Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 20

LIED 67 Preek getrou

Laat liefde jou motiveer om aan te hou preek!

Laat liefde jou motiveer om aan te hou preek!

“Die goeie nuus moet . . . eers aan mense van al die nasies verkondig word.”MARK. 13:10.

DOEL

Hoe liefde ons motiveer om ywerig en heelhartig aan die predikingswerk deel te neem.

1. Wat het ons by die 2023-jaarvergadering geleer?

 BY DIE 2023-jaarvergadering a het ons opwindende aanpassings in verband met party van ons oortuigings ontvang, en ons het ’n paar opwindende aankondigings oor ons bediening gehoor. Ons het byvoorbeeld geleer dat party mense dalk ’n geleentheid sal hê om by Jehovah se volk aan te sluit selfs nadat Babilon die Grote vernietig is. Ons het ook geleer dat Koninkryksverkondigers vanaf November 2023 nie meer gevra sou word om al hulle velddiensbedrywighede te rapporteer nie. Maak sulke veranderinge ons bediening minder belangrik, minder dringend as voorheen? Beslis nie!

2. Hoekom word ons bediening elke dag al hoe dringender? (Markus 13:10)

2 Ons bediening word elke dag al hoe dringender. Hoekom? Want daar is nie meer baie tyd oor nie. Dink aan wat Jesus voorspel het oor die predikingswerk in die laaste dae. (Lees Markus 13:10.) Volgens Matteus se parallelle verslag het Jesus gesê dat die goeie nuus oor die hele bewoonde aarde verkondig sal word voordat “die einde” kom (Matt. 24:14). Daardie uitdrukking verwys na die algehele einde van Satan se goddelose wêreld. Jehovah het die “dag en uur” vasgestel vir die gebeure wat binnekort sal plaasvind (Matt. 24:36; 25:13; Hand. 1:7). Elke dag bring ons een dag nader aan daardie tyd (Rom. 13:11). Intussen moet ons aanhou preek totdat die einde kom.

3. Wat motiveer ons om te preek?

3 Hier is ’n belangrike vraag waaroor ons almal wil nadink: Hoekom verkondig ons die goeie nuus? Eenvoudig gestel, liefde motiveer ons om te preek. Wat ons in die predikingswerk doen, weerspieël ons liefde – ons liefde vir die goeie nuus, ons liefde vir mense en, nog belangriker, ons liefde vir Jehovah en sy naam. Kom ons bespreek hierdie dinge een vir een.

ONS PREEK OMDAT ONS DIE GOEIE NUUS LIEFHET

4. Hoe reageer ons wanneer ons goeie nuus ontvang?

4 Kan jy onthou hoe jy gevoel het toe jy goeie nuus ontvang het – dalk oor die geboorte van ’n nuwe familielid of selfs die aanbod vir ’n werk wat jy baie nodig gehad het? Jy was ongetwyfeld baie gretig om daardie goeie nuus met jou familie en vriende te deel. Het iets soortgelyks gebeur toe jy die heel beste nuus gehoor het – die goeie nuus van God se Koninkryk?

5. Hoe het jy gevoel toe jy die waarheid uit God se Woord vir die eerste keer gehoor het? (Sien ook prente.)

5 Dink terug aan hoe jy gevoel het toe jy die waarheid uit God se Woord vir die eerste keer gehoor het. Jy het geleer dat jou hemelse Vader jou liefhet, dat hy wil hê dat jy deel van sy familie van aanbidders moet wees, dat hy belowe het om ’n einde te maak aan pyn en lyding, dat jy kan hoop om jou geliefdes wat gesterf het, weer in ’n nuwe wêreld te sien – en baie meer (Mark. 10:​29, 30; Joh. 5:​28, 29; Rom. 8:​38, 39; Op. 21:​3, 4). Daardie waarhede het jou hart geraak (Luk. 24:32). Jy was lief vir wat jy geleer het, en jy kon nie daardie kosbare waarhede vir jouself hou nie! – Vergelyk Jeremia 20:9.

Toe ons die goeie nuus vir die eerste keer gehoor het, kon ons nie daardie kosbare waarhede vir onsself hou nie! (Sien paragraaf 5)


6. Wat leer jy uit die ondervinding van Ernest en Rose?

6 Kyk na ’n ondervinding. ’n Broer met die naam Ernest b was omtrent tien jaar oud toe sy pa gesterf het. Ernest vertel: “Ek het gewonder: ‘Is hy hemel toe? Of sal hy vir ewig dood wees?’ Ek was jaloers op ander kinders wat nog ’n pa gehad het.” Ernest het gereeld na die begraafplaas gegaan, by sy pa se graf gekniel en gebid: “God, ek wil asseblief weet waar my pa is.” Omtrent 17 jaar ná sy pa se dood het iemand vir Ernest ’n Bybelstudie aangebied, wat hy gretig aanvaar het. Hy was baie bly om te leer dat die dooies niks weet nie, asof hulle in ’n diep slaap is en dat die Bybel belowe dat hulle in die toekoms opgewek sal word (Pred. 9:​5, 10; Hand. 24:15). Hy het uiteindelik die antwoorde gevind op die vrae wat hom so lank gepla het! Ernest was baie opgewonde oor die Bybelwaarhede wat hy geleer het. Sy vrou, Rose, het ook begin studeer, en sy was ook lief vir die Koninkryksboodskap. Hulle is in 1978 gedoop. Hulle het hulle kosbare oortuigings ywerig met familie en vriende gedeel, en met enige iemand anders wat geluister het. As gevolg daarvan het Ernest en Rose meer as 70 mense gehelp om tot doop te vorder.

7. Wat gebeur wanneer liefde vir Bybelwaarheid in ons hart groei? (Lukas 6:45)

7 Dit is duidelik dat ons nie kan stilbly wanneer liefde vir Bybelwaarheid in ons hart groei nie. (Lees Lukas 6:45.) Ons voel soos Jesus se eerste-eeuse dissipels wat gesê het: “Ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand. 4:20). Ons is so lief vir die waarheid dat ons dit met soveel mense as moontlik wil deel.

ONS PREEK OMDAT ONS MENSE LIEFHET

8. Wat motiveer ons om die goeie nuus met ander te deel? (Sien die venster  Wees lief vir mense – Maak dissipels”.) (Sien ook prent.)

8 Soos Jehovah en sy Seun is ons lief vir mense (Spr. 8:31; Joh. 3:16). Ons het baie medelye vir dié wat “sonder God” is en wat “geen hoop” het nie (Ef. 2:12). Hulle verdrink in die lewe se probleme, en ons het die reddingsbaadjie wat hulle nodig het – die goeie nuus van God se Koninkryk. Ons liefde en medelye vir sulke mense motiveer ons om alles te doen wat ons kan om die goeie nuus met hulle te deel. Daardie kosbare boodskap kan hulle harte met hoop vul, hulle help om nou die beste moontlike lewe te vind en hulle die vooruitsig op “die werklike lewe” – ewige lewe – in God se nuwe wêreld gee. – 1 Tim. 6:19.

Ons liefde en meegevoel vir mense motiveer ons om alles te doen wat ons kan om die goeie nuus met hulle te deel (Sien paragraaf 8)


9. Watter waarskuwing gee ons oor die toekoms, en hoekom? (Esegiël 33:​7, 8)

9 Ons liefde vir mense motiveer ons ook om hulle te waarsku dat die einde van hierdie goddelose wêreld naby is. (Lees Esegiël 33:​7, 8.) Ons voel jammer vir ander sowel as vir ons ongelowige familielede. Baie gaan maar net aan met hulle daaglikse lewe en is onbewus van wat kom – ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie plaasgevind het nie, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matt. 24:21). Ons wil hê dat hulle moet weet wat gedurende daardie tyd van oordeel sal gebeur – valse godsdiens sal vernietig word, en daarna die hele goddelose wêreld by Armageddon (Op. 16:​14, 16; 17:​16, 17; 19:​11, 19, 20). Ons bid dat soveel mense as moontlik op die waarskuwing sal reageer en sal besluit om Jehovah saam met ons te dien. Maar wat van dié wat nie nou na die waarskuwing luister nie, insluitende geliefde familielede?

10. Hoekom is dit dringend dat ons die waarskuwingsboodskap bly verkondig?

10 Soos die vorige artikel verduidelik het, is dit dalk Jehovah se wil om mense te red wat geloof in hom begin stel wanneer hulle sien dat Babilon die Grote vernietig word. As dit die geval is, is dit nou dringender as ooit dat ons die waarskuwingsboodskap bly verkondig. Dink hieraan: Wat ons nou vir hulle sê, gee hulle dalk iets om dan te onthou. (Vergelyk Esegiël 33:33.) Dalk sal hulle onthou dat ons hulle gewaarsku het en beweeg word om Jehovah saam met ons te begin dien voordat dit te laat is. Soos die tronkbewaarder in Filippi wat eers ná “’n groot aardbewing” geloof in Jehovah begin stel het, sal party wat nie nou reageer nie, dalk eers ná die verwoestende vernietiging van Babilon die Grote geloof in Jehovah begin stel. – Hand. 16:​25-34.

ONS PREEK OMDAT ONS JEHOVAH EN SY NAAM LIEFHET

11. Hoe gee ons Jehovah heerlikheid, eer en krag? (Openbaring 4:11) (Sien ook prente.)

11 Die belangrikste rede hoekom ons die goeie nuus verkondig, is dat ons Jehovah God en sy heilige naam liefhet. Ons beskou ons bediening as ’n manier om die God wat ons liefhet, te loof. (Lees Openbaring 4:11.) Ons stem heelhartig saam dat Jehovah God waardig is om heerlikheid, eer en krag van sy lojale aanbidders te ontvang. Ons gee hom heerlikheid en eer wanneer ons die oortuigende bewyse met ander deel dat hy “alles geskep” het en dat ons net lewe omdat hy ons lewe gegee het. Ons gee hom krag – ons krag – wanneer ons ons tyd, energie en middele gebruik om soveel in die bediening te doen as wat ons omstandighede ons toelaat (Matt. 6:33; Luk. 13:24; Kol. 3:23). Eenvoudig gestel, ons is lief om te praat oor die God wat ons liefhet. Ons voel ook gemotiveerd om ander te vertel van sy naam en watter soort God hy is. Hoekom?

Ons gee Jehovah ons krag wanneer ons ons tyd, energie en middele gebruik om soveel in die bediening te doen as wat ons omstandighede ons toelaat (Sien paragraaf 11)


12. Hoe heilig ons Jehovah se naam in ons bediening?

12 Ons liefde vir Jehovah motiveer ons om sy naam te heilig (Matt. 6:9). Ons wil help om sy naam te reinig van die oneer wat Satan daarop gebring het deur middel van sy bose leuens (Gen. 3:​1-5; Job 2:4; Joh. 8:44). In ons bediening is ons gretig om op te staan vir ons God en die waarheid oor hom te vertel vir almal wat sal luister. Ons wil hê dat almal moet weet dat liefde sy hoofeienskap is, dat sy manier van regeer regverdig en reg is en dat sy Koninkryk binnekort ’n einde sal maak aan alle lyding en vrede en geluk sal bring vir alle mense op die aarde (Ps. 37:​10, 11, 29; 1 Joh. 4:8). Wanneer ons Jehovah se reputasie in ons bediening verdedig, heilig ons sy naam. Ons is ook gelukkig omdat ons weet dat ons doen wat ons as Jehovah se Getuies behoort te doen. Hoe so?

13. Hoekom is ons trots om Jehovah se Getuies genoem te word? (Jesaja 43:​10-12)

13 Jehovah het ons gekies om sy “getuies” te wees. (Lees Jesaja 43:​10-12.) ’n Paar jaar gelede het ’n brief van die Bestuursliggaam gesê: “Die grootste eer wat enigeen van ons kan geniet, is om een van Jehovah se Getuies genoem te word.” c Hoekom is dit so? Dink aan hierdie illustrasie. As jy iemand nodig het om in ’n hofsaak oor jou karakter te getuig, sou jy iemand kies wat jy ken en vertrou, iemand met ’n goeie reputasie en wat ’n betroubare getuienis sou gee. Deur ons te kies om sy Getuies te wees, wys Jehovah dat hy ons goed ken en dat hy ons vertrou om te getuig dat hy die enigste ware God is. Ons voel so geëerd om sy Getuies te wees dat ons elke geleentheid gebruik om sy naam bekend te maak en om die baie leuens wat oor hom vertel is, verkeerd te bewys. Deur dit te doen, doen ons wat ons naam sê ons behoort te doen: Ons is Getuies vir Jehovah! – Ps. 83:18; Rom. 10:​13-15.

ONS SAL TOT DIE EINDE AANHOU PREEK

14. Watter opwindende dinge lê vir ons voor?

14 Daar lê baie opwindende dinge vir ons voor! Met Jehovah se seën hoop ons dat baie meer mense die waarheid sal aanvaar voordat die groot verdrukking begin. En ons is baie opgewonde oor die moontlikheid dat ons selfs gedurende die donkerste tyd in die mensegeskiedenis – die groot verdrukking – sal sien dat nog meer mense hulle rug op Satan se wêreld sal draai en Jehovah saam met ons sal loof! – Hand. 13:48.

15-16. Wat sal ons bly doen, en tot wanneer?

15 Intussen het ons werk om te doen. Ons het die voorreg om deel te neem aan ’n werk wat nooit weer gedoen sal word nie – die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk regoor die aarde. Terselfdertyd moet ons mense bly waarsku oor wat binnekort sal gebeur. Mense moet weet dat die einde van hierdie goddelose wêreld baie vinnig nader kom. Wanneer daardie tyd van oordeel dan kom, sal hulle weet dat die boodskap wat ons verkondig het, van Jehovah God af gekom het. – Eseg. 38:23.

16 So wat is ons vasbeslote om te doen? Gemotiveer deur liefde – liefde vir die goeie nuus, liefde vir mense en, nog belangriker, liefde vir Jehovah God en sy naam – sal ons gretig en met dringendheid en ywer bly preek totdat Jehovah sê: “Dit is genoeg!”

LIED 54 “Dit is die weg”

a Die jaarvergadering is op 7 Oktober 2023 by die Newburgh-Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in New York, VSA, gehou. Die hele program is later uitgesaai op JW Broadcasting® – Deel 1 in November 2023 en Deel 2 in Januarie 2024.

b Sien die artikel “Die Bybel verander lewens—Die Bybel se duidelike, logiese antwoorde het my beïndruk” in Die Wagtoring van 1 Februarie 2015.

c Sien die Jaarboek van Jehovah se Getuies vir 2007, bl. 3.