Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

SIERRA LEONE EN GUINEE

Iets beters as diamante

Tamba Josiah

Iets beters as diamante
  • GEBORE 1948

  • GEDOOP 1972

  • PROFIEL Het in diamantmyne gewerk voordat hy in die waarheid gekom het. Hy is nou ’n lid van die Takkomitee in Sierra Leone.

IN 1970 het ek vir ’n Britse mynmaatskappy in die Tongo-veld gewerk, ’n gebied noord van Kenema wat ryk is aan diamante. Ek het ook in my vrye tyd na diamante gesoek. Wanneer ek my eie diamante gevind het, het ek netjies aangetrek en na Kenema gegaan om die edelstene te verkoop en ’n lekker tyd te hê.

In 1972 het ek Jehovah se Getuies ontmoet en die Bybel begin studeer. Vyf maande later het ek gekwalifiseer om gedoop te word. Aangesien ek geen verlof oorgehad het nie, het ek ’n medewerker gevra om my skof vir my te werk sodat ek die streekbyeenkoms kan bywoon en gedoop kan word. Hy het ingestem, maar op voorwaarde dat ek hom ’n week se loon betaal. Om gedoop te word, het vir my meer beteken as geld, en daarom het ek geredelik ingestem om dit te doen. Toe ek van die byeenkoms af terugkom, het hy vir my gesê dat ek my geld kan hou omdat dit die regte ding is om God te dien. Ses maande later het ek my goed betaalde werk verlaat om skatte in die hemel op te gaar as ’n spesiale pionier.Matt. 6:19, 20.

Ek het 18 jaar lank in verskeie dele van die land as ’n spesiale pionier en ’n kringopsiener gedien. Intussen het ek met Christiana getrou, ’n lojale en ondersteunende maat, en ons is geseën met ’n dogter, Lynette.

Ek het eens daarvan gedroom om letterlike diamante te vind, maar ek het iets baie beters gevind—geestelike rykdom

Gedurende Sierra Leone se burgeroorlog het ek en Christiana in Bo gepionier, wat ook in ’n vername diamantmyngebied geleë is. Hier het ons baie geestelike “diamante”—ware Christendissipels—gevind. Binne vier jaar het ons gemeente met meer as 60 persent gegroei. Daar is nou drie florerende gemeentes in Bo.

In 2002 is ek genooi om ’n lid van die Takkomitee in Sierra Leone te word. Ek en Christiana woon naby Bethel. Ek pendel elke dag werk toe, terwyl Christiana as ’n spesiale pionier dien. Lynette werk by Bethel as deel van die Krio-vertaalspan.

Ek het eens daarvan gedroom om letterlike diamante te vind, maar ek het iets baie beters gevind—geestelike rykdom. Ek het ook 18 geestelike “diamante”, of ware Christendissipels, gevind. Ja, Jehovah het my ryklik geseën.