Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

SIERRA LEONE EN GUINEE

Hulle het hom “Bible” Brown genoem

William R. Brown

Hulle het hom “Bible” Brown genoem
  • GEBORE 1879

  • GEDOOP 1908

  • PROFIEL Het die voortou geneem in die vroeë predikingswerk in Wes-Afrika.

TERWYL William in 1907 aan die Panamakanaal gewerk het, het hy op ’n straathoek ’n toespraak gehoor wat gehou is deur Isaiah Richards, ’n Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Richards het sy toespraak gebaseer op die “Chart of the Ages”, ’n diagram wat gebruik is om God se voornemens te verduidelik. William het gou die waarheid aangeneem en het na Jamaika teruggekeer om sy ma en suster daarvan te vertel. Later het hulle ook Bybelstudente geword.

Broer Brown het ’n ruk lank in Panamastad, Panama, gedien. Daar het hy Evander J. Coward, ’n reisende verteenwoordiger van die Bybelstudente wat Panama op ’n lesingstoer besoek het, ontmoet. Coward was ’n kragtige en lewendige spreker, en skares het saamgestroom om na hom te luister. Toe hy William se ywer vir die waarheid sien, het hy hom genooi om hom op ’n predikingsreis deur Trinidad te vergesel.

Gedurende die volgende tien jaar of wat het William oral in die Wes-Indiese Eilande gepionier en klein groepies versterk. In 1920 is hy getroud met Antonia, ’n getroue Christensuster. Twee dae ná hulle troue het William en Antonia per boot na ’n klein eiland, Montserrat, in die Benedewindse Eilande, vertrek en die “Fotodrama van die Skepping”—’n vierdelige Bybelse rolprent-en-skyfievertoning—saamgeneem. Hulle het ook op die eilande Barbados, Dominica en Grenada gepreek. Hulle het ’n vreugdevolle wittebrood in Jehovah se diens gehad.

Twee jaar later het William aan Joseph F. Rutherford, wat destyds oor die werk van Jehovah se volk toesig gehou het, geskryf en gesê: “Met Jehovah se hulp het ek ’n getuienis op die meeste Karibiese eilande gegee en dissipels op baie gemaak. Moet ek hulle almal weer besoek?” Binne dae het broer Rutherford geantwoord: “Gaan, met vrou en kind, na Sierra Leone, Wes-Afrika.”

Gedurende die 27 jaar dat broer Brown en sy gesin in Wes-Afrika gedien het, het hy nooit graag in ’n kantoor gesit nie. Hy het verkies om die predikingswerk te doen. Omdat hy die belangrikheid van die Bybel beklemtoon het, het mense hom “Bible” Brown begin noem.

In 1950, toe hy 71 jaar oud was, het William Brown en sy vrou na Jamaika teruggekeer om te pionier. William het gepionier totdat hy sy aardse loopbaan in 1967 voltooi het. Hoe het hy tog die pionierdiens geniet! Vir hom was dit een van die grootste voorregte wat ’n mens kan hê.