Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Europa

Europa
  • LANDE 47

  • BEVOLKING 741 892 871

  • VERKONDIGERS 1 601 915

  • BYBELSTUDIES 862 555

“Het jy na die verkeerde plek toe gekom?”

’n Vrou van Somalië wat in Swede woon, is na ’n vergadering by die Koninkryksaal genooi, en sy het besluit om te gaan. Dinge het nie goed verloop nie. Niemand het haar verwelkom nie; almal het net na haar gestaar. Sy het baie ongemaklik gevoel. Iemand wat dit waarskynlik opgelet het, het haar gevra: “Het jy na die verkeerde plek toe gekom?”

“Ja, ek dink ek het!” het sy geantwoord. Toe het sy geloop. Toe die vrou later die Getuies raakloop wat haar genooi het, was sy ontsteld en het sy vir hulle gesê dat sy nooit weer soontoe sal gaan nie. Hulle het gewonder wat gebeur het, aangesien hulle haar nie by die Koninkryksaal gesien het nie. Nadat hulle nog ’n rukkie gesels het, het hulle almal besef dat sy per ongeluk na ’n kerk toe gegaan het!

Die Getuies het haar aangemoedig om weer na die Koninkryksaal te probeer kom. Sy het ingestem, maar sy het gesê dat sy net tien minute sou bly as sy ongemaklik voel. Maar toe sy by die Koninkryksaal kom, het almal in die gemeente haar hartlik verwelkom! Sy het dit so geniet dat sy ná die vergadering die laaste een was om huis toe te gaan. Sedert daardie eerste vergadering het sy die vergaderinge gereeld bygewoon, en sy is nou ’n gedoopte verkondiger.

Hy het ’n uitnodiging in die straat opgetel

Griekeland: Stergios vertel nou vir ander van die kosbare waarhede wat hy geleer het

Stergios is ’n jong man wat in Griekeland woon. Toe hy een oggend ná werk huis toe gestap het, het hy besluit om met ’n ander straat langs te stap eerder as om sy gewone roete te volg. Stergios het iets in die straat sien lê. Dit was ’n uitnodiging na die Herdenking van Christus se dood. Dit het die vraag gevra: “Hoe beskou jy Jesus?” Omdat daar ander mense was, het Stergios gehuiwer om die uitnodiging op te tel. Toe hy by die huis aankom, het hy aan die gedrukte vraag begin dink en wou hy graag meer weet.

Stergios sou later daardie middag saam met vriende gaan koffie drink. Terwyl hy op pad was na waar hy sy vriende sou ontmoet, het hy besluit om na die straat te gaan waar hy vroeër die uitnodiging gesien het, in die hoop dat dit nog daar sou wees. Dit was, maar daar was nog steeds mense in die omgewing, en daarom het hy dit weer nie opgetel nie. Op pad huis toe, nadat hy saam met sy vriende gaan koffie drink het, het Stergios reguit na dieselfde straat gegaan—die uitnodiging was nog steeds daar. Hierdie keer het hy dit opgetel en gelees. Hy het toe besluit om die Gedenkmaal by te woon.

Ná die Gedenkmaal het Stergios die uitnodiging aanvaar om ’n gratis tuisbybelstudie te hê. Hy het vergaderinge begin bywoon en goeie geestelike vordering gemaak. Hy is in Maart 2013 tydens ’n spesiale byeenkomsdag gedoop.

’n Radioprogram het vooroordeel afgebreek

In Januarie 2010 het Finn, ’n broer in Kopenhagen, Denemarke, gaan stap en ’n paar tydskrifte saamgeneem. Terwyl hy langs ’n smal straatjie geloop het, het hy ’n bejaarde man gesien wat in sy rigting loop. Finn het hom die nommers van Desember 2009 aangebied, wat verskeie artikels oor Kersfees bevat het. Toe die bejaarde man hom antwoord, het Finn die man se stem herken. Hy was die hoogs geleerde aanbieder van ’n radiogeselsprogram. Die volgende dag het Finn na die program geluister en was hy baie verbaas om te hoor dat die aanbieder vertel dat hy die tydskrifte die vorige dag geneem het. Hy het toe dele uit die artikels oor die radio voorgelees. Hy het onder andere gelees van die raaiselagtige “ster” wat in verband met Jesus se geboorte verskyn het. Hy het erken dat dit ongetwyfeld deur Satan moes gestuur gewees het.

Weens die positiewe reaksie op die tydskrifte het Finn besluit om die aanbieder te besoek. Tydens hulle gesprek het Finn die man beleefd gevra of dit moontlik is om ’n program oor Bybelonderwerpe oor die radio uit te saai. Twee weke later het hy ’n positiewe antwoord gekry. Meer as 30 twee uur lange programme is uitgesaai, almal oor Jehovah se Getuies en die Bybel. Die aanbieder en Finn het vooraf sekere temas gekies, wat hulle tydens die programme bespreek het, en hulle het vrae van honderde luisteraars beantwoord.

Een luisteraar het die radiostasie se tegnikus gebel en sy telefoonnommer vir hom gegee. Hy wou hê die broers moes hom kontak. Dit is dadelik gereël. Die man het jare lank baie negatiewe kommentare oor Jehovah se Getuies by vriende en familie gehoor, maar danksy die radioprogramme het sy vooroordeel teenoor die Getuies verdwyn. ’n Bybelstudie is begin, en in 2013 het die man die Gedenkmaal en spesiale toespraak bygewoon. Hy woon al die Sondagvergaderinge by en gee betekenisvolle antwoorde by die Wagtoring-studie. Ander mense in die omgewing het ook gunstig gereageer op die waarheid as gevolg van wat hulle op hierdie radioprogramme gehoor het.

Sy het ’n uitnodiging by hulle deur gelos

Dit was die laaste dag van ’n streekbyeenkoms in Italië. Terwyl Lucio vir ’n paar vriende totsiens gesê het, het ’n egpaar die groep genader. Lucio het die egpaar gevra aan watter gemeente hulle behoort. “Ons is nie van ’n gemeente nie”, het hulle geantwoord.

“Het iemand julle genooi?” het Lucio gevra.

“Nee, ons het op ons eie gekom”, het hulle geantwoord.

Dit het Lucio se nuuskierigheid geprikkel, en daarom het hy gevra: “Mag ek vra waarom julle besluit het om te kom?”

Hulle het gesê: “Ons het ’n uitnodiging by ons deur gekry en besluit om te kom.”

Toe hulle vir Lucio verduidelik waar hulle woon, het Ester, sy vrou, opgewonde gesê: “Ek het daardie uitnodiging daar gelos! Dit was die laaste dag van die kampanje, en ek het gedink dat dit beter sal wees om eerder die oorblywende uitnodigings by huise te los waar niemand tuis is nie as om dit weg te gooi.” Die egpaar het die uitnodiging gevind en besluit om die volgende Sondag na die Byeenkomssaal te gaan en die program by te woon. Ná ’n kort gesprek het Lucio en Ester die egpaar vir ’n ete by hulle huis genooi, waar hulle die gesprek voortgesit het. Die egpaar het ’n Bybelstudie aanvaar. Hulle is altyd goed voorbereid vir hulle studie en woon nou vergaderinge by en neem daaraan deel.