Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 24

LIED 24 Kom na die berg van Jehovah

Bly vir ewig Jehovah se gas!

Bly vir ewig Jehovah se gas!

“O Jehovah, wie mag ’n gas in u tent wees?”PS. 15:1.

DOEL

Om te verstaan wat ons moet doen om Jehovah se vriende te bly en om te hersien hoe hy verwag dat ons sy vriende moet behandel.

1. Hoe kan Psalm 15:​1-5 ons help?

 IN DIE vorige artikel het ons geleer dat Jehovah se toegewyde knegte gaste in sy figuurlike tent kan wees deur ’n sterk, persoonlike verhouding met hom te ontwikkel. Maar hoe kan ons vir so ’n verhouding kwalifiseer? Psalm 15 het baie te sê oor hierdie onderwerp. (Lees Psalm 15:​1-5.) Hierdie psalm gee praktiese lesse wat ons kan help om nader aan God te kom.

2. Wat het die psalmis Dawid dalk gemotiveer om van Jehovah se tent te praat?

2 Psalm 15 begin met die vrae: “O Jehovah, wie mag ’n gas in u tent wees? Wie mag op u heilige berg woon?” (Ps. 15:1). Toe die psalmis Dawid van Jehovah se “tent” gepraat het, het hy dalk gedink aan die tabernakel, wat ’n ruk lank in Gibeon was. Dawid praat ook van God se “heilige berg” en verwys dalk na Sion in Jerusalem. Daar, ’n hele paar kilometers suid van Gibeon, het Dawid ’n tent opgeslaan en die ark van die verbond daarin gesit totdat ’n permanenter rusplek daarvoor gebou kon word. – 2 Sam. 6:17.

3. Hoekom moet ons in Psalm 15 belangstel? (Sien ook prent.)

3 Die meeste Israeliete is natuurlik nooit toegelaat om by die tabernakel te dien nie, wat nog te sê van om in die tent te gaan waar die ark van die verbond gehou is. Maar al Jehovah se getroue knegte kan gaste in sy figuurlike tent wees deur sy vriende te word en te bly. Dit is iets wat ons almal graag wil hê. Psalm 15 noem party eienskappe wat ons moet ontwikkel en openbaar om Jehovah se vriende te bly.

Die Israeliete in Dawid se dag kon hulle maklik voorstel wat dit beteken om ’n gas in Jehovah se tent te wees (Sien paragraaf 3)


LEI ’N REIN LEWE EN DOEN WAT REG IS

4. Hoe weet ons dat Jehovah meer van ons vereis as om gedoop te word? (Jesaja 48:1)

4 In Psalm 15:2 word ’n vriend van God beskryf as “die een wat ’n rein lewe lei, wat doen wat reg is”. Dit is iets wat ons moet aanhou doen. Maar kan ons regtig “’n rein lewe lei”? Ja. Al is geen mens volmaak nie, sal Jehovah ons beskou as persone wat “’n rein lewe lei” as ons ons bes doen om hom te gehoorsaam. Wanneer ons onsself aan God toewy en gedoop word, is dit maar net die begin van ons reis met God. Byvoorbeeld, net omdat ’n persoon in Bybeltye aan die nasie Israel behoort het, het hy nie outomaties gekwalifiseer om ’n gas van Jehovah te wees nie. Party het hom aangeroep, maar nie “in opregtheid en regverdigheid nie”. (Lees Jesaja 48:1.) Opregte Israeliete moes leer wat Jehovah se vereistes is en dit volg. Net so moet ons meer doen as om gedoop te word en met die Christengemeente te assosieer as ons vandag God se goedkeuring wil hê. Ons moet aanhou “doen wat reg is”. Wat behels dit?

5. Wat behels dit om Jehovah in alles te gehoorsaam?

5 Om “’n rein lewe [te] lei” en om te “doen wat reg is” beteken in Jehovah se oë meer as om gereeld aan party aktiwiteite by ’n plek van aanbidding deel te neem (1 Sam. 15:22). Ons moet hard probeer om God in elke aspek van ons lewe te gehoorsaam, selfs wanneer ons alleen is (Spr. 3:6; Pred. 12:​13, 14). Dit is belangrik dat ons probeer om Jehovah te gehoorsaam selfs wanneer dit kom by dinge wat dalk nie baie belangrik lyk nie. Deur dit te doen, wys ons dat ons hom regtig liefhet, en dit veroorsaak dat hy ons selfs meer liefhet. – Joh. 14:23; 1 Joh. 5:3.

6. Wat is belangriker as die goeie dinge wat ons in die verlede gedoen het volgens Hebreërs 6:​10-12?

6 Jehovah waardeer grootliks wat ons vir hom in die verlede gedoen het. Maar net omdat ons goeie dinge in die verlede gedoen het, beteken nie noodwendig dat ons gaste in Jehovah se tent sal bly nie. Ons sien dit duidelik in Hebreërs 6:​10-12. (Lees.) Jehovah vergeet nie ons goeie dade van die verlede nie. Maar hy wil hê dat ons moet aanhou om hom met ons hele hart te dien “tot die einde toe”. Hy sal ons met ewige vriendskap beloon “as ons nie moeg word nie”. – Gal. 6:9.

PRAAT DIE WAARHEID IN JOU HART

7. Wat behels dit om die waarheid in ons hart te praat?

7 Iemand wat ’n goedgekeurde gas in Jehovah se tent wil wees, moet “in sy hart die waarheid praat” (Ps. 15:2). Dit beteken meer as om nie leuens te vertel nie. Jehovah wil hê dat ons eerlik moet wees in alles wat ons doen en sê (Heb. 13:18). Dit is belangrik, “want Jehovah haat mense wat bedrieglik is, maar hy is ’n goeie vriend van dié wat reg lewe”. – Spr. 3:32.

8. Watter gedrag moet ons vermy?

8 Dié wat ‘die waarheid in hulle hart praat’, gee nie voor om in die openbaar gehoorsaam te wees terwyl hulle God se wette in die geheim breek nie (Jes. 29:13). Hulle vermy dit om bedrieglik op te tree. ’n Bedrieglike persoon begin dalk om die wysheid van party van Jehovah se wette te bevraagteken (Jak. 1:​5-8). Hy is dalk ongehoorsaam aan Jehovah wanneer dit kom by dinge wat vir hom nie so belangrik is nie. As dit dan lyk asof daar nie gevolge vir sy ongehoorsaamheid is nie, kry hy dalk meer moed om God se wette verder te breek, en sy aanbidding sal skynheilig word (Pred. 8:11). Maar ons wil in alle dinge eerlik wees.

9. Wat kan ons leer uit Jesus se eerste ontmoeting met Natanael? (Sien ook prent.)

9 Ons kan leer hoe belangrik dit is om ’n opregte hart te hê uit Jesus se eerste ontmoeting met Natanael. Toe Filippus sy vriend Natanael gebring het om Jesus te ontmoet, het iets merkwaardigs gebeur. Al het Jesus nog nooit Natanael ontmoet nie, het Jesus gesê: “Kyk, hier is beslis ’n Israeliet wat eerlik en opreg is” (Joh. 1:47). Jesus het sekerlik gedink dat sy ander dissipels eerlik is, maar Jesus het ’n buitengewone opregtheid in Natanael gesien. Soos ons was Natanael onvolmaak. Maar daar was niks bedriegliks of oneerliks omtrent hom nie. Jesus het dit bewonder en het Natanael daarvoor geprys. Dit sal ’n eer wees as Jesus dit van ons kan sê!

Filippus het sy vriend Natanael, ’n man wat eerlik en opreg was, aan Jesus voorgestel. Kan dieselfde van ons gesê word? (Sien paragraaf 9)


10. Hoekom moet ons dit vermy om die geskenk van spraak te misbruik? (Jakobus 1:26)

10 Die meeste vereistes wat in Psalm 15 genoem word, hou verband met hoe ons ander behandel. Psalm 15:3 sê die volgende oor ’n gas in Jehovah se tent: “Hy laster nie met sy tong nie, hy doen niks slegs aan sy naaste nie en hy praat nie sleg van sy vriende nie.” As ons ons spraak op sulke maniere misbruik, kan dit ander ernstige skade aandoen en ons diskwalifiseer om gaste in Jehovah se tent te wees. – Lees Jakobus 1:26.

11. Wat is laster, en wat gebeur met onberouvolle lasteraars?

11 Die psalmis verwys spesifiek na laster. Wat is laster? Oor die algemeen is dit ’n valse stelling wat iemand se reputasie kan vernietig. Onberouvolle lasteraars word uit die Christengemeente verwyder. – Jer. 17:10.

12-13. Wat is party situasies waarin ons onopsetlik sleg kan praat van ons vriende? (Sien ook prent.)

12 Psalm 15:3 herinner ons ook daaraan dat Jehovah se gaste niks slegs doen aan hulle naaste nie en nie sleg praat van hulle vriende nie. Wat behels dit dalk?

13 Ons kan onopsetlik sleg praat van iemand deur negatiewe inligting te versprei. Byvoorbeeld: (1) ’n suster hou op pionier, (2) ’n getroude paartjie dien nie meer by Bethel nie of (3) ’n broer dien nie meer as ’n ouerman of ’n bedieningskneg nie. Sal dit reg wees om te spekuleer oor die redes hoekom hierdie aanpassings gemaak is en om daardie opinie met ander te deel? Daar is dalk baie redes vir die verandering waarvan ons nie bewus is nie. Wat meer is, ’n gas in Jehovah se tent “doen niks slegs aan sy naaste nie en hy praat nie sleg van sy vriende nie”.

Dit is maklik om negatiewe inligting oor ander te versprei, en dit kan laster word (Sien paragraaf 12-13)


EER DIÉ WAT JEHOVAH VREES

14. Verduidelik hoe Jehovah se gaste “enigiemand [verwerp] wat afstootlik is”.

14 Psalm 15:4 sê dat ’n vriend van Jehovah “enigiemand [verwerp] wat afstootlik is”. Hoe kan ons dit doen? As onvolmaakte mense is ons nie gekwalifiseerd om te bepaal of iemand afstootlik is nie. Hoekom nie? Ons is dalk van nature aangetrokke tot party mense gebaseer op hulle persoonlikheid, en dalk irriteer ander mense ons. Daarom moet ons net dié verwerp wat vir Jehovah “afstootlik” is (1 Kor. 5:11). Dit sluit dié in wat onberouvol doen wat sleg is, geen respek vir ons geloof en oortuigings het nie of ons geestelikheid probeer verswak. – Spr. 13:20.

15. Wat is een manier om “dié wat Jehovah vrees”, te eer?

15 Psalm 15:4 sê volgende dat ons “dié wat Jehovah vrees” moet eer. Daarom soek ons na maniere om liefdevol en respekvol teenoor Jehovah se vriende te wees (Rom. 12:10). Hoe? Een manier, volgens Psalm 15:​4, is dat ’n gas in Jehovah se tent “sy belofte [hou], selfs al is dit sleg vir hom”. As ons nie ons beloftes hou nie, sal ons ander seermaak (Matt. 5:37). Byvoorbeeld, Jehovah verwag dat sy gaste hulle huweliksbelofte moet nakom. Dit maak hom ook bly wanneer ouers probeer om hulle beloftes aan hulle kinders na te kom. Ons liefde vir God en vir ander sal ons motiveer om ons bes te doen om by ons woord te bly.

16. Wat is nog ’n manier om Jehovah se vriende te eer?

16 Nog ’n manier om God se vriende te eer, is om gasvry en vrygewig te wees (Rom. 12:13). Wanneer ons tyd maak om met ons broers en susters te assosieer, help dit ons om ons vriendskap met hulle en met Jehovah te versterk. En wanneer ons gasvry is, volg ons Jehovah na.

HOU JOU LEWENSWYSE VRY VAN DIE LIEFDE VIR GELD

17. Hoekom word daar van geld gepraat in Psalm 15?

17 Ons lees dat ’n gas van Jehovah “nie sy geld teen rente [uitleen] nie, en hy aanvaar nie ’n omkoopgeskenk teen die onskuldige nie” (Ps. 15:5). Hoekom word daar van geld gepraat in hierdie kort psalm? Omdat ’n ongebalanseerde beskouing van geld ander kan seermaak en ons vriendskap met God kan vernietig (1 Tim. 6:10). In Bybeltye het party broers hulle arm broers uitgebuit deur rente te vra op die geld wat hulle geleen het. En party regters het omkoopgeskenke aanvaar en dan onskuldige slagoffers onregverdig geoordeel. Jehovah haat dit wanneer mense sulke dinge doen. – Eseg. 22:12.

18. Watter vrae kan ons help om ons persoonlike gesindheid teenoor geld te ondersoek? (Hebreërs 13:5)

18 Dit is goed vir ons om ons persoonlike gesindheid teenoor geld te ondersoek. Vra jouself: ‘Dink ek dikwels aan geld en wat dit kan koop? As ek geld leen, vat ek lank om dit terug te betaal omdat ek dink dat die persoon by wie ek dit geleen het, dit nie nodig het nie? Laat geld my belangrik voel, maar is dit vir my moeilik om vrygewig te wees? Dink ek dat my broers en susters materialisties is net omdat hulle geld het? Maak ek vriende met dié wat ryk is, en toon ek min belangstelling in die armes?’ Ons het die wonderlike voorreg ontvang om Jehovah se gaste te wees. Ons kan daardie voorreg beskerm deur ons lewenswyse vry te hou van die liefde vir geld. As ons dit doen, sal Jehovah ons nooit verlaat nie! – Lees Hebreërs 13:5.

JEHOVAH IS LIEF VIR SY VRIENDE

19. Wat is die hoofdoel van Jehovah se vereistes?

19 Psalm 15 eindig met die belofte: “Die een wat hierdie dinge doen, sal altyd standvastig wees” (Ps. 15:5). Hier openbaar die psalmis die hoofdoel van God se vereistes. Jehovah wil hê dat ons gelukkig moet wees. Daarom gee hy ons riglyne wat vir ons tot sy seën en beskerming sal lei. – Jes. 48:17.

20. Waarna kan Jehovah se gaste uitsien?

20 Jehovah se goedgekeurde gaste kan uitsien na ’n blink toekoms. Die getroue gesalfdes sal toegang hê tot die “baie wonings” wat Jesus vir hulle in die hemel voorberei het (Joh. 14:2). Dié met die aardse hoop sien uit na wat Openbaring 21:3 belowe. Ons almal voel beslis baie geëerd omdat ons Jehovah se liefdevolle uitnodiging ontvang het om sy vriende te wees, om ewige gaste in sy tent te wees!

LIED 39 Maak ’n goeie naam by God