Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

SIERRA LEONE EN GUINEE

Van kindersoldaat tot gewone pionier

Van kindersoldaat tot gewone pionier

EK WAS 16 jaar oud toe rebellesoldate my gedwing het om by hulle aan te sluit. Hulle het my dwelms en alkohol gegee, en ek was dikwels in ’n dwelmwaas wanneer ek geveg het. Ek was by baie gevegte betrokke en het afgryslike gruweldade gepleeg, waaroor ek innig spyt is.

Eendag het ’n bejaarde Getuie by ons barak gepreek. Die meeste mense was bang vir rebellesoldate en het ons verag, maar hy wou ons geestelik help. Toe hy my na ’n vergadering genooi het, het ek die uitnodiging aanvaar. Ek onthou nie wat by die vergadering bespreek is nie, maar ek onthou goed hoe hartlik ek verwelkom is.

Toe die oorlog vererger het, het ek kontak met die Getuies verloor. Ek is later ernstig gewond en is na ’n rebelbeheerde gebied gestuur om te herstel. Voor die einde van die oorlog het ek na ’n regeringbeheerde gebied gevlug en aangesluit by ’n program waarin vegters ontwapen, gedemobiliseer en weer in die samelewing geïntegreer is.

Ek was desperaat vir geestelike hulp. Ek het dienste van die Pinksterkerk bygewoon, maar die kerklidmate het my die Satan in hulle midde genoem. Daarom het ek na Jehovah se Getuies begin soek. Nadat ek hulle gevind het, het ek begin studeer en die vergaderinge bygewoon. Toe ek my goddelose dade bely het, het die broers Jesus se vertroostende woorde vir my gelees: “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel. . . . Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.”Matt. 9:12, 13.

Hierdie woorde het my hart diep geraak! Ek het my dolk vir die broer gegee wat die Bybel met my gestudeer het en gesê: “Ek het hierdie wapen gehou om my te beskerm teen mense wat weerwraak wil neem. Maar noudat ek weet dat Jehovah en Jesus my liefhet, wil ek dit nie meer hê nie.”

Die broers het my leer lees en skryf. Uiteindelik is ek gedoop, en ek het ’n gewone pionier geword. Vandag, wanneer ek vir voormalige rebelle preek, sê hulle dat hulle my respekteer omdat ek my lewe verander het. Ek het selfs met die adjudant van my voormalige peloton gestudeer.

Toe ek ’n soldaat was, het ek die pa van drie seuns geword. Nadat ek die waarheid geleer het, wou ek hulle geestelik help. Tot my vreugde het twee van hulle gunstig gereageer! Die een is ’n ongedoopte verkondiger, en my oudste seun is nou ’n hulppionier.