Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 25

LIED 7 Jehovah, ons sterkte

Onthou dat Jehovah “die lewende God” is

Onthou dat Jehovah “die lewende God” is

“Jehovah lewe!”PS. 18:46.

DOEL

Ons vind grootliks daarby baat deur te onthou dat die God wat ons aanbid, “die lewende God” is.

1. Wat help Jehovah se volk om hom te bly aanbid ten spyte van die probleme wat hulle ondervind?

 “SWAAR tye . . . wat moeilik is om deur te kom” – dit is hoe die Bybel die tyd beskryf waarin ons lewe (2 Tim. 3:1). Buiten die uitdagings wat almal in hierdie wêreldstelsel ondervind, moet Jehovah se volk teenstand en vervolging verduur. Wat help ons om Jehovah te bly aanbid ten spyte van hierdie probleme? Een hoofrede is dat ons Jehovah leer ken het as “die lewende God”. – Jer. 10:10; 2 Tim. 1:12.

2. Op watter manier is Jehovah die lewende God?

2 Jehovah is ’n werklike Persoon wat ons gedurende ons moeilike tye help en na geleenthede soek om ons te ondersteun (2 Kron. 16:9; Ps. 23:4). As ons hom as die lewende God beskou, kan dit ons help om enige moeilike tyd wat op ons pad kom, suksesvol te hanteer. Kyk hoe dit in koning Dawid se geval waar was.

3. Wat het Dawid bedoel toe hy gesê het dat “Jehovah lewe”?

3 Dawid het Jehovah geken en op Hom vertrou. Toe Dawid agternagesit is deur sy vyande, insluitende koning Saul, het hy tot Jehovah gebid vir hulp (Ps. 18:6). Nadat God sy gebed beantwoord en hom gered het, het Dawid gesê: “Jehovah lewe!” (Ps. 18:46). Met hierdie woorde het Dawid nie net erken dat God bestaan nie. Een naslaanwerk sê dat Dawid vertroue uitgespreek het in Jehovah “as ’n lewende god wat heeltyd vir sy volk optree”. Ja, Dawid het uit persoonlike ondervinding geweet dat sy God lewe, en daardie oortuiging het sy vasbeslotenheid versterk om Jehovah te dien en te loof. – Ps. 18:​28, 29, 49.

4. Hoe vind ons daarby baat as ons Jehovah as die lewende God beskou?

4 As ons oortuig is dat Jehovah die lewende God is, kan dit ons help om hom met ywer te dien. Ons sal die krag hê om probleme te verduur en gemotiveerd wees om hard te bly werk in sy diens. Ons sal ook vasbeslote wees om na aan Jehovah te bly.

DIE LEWENDE GOD SAL JOU VERSTERK

5. Wat kan ons vertroue gee wanneer ons probleme ondervind? (Filippense 4:13)

5 Ons sal enige probleem, groot of klein, kan verduur as ons onthou dat Jehovah lewe en dat hy daar is om ons te help. Om die waarheid te sê, enige probleem wat ons ondervind, staan nie ’n kans teen ons God nie. Hy is die Almagtige, en hy kan ons die krag gee om te volhard. (Lees Filippense 4:13.) Daarom het ons goeie rede om ons probleme met vertroue te verduur. Wanneer ons Jehovah se ondersteuning gedurende kleiner probleme ondervind, oortuig dit ons dat hy ons ook gedurende groter probleme sal help.

6. Watter ondervindinge gedurende Dawid se jong dae het sy vertroue in Jehovah versterk?

6 Kyk na twee persoonlike ondervindinge wat Dawid se vertroue in Jehovah versterk het. Toe Dawid ’n jong herder was, het ’n beer sowel as ’n leeu een van sy pa se skape weggedra. By albei geleenthede het Dawid die diere moedig agternagesit en die skape gered. Maar Dawid het nie gedink dat hy dit op sy eie gedoen het nie. Hy het geweet dat Jehovah hom die krag gegee het om dit te doen (1 Sam. 17:​34-37). Dawid het nooit daardie ondervindinge vergeet nie. Omdat hy daaroor nagedink het, het dit hom die vertroue gegee dat die lewende God hom in die toekoms sou versterk.

7. Waarop het Dawid gefokus, en hoekom het dit hom gehelp om teen Goliat te veg?

7 Later, heel moontlik terwyl hy nog ’n tiener was, het Dawid die leërkamp van die Israeliete besoek. Hy het gesien dat die soldate doodbang was omdat ’n reuse Filistyn met die naam Goliat gekom het om “die leërmag van Israel uit [te daag]” (1 Sam. 17:​10, 11). Die soldate was baie bang omdat hulle op die reus gefokus het en op wat hy vir hulle gesê het (1 Sam. 17:​24, 25). Maar Dawid het op iets anders gefokus. Hy het dit wat besig was om te gebeur, beskou as ’n uitdaging, nie net teen die leërmag van Israel nie, maar teen “die leërmag van die lewende God” (1 Sam. 17:26). Dawid het aan Jehovah gedink. Dawid het die vertroue gehad dat die God wat hom gehelp het toe hy ’n herder was, hom weer in hierdie situasie sou help. Omdat Dawid seker was dat God hom sou ondersteun, het hy teen Goliat geveg en, natuurlik, het hy gewen! – 1 Sam. 17:​45-51.

8. Hoe kan ons Jehovah in gedagte hou wanneer ons probleme ondervind? (Sien ook prent.)

8 Ons kan ook probleme suksesvol hanteer as ons onthou dat die lewende God gereed is om ons te help (Ps. 118:6). Ons kan ons vertroue in daardie feit versterk deur te kyk na wat hy in die verlede gedoen het. Lees Bybelverslae wat jou herinner aan hoe Jehovah sy aanbidders gered het (Jes. 37:​17, 33-37). En lees of kyk verslae op ons jw.org-webwerf wat wys hoe Jehovah ons broers en susters in moderne tye ondersteun het. Dink ook aan tye toe Jehovah vir jou opgetree het. Moenie bekommerd wees as jy nie kan dink aan die een of ander buitengewone ondervinding, soos om teen ’n beer of ’n leeu te veg, nie. Hoekom nie? Die feit is dat Jehovah al baie dinge vir jou in jou lewe gedoen het! Hy het jou genooi om sy vriend te word (Joh. 6:44). Selfs nou is dit net danksy sy hulp dat jy nog steeds in die waarheid is. Hoekom vra jy hom nie om jou te help om tye te onthou toe hy jou gebede beantwoord het, jou op net die regte tyd ondersteun het of jou gedurende ’n moeilike situasie gehelp het nie? Wanneer jy oor sulke ondervindinge nadink, sal dit jou vertroue versterk dat Jehovah sal aanhou om vir jou op te tree.

Die feit dat ons deur moeilike tye gaan, is deel van ’n groter kwessie (Sien paragraaf 8-9)


9. Hoe kan ons ons probleme beskou? (Spreuke 27:11)

9 As ons Jehovah as ’n lewende Persoon beskou, sal dit ons help om die regte beskouing van ons probleme te hê. Hoe so? Ons begin om ons probleme te sien as deel van ’n groter kwessie tussen Jehovah en Satan. Die Duiwel beweer dat ons Jehovah sal verlaat as ons deur ’n moeilike tyd gaan. (Job 1:​10, 11; lees Spreuke 27:11.) Maar wanneer ons ons probleme suksesvol hanteer, wys ons dat ons Jehovah liefhet en bewys ons dat die Duiwel ’n leuenaar is. Ondervind jy teenstand van die regering, ekonomiese probleme, negatiewe reaksies op jou predikingswerk of die een of ander probleem? As dit die geval is, onthou dat jou situasie jou ’n geleentheid gee om Jehovah se hart bly te maak. Onthou ook dat hy nooit sal toelaat dat jy ’n versoeking deurmaak wat jy nie kan hanteer nie (1 Kor. 10:13). Hy sal jou die krag gee om te volhard.

DIE LEWENDE GOD SAL JOU BELOON

10. Wat sal die lewende God doen vir dié wat hom aanbid?

10 Jehovah is die Beloner van dié wat hom aanbid (Heb. 11:6). Hy gee ons nou vrede en tevredenheid en sal ons ewige lewe in die toekoms gee. Ons kan ons hoop in Jehovah stel, met die vertroue dat hy die begeerte en die krag het om ons te beloon. En daardie vertroue motiveer ons om besig te bly in ons aanbidding, net soos getroue knegte van God in die verlede gemotiveer was om te doen. Dit is wat Timoteus gedoen het. – Heb. 6:​10-12.

11. Wat het Timoteus gemotiveer om hard te werk in die gemeente? (1 Timoteus 4:10)

11 Lees 1 Timoteus 4:10. Timoteus het sy hoop in die lewende God gestel. Daarom het hy goeie rede gehad om hard te werk en sy bes te doen. Op watter maniere? Die apostel Paulus het hom aangemoedig om vordering te maak as ’n onderrigter en ’n openbare spreker. Timoteus moes ook ’n goeie voorbeeld stel vir medegelowiges, jonk sowel as oud. En hy het ’n paar moeilike toewysings gekry, wat ingesluit het dat hy ferm maar liefdevolle raad moes gee aan dié wat dit nodig gehad het (1 Tim. 4:​11-16; 2 Tim. 4:​1-5). Timoteus kon daarvan seker wees dat Jehovah hom sou beloon, al het ander soms nie sy werk raakgesien of dit waardeer nie. – Rom. 2:​6, 7.

12. Wat kan ouermanne motiveer om besig te bly in hulle werk? (Sien ook prent.)

12 Vandag kan ouermanne ook daarvan seker wees dat Jehovah hulle goeie werk sien en waardeer. Buiten hulle herderswerk sowel as die onderrigtings- en predikingswerk ondersteun baie ouermanne bouprojekte en noodlenigingspogings. Ander dien op Pasiëntbesoekgroepe of Hospitaalskakelkomitees. Ouermanne wat hulleself beskikbaar maak vir sulke werk, sien die gemeente as Jehovah se reëling, nie as ’n mensgemaakte instelling nie. As gevolg daarvan werk hulle hard in hulle toewysings en het hulle die volle vertroue dat God hulle sal beloon vir wat hulle doen. – Kol. 3:​23, 24.

Die lewende God sal jou beloon terwyl jy hard werk vir die gemeente (Sien paragraaf 12-13)


13. Hoe voel Jehovah oor wat ons vir hom doen?

13 Almal kan nie ouermanne wees nie. Maar ons almal kan vir Jehovah iets gee. Ons God waardeer dit wanneer ons ons bes doen om hom te dien. Hy sien wanneer ons bydraes aan die wêreldwye werk maak, al kan ons nie baie gee nie. Hy is baie gelukkig wanneer ons ons hand opsteek om by vergaderinge te antwoord al is ons skaam, en hy is bly wanneer ons dié vergewe wat ons aanstoot gee. Al voel jy dat jy nie so baie kan doen as wat jy graag sou wou nie, vertrou dat Jehovah waardeer wat jy kan doen. Hy het jou lief vir dit wat jy doen, en hy sal jou beloon. – Luk. 21:​1-4.

BLY NA AAN DIE LEWENDE GOD

14. Hoe help dit ons om getrou te bly as ons na aan Jehovah bly? (Sien ook prent.)

14 As Jehovah vir ons ’n werklike Persoon is, sal dit vir ons makliker wees om getrou aan hom te bly. Dit was waar in Josef se geval. Hy het ferm geweier om onsedelik te wees. God was vir hom ’n werklike Persoon, en hy wou Hom nie ongelukkig maak nie (Gen. 39:9). As ons wil hê dat Jehovah vir ons ’n werklike Persoon moet wees, moet ons tyd maak om tot hom te bid en om sy Woord te studeer. Ons vriendskap met hom sal dan groei. Wanneer ons, net soos Josef, ’n sterk vriendskap met Jehovah het, sal ons nie enige iets wil doen wat Hom ongelukkig maak nie. – Jak. 4:8.

Om nader aan die lewende God te kom, sal jou help om getrou te bly (Sien paragraaf 14-15)


15. Watter les kan ons leer uit wat met die Israeliete in die wildernis gebeur het? (Hebreërs 3:12)

15 Dié wat vergeet dat Jehovah die lewende God is, kan maklik van hom af wegbeweeg. Dink aan wat met die Israeliete gebeur het toe hulle in die wildernis was. Hulle het geweet dat Jehovah bestaan, maar hulle het begin twyfel of hy vir hulle sou sorg. Hulle het selfs gevra: “Is Jehovah met ons of nie?” (Eks. 17:​2, 7). Daarna het hulle teen God gerebelleer. Ons wil dit beslis vermy om hulle ongehoorsaamheid te volg, wat ’n waarskuwende voorbeeld vir ons is. – Lees Hebreërs 3:12.

16. Wat kan ons geloof toets?

16 Die wêreld maak dit vir ons moeilik om na aan Jehovah te bly. Baie verwerp die idee dat God bestaan. Dit lyk dikwels asof dié wat God se vereistes ignoreer, ’n goeie lewe het. Wanneer ons dit sien gebeur, kan ons geloof getoets word. Al glo ons dat God bestaan, begin ons dalk twyfel of hy ons sal help. Die skrywer van Psalm 73 het hieroor gewonder. Hy het gesien dat dié rondom hom God se wette ignoreer en nog steeds die lewe geniet. As gevolg daarvan het hy begin twyfel of dit die moeite werd is om God te dien. – Ps. 73:​11-13.

17. Wat sal ons help om na aan Jehovah te bly?

17 Wat het die psalmis uiteindelik gehelp om sy beskouing reg te stel? Hy het nagedink oor wat sou gebeur met dié wat Jehovah vergeet (Ps. 73:​18, 19, 27). Hy het ook gedink aan die voordele wat dit inhou om God te dien (Ps. 73:24). Ons kan ook dink aan die seëninge wat Jehovah ons gegee het. Vergelyk dit met hoe ons lewe sou wees as ons Jehovah nie gedien het nie. As ons dit doen, kan dit ons help om getrou aan hom te bly. En soos die psalmis sal ons sê: “Wat my betref, dit is vir my goed om nader aan God te kom.” – Ps. 73:28.

18. Hoekom hoef ons nie bang te wees vir wat in die toekoms gaan gebeur nie?

18 Ons kan gedurende hierdie laaste dae enige uitdagings hanteer wat op ons pad kom omdat ons “’n lewende en ware God as slawe . . . dien” (1 Tess. 1:9). Ons God is ’n werklike Persoon wat vir dié optree wat hom aanbid. Hy het gewys dat hy met sy knegte in die verlede was, en hy is met ons vandag. Ons sal binnekort die grootste verdrukking ondervind wat ooit op die aarde sal plaasvind. Maar ons sal nie alleen wees nie (Jes. 41:10). Mag ons almal “goeie moed hou en sê: ‘Jehovah is my helper. Ek sal nie bang wees nie.’” – Heb. 13:​5, 6.

LIED 3 U gee ons hoop en krag