iskariot nie opgewek sal word nie. (Mark. 14:21; sien ook Johannes 17:12 en studienota in die Engelse Studiebybel.) Judas het willens en wetens teen Jehovah God en Sy Seun gewerk. (Sien Markus 3:29 en studienotas in die Engelse Studiebybel.) Jesus het ook gesê dat party van die godsdiensleiers wat hom teëgestaan het, sonder ’n hoop op ’n opstanding sou sterf. (Matt. 23:33; sien Johannes 19:11 en studienota “the man” in die Engelse Studiebybel.) En die apostel Paulus het gewaarsku dat onberouvolle afvalliges nie opgewek sal word nie. – Heb. 6:​4-8; 10:29.

12. Wat weet ons omtrent Jehovah se genade? Gee voorbeelde.

12 Maar wat weet ons omtrent Jehovah se genade? Hoe het hy gewys dat hy “nie wil hê dat enigiemand vernietig moet word nie”? Dink aan sy genade teenoor party wat ernstig gesondig het. Koning Dawid het ernstige sondes gepleeg, soos egbreuk en moord. Maar Dawid het berou getoon, en daarom het Jehovah genade betoon en hom vergewe (2 Sam. 12:​1-13). Koning Manasse was vir die grootste deel van sy lewe baie sleg. Maar selfs in daardie uiterse geval het Jehovah genade betoon en Manasse vergewe omdat hy berou getoon het (2 Kron. 33:​9-16). Hierdie voorbeelde herinner ons daaraan dat Jehovah genade betoon wanneer hy ook al sien dat daar ’n rede daarvoor is. Hy sal sulke mense opwek omdat hulle besef het dat hulle ernstig gesondig het en berou getoon het.

13. (a) Hoekom was Jehovah genadig teenoor die Nineviete? (b) Wat het Jesus later van die Nineviete gesê?

13 Ons weet ook van Jehovah se genade teenoor die Nineviete. God het vir Jona gesê: “Ek weet van hulle slegtheid.” Maar toe hulle berou getoon het oor hulle sondes het Jehovah hulle liefdevol vergewe. Hy was baie genadiger as Jona. Jona was kwaad, en God moes hom daaraan herinner dat daardie Nineviete “nie eers die verskil tussen reg en verkeerd ken nie” (Jona 1:​1, 2; 3:10; 4:​9-11). Jesus het later daardie voorbeeld gebruik om ander te leer van Jehovah se geregtigheid en genade. Jesus het gesê dat die berouvolle Nineviete “in die oordeel [sou] opstaan”. – Matt. 12:41.

14. Wat sal die “opstanding van oordeel” vir die Nineviete beteken?

14 In watter “oordeel” sal die Nineviete “opstaan”? Jesus het gesê dat daar ’n toekomstige “opstanding van oordeel” sal wees (Joh. 5:29). Hy het verwys na sy Duisendjarige Heerskappy, die tydperk waarin “die regverdiges en die onregverdiges” opgewek sal word (Hand. 24:15). Vir die onregverdiges sal dit “’n opstanding van oordeel” wees. Dit wil sê, Jehovah en Jesus sal hulle gedrag dophou en evalueer en kyk of hulle die dinge wat hulle leer, toepas. As ’n Nineviet wat opgewek is, weier om Jehovah te aanbid, sal hy vir ewig vernietig word (Jes. 65:20). Maar almal wat kies om Jehovah getrou te aanbid, sal ’n gunstige oordeel ontvang. Hulle sal die vooruitsig hê om vir ewig te lewe! – Dan. 12:2.

15. (a) Hoekom moet ons dit vermy om te sê dat nie een van dié wat by Sodom en Gomorra vernietig is, opgewek sal word nie? (b) Hoe kan ons die woorde in Judas 7 verstaan? (Sien die venster “ Wat het Judas bedoel?”)

15 Toe Jesus van die mense van Sodom en Gomorra gepraat het, het hy gesê dat hulle op “die Oordeelsdag” beter af sal wees as die mense wat hom en sy leringe verwerp het (Matt. 10:​14, 15; 11:​23, 24; Luk. 10:12). Wat het hy bedoel? Ons neem dalk aan dat Jesus ’n hiperbool gebruik het toe hy dit gesê het. Maar dit lyk nie asof dit die geval is nie, net soos dit nie die geval was toe hy van die Nineviete gepraat het nie. c Dit lyk eerder asof Jesus bedoel het wat hy gesê het. Hy het sekerlik albei kere van dieselfde “Oordeelsdag” gepraat. Net soos die Nineviete het die mense van Sodom en Gomorra slegte dinge gedoen. Maar die Nineviete het ’n geleentheid gehad om berou te toon. En onthou wat Jesus gesê het van die “opstanding van oordeel”. Dit sal “dié wat walglike dinge gedoen het,” insluit (Joh. 5:29). So dit lyk asof daar dalk ’n bietjie hoop vir die mense van Sodom en Gomorra is. Dit is moontlik dat ten minste party van daardie mense opgewek sal word, en ons sal dalk die geleentheid hê om hulle van Jehovah en Jesus Christus te leer.

16. Wat weet ons omtrent hoe Jehovah sal besluit wie om op te wek? (Jeremia 17:10)

16 Lees Jeremia 17:10. Daardie vers help ons om op te som wat ons wel weet: Jehovah het nog altyd ‘die hart deursoek en die diepste gedagtes ondersoek’. Wanneer hy besluit wie hy in die toekoms sal opwek, sal hy soos altyd “aan elkeen . . . gee volgens sy dade”. Jehovah sal ferm wees wanneer dit nodig is, maar genadig wanneer dit ook al moontlik is. So ons moenie aanneem dat ’n persoon nie ’n hoop op ’n opstanding het nie tensy ons weet dat dit die geval is!

“DIE REGTER VAN DIE HELE AARDE” SAL “DOEN WAT REG IS”

17. Wat hou die toekoms in vir mense wat gesterf het?

17 Vandat Adam en Eva by Satan aangesluit en teen Jehovah God gerebelleer het, het miljarde mense gesterf. Die “vyand, die dood,” het verskriklik baie mense se lewens geneem! (1 Kor. 15:26). Wat lê vir al daardie mense voor? ’n Beperkte hoeveelheid, altesaam 144 000, van Christus se getroue volgelinge sal ’n opstanding tot onsterflike lewe in die hemel ontvang (Op. 14:1). ’n Ontsaglike hoeveelheid getroue mans en vrouens wat Jehovah liefgehad het, sal deel wees van die “opstanding van die regverdiges”, en hulle sal vir ewig op die aarde lewe as hulle regverdig bly gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy en gedurende die finale toets (Dan. 12:13; Heb. 12:1). En gedurende die duisend jaar sal “die onregverdiges” – insluitende dié wat Jehovah nooit gedien het nie of dié wat selfs “walglike dinge gedoen het” – ’n geleentheid gegee word om te verander en getroue knegte van Jehovah God te word (Luk. 23:​42, 43). Maar party mense was so goddeloos, so vasbeslote om teen Jehovah en sy wil te rebelleer, dat hy besluit het dat daar glad nie ’n opstanding vir hulle sal wees nie. – Luk. 12:​4, 5.

18-19. (a) Hoekom kan ons vertroue hê in die manier hoe Jehovah dié wat gesterf het, oordeel? (Jesaja 55:​8, 9) (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

18 Het ons goeie rede om vertroue te hê in al Jehovah se oordele, die gunstiges en ongunstiges? Ja! Abraham het baie goed verstaan dat Jehovah die volmaakte, wysste, genadige “Regter van die hele aarde” is. Hy het sy Seun opgelei en hom die verantwoordelikheid gegee om almal te oordeel (Joh. 5:22). Die Vader sowel as die Seun kan lees wat in elke mens se hart is (Matt. 9:4). Hulle sal in elke geval “doen wat reg is”!

19 Laat ons vasbeslote wees om te vertrou dat Jehovah weet wat die beste is. Ons besef dat ons nie gekwalifiseerd is om te oordeel nie – maar hy is! (Lees Jesaja 55:​8, 9.) So ons laat al die oordeel met vertroue aan hom en sy Seun oor, die Koning wat sy Vader se geregtigheid en genade volmaak weerspieël (Jes. 11:​3, 4). Maar wat kan ons sê oor hoe Jehovah en Jesus mense gedurende die groot verdrukking sal oordeel? Wat weet ons nie? En wat weet ons wel? Ons volgende artikel sal daardie vrae beantwoord.

LIED 57 Preek vir alle soorte mense

b In verband met Adam, Eva en Kain sien Die Wagtoring, 1 Januarie 2013, bl. 12, vtn.

c As iemand ’n hiperbool gebruik, oordryf hy wat hy sê om ’n punt te beklemtoon, maar hy bedoel nie dat sy woorde letterlik verstaan moet word nie. Maar Jesus se kommentaar oor die mense van Sodom en Gomorra kan wel letterlik wees, so dit is nie ’n hiperbool nie.