Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 26

LIED 8 Jehovah is ons toevlug

Maak Jehovah jou Rots

Maak Jehovah jou Rots

“Daar is geen rots soos ons God nie.”1 SAM. 2:2.

DOEL

Leer hoekom Jehovah ’n rots genoem word en hoe ons sy rotsagtige eienskappe kan navolg.

1. Waarmee vergelyk Dawid Jehovah volgens Psalm 18:46?

 ONS lewe in ’n wêreld waar onverwagse uitdagings ons lewe kan ontwrig – of selfs heeltemal kan verander. Ons is baie dankbaar dat ons op Jehovah God kan vertrou vir hulp! In die vorige artikel is ons daaraan herinner dat Jehovah die lewende God is en dat hy altyd gereed is om ons te help. Wanneer ons sy ondersteuning ontvang, verseker daardie ondervinding ons dat “Jehovah lewe!” (Lees Psalm 18:46.) Maar net nadat Dawid daardie woorde gesê het, het hy God “my Rots” genoem. Hoekom het hy Jehovah, die lewende God, met ’n lewelose voorwerp – ’n rots – vergelyk?

2. Hoekom moet ons belangstel in die feit dat Dawid Jehovah “my Rots” genoem het?

2 In hierdie artikel sal ons kyk na hoekom Jehovah ’n rots genoem word en wat daardie beskrywing ons oor hom leer. Ons sal ook leer hoe ons hom as ons Rots kan beskou. Laastens sal ons maniere bespreek hoe ons Jehovah se rotsagtige eienskappe kan navolg.

HOEKOM JEHOVAH ’N ROTS IS

3. Hoe gebruik die Bybel dikwels die woord “rots”? (Sien op voorblad.)

3 Die Bybel gebruik die term “rots” as ’n illustrasie om ons te help om Jehovah se eienskappe te verstaan. Dit verskyn dikwels in tekste wat hom loof as ’n God wat met niemand vergelyk kan word nie. Die eerste verwysing na Jehovah as “die Rots” is in Deuteronomium 32:4. In gebed het Hanna gesê dat “daar . . . geen rots [is] soos ons God nie” (1 Sam. 2:2). Habakuk het Jehovah “my Rots” genoem (Hab. 1:12). Die skrywer van Psalm 73 het God “die rots van my hart” genoem (Ps. 73:26). En selfs Jehovah het na homself verwys as ’n rots (Jes. 44:8). Kom ons bespreek drie rotsagtige eienskappe wat Jehovah openbaar en leer hoe ons hom “ons Rots” kan maak. – Deut. 32:31.

God se volk beskou Jehovah as ’n veilige Rots (Sien paragraaf 3)


4. Hoe is Jehovah ’n skuilplek? (Psalm 94:22)

4 Jehovah is ’n skuilplek. Net soos ’n groot rots ’n persoon teen ’n gevaarlike storm kan beskerm, beskerm Jehovah ons gedurende moeilike tye in ons lewe. (Lees Psalm 94:22.) Hy hou ons veilig en keer dat ons enige permanente skade ly. En hy belowe selfs meer: Hy sal enige iets wat ons vrede en veiligheid bedreig, uiteindelik vernietig. – Eseg. 34:​25, 26.

5. Hoe kan Jehovah ons rotsagtige Skuilplek word?

5 Een manier hoe ons Jehovah ons rotsagtige Skuilplek maak, is deur tot hom te bid. Wanneer ons bid, gee Jehovah ons “die vrede van God” wat ons hart en verstand beskerm (Fil. 4:​6, 7). Kyk na die ondervinding van Artem, ’n broer wat in die tronk was vir sy geloof. Hy is herhaaldelik ondervra deur ’n kwaai speurder wat hom onder druk geplaas en verneder het. “Dit was vir my stresvol wanneer die speurder my ondervra het. . . . Ek het altyd tot Jehovah gebid. Ek het vir vrede in my hart en vir wysheid gevra,” het Artem gesê. “Die speurder se taktieke het nie op my gewerk nie. . . . Met Jehovah se hulp was dit asof ek agter ’n klipmuur gestaan het.”

6. Hoekom kan ons altyd op Jehovah vertrou? (Jesaja 26:​3, 4)

6 Jehovah is betroubaar. Soos ’n rots wat onbeweeglik is, is Jehovah altyd daar vir ons. Ons kan hom vertrou omdat hy “die ewige Rots” is. (Lees Jesaja 26:​3, 4.) Hy sal altyd lewend wees om sy beloftes te hou, ons gebede te hoor en ons die ondersteuning te gee wat ons nodig het. Ons kan ook op Jehovah staatmaak omdat hy lojaal is aan dié wat hom dien (2 Sam. 22:26). Hy sal nooit vergeet wat ons doen nie, en hy sal ons altyd beloon. – Heb. 6:10; 11:6.

7. Wat sal ons ondervind wanneer ons op Jehovah vertrou? (Sien ook prent.)

7 Ons maak Jehovah ons Rots wanneer ons ten volle op hom vertrou. Ons vertrou dat ons daarby sal baat vind as ons gehoorsaam is aan hom selfs gedurende moeilike tye (Jes. 48:​17, 18). Terwyl ons sy ondersteuning ondervind, sal ons vertroue in hom groei. Ons sal dan beter voorbereid wees om probleme te hanteer waarmee net Jehovah ons kan help. Gedurende situasies waar daar niemand anders is vir wie ons kan vra vir hulp nie, besef ons dikwels hoe betroubaar Jehovah is. “Die tyd dat ek in die detensiesentrum spandeer het, was die heel beste tydperk in my verhouding met God,” sê Vladimir. “Ek het geleer om meer op Jehovah te vertrou omdat ek stoksielalleen was en geen beheer oor die situasie gehad het nie.”

Ons maak Jehovah ons Rots wanneer ons ten volle op hom vertrou (Sien paragraaf 7)


8. (a) Hoekom kan ons sê dat Jehovah stabiel is? (b) Hoe vind ons daarby baat om God as ons Rots te hê? (Psalm 62:​6, 7)

8 Jehovah is stabiel. Net soos ’n massiewe rots is Jehovah ferm en stabiel. Sy persoonlikheid bly dieselfde, en sy doel vir die mens verander nie (Mal. 3:6). Toe Adam en Eva teen hom gerebelleer het, het Jehovah nie sy doel vir die mens verander nie. Soos die apostel Paulus geskryf het, kan Jehovah “niks doen wat teen sy geaardheid is nie” (2 Tim. 2:13). Dit beteken dat Jehovah nooit sy persoonlikheid, sy doel vir die mens of sy standaarde sal verander nie, maak nie saak wat gebeur of wat ander doen nie. Ons kan met vertroue op ons stabiele God staatmaak om ons te red en om ons te help volhard gedurende onstuimige tye. – Lees Psalm 62:​6, 7.

9. Wat leer jy uit Tatyana se ondervinding?

9 Ons maak Jehovah ons Rots deur te fokus op watter soort Persoon hy is en deur sy doel vir die aarde en die mens heeltyd voor oë te hou. As ons dit doen, kan dit ons help om emosioneel stabiel te bly terwyl ons moeilike tye verduur (Ps. 16:8). Dit is wat gebeur het met ’n suster met die naam Tatyana, wat onder huisarres geplaas is as gevolg van haar geloof. “Ek was heeltemal alleen,” het sy gesê. “Dit was aan die begin verskriklik moeilik. Ek was dikwels mismoedig.” Maar toe sy sien hoe haar probleem verband hou met Jehovah en sy doel vir die mens het dit haar gehelp om kalm te voel en haar die krag gegee om getrou te bly. Sy het gesê: “Toe ek verstaan hoekom dit gebeur, het dit my gehelp om te onthou dat ek in hierdie omstandighede is omdat ek Jehovah liefhet en hom gelukkig wil maak. Dit het my gehelp om op te hou om aan myself te dink.”

10. Hoe kan Jehovah nou ons Rots wees?

10 In die dae wat voorlê, sal ons baie moeilike tye ondervind wat sal vereis dat ons op Jehovah moet vertrou soos nog nooit tevore nie. Dit is nou die tyd om ons vertroue te versterk dat hy enige iets sal voorsien wat ons nodig het om getrou te volhard. Hoe kan ons dit doen? Lees Bybelverslae en ondervindinge van Getuies van vandag. Let op hoe God rotsagtige eienskappe openbaar het om sy knegte te ondersteun. Dink diep na oor daardie verslae. As jy dit doen, kan dit jou help om Jehovah jou Rots te maak.

VOLG JEHOVAH SE ROTSAGTIGE EIENSKAPPE NA

11. Hoekom wil ons Jehovah se rotsagtige eienskappe navolg? (Sien ook die venster “’ n Doelwit vir jong broers”.)

11 Ons het gesien hoe Jehovah wys dat hy soos ’n rots is. Kyk nou hoe ons sy rotsagtige eienskappe kan navolg. Hoe beter ons dit doen, hoe beter voorbereid sal ons wees om die gemeente op te bou. Byvoorbeeld, Jesus het Simon die naam Sefas (vertaal as “Petrus”) gegee, wat “’n stuk rots” beteken (Joh. 1:42). Dit het gewys dat hy ’n bron van vertroosting en stabiliteit in die gemeente sou word. Gemeentelike ouermanne word beskryf as “die skaduwee van ’n groot rots”. Dit illustreer hoe hulle dié in die gemeente beskerm (Jes. 32:2). Die gemeente vind natuurlik baat wanneer almal – broers en susters – Jehovah se rotsagtige eienskappe navolg. – Ef. 5:1.

12. Beskryf maniere hoe ons ’n skuilplek vir ander kan wees.

12 Wees ’n skuilplek. Partykeer kan ons dalk vir ons broers ’n letterlike skuilplek voorsien teen natuurrampe, burgerlike onrus of oorloë. Soos toestande in “die laaste dae” erger word, sal ons beslis meer geleenthede hê om mekaar te help (2 Tim. 3:1). Ons kan ook ’n emosionele en geestelike skuilplek vir ons broers voorsien. Een manier hoe ons dit kan doen, is deur hulle welkom te laat voel by die Koninkryksaal, wat bydra tot die liefdevolle atmosfeer in die gemeente. Ons lewe in ’n wrede, koue en stresvolle wêreld. So wanneer ons broers en susters vergaderinge bywoon, wil ons alles doen wat ons kan om hulle geliefd, verfris en veilig te laat voel.

13. Hoe kan veral ouermanne ’n skuilplek vir ander word? (Sien ook prent.)

13 Ouermanne kan ’n skuilplek vir dié in die gemeente word wat letterlike of figuurlike storms verduur. Gedurende rampe en mediese noodgevalle neem ouermanne die inisiatief om praktiese hulp te reël. Hulle bied ook geestelike hulp aan. Broers en susters sal gemaklik voel om ’n ouerman vir hulp te vra wat bekend is as iemand wat saggeaard is, empatie het en bereid is om te luister. Sulke eienskappe help ander om geliefd te voel, en daarom is dit vir hulle makliker om enige Bybelse raad toe te pas wat ’n ouerman dalk gee. – 1 Tess. 2:​7, 8, 11.

Wanneer letterlike en figuurlike storms dié in die gemeente affekteer, is ouermanne ’n skuilplek (Sien paragraaf 13) a


14. Hoe kan ons wys dat ons betroubaar is?

14 Wees betroubaar. Ons wil hê dat ander op ons moet kan staatmaak, veral gedurende moeilike tye (Spr. 17:17). Hoe kan ons ’n reputasie ontwikkel as iemand wat betroubaar is? Ons doen ons bes om Jehovah elke dag na te volg, byvoorbeeld, deur ons beloftes te hou en deur ons bes te doen om stiptelik te wees (Matt. 5:37). Ons kan ook praktiese hulp aanbied wanneer iemand dit nodig het. En ons maak seker dat ons ons toewysings voltooi volgens die instruksies wat ons ontvang.

15. Hoe vind die gemeente daarby baat wanneer die ouermanne betroubaar is?

15 Betroubare ouermanne is ’n aanwins vir die gemeente. Hoe? Verkondigers voel dat hulle ondersteun word wanneer hulle die ouermanne, soos hulle velddiensgroepopsiener, enige tyd kan bel wanneer hulle hulp nodig het. Verkondigers voel ook geliefd wanneer hulle weet dat die ouermanne bereid is om hulle te help. En omdat ouermanne hulle raad op die Bybel en die publikasies van die getroue slaaf baseer eerder as op hulle eie opinies, vertrou medeaanbidders hulle. Broers en susters vertrou ook ouermanne wat nie vir ander van hulle persoonlike sake vertel nie en wat hulle beloftes hou.

16. Hoe vind ons en ander daarby baat wanneer ons stabiel is?

16 Wees stabiel. Ons kan ’n goeie invloed op ander wees as ons ferm is wanneer dit kom by wat reg is en as ons besluite maak wat op Bybelbeginsels gebaseer is. Terwyl ons in geloof en akkurate kennis groei, word ons standvastiger in die waarheid. Ons is nie besluiteloos of onstabiel nie of word nie maklik beïnvloed deur valse leringe en wêreldse denke nie (Ef. 4:14; Jak. 1:​6-8). Ons geloof in Jehovah en in sy beloftes hou ons gebalanseerd wanneer ons slegte nuus ontvang (Ps. 112:​7, 8). Ons kan ook dié help wat dalk deur moeilike tye gaan. – 1 Tess. 3:​2, 3.

17. Wat help ouermanne om ’n stabiliserende invloed te wees?

17 Ouermanne moet matig in gewoontes, verstandig, ordelik en redelik wees. Hierdie mans is ’n stabiliserende invloed op ander en versterk die gemeente deur “stewig aan die betroubare woord [vas te hou]” (Tit. 1:9; 1 Tim. 3:​1-3). Deur hulle voorbeeld en hulle herderswerk help ouermanne verkondigers om vergaderinge gereeld by te woon, gereeld velddiens te doen en gereeld persoonlike studie te doen. Wanneer broers en susters probleme het wat hulle angstig maak, kan ouermanne baie doen deur hulle aan te moedig om gefokus te bly op Jehovah en sy doel vir die mens.

18. Hoekom wil ons Jehovah loof en al hoe nader aan hom kom? (Sien ook die venster “ ’n Manier om nader aan Jehovah te kom”.)

18 Nadat ons Jehovah se wonderlike eienskappe bespreek het, kan ons net soos koning Dawid sê: “Mag Jehovah, my Rots, geloof word” (Ps. 144:1). Ons kan altyd op Jehovah vertrou. Regdeur ons lewe, selfs wanneer ons oud is, kan ons sê: “Hy is my Rots,” met die vertroue dat hy ons altyd sal help om geestelik te floreer. – Ps. 92:​14, 15.

LIED 150 Soek God, van wie jou redding kom

a BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster is by die Koninkryksaal en voel gemaklik om met twee ouermanne te gaan praat.