Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 19

LIED 22 Die Koninkryk regeer — Laat dit kom!

Wat weet ons omtrent Jehovah se toekomstige oordele?

Wat weet ons omtrent Jehovah se toekomstige oordele?

“Jehovah . . . wil [nie] hê dat enigiemand vernietig moet word nie.”2 PET. 3:9.

DOEL

Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah se toekomstige oordele reg en regverdig sal wees.

1. Hoekom kan daar gesê word dat ons in opwindende tye lewe?

 ONS lewe in opwindende tye! Bybelprofesieë word elke dag voor ons oë vervul. Byvoorbeeld, ons sien dat “die koning van die noorde” en “die koning van die suide” met mekaar kompeteer omdat hulle elkeen die wêreld wil domineer (Dan. 11:​40, vtn.). Ons sien dat die goeie nuus van God se Koninkryk regoor die aarde verkondig word en dat miljoene mense gunstig daarop reageer (Jes. 60:22; Matt. 24:14). En ons ontvang ’n oorvloed geestelike voedsel “op die regte tyd”. – Matt. 24:​45-47.

2. Waarvan kan ons seker wees, maar wat moet ons besef?

2 Jehovah hou aan om ons te help om die belangrike gebeure wat voor die deur is, beter te verstaan (Spr. 4:18; Dan. 2:28). Ons kan seker wees dat ons teen die tyd dat die groot verdrukking begin, alles sal weet wat ons moet weet om getrou te volhard en selfs te floreer gedurende daardie moeilike tyd. Maar ons moet besef dat daar party dinge is wat ons net nie weet omtrent die nabye toekoms nie. In hierdie artikel sal ons eers bespreek hoekom ons dit wat ons oor party van daardie gebeure gesê het, aangepas het. Dan sal ons party van die dinge hersien wat ons wel weet omtrent die toekoms en die manier hoe ons hemelse Vader sal optree.

WAT ONS NIE WEET NIE

3. Wat het ons gesê omtrent wanneer mense nie meer die geleentheid sal hê om by ons aan te sluit nie, en hoekom het ons tot daardie slotsom gekom?

3 Ons het in die verlede gesê dat sodra die groot verdrukking begin, geen ongelowiges hulle standpunt vir Jehovah sal kan inneem en Armageddon sal kan oorleef nie. Ons het tot daardie slotsom gekom omdat ons verstaan het dat die verslag van die Vloed ’n profetiese tipe is. Byvoorbeeld, ons het geredeneer dat Jehovah, net soos hy die deur van die ark toegemaak het voor die begin van die Vloed, die deur van Satan se wêreldstelsel aan die begin van die groot verdrukking sou toemaak en sodoende keer dat nog mense gered word. – Matt. 24:​37-39.

4. Beskou ons nou die verslag oor die Vloed as ’n profetiese tipe? Verduidelik.

4 Moet ons die verslag van die Vloed as ’n profetiese tipe beskou? Die antwoord is nee. Hoekom nie? Omdat daar nie direkte ondersteuning in die Bybel daarvoor is nie. a Jesus het “die dae van Noag” met die tyd van sy teenwoordigheid vergelyk, maar hy het nie bedoel dat die Vloed ’n profetiese tipe is en dat elke persoon en elke gebeurtenis ’n ooreenstemmende antitipe het nie; hy het ook nie gesê dat die feit dat die deur van die ark toegemaak is, enige belangrike profetiese betekenis het nie. Maar dit beteken nie dat ons nie uit die verslag van Noag en die Vloed kan leer nie.

5. (a) Wat het Noag voor die Vloed gedoen? (Hebreërs 11:7; 1 Petrus 3:20) (b) Hoe vergelyk ons situasie vandag met Noag se dag wanneer dit by die predikingswerk kom?

5 Toe Noag Jehovah se waarskuwingsboodskap gehoor het, het hy bewys dat hy geloof het deur die ark te bou. (Lees Hebreërs 11:7; 1 Petrus 3:20.) Net so moet mense wat die goeie nuus van God se Koninkryk hoor, reageer op wat hulle hoor (Hand. 3:​17-20). Petrus het Noag “’n prediker van regverdigheid” genoem (2 Pet. 2:5). Maar soos ons in die vorige artikel bespreek het, weet ons nie of Noag die leiding geneem het in ’n predikingskampanje om almal te bereik wat op die aarde gelewe het voor die Vloed nie. Vandag is ons betrokke by ’n wêreldwye predikingswerk, en ons probeer om ’n ywerige deelname daaraan te hê. Maar al probeer ons hoe hard, is dit onmoontlik om elke persoon op die aarde met die goeie nuus te bereik voordat die einde kom. Hoekom?

6-7. Hoekom kan ons tot die slotsom kom dat ons nie almal op die aarde met die goeie nuus sal bereik voordat die einde kom nie? Verduidelik.

6 Dink aan wat Jesus oor ons predikingswerk gesê het. Hy het voorspel dat die goeie nuus “oor die hele bewoonde aarde verkondig [sal] word as ’n getuienis vir al die nasies” (Matt. 24:14). Daardie profesie word vandag vervul soos nog nooit tevore nie. Die Koninkryksboodskap is beskikbaar in meer as 1 000 tale, en deur middel van die jw.org-webwerf is dit beskikbaar aan die meeste mense in die wêreld.

7 Maar Jesus het ook vir sy dissipels gesê dat hulle nie “die kring van die stede . . . sal voltooi”, of vir almal sal preek, voordat hy sou kom nie (Matt. 10:23; 25:​31-33). Jesus se woorde is ook in ons dag van toepassing. Vandag bly miljoene mense in gebiede waar die predikingswerk erg beperk is. En honderde babas word elke minuut gebore. Ons doen ons bes om mense uit “elke nasie en stam en taal” met die goeie nuus te bereik (Op. 14:6). Maar die feit is dat ons nie die goeie nuus met elke persoon op die aarde sal kan deel voordat die einde kom nie.

8. Watter vraag vra ons dalk omtrent Jehovah se toekomstige oordele? (Sien ook prente.)

8 Op grond van wat ons nou net bespreek het, vra ons dalk: Wat van dié wat dalk nie ’n kans het om die goeie nuus te hoor voordat die groot verdrukking begin nie? Hoe sal Jehovah en sy Seun, wat hy aangestel het om te oordeel, hulle hanteer? (Joh. 5:​19, 22, 27; Hand. 17:31). Die temateks van hierdie artikel sê dat Jehovah “nie wil hê dat enigiemand vernietig moet word nie”. Hy wil eerder hê dat “almal berou moet toon” (2 Pet. 3:9; 1 Tim. 2:4). Al weet ons hierdie dinge omtrent Jehovah, het hy nog nie vir ons gesê hoe hy mense sal oordeel wat nooit die kans gehad het om die goeie nuus te hoor nie. Hy hoef natuurlik nie vir ons enige iets te sê oor wat hy gedoen het of gaan doen nie.

Hoe sal Jehovah dié oordeel wat dalk nie ’n kans het om die goeie nuus te hoor voordat die groot verdrukking begin nie? (Sien paragraaf 8) c


9. Wat het Jehovah in die Bybel aan ons geopenbaar?

9 In sy Woord het Jehovah party van die dinge wat hy gaan doen, aan ons geopenbaar. Byvoorbeeld, die Bybel sê vir ons dat Jehovah die “onregverdiges” sal opwek wat nie die geleentheid gehad het om op die goeie nuus te reageer en hulle gedrag te verander nie (Hand. 24:15; Luk. 23:​42, 43). Dit laat ander belangrike vrae ontstaan.

10. Watter ander vrae ontstaan?

10 Sal almal wat gedurende die groot verdrukking sterf, vir ewig vernietig word met geen hoop op ’n opstanding nie? Die Bybel maak dit duidelik dat direkte teenstanders wat by Armageddon deur Jehovah en sy magte vernietig sal word, nie opgewek sal word nie (2 Tess. 1:​6-10). Maar wat van ander wat byvoorbeeld sterf as gevolg van natuurlike oorsake, ongelukke of omdat iemand hulle doodgemaak het? (Pred. 9:11; Sag. 14:13). Kan party van hierdie mense onder die “onregverdiges” wees wat in die nuwe wêreld opgewek sal word? Ons weet eenvoudig nie.

WAT ONS WEL WEET

11. Op grond waarvan sal mense by Armageddon geoordeel word?

11 Ons weet ’n hele paar dinge oor toekomstige gebeure. Byvoorbeeld, ons weet dat mense by Armageddon geoordeel sal word op grond van hoe hulle Christus se broers behandel het (Matt. 25:40). Dié wat as skape geoordeel word, sou gewys het dat hulle die gesalfdes en Christus ondersteun. Ons weet ook dat party van Christus se broers nog steeds op die aarde sal wees nadat die groot verdrukking begin het en eers hemel toe geneem sal word kort voor Armageddon uitbreek. So lank as wat Christus se broers nog op die aarde is, is dit moontlik dat opregte persone die geleentheid sal hê om hulle en die werk wat hulle doen, te ondersteun (Matt. 25:​31, 32; Op. 12:17). Hoekom is daardie feite belangrik?

12-13. Hoe sal party dalk reageer nadat hulle die vernietiging van “Babilon die Grote” gesien het? (Sien ook prente.)

12 Selfs ná die begin van die groot verdrukking is dit moontlik dat party wat die vernietiging van “Babilon die Grote” sien, sal onthou dat Jehovah se Getuies al jare lank van hierdie gebeurtenis gepraat het. Sal party wat hierdie gebeure sien, moontlik dan geloof in Jehovah stel? – Op. 17:5; Eseg. 33:33.

13 As dit gebeur, sal dit soortgelyk wees aan wat in Moses se dag in Egipte gebeur het. Onthou dat “’n groot gemengde skare” by die Israeliete aangesluit het toe hulle Egipte verlaat het. Party van hierdie persone het dalk geloof begin ontwikkel toe hulle sien dat Moses se waarskuwings oor die Tien Plae waar geword het (Eks. 12:38). As iets soortgelyks gebeur ná die vernietiging van Babilon die Grote, sou ons teleurgesteld wees dat mense kort voor die einde by ons kon aansluit? Natuurlik nie! Ons wil die persoonlikheid weerspieël van ons hemelse Vader, “’n God wat genadig is en medelye betoon, wat nie gou kwaad word nie en vol lojale liefde en waarheid is”. bEks. 34:6.

Party wat die vernietiging van “Babilon die Grote” sal sien, sal onthou dat Jehovah se Getuies al jare lank van hierdie gebeurtenis gepraat het (Sien paragraaf 12-13) d


14-15. Hang ’n persoon se ewige toekoms af van wanneer hy sterf of waar hy bly? Verduidelik. (Psalm 33:​4, 5)

14 Ons hoor soms dat iemand sê: “Dit sou amper beter wees as my familielid sterf voordat die groot verdrukking begin sodat daar hoop is dat hy opgewek sal word.” Iemand wat so iets sê, het sekerlik goeie bedoelings. Maar ’n persoon se ewige toekoms hang nie af van wanneer hy sterf nie. Jehovah is die volmaakte Regter – sy besluite is altyd reg en regverdig. (Lees Psalm 33:​4, 5.) Ons kan die vertroue hê dat “die Regter van die hele aarde” sal doen wat reg is. – Gen. 18:25.

15 Dit is ook redelik om te sê dat ’n persoon se ewige toekoms nie afhang van waar hy bly nie. Jehovah sal nooit miljoene mense as “bokke” oordeel net omdat hulle in lande bly waar hulle nooit ’n geleentheid gekry het om op die Koninkryksboodskap te reageer nie (Matt. 25:46). Die regverdige Regter van die hele aarde gee selfs meer vir hierdie mense om as wat ons ooit sou kon. Ons weet nie hoe Jehovah gebeure gedurende die groot verdrukking sal laat uitwerk nie. Dalk sal party van hierdie mense ’n geleentheid hê om van Jehovah te leer, geloof in hom te stel en hulle standpunt aan Jehovah se kant in te neem wanneer hy homself voor alle nasies heilig. – Eseg. 38:16.

Ná die begin van die groot verdrukking, . . . sal party wat hierdie gebeure sien, moontlik dan geloof in Jehovah stel?

16. Wat het ons omtrent Jehovah geleer? (Sien ook prent.)

16 Deur ons studie van die Bybel het ons geleer hoe waardevol die lewe van mense vir Jehovah is. Hy het sy Seun se lewe gegee sodat ons almal die vooruitsig kan hê om vir ewig te lewe (Joh. 3:16). Ons almal het al Jehovah se liefde gevoel (Jes. 49:15). Hy ken ons elkeen by die naam. Om die waarheid te sê, hy ken ons so goed as individue dat as ons sou sterf, hy elke unieke besonderheid en elke herinnering wat ons maak wie ons is, weer vir ons kan teruggee! (Matt. 10:​29-31). Ons het beslis goeie rede om die vertroue te hê dat ons liefdevolle hemelse Vader elke individu op ’n volmaak gebalanseerde, regverdige en genadige manier sal oordeel. – Jak. 2:13.

Ons kan die vertroue hê dat Jehovah elke individu op ’n volmaak gebalanseerde, regverdige en genadige manier sal oordeel (Sien paragraaf 16)


17. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 Hierdie aanpassings maak eintlik ons predikingswerk dringender as ooit tevore. Hoekom kan ons dit sê? En wat motiveer ons om die goeie nuus ywerig te bly verkondig? Ons sal die antwoorde op hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.

LIED 76 Hoe laat dit jou voel?

a Vir ’n verduideliking van hoekom hierdie verandering gemaak is, sien die artikel ‘Dit is wat u goedgevind het’ in Die Wagtoring van 15 Maart 2015, bl. 3-8.

b Ná die vernietiging van Babilon die Grote sal al Jehovah se knegte gedurende die aanval van Gog van Magog getoets word. Enige een wat God se volk se kant kies ná die vernietiging van Babilon die Grote, sal ook getoets word.

c BESKRWYING VAN PRENT: Drie tonele wat wys hoekom party dalk nie deur ons wêreldwye predikingswerk bereik word nie: (1) ’n Vrou wat op ’n plek bly waar die algemene godsdiens dit onveilig maak, (2) ’n paartjie wat op ’n plek bly waar die politieke stelsel dit onwettig en gevaarlik maak en (3) ’n man wat op ’n plek bly wat verskriklik afgeleë en onbereikbaar is.

d BESKRYWING VAN PRENT: ’n Jong vrou wat die waarheid verlaat het, onthou wat sy geleer het oor die vernietiging van “Babilon die Grote”. Sy besluit om na Jehovah terug te keer en gaan weer terug na haar Christenouers. As sulke dinge gebeur, wil ons die genadige en liefdevolle persoonlikheid van ons hemelse Vader weerspieël en bly wees dat ’n sondaar teruggekeer het.