Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Brief van die Bestuursliggaam

’n Brief van die Bestuursliggaam

Liewe Medehuisknegte:

Ons is baie bly dat ons aan die begin van hierdie betekenisvolle jaar vir julle kan skryf! Laat in 2014 sal ’n hele eeu verloop het sedert ons geliefde Koning Jesus Christus te midde van sy vyande begin heers het.Ps. 110:1, 2.

Vroeg in hierdie diensjaar, by die jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië, het die New World Bible Translation Committee die pas hersiene Engelse uitgawe van die beste Bybelvertaling wat vir die mensdom beskikbaar is, vrygestel. Jehovah het sy geesverwekte kinders gebruik om die oorspronklike Engelse Nuwe Wêreld-vertaling te voorsien (Rom. 8:15, 16). Hierdie feit op sigself maak hierdie vertaling beslis iets besonders, nie waar nie?

Bybelvertaling is al jare lank vir die Skryfkomitee van die Bestuursliggaam ’n prioriteit. Vandag is die Nuwe Wêreld-vertaling in sy geheel of gedeeltelik in 121 tale beskikbaar. Ons spoor julle aan om vir Jehovah te wys hoeveel julle julle Bybel waardeer. Lees dit elke dag en peins daaroor. Dit sal julle laat nader kom aan die Outeur daarvan, Jehovah God.Jak. 4:8.

Wanneer ons hoor van die beproewinge wat ons dierbare broers en susters verduur, raak dit ons hart. Dit is te verstane dat dit nie altyd vir hulle maklik is om hulle saam met hulle broers te verbly nie. Die lewe van ’n gesin in Asië is byvoorbeeld onlangs onderstebo gekeer toe die ma skielik heeltemal verlam geword het. Die mediese deskundiges was verbyster en kon niks vir haar doen nie. Wat ’n droewige situasie! Haar man voorsien haar nou van 24-uur-sorg. Hulle seun en twee dogters stel ’n goeie voorbeeld as Christene deur hulle ouers liefdevol te ondersteun. Hierdie dierbare gesin sowel as dié van julle wat al verskeie beproewinge die hoof gebied het, kan die vreugde smaak wat dit meebring as ’n mens ondanks toetse van geloof volhard (Jak. 1:2-4). Jehovah verseker sy gesalfdes en die ander skape dat ons gelukkig sal wees as ons beproewinge bly verduur, want ons sal geseën word met die ewige lewe!Jak. 1:12.

Verlede jaar was die Gedenkmaalopkoms 19 241 252. Hoe aanmoedigend is dit tog om te sien dat soveel mense Jehovah en Jesus Christus eer deur die belangrikste vergadering van die jaar vir God se volk by te woon! Gedurende die Gedenkmaalseisoen het dit Jehovah tot groot lof gestrek toe miljoene in Maart en April as hulppioniers gedien het. Hoe aanmoedigend tog! En was julle nie bly om te hoor dat dié wat gedurende die kringopsiener se besoek as hulppioniers dien, die hele pioniervergadering wat hy hou, kan bywoon nie, selfs as sy besoek nie in Maart of April val nie? Diegene wat geestelik verstandig is, besef hoe belangrik dit is om met die predikingswerk en gemeentelike bedrywighede besig te bly. Dit help ons om standvastig en onbeweeglik te bly en om die Duiwel se pogings om ons geloof te ondermyn en ons van die regte weg te laat afwyk, te weerstaan.1 Kor. 15:58.

Hoe geloofversterkend is dit tog om te sien dat 277 344 gedurende die afgelope diensjaar hulle toewyding deur waterdoop gesimboliseer het en nou saam met hulle broers oral in die wêreld op die weg na die lewe is! (Matt. 7:13, 14). Hierdie nuwelinge het ons ondersteuning nodig sodat hulle “in die geloof standvastig” kan word (Kol. 2:7). Spoor mekaar voortdurend aan om tot die einde toe te volhard (Matt. 24:13). “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal” (1 Tess. 5:14). Ten slotte moet elkeen van ons ‘onophoudelik bid’ en sê: “Laat u koninkryk kom.”1 Tess. 5:17; Matt. 6:10.

Ons hoop dat julle dit sal geniet om hierdie Jaarboek te lees, en onthou dat ons lief is vir elkeen van julle wat vir Jehovah lief is!

Julle broers

Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies