Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR

JW.ORG—“’n Getuienis vir al die nasies”

JW.ORG—“’n Getuienis vir al die nasies”

Jesus het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Die webwerf jw.org is beslis ’n baie doeltreffende hulpmiddel om “al die nasies” te bereik in die oorblywende kort tydjie voordat die einde kom.

’n Sendelingegpaar het vier bejaarde mans ontmoet toe hulle velddiens gedoen het in ’n vissersdorpie in die Salomonseilande. Hulle het gesien dat die mans selfone het en het hulle dus gevra of hulle weet hoe om die Internet te gebruik. Hulle het ja gesê. Toe het die egpaar hulle gewys hoe om jw.org te vind, hoe om hulle eie taal te vind, hoe om die tydskrifte en die Bybel af te laai en hoe om die materiaal vir gesinne en kinders te gebruik. Die sendelinge geniet dit om die video “Bid enige tyd” vir kinders te wys wanneer hulle in die bediening is. Nadat een groep opgewonde kinders die video gesien het, het hulle in die tropiese woud ingehardloop en gesing: “Anytime, anywhere, I can pray . . . ”

Ulaanbaatar, Mongolië

Die volgende is maar net ’n paar van die talle briewe van waardering wat ons wêreldhoofkwartier in New York ontvang het:

“Ek en my man het na Mexiko getrek, en ons probeer om Spaans te leer sodat ons vir almal wat ons teëkom, kan getuig. Ek dank Jehovah elke keer dat ek jw.org besoek omdat dit my gehelp het om te luister en te leer. Daar is so baie op die webwerf beskikbaar—tydskrifte, boeke, musiek en dramas—in soveel tale. Dankie vir al die harde werk wat julle doen. Baie liefde.”—D.H., Mexiko.

“Ek is wettig blind verklaar, en ek is dol oor julle webwerf omdat daar soveel opnames is waarna ek kan luister. Ek skryf om julle aan te spoor om aan te hou om meer van julle boeke, brosjures en ander gedrukte materiaal in MP3-formaat (oudiolêers) beskikbaar te maak, aangesien ek regdeur die dag daarna kan luister.”—K.G., Verenigde State.

“Ek is dol oor jw.org! Dit is gebruikersvriendelik en dit het my beweeg om yweriger te wees wat persoonlike studie en my bediening betref. Ek is 72 jaar oud, ek is 47 jaar gedoop en ek pionier al meer as 30 jaar lank. Ek is die ma van 9 gedoopte kinders en ek het 16 kleinkinders en 3 agterkleinkinders. Ons het nou vier geslagte gewone pioniers in ons familie. Ek dank Jehovah vir hierdie geestelike voedsel op die regte tyd.”—M.T., Verenigde State.

“Dit is nou vieruur die oggend. Ek sukkel dikwels om te slaap omdat ek aan veelvuldige sklerose en ander siektes ly, soos die geval is met baie van ons dierbare geestelike broers en susters regoor die wêreld. Jehovah hou aan om in ons geestelike behoeftes te voorsien, en dit is juis waarom ek julle wil bedank. Ek is geneig om in prente te dink, en dit is waarom die uitleg van die webwerf my help. Ek waardeer baie die grafieke, videogrepe en prente wat met kort, duidelike kommentare gepaardgaan.”—B.B., Nieu-Seeland.

“Ek skryf om dankie te sê. Ek werk as ’n dokter in ’n afgeleë deel van Sri Lanka, waar ek nie die tydskrifte in my taal ontvang nie. Maar danksy die webwerf kan ek dit aflaai en in my eie taal lees. Hierdie webwerf is een van die beste gawes wat Jehovah aan mense soos ek gegee het.”—N.F., Sri Lanka.

“Ek skryf hierdie brief om julle te bedank vir al die harde werk wat julle doen om mense te help om van Jehovah te leer. Hou asseblief aan om video’s op jw.org te plaas. Daardie video’s het ons gesin met probleme gehelp. Die video wat my die meeste gehelp het, is Sit ’n afknouer op sy plek sonder om jou vuiste te gebruik. Weer eens baie dankie vir julle harde werk.”—Y.S., 9 jaar oud, Verenigde State.

“Ek wil julle sowel as Jehovah bedank vir die geestelike voedsel wat ons ontvang. Die webwerf jw.org het my baie gehelp, veral die deel vir ‘Tieners’. Ek waardeer ook die reeks Word Jehovah se vriend. Ek het drie jonger susters, en ek sien wat ’n positiewe uitwerking hierdie inligting op hulle het. Al is ons ver van julle af, is ons ’n verenigde broederskap omdat ons almal vir Jehovah lief is. Dankie.”—A.B., Peru.