Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

SIERRA LEONE EN GUINEE

1915-1947 Vroeë dae (Deel 2)

1915-1947 Vroeë dae (Deel 2)

Hulle pak die Gladiators aan

Toe Freetown se geestelikes sien dat hulle kuddes broer Brown se lesings geniet, is hulle vervul met jaloesie en woede. The Watch Tower van 15 Desember 1923 het berig: “Die geestelikes het die waarheid deur middel van die pers begin aanval. Broer Brown het hulle keer op keer geantwoord, en die koerante het die aanvalle en sy antwoorde gepubliseer.” Uiteindelik het die geestelikes niks meer te sê gehad nie. Hulle valse redenasies was duidelik blootgelê. Bybelwaarheid is sodoende wyd en syd versprei, en dit het baie koerantlesers beweeg om Bybellektuur te vra. Die geestelikes wou God se volk die swye oplê, maar Jehovah het ‘hulle bose dade op hulle laat terugkeer’.Ps. 94:21-23.

In ’n poging om die geestelikes te verdedig, het ’n kerkjeuggroep, wat die Gladiators genoem is, ’n reeks openbare vergaderinge aangekondig om “Russellisme”, soos hulle die Koninkryksboodskap genoem het, te onderdruk. In reaksie hierop het broer Brown hulle in die openbaar tot ’n reeks debatte uitgedaag. Die Gladiators het geweier om broer Brown se uitdaging te aanvaar en het die koerantredakteur wat dit gepubliseer het, bestraf. Hulle het broer Brown ook verbied om hulle vergaderinge by te woon; daarom het Alfred Joseph dit bygewoon.

Die vergaderinge is gehou by die Buxton Memorial Chapel, ’n vooraanstaande Metodistekerk in Freetown. Alfred vertel: “Gedurende die vraag-en-antwoord-sessie het ek die Anglikaanse geloofsbelydenis, die Drie-eenheidsleer en ’n hele paar ander onskriftuurlike leringe bevraagteken. Uiteindelik het die voorsitter geweier dat enige verdere vrae gestel word.”

Een van die Gladiators wat daardie aand teenwoordig was, Melbourne Garber, het vroeër “Bible” Brown se lesings bygewoon. Hy was in werklikheid die jong kweekskoolstudent wat gesê het: “Mnr. Brown ken sy Bybel!” Nadat Garber ernstig nagedink het oor wat hy gehoor het, was hy oortuig dat hy die waarheid gevind het. Gevolglik het hy broer Brown om ’n Bybelstudie gevra. Broer Brown het hom na die weeklikse studie van The Watch Tower by sy huis genooi. Hoewel Garber se familie hom onteien het, het hy vinnig geestelike vooruitgang gemaak, en hy en ’n hele paar ander is kort voor lank gedoop.

Satan se pogings om die predikingswerk in die beginstadium te onderdruk, het misluk. Soos die burgemeester van Freetown vir die Gladiators gesê het: “As dit die werk van mense is, sal dit tot ’n einde kom. Maar as dit uit God is, sal julle dit nie kan stopsit nie.”Hand. 5:38, 39.

Brown se godsdiens

Vroeg in Mei 1923 het broer Brown ’n telegram aan die takkantoor in Londen gestuur om nog lektuur aan te vra. Kort voor lank het 5 000 boeke daar aangekom, en dit is deur nog besendings gevolg. Hy het ook voortgegaan om openbare vergaderinge te hou, wat duisende belangstellendes gelok het.

Later daardie jaar het The Watch Tower berig: “Die werk [in Sierra Leone] het so vinnig gevorder dat broer Brown ’n assistent gevra het; en Claude Brown, van Winnipeg, wat vroeër in die Wes-Indiese Eilande was, is nou op pad om met die werk te gaan help.”

Claude Brown was ’n ervare bedienaar van die goeie nuus. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het hy mishandeling in Kanadese en Britse tronke verduur omdat hy geweier het om sy Christelike neutraliteit prys te gee. Hy het vier jaar in Sierra Leone gedien en die plaaslike broers en susters grootliks versterk.

Pauline Cole het vertel: “Voordat ek in 1925 gedoop is, het broer Claude ’n ernstige bespreking met my gehad.

“‘Suster Cole, verstaan jy wat jy in die Studies in the Scriptures geleer het?’ het hy gevra. ‘Ons wil nie hê dat jy van die waarheid wegdryf omdat jy nie die Bybel se leringe verstaan het nie.’

“‘Broer Claude’, het ek geantwoord, ‘ek het alles wat ek geleer het, gelees en weer gelees. Ek het my besluit geneem!’”

Pauline Cole

Pauline het Jehovah meer as 60 jaar lank gedien, merendeels as ’n spesiale pionier. Sy het haar aardse loopbaan in 1988 voltooi.

William “Bible” Brown het hom ook daarop toegelê om ander te help om goeie geestelike gewoontes aan te kweek. Alfred Joseph vertel: “Wanneer ek broer Brown soggens vroeg ontmoet het, het ons gesprek min of meer só verloop: ‘Hallo, broer Joe. Hoe gaan dit vanoggend met jou? Wat is vandag se Bybelteks?’ As ek nie kon antwoord nie, het hy beklemtoon hoe belangrik dit is om vertroud te wees met elke dag se teks in die boek Daily Manna. [Dit word nou Ondersoek die Skrif elke dag genoem.] Die volgende oggend het ek dan dadelik die teks gelees sodat hy my nie onkant sou vang nie. Ek het aanvanklik nie ten volle besef hoe waardevol die opleiding is wat ek ontvang nie, maar ek het dit wel later besef.”

Al hierdie opleiding het goeie vrugte afgewerp. Gedurende 1923 is ’n gemeente in Freetown gestig en is 14 mense gedoop. Een van die nuwe broers was George Brown, wat beteken het dat daar toe drie “Brown”-gesinne in die gemeente was. Die ywerige bedrywighede van hierdie drie gesinne het baie inwoners van Freetown beweeg om die Bybelstudente die “Browns” se godsdiens te noem.