Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Honderd jaar gelede—1914

Honderd jaar gelede—1914

“ONS glo dat die Jaar 1914 groter diensmoontlikhede inhou om die Waarheid te bevorder as enige vorige jaar van die Oestyd”, het The Watch Tower van 1 Januarie 1914 gesê. Die jaar waarna die Bybelstudente dekades lank uitgesien het, het uiteindelik aangebreek, en hulle was baie besig in die bediening. Danksy die Bybelstudente se inspanning gedurende daardie jaar het miljoene mense van die Bybel se beloftes gehoor. Maar die wêreld om hulle was op iets heeltemal anders toegespits.

Die wêreld word al hoe gewelddadiger

Vroeg in 1914 het een van die gewelddadigste gebeure in die geskiedenis van werkstakings in die Verenigde State die lewens van mans, vroue en kinders geëis. Stakende mynwerkers en hulle gesinne is uit hulle mynhuise gesit en moes in tentdorpe woon. Op 20 April het ’n skietery in die tentdorp naby Ludlow, Colorado, uitgebreek. Die mynwerkers se tentdorp is aan die brand gesteek. Oral in die streek het ontstoke mynwerkers wraak geneem deur talle mynwagte dood te maak. Die leër is ingeroep om vrede te herstel.

In Europa was dinge baie erger. Op 28 Junie het Gavrilo Princip, ’n 19-jarige Bosniese Serwiër, die aartshertog Francis Ferdinand van Oostenryk doodgeskiet en sodoende die gebeure aan die gang gesit wat tot die Eerste Wêreldoorlog gelei het. Teen die einde van die jaar het die Eerste Wêreldoorlog, wat destyds as die Groot Oorlog bekend gestaan het, die hele Europa in sy greep gehad.

Streekbyeenkomste vestig die aandag op die predikingswerk

Te midde van die toenemende onrus in die wêreld het die Bybelstudente mekaar aangespoor om ywerig te wees in die predikingswerk. Die eerste streekbyeenkoms van God se volk wat ooit in Suid-Afrika gehou is, het op 10 April begin. Die opkomshoogtepunt by daardie byeenkoms was 34. “Ons was inderdaad ’n baie ‘klein kuddetjie’”, het William W. Johnston geskryf. “Ons het byna die helfte van die [byeenkomsgangers] gedoop. Agt susters en agt broers het hulle toewyding op die Here se vasgestelde manier gesimboliseer.” Op die laaste dag van die byeenkoms het die byeenkomsgangers gepraat oor wat die beste manier sou wees om die predikingswerk in Suid-Afrika te bevorder. Vandag is die meer as 90- 000 getroue verkondigers in Suid-Afrika ’n bewys van die sukses wat daardie “klein kuddetjie” behaal het.

Op 28 Junie 1914, dieselfde dag waarop die aartshertog Ferdinand geskiet is, het die Bybelstudente in Clinton, Iowa, VSA, bymekaargekom. Op 30 Junie het A.H. MacMillan by hierdie streekbyeenkoms gesê: “As ons ons beloning wil ontvang, moet ons ons ywerig daarop toelê om die wil van God te doen deur aan die bediening deel te neem wanneer dit ook al moontlik is en die oesboodskap aan die wêreld te verkondig.”

Die “Fotodrama” lok miljoene

Die “Fotodrama van die Skepping”, ’n produksie wat bestaan het uit opnames van Bybeltoesprake en musiek wat met gekleurde glasskyfies en rolprente gesinchroniseer is, is vir die eerste keer op 11 Januarie 1914 in die stad New York vertoon. Vyfduisend het hierdie eerste vertoning bygewoon, en baie mense is weggewys omdat daar nie genoeg plek was nie.

Die voorbereiding van die “Fotodrama van die Skepping” het twee jaar geneem, en tog was dit “nouliks gereed vir die eerste vertoning in Januarie”, het The Watch Tower gesê. Gedurende die eerste helfte van 1914 het die broers etlike verbeteringe aan die “Fotodrama” aangebring. Hulle het byvoorbeeld ’n inleidende rolprent bygevoeg met ’n gesinchroniseerde vertelling deur Charles Taze Russell, wat duidelik getoon het wie die drama vervaardig het.

Die “Fotodrama” is op sy hoogtepunt gelyktydig in tot 80 stede vertoon. Teen Julie 1914 het dit Groot-Brittanje bereik, waar dit in stampvol teaters in Glasgow en Londen vertoon is. In September is dit vir die eerste keer in Denemarke, Duitsland, Finland, Swede en Switserland vertoon. Teen Oktober het dit Australië en Nieu-Seeland bereik. Altesaam meer as negemiljoen mense het die “Fotodrama” gesien in die eerste jaar dat dit vertoon is.

Elke kopie van die “Fotodrama” het uit honderde glasskyfies, ’n menigte filmrolle en tientalle opnames bestaan. Dit was duur om te vervaardig, en ’n ervare span broers en susters was nodig vir elke vertoning. Daarom is die volledige “Fotodrama” hoofsaaklik in groot stede vertoon. Om mense in plattelandse gebiede te bereik, het die Bybelstudente ook drie verkorte weergawes van die “Fotodrama” vervaardig. Een weergawe, wat die “Eurekadrama Y” genoem is, het uit gekleurde glasskyfies en opnames van Bybeltoesprake en musiek bestaan. Die ander weergawes, wat bekend gestaan het as die “Eurekadrama X” en die baie korter “Eurekagesinsdrama”, het slegs uit oudio-opnames bestaan, sonder enige skyfies of rolprente. Teen die einde van 1914, minder as vier maande nadat die “Eurekadrama” vrygestel is, het meer as 70 000 mense in die Verenigde State een van die weergawes daarvan gesien.

Kolporteurs en vrywilligers neem aan die predikingswerk deel

Hoewel die “Fotodrama”-werk nuut en opwindend was, het die Bybelstudente besef dat ander vorme van die predikingswerk hulle eerste prioriteit is. ’n Brief van Charles Taze Russell aan alle kolporteurs, wat nou pioniers genoem word, het gesê: “Ons weet van geen vertakking van die diens wat in hierdie Oestyd meer vrugte afwerp nie. Daarom beveel ons aan dat Kolporteurs nie aan die Fotodrama-werk deelneem nie . . . Ander broers en susters, wat net so lojaal aan die Here is, . . . kan die Drama-werk doen.”

In Januarie 1914 was daar 850 kolporteurs. Gedurende daardie jaar het hierdie ywerige evangeliedienaars meer as 700 000 eksemplare van Studies in the Scriptures versprei. Uit “liefdevolle belangstelling” in die kolporteurs het The Watch Tower lesers aangespoor om “hulle aan te moedig; want hulle lewe is nie altyd maanskyn en rose nie”.

Ander Bybelstudente het traktate in tientalle tale versprei. In 1914 het hulle meer as 47 miljoen eksemplare van The Bible Students Monthly en ander traktate versprei!

Die Bybelstudente se werk het nie ongemerk gebly nie. Hulle het hulle predikingswerk in die openbaar gedoen, en hulle vergaderinge was gratis. Een van die Christendom se geestelikes het gekla: “Mense sal mettertyd begin dink dat dit ’n misdaad is om kollektes in te samel, en wat sal dan van ons word? Pastor Russell gee ons almal ’n slegte naam.”

Die einde van die Heidense Tye

Die Bybelstudente het geglo dat die “tye van die nasies”, wat in Lukas 21:24 gemeld word, omstreeks 1 Oktober 1914 sou eindig. Namate Oktober nader gekom het, het die afwagting toegeneem. Party Bybelstudente het selfs ’n aftellingskaart saam met hulle gedra sodat hulle elke dag kon afmerk. Baie het gedink dat hulle op daardie dag agter die voorhangsel, of hemel toe, sou gaan.

Op die oggend van 2 Oktober 1914 het broer Russell in die Bethel-eetsaal ingestap en vir die Bethelgesin aangekondig: “Die Heidense Tye het geëindig; hulle konings se dae is verby.” Party van diegene wat daar teenwoordig was, het hierdie woorde waarskynlik herken, wat gebaseer was op lied 171 in hulle liedereboek Hymns of the Millennial Dawn. Sedert 1879 het die Bybelstudente gesing: “Die Heidense Tye kom tot ’n einde”, maar hierdie woorde was toe nie meer waar nie, aangesien die Heidense Tye, of die “vasgestelde tye van die nasies”, inderdaad geëindig het (Luk. 21:24). Mettertyd het ons liedereboeke hierdie belangrike verandering weerspieël.

In hulle vasbeslotenheid om tot die einde toe getrou te bly, het party die “Be Thou Faithful Unto Death”-aftellingskaart gebruik

Teen die einde van die jaar was die Messiaanse Koninkryk stewig in die hemel gevestig, en party Bybelstudente het gedink dat hulle werk klaar is. Min het hulle geweet dat hulle kort voor lank ’n tydperk van toetse en van sifting sou deurmaak. Die jaarteks vir 1915 was: “Kan julle van my beker drink?”, gebaseer op Matteus 20:22, King James Version. Die “beker” waarna Jesus verwys het, het die beproewinge ingesluit wat hy tot sy dood sou verduur. Die Bybelstudente sou voor beproewinge te staan kom, van binne sowel as buite die gemeente. Hulle reaksie op hierdie beproewinge sou hulle lojaliteit aan Jehovah bewys.