Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

SIERRA LEONE EN GUINEE

2002-2013 Onlangse verwikkelinge (Deel 1)

2002-2013 Onlangse verwikkelinge (Deel 1)

“Dankie, Jehovah!”

Toe toestande gestabiliseer het, het broers en susters teruggekeer na wat van hulle huise oorgebly het. Gemeentes wat gedurende die oorlog opgehou funksioneer het, het weer bedrywig geraak, veral in die oorloggeteisterde ooste van Sierra Leone. Spesiale pioniers in een gebied het berig: “Sestien mense het ons eerste vergadering bygewoon, 36 die volgende een, en 56 die een daarna, en toe het 77 die Gedenkmaal bygewoon! Ons was verheug!” Nege nuwe gemeentes is gestig, en toe was daar altesaam 24 gemeentes. Tien nuwe Gileadsendelinge het in die land aangekom en die predikingswerk ’n hupstoot gegee. In 2004 was die Gedenkmaalopkoms 7 594—meer as vyf keer die aantal verkondigers! Daar was soortgelyke groei in Guinee.

Die Bestuursliggaam het gou fondse beskikbaar gestel om terugkerende vlugtelinge te help om hulle te hervestig (Jak. 2:15, 16). Mobiele noodlenigingspanne het 12 Koninkryksale gebou of herstel en ook ’n Byeenkomssaal in Koindu herstel. Hulle het ook 42 beskeie kleisteenwonings gebou vir gesinne wie se huise vernietig is. ’n Suster, ’n weduwee in haar 70’s, het met trane van blydskap in haar oë langs haar nuwe sinkdakhuis gestaan en uitgeroep: “Dankie, Jehovah! Dankie, Jehovah! Dankie, broers!”

Die takkantoor het ook Koninkryksale begin bou met fondse van die program vir lande met beperkte middele. Saidu Juanah, ’n ouer man en pionier in die Bo-Wes-gemeente, vertel: “’n Suster het vir my gesê: ‘As ek hoor dat ons ’n nuwe Koninkryksaal gaan kry, sal ek met my hande en voete klap!’ Toe ek aankondig dat ons ’n nuwe saal gaan kry, het die suster van haar stoel af opgespring, handegeklap en gedans—sy het sowaar met haar hande én voete ‘geklap’!”

In 2010 het die Waterloo-gemeente ’n nuwe Koninkryksaal toegewy wat vergroot kan word tot ’n Byeenkomssaal met 800 sitplekke. Die dag toe die gemeente die eiendom gekoop het, het die eienares ’n hoër aanbod van ’n ander bieër gekry. Sy het gesê: “Ek sal eerder ’n godsdienskonferensiesentrum op my eiendom hê as om dit vir kommersiële doeleindes te laat gebruik.”

As deel van die program vir lande met beperkte middele is 17 Koninkryksale in Sierra Leone gebou, en 6 in Guinee. Hierdie beskeie maar waardige plekke van aanbidding het baie meer mense aangespoor om die vergaderinge by te woon.

Jehovah se verlore skape word gevind

Toe die predikingswerk momentum gekry het, het die takkantoor ’n twee maand lange kampanje gereël om in gebiede wat selde gedek word, te preek. Verkondigers het byna 15 000 boeke versprei en talle goeie ondervindinge gehad. Party mense het gevra of Jehovah se Getuies gemeentes in enige van die plaaslike dorpe gaan stig. Gevolglik is twee nuwe gemeentes uiteindelik gevorm. In ’n afgeleë dorpie het die broers twee susters gevind wat gedurende die oorlog gevlug en kontak met die organisasie verloor het. Die broers het onmiddellik gereelde vergaderinge georganiseer en etlike Bybelstudies in die dorpie begin.

In 2009 het die takkantoor te hore gekom van ’n dorpie diep in die woud van Guinee waar mense beweer het dat hulle Getuies van Jehovah is. Die takkantoor het broers gestuur om ondersoek in te stel, en hulle het uitgevind dat ’n bejaarde broer ná sy aftrede na sy tuisdorpie teruggekeer het. Hy het met ’n hele paar mans gestudeer voordat hy oorlede is. Een van die mans het geloof in Jehovah gestel en sy Bybelkennis met ander begin deel. Hy het ook vergaderinge gehou deur die oorlede broer se publikasies te gebruik. Die groep het Jehovah 20 jaar lank aanbid voordat ’n verkondiger op hulle afgekom het. Die takkantoor het onmiddellik broers gestuur om die groep geestelik te help. In 2012 het 172 mense in die dorpie die Herdenking van Christus se dood bygewoon.

In onlangse tye is ’n toenemende aantal ‘verlore skape’ gevind. Hulle het van die gemeente weggedryf of is daaruit gesit. Talle van hierdie verlore seuns en dogters het berou getoon en na die waarheid teruggekeer. Jehovah se volk het hulle met ope arms verwelkom.Luk. 15:11-24.

Moslems neem die waarheid aan

Toe die apostel Paulus met ander oor die goeie nuus gepraat het, het hy “alles vir alle soorte mense geword” (1 Kor. 9:22, 23). Jehovah se knegte in Sierra Leone en Guinee het eweneens hulle benadering aangepas sodat hulle boodskap by verskillende mense byval sal vind. Kyk byvoorbeeld hoe party verkondigers redeneer met verdraagsame Moslems, die grootste godsdiensgroep in albei lande.

Saidu Juanah, ’n voormalige Moslem, verduidelik: “Moslems glo dat Adam uit stof geskep is, maar dat hy eers in ’n hemelse paradys gelewe het. Om hulle te help om die regte begrip te kry, vra ek hulle: ‘Waar kom stof vandaan?’

“‘Die aarde’, antwoord hulle.

“‘Waar moes Adam dus geskep gewees het?’ vra ek dan.

“‘Op die aarde’, antwoord hulle.

“Om die punt by hulle tuis te bring, lees ek Genesis 1:27, 28 en vra ek: ‘Het hemelse wesens kinders?’

“‘Nee. Engele is nie manlik of vroulik nie’, antwoord hulle.

“‘Waar moes Adam en Eva dus gewees het toe God vir hulle gesê het om kinders te hê?’ redeneer ek.

“‘Op die aarde’, antwoord hulle.

“‘Waar moet die Paradys dus wees wanneer God dit herstel?’ vra ek.

“‘Hier op die aarde’, antwoord hulle.”

Saidu sê: “Sulke skriftuurlike redenering beweeg talle opregte Moslems om verder te luister en Bybellektuur te aanvaar.”

Kyk na die voorbeeld van Momoh, ’n Moslemwinkeleienaar wat ’n Imam wou word. Toe Getuiesendelinge aan die hand van die Bybel met Momoh geredeneer het, is sy belangstelling geprikkel. Hy het ’n deel van ’n kringbyeenkoms bygewoon en gehou van wat hy gehoor het. Vier dae later het hy en sy vrou, Ramatu, en hulle vyf kinders die Herdenking van Jesus se dood bygewoon. Momoh het die Bybel toe ernstig begin studeer. Ná ’n paar studies het hy opgehou om sigarette te verkoop. Hy het vir sy klante gesê dat sigarette skadelik is vir mense en dat God dit nie goedkeur nie. Hy het ook by sy winkel met sy vrou en kinders begin studeer. Wanneer klante gedurende die gesinstudie opgedaag het, het hy hulle gevra om te sit en wag en verduidelik dat die studie baie belangrik is vir sy gesin. Toe hy en Ramatu hulle huwelik gewettig het, het hulle families hulle hewig begin teëstaan. Momoh en Ramatu het onverskrokke vir hulle getuig, en op die ou end het hulle familielede hulle goeie standpunt gerespekteer. Momoh is in 2008 gedoop, en Ramatu in 2011.

Respek vir die heiligheid van bloed

Jehovah se volk handhaaf moedig God se sedelike standaarde, insluitende dié rakende bloed (Hand. 15:29). Hierdie standpunt het die respek van ’n toenemende aantal mediese deskundiges in Sierra Leone en Guinee gewen.

Broers vertroos ’n suster in die hospitaal

In 1978 het broers die boekie Jehovah’s Witnesses and the Question of Blood onder dokters, verpleegsters, hospitaalbestuurders, prokureurs en regters regoor Sierra Leone versprei. Kort daarna het ’n suster wat besig was om te kraam, inwendig begin bloei, maar dokters het geweier om haar sonder bloed te behandel. Een dokter het egter ingestem om te help danksy die insiggewende en logiese inligting wat hy in die Blood-boekie gelees het. Die suster het geboorte gegee aan ’n gesonde babaseuntjie en het heeltemal herstel.

Omstreeks 1991 het dr. Bashiru Koroma, ’n chirurg by die Kenema-hospitaal, die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red? gelees. Hy was beïndruk met die inhoud en het begin om die Bybel te studeer en Christelike vergaderinge by te woon. Toe ’n negejarige Getuieseun se milt in ’n ongeluk gebars het, het die seun se dokters geweier om sonder bloed te opereer. Hulle het vir sy ouers gesê: “Vat julle kind huis toe om te sterf!” Die ouers het dr. Koroma genader, wat die operasie met welslae uitgevoer het.

Dr. Koroma het kort voor lank broer Koroma geword—’n ywerige voorstander van bloedlose geneeskunde. Ander dokters het hom weens sy standpunt verstoot, maar sy pasiënte het altyd goed gevaar. Later het party van sy kollegas sy hulp met moeilike chirurgiese prosedures begin vra.

Sedert 1994 het die Hospitaalinligtingsafdeling by die takkantoor in Freetown Hospitaalskakelkomitees in Sierra Leone en Guinee georganiseer. Hierdie komitees bied liefdevolle ondersteuning aan talle siek Getuies en het al tientalle mediese deskundiges oortuig om ons in ooreenstemming met ons standpunt oor bloed te behandel.