Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

SIERRA LEONE EN GUINEE

Die Wagtoring-man

James Koroma

Die Wagtoring-man
  • GEBORE 1966

  • GEDOOP 1990

  • PROFIEL Het gedurende die burgeroorlog as ’n koerier gedien.

IN 1997, terwyl rebelle- en regeringsmagte in Freetown teen mekaar geveg het, het ek aangebied om korrespondensie van Freetown na die tydelike takkantoor in Conakry, Guinee, te neem.

By die stad se bushalte het ek saam met ’n groep ander mans op ’n bus geklim. Geweerskote het in die verte weergalm, wat ons met vrees vervul het. Terwyl ons deur die stadstrate gery het, het ons in spervuur beland. Ons bestuurder het omgedraai en ’n ander roete geneem. Kort daarna is ons deur ’n groep gewapende rebelle voorgekeer, en hulle het ons beveel om uit die bus te klim. Nadat hulle ons ondervra het, het hulle ons laat gaan. Later is ons deur nog ’n groep soldate voorgekeer. Omdat een van die passasiers hulle bevelvoerder geken het, het hulle ons ook laat gaan. In die buitewyke van die stad het ons ’n derde groep rebelle teëgekom wat ons ondervra het, maar ons toe beveel het om te gaan. Terwyl ons verder noord gereis het, het ons deur nog baie padblokkades gery voordat ons stowwerige voertuig vroeg daardie aand in Conakry aangekom het.

Gedurende latere reise het ek kartonne lektuur, kantoortoerusting, takkantoorverslae en noodlenigingsvoorraad saamgeneem. Ek het meestal per motor of minibus gereis. Maar ek het ook draers betaal en kano’s gebruik om lektuur deur reënwoude en oor riviere te vervoer.

Terwyl ek eenkeer toerusting van Freetown na Conakry geneem het, is die minibus waarin ek gereis het, by die grens deur rebellesoldate voorgekeer. Toe een van hulle my bagasie opmerk, het hy agterdogtig geraak en my begin ondervra. Op daardie oomblik het ek ’n voormalige skoolmaat onder die rebelle gesien. Die soldate het hom Roughneck genoem, en hy het die gevaarlikste onder hulle gelyk. Ek het vir die soldaat wat my ondervra het, gesê dat ek gekom het om Roughneck te sien en het hom toe geroep. Roughneck het my onmiddellik herken en na my toe gehardloop. Ons het mekaar omhels en gelag. Toe het hy ernstig geword.

“Ondervind jy enige probleme?” het hy gevra.

“Ek wil oor die grens na Guinee gaan”, het ek geantwoord.

Hy het die soldate onmiddellik beveel om ons minibus sonder ’n inspeksie deur die kontrolepunt te laat gaan.

Elke keer wanneer ek daarna by daardie kontrolepunt gekom het, het Roughneck die soldate beveel om my deur te laat. Ek het die soldate tydskrifte gegee, en hulle het dit baie waardeer. Kort voor lank het hulle my Die Wagtoring-man genoem.