Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR

’n Fassinerende toer deur tyd

’n Fassinerende toer deur tyd

In Oktober 2012 het ’n nuwe uitstalling wat handel oor die geskiedenis van Jehovah se Getuies geopen in Brooklyn, New York. Die uitstalling vestig die aandag op die moeilikhede en gevare waarvoor party te staan gekom het wat die Christelike godsdiens in ooreenstemming met Jesus se leringe probeer beoefen het.

Net in die eerste week het meer as 4 200 gaste en lede van die Bethelgesin hierdie uitstalling besoek. Naomi, ’n Getuie wat daar naby woon, het haar seun na die uitstalling geneem kort nadat dit geopen het. “Die tydlyn het my gehelp om te verstaan wanneer en waarom sekere dinge gebeur het”, het sy gesê. “Ek het baie omtrent ons organisasie en sy hedendaagse geskiedenis geleer.”

Die uitstalling neem ons op ’n toer deur tyd vanaf die Christelike era in 33 HJ tot in ons dag. Dit bestaan uit vier dele. Elke deel het ’n skriftuurlike tema en word ingelei deur ’n kort video in Engels, met byskrifte in ses tale.

Die titel van die eerste deel, “Mense het die duisternis liefgehad”, is gebaseer op Jesus se woorde in Johannes 3:19. Die Bybel het voorspel dat goddelose mense ná die dood van die apostels ‘sou opstaan en verdraaide dinge sou spreek’ (Handelinge 20:30). Diegene wat dit gewaag het om teen die stroom te gaan, het swaar daarvoor geboet.

In skerp teenstelling hiermee vestig die volgende deel, “Laat die lig skyn”, wat op 2 Korintiërs 4:6 gebaseer is, die aandag op gebeure in die laat 1800’s, toe opregte Bybelstudente die Skrif opnuut begin studeer het. Hulle het lank gehuldigde opvattings wat nie in die Bybel is nie, laat vaar en verligtende waarhede moedig verkondig. Hierdie deel toon hoe hulle voor die Eerste Wêreldoorlog in kennis en getal toegeneem het.

In die volgende vertrek word die aandag gevestig op ’n prestasie wat Getuies van Jehovah tot vandag toe fassineer. In 1914 het die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het) die “Fotodrama van die Skepping” begin vertoon. Hierdie multimediavertoning, ’n rolprent-en-skyfievertoning wat met klank gesinchroniseer is, is deur miljoene gesien. Die uitstalling bevat ’n gedeelte van die oorspronklike kunswerk, ’n kort videogreep van die program se inleiding en meer as 500 kleurskyfies.

Die derde deel, “Die draak se gramskap het ontvlam”, handel oor Satan se vervolging van Christus se volgelinge, wat in Openbaring 12:17 beskryf word. In hierdie deel word die aandag gevestig op Christelike neutraliteit gedurende oorlogstye. Benewens artefakte en prente is daar ook kort videogrepe wat toon hoeveel druk daar geplaas is op gewetensbeswaardes wat geweier het om ’n militêre uniform te dra of om in die Eerste Wêreldoorlog te veg, soos Remigio Cuminetti van Italië. Nog ’n videogreep vertel die verhaal van Alois Moser van Oostenryk. Hy het geweier om “Heil Hitler” te sê, en gevolglik het hy sy werk verloor en is hy uiteindelik na die Dachau-konsentrasiekamp gestuur. ’n Replika van ’n swak beligte sel voorsien ’n ontnugterende agtergrond vir foto’s van Getuies van Jehovah wat weens hulle godsdiensoortuigings in Griekeland, Japan, Pole, die voormalige Joego-Slawië en ander lande opgesluit is.

Die laaste deel, “Goeie nuus vir al die nasies”, wat gebaseer is op Openbaring 14:6, vestig die aandag op die bedrywighede van Jehovah se Getuies in onlangse dekades. Hulle vinnige groei, volgehoue predikingswerk en broederliefde kan duidelik in die foto’s op die mure gesien word. Laastens kan besoekers die interaktiewe kiosks besoek waar hulle die Bybelhuis en die Brooklyn-Tabernakel, geboue wat meer as 100 jaar gelede deur Jehovah se Getuies gebruik is, van naderby kan bekyk.

Die uitstalling is in die gebou by Columbia Heights 25 in Brooklyn, New York. Dit is van Maandag tot Vrydag van agtuur die oggend tot vyfuur die middag oop, en toegang is gratis. Kom doen gerus ’n fassinerende toer deur tyd wanneer jy New York besoek.